Gepubliseer in Joernaal

‘n Oogarts se proefkonyn

Ek het iewers verlede jaar agtergekom dat ek soms dubbelvisie het. Nie altyd nie, daarom het ek ‘n oogspesialis gaan sien.

Ek het gedink my oë pak op. Ek onthou dat ek pas oor die telefoon gepraat het met my veearts oor Shilo, oor hoe ek weet dat hy nie meer wil aanhou lewe nie. My oë was nog rooi toe ek in sy spreekkamer instap, daarom het ek sy nuus waardeer. My oë is baie gesond, ek kort net ‘n bril.

So sit ek en manlief af na die naaste oogarts, sonder enige verwysings. Seun is nogal ontevrede, volgens hom is Specsavers die beste, en goedkoper. Maar, manlief het die ene gesien, in dieselfde gebou as ons dokters. Almal sommer by mekaar.

So word ons twee se oë getoets. Hy dra multi-vokaal, ek moet ook een kry, aangesien ek met ver en naby kyk begin sukkel. Twee weke later is my bril by my, ek het ‘n kleur gekies dat dit donkerder word as die son te helder is.

Die rekening vir die enkele bril – meer as R20 000!

My bril werk toe nie. Ek kan glad nie op die rekenaar met hom lees nie. Ek sien, soos ulle in flieks maak, kolle van teks wat ek kan lees, die res is dof. Geen terug, word aangesê dat ek twee weke moet toets, dan praat hulle weer met my. Mens moet gewoond raak aan jou bril.

Ek dra die bril as ek stap en bestuur, maar dit maak my so dronk soos ‘n spook. Duiselig. Naar. Twee weke later stap ek weer in en die locum kyk na die bril. Sy buig die raam sonder om eers sag te maak, kneus my neus soos sy dit af druk sodat ek “beter” kan sien. Ek sien nog slegter en vra manlief om die neus net weer reg te uig. Hy weier, mens buig nie daaraan nie, dit kan breek.

Twee weke later is ek terug, die keer om afspraak met die eienaar te maak. Sy sê ek moes nie ‘n multi-vokaal gekry het nie, dit sal nie vir my werk wat heeldag op my rekenaar is nie. Iedergeval, nie die een van drie soorte wat vir my voorgeskryf is nie.

Ek het, volgens haar, twee brille nodig.

Sy gaan ook sommer prismas in my lense sit. My vorige leesbril het prismas ingehad, ek het nie geweet nie … sal later daarvan vertel.

Sy laat my oplees oor prismas en ek laat weet ek soek dit nie in my bril nie. As dit net effens verkeerd geplaas word, kan dit skade berokken. Ek leef nou 60 jaar plus met my oë, ek wil net beter kan sien. Moenie aan my oë peuter nie, maak ver en naby kyk net beter. Sy het klaar bestel, ek sal maar net moet vat en toets. En ek voel soos een massiewe proefkonyn.

Die brille kom en ek sukkel om op my rekenaar te lees. Maar ek dra, ek moet moet toets. Stap gaan makliker, ek word nie meer naar nie. Maar, as ek my bril afhaal, is ek blind! Nou nie heeltemal nie, maar ek kan glad nie mense op die TV-skerm herken nie, hulle is soos waas. Wasig. Voorheen kon ek op die TV-skerm lees, nou sien ek net ‘n stippellyn waar geskrewe teks is.

Ek bel weer, die bril werk nie. Maar, ek moet mos weer twee weke toets. Christa die proefkonyn!

En toe besluit ek om die lense van nader te bekyk.

Die linkerkantste lens is baie, baie dik aan die buitekant en papierdun aan die binnekant. Die regterkanste lens is andersom. Dik aan die binnekant, papierdun aan die buitekant. Geen wonder ek is blind as ek dit afhaal nie, my oë word gedwing om snaaks te kyk!

Weereens bel ek, weereens hoor ek ek moet twee weke toets. Ek bel en moet hoor dat dit die kombinasie van my voorskrif saam met die prismas is wat veroorsaak dat die lense so gemaak word.

Daar is egter geen manier waarop ek dit aan my oë gaan doen nie, dus lê die brille in my kar, saam met die lense van my vorige leesbril wat nie so snaaks verdik en verdun is vir my twee oë nie.

Maandag is D-dag en gaan sien ek die oogarts, vir wie ek per ongeluk veearts gesê het, weer. Haal die ou bril se lense uit, wys hoe dit verskil van die nuwes. Volgens haar kan die laboratorium kies – om die prisma in een lens te sit en nie in al twee soos sy voorgeskryf het nie. Dus ‘n 4-prisma in een lens, niks in die ander ene.

Sy is baie ongeskik, maar sy sê sy sal weer laat maak, dus word my bril(le) nou vir die derde keer gemaak.

Gisteroggend wonder ek of ek nie net my geld moet terugvra nie. Dit gaan egter nie werk nie, so lei ek uit haar e-pos af. Sy gaan my dan laat betaal vir al die oogtoetste wat nou intussen gedoen is … en so sal sy seker kan seker maak dat ek bykans geen sent terugkry nie.

Dus laat weet ek dat ek dan maar moet hoop (en bid) dat ek die derde keer gelukkig sal wees om ‘n bril te kry wat my sig verbeter … en my nie siek of in ‘n waas laat nie.

En nou wonder ek: Hoeveel mense gaan deur daardie praktyk, dra hulle brille in geloof dat dit sig beter maak en weet nie dat hulle siek voel en wasige sig juis deur hulle brille veroorsaak word nie.

Ek is nou super-versigtig vir oogartse, want ek wou vertel van die dubbelvisie. Om kostes te bespaar, het ek my leesbril se lense in my ou leesbril gesit.

En met die dat ek die nuwe leesbril nie dra nie, kom ek mettertyd agter dat ek beter sien met my Clicks R200 leesbril. Toe kontak ek die vorige oogarts om die voorskrif te kry – hy het .5 prismas in my lense gesit, wat my sig beïnvloed het. Ek kan nou weer op ‘n afstand beter fokus. En ek voel nie siek of duiselig nie.

My sig is wel swakker, maar ek het nou sommer ‘n heilige vrees vir oogartse …

Sy verstaan sowaar nie dat ek nie vervormde lense gaan dra as dit my sig verswak nie. Sy verstaan nie dat ek met my Clicks bril beter lees as met haar brille nie …

Hopenlik is dit eers weer ‘n bekommernis oor twee jaar. En dan, liewe vriende, gaan ek eers goeie navorsing doen voor ek ‘n oogarts kies. Ek gaan ook vir meer as een oogtoets betaal, die rekening vra, vergelykings tref en dan eers besluit wie ek met my bril gaan vertrou.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

21 gedagtes oor “‘n Oogarts se proefkonyn

  1. Kontaklense kan ek nie dra nie. Daars twee soorte kontaklense, sagtes en hardes. My oog is te bol om die sagtes te dra. Die hardes kan ek dra maar hul krap blykbaar baie. Die oogartse het aanbeveel dat ek nie kontaklense kan dra nie. As ek my oë laat toets het ek altyd gevra vir kontaklense. Dan ook kom daar maklik stof onder lense as wind baie waai. Ek het bv in begin nie ver kon sien, toe kon ek nie gewoon lees nie. Daarna kon ek nie die middelafstand bv op rekenaar behoorlik sien nie. Kry toe op einde trivokals wat goed werk. Toe kom dit met hierdie lense wat so inmekaar loop wat ek verpes omdat my sig te wyd is of die stukkie waardeur ek moet kyk is te klein vir my oog beweging. SUG! Nou draai ek maar my kop sodat die bril kan fokus en ek nie net met my oë lees nie. Jy weet mos mens is geleer om jou oë te beweeg as jy lees nie jou kop nie! Sorrie vir lang stuk.

    Liked by 1 person

  2. Sjoe, dis baie geld vir ‘n bril (wat nie werk nie) 👀! Ek het ‘n Clicks brilletjie begin dra toe ek agterkom die pryse wat so klein geskryf is in die winkels raak al moeiliker om te lees. En so 3 jaar gelede het ek en Berto vir die eerste keer vir oogtoetse gegaan en voorgeskrewe brille gekry … wat gelukkig 100% werk. Ek stem, soek ‘n nuwe veearts – ag, ek bedoel oogarts 😉 (ek het lank na ons tandarts as veearts verwys … my kollegas wou hulle flou lag as ek se ek gaan my tande by die veearts laat skoonmaak)!

    Liked by 1 person

      1. Dit is my 3e multivokaal, en klink my ek was/is baie gelukkig. 2 keer by privaat oogkundige, een keer by Specsavers. My bril werk wonderlik. Net soms met rekenaar, moet ek my ken effens lig of laat sak om fokus te tref, maar dis ‘n minimale skuif. Wanneer my man so soek vir sy leesbril, sê ek altyd: Kry ‘n permanente multivokale bril, dis baie eenvoudiger. Beter as bivokaal ook, wat hy op ‘n stadium gehad het en hom erg frustreer het.

        Liked by 1 person

  3. Dit is baie onprofessioneel. As jy ‘n mediesefonds het moet jy haar skriftelik aangee by hulle. Dit het vir my gehelp. My bifocul was ook verkeerd. Ek is op sagte kontaklense en ‘n Clicks leesbril. Ek kry my kontaklense by Specsavers. Baie tevrede. Probeer dit gerus. Sagte lense is ‘n droom. Dra dit net so 2 weke om te besluit of jy daarvan hou of nie. Klink ek nou soos die veearts?

    Liked by 1 person

    1. Nee, vriendin, jy klink soos iemand wat oogarts kon wees. Specsavers! Ek oorweeg hulle baie ernstig. So, mens kan ver lense met naby bril kombineer? Ek het bietjie opgelees, maar wou nog gaan seker maak. Ek wil dit toets tot ek ‘n bril voorskrif het wat werk – of tot ek weet ek en kontaklense gaan mekaar vertrou. Dan bly ek daarby

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.