My heel jongste kleinseuntjie is ‘n seemens, ‘n blommekind. En ek geniet beide vreeslik baie
Ons was die week weg, dus het kleinkind ons baie lanklaas gesien, amper twee weke gelede. Gisteraand by die gim, kan ek nie wag nie. Hou my oog die hele tyd die trappies dop wat na die eerste verdieping opkom.
Ek sorg altyd dat ons op die fietse is teen die tyd wat hulle kom, dan weet ek hy is daar as hy saamkom “gim” volgens hom. Sy gim is die speelplekkie vir kinders.
Hy vlieg dan weg as hy ons sien, ouma en oupa op die lippies. Ons twee is mos ouma-oupa. Of oumie-oupa. Ons twee grootouers is nog saam. Sy ander ouma en oupa ken ny apart, dus noem hy haar net ouma en hom net oupa. As ek eers afgevlieg en gedrukkie het, wil hy weer af. Hy gaan “gim”.
Hulle het toe na ons gekom om die sleepwaentjie te haak. Hu=y noem dit toe oupa se thollie (trollie). Hy i nie ‘n r nie, hy was mos eers ‘n Engelse kleuter. Hy h of wh dit soos ‘n Ingelsman. Geniet jy hierdie ene Anne?
Toe hy instap, sien hy die geskenksakkie op die tafel, sy tannie het vir hom gestuur. Haal van die tafel (hoog) af en vra: “Ouma, wie se pesentjie is dit?”
Ek sê dit is syne en hy is baie, baie opgewonde. Daar is min woorde vir my so mooi soos sy: “Vi my, ouma?”
Ek doen baie keer spesiaal goed om te hoor hoe hy dit sê.
Binne in die sak is ‘n oulike klein sakkie wat net oor een skouer haak met monster op. Hy kyk, gee vir my, met: “Dit is vi jou, ouma.” Want daar is nog goedjies in die sak.
‘n Vergrootglas.
En ‘n botteltjievergtootglas waarin mens goggas kan sit om daarna te kyk.
Hy Sherlock Holmes die vergrootglas voor een ogie, kry my aan die hand beet en ons moet uit.
“Ouma, dit het gewehk (gewerk). Jy het blomme, ouma.”
Saam is ons twee uit na die blomme waarvan ek niks hou nie. Ek sal foto neem en dan vra watter soort blomme dit is. Goed, ek het gekry! Dit is leeubekkies. Waarom sukkel myne so? Soek hulle son?
Dit maak een lang steel wat skeef gaan lê, met die swaar blommetjies daaraan.
Ek hou meer van growwe plante wat sommer net daar is. En soms blom. Maar wat altyd mooi blare het.
Hy sê die blom is phagtig (pragtig) en ek vra wat pragtig beteken.
Hy kyk my lank uit en toe sê hy: Pragtig is pragtig. Hoe kan ek so dom vraag vra? Ek verduidelik toe dit beteken baie mooi. Maar bly sommer stil
Baie mooi is wondermooi. Pragtig is iets heel anders. Ons bly dan by pragtig is pragtig.
Eers later die aand kliek ek die dit-het-gewerk-ouma. Ek en hy het sade geplant, wat glad nie gevat het nie. Die liewe tuinier het hulle gaan hark en toe ek weer sien, lê die ou goedjies wat skaars steeltjies gekry het onderste bo.
Hierdie lelike plantjie kom elke jaar hierdie tyd op, dan pluk ek maar die blomme en sit dit in die huis. O ja, hy wou gister ene pluk – wat lank is ouma. Die roos wat hy op my verjaarsdag uit die ruiker gehaal het, het hom lyk my geleer om van lang stele te hou.
Ek het sy skulpies van die see af gebring. Dit was in die kas in hulle kamer. En hy is toe so opgewonde daaroor. Dit is sy eie skulpies, nie ouma s’n nie.
Ouma se skulpies is week vir week na sy eie huis weggedra. Tot daar net stukkende skulpies in my groot bottel oor is.
Hy wil nie stukkende skulpies hê nie, maar as hy een kry, wil hy pleister hê. Dit moet plester vir die seer kry.
Ek het pleisters in my kas, spesiaal vir hierdie speel van ons.
Ook in my handsak, want hy het al seergekry as ons uitgaan, en toe het ek nie gehad nie. Nou is daar in my handsak, vir noodgevalle.
So terloops, ek vra toe weer die twee baie woorde, baie oud en baie jonk. Hy onthou beide …
My liewe sponsie het nie getakoud nie. Wel stokoud …
Dit is wonderlik om te luister hoe klein kinders nuwe woorde aanvaar en gebruik. My twee jongste kleinkinders praat vlot Engels en Duits, die oudstes praat nou Engels en Noors. Dit is fantasties hoe jy help om hulle woordeskat uit te brei.
LikeLiked by 1 person
Sjoe, Anne, dit is goed as hulle meer as een taal magtig is. Beteken dit dat almal oorsee bly? Ek geniet dit baie.
LikeLike
My jongste kleinkinders woon nog in Suid-Afrika 🙂
LikeLiked by 1 person
Dit is so wonderlik as hulle naby mens is. Ek sou erg gesukkel het
LikeLike
Ag liefde, maar jou kleinseun is te oulik! Daai skulpies wat pleisters moet kry, is kostelik! Ek kon nooit leeubekkies se naam onthou toe ek klein was nie. Toe het my pa my eendag gewys as jy die blommetjie tussen jou duim en wysvinger vasvat en druk, dan gaan die “leeu se bekkie” oop … ek het dit nooit weer daarna vergeet nie 😊.
LikeLiked by 1 person
Ag sweet, ek is ook so aan hulle naam herinner.
LikeLiked by 1 person