Ek voel al ‘n geruime tydjie om hierdie vraag te vra, want ek kyk so na die statistiek wat WordPress gee. Verwag om Suid-Afrika op die kaart te sien, net Suid-Afrika. En dan is lande wêreldwyd pienk gemerk om aan te dui dat my werk oor die grense van die land gevlieg het.
En dit verwar my, verras my en maak my nuuskierig. Want Afrikaans word mos nie wêreldwyd verstaan nie. En dan besef ek net weer dat daar Afrikaanssprekendes die wêreld oor is.
Ons mense emigreer mos die wêreldvol. Ek en manlief het self 18 maande in Kazakhstan gaan woon, daar het niemand wat ek geken het Afrikaans verstaan nie. Kon ek met niemand my hartstaal praat nie. Mia verstaan dit nie.
As ek nie self daar gewoon het nie, sou ek gewonder het waarom die Kazakhs my werk lees. Nou weet ek dat selfs daar mense bly wat my taal kan verstaan, my plasings kan lees. Met my vriendin Mia tans in die land, kan ek nie help om te wonder wie in Kazakhstan my werk die afgelope ruk lees nie. My vriende daar verstaan net Russies en Kazakh.
Ek kan ook nie help om vir ‘n oomblik bekommerd te wees as ek sien dat mense in Indië en Sjina my werk lees nie. Veral Sjina. Blaai ek dadelik na die lys van artikels wat in die tyd gelees is om te kyk wat gelees is. Te wonder wat ek geskryf het wat hulle aandag getrek het.
En daarom skryf ek hierdie artikel. Die maand is nog nie halfpad nie, ek het hierdie maand nie baie artikels geskryf nie, tog is dit al klaar wêreldwyd gelees. In Suid-Afrika wel baie, baie meer as in ander lande. Maar, die kaart wys dat dit ver gelees word.
Daar is wel dele op die aardbol waar dit nog nie gelees is nie, maar dit is verrassend om te sien dat ander lande in Afrika ook in pienk gemerk is.
Laat my effens gerus as ek sien niemand in Rusland het al gelees nie, want ons mense is mos bang vir die Russe. Veral as daar keuses gemaak moet word of hulle na Telegram of Signal gaan oorskakel.
Telegram se twee ontwikkelaars is Russe, maar hulle het na Doebaai uitgewyk toe Rusland se regering hulle wou dwing om data te deel. Daar word mense se privaatheid belangrik geag, soos die drie diefbroers weet wat tans daar skuil nadat hulle Suid-Afrika soos een man beroof het.
Ek het die Russe wat ek raakgeloop het as vriendelik, meelewend en selfs so klein bietjie hooghartig beleef. Maar eerlike mense, opreg en steeds my vriende. Ek waag veel eerder my kanse met Telegram se twee Russiese ontwikkelaars as met Zuck wat reeds bewys het dat hy mense sal dwing om data met Facebook te deel. Anders kan hulle nie meer saamspeel nie. Boelie van die kamma-wêreld.
Wat eintlik moet impliseer dat my hart ‘n bekommerde ruk moet gee as ek sien dat mense in Amerika my blogs lees. Dit is nogal pienker daar …
Maar dan besef ek ek het vriende in Amerika. Frannie en Nico lewer gereeld kommentaar.
Die hoeveelheid lande lyk maar min op die kaart, tot ek deur die lysie op WordPress gaan. Opgenoem in volgorde van meeste tot minste gelees.
En dit laat mens klein en nederig voel. En trots, trots op my taal die grense van lande oorskrei om oraloor gelees te word.
Ek mis Swaziland op die lysie, ek weet Petro lees soms. En ek sien ook nie Skotland nie, ek weet nuwe blogvriendin Skottie bly daar. Nikita is iewers in Die VK.
In die Sarie-onderhoud wat in die Maart-uitgawe gepubliseer gaan word, wou hulle weet of ek ‘n reisiger is. En ek het geskryf dat ek myself nie as een beskou nie. Al was ek al in baie lande. En toe noem ek die lande waar ek al voet op grond gesit het. Daardie vraag is gevra voor die pandemie die lande se grense toegemaak het. Mense vir reis skrikkerig gemaak het. Maar my antwoord staan steeds. Ek hou nie van uit tasse leef nie, dus wonder ek of ek ‘n reisiger is.
Tog, as ek so na hierdie lysie van lande kyk, wonder ek oor myself.
Onder die top 10 op die lysie, was ek al in 7 lande, die eerste vyf en ook in Duitsland en die Emirate (Dubai en Abu-Dhabi). Dus bly 3 oor, Frankryk, Sjina en Indië. Ek stel nie belang om Indië of Sjina te besoek nie. Maar, met my Fourie-van het ek Franse bloed in my are. En ek weet ek sal wel graag eendag wou gaan kyk hoe die land van my voorvaders lyk. Die ander helfte van my bloedlyn is van Duitsland afkomstig, ek het al gaan kuier in die mooie land van voorvaders aan moederskant.
En dan wonder ek weer: Is ek ‘n reisiger? Want my blog word gelees in lande waarheen ek nog graag sou wou gaan: Frankryk, Nederland, Nieu-Seeland, Kanada (groot dalk, is net so koud soos Kazahstan – manlief was al daar), Swede (weet nie, wil wel Switzerland sien).
Dalkies sal ek nooit weer die grense van die land oorskrei nie. Sal maar kyk wat die entstof-debakel gaan oplewer. Veral omdat die virus sonder entstof gewen word. Die meeste mense daarsonder gesond word.
My vriendin Toortsie oorwin die virus met die Here se genade alleen en raat van almal. Positief en Adri ook. Una se man het dit gehad en nie eens geweet nie, so lig was die simptome. En Mia het dag en nag saam met haar man in ‘n woonstel hoog in die lug gebly en hom versorg. Sonder om self siek te word. Die Here se genade …
En nou geniet ek dit selfs meer om te sien hoe my blog oor die grense sweef, lande besoek waar ek dalk nooit gaan uitkom nie.
Ek lees min Engels – kry genoeg daarmee te doen as ek artikels lees vir navorsing. Maar vroeg in Januarie lees ek die You. ‘n Artikel daarin het my hare regop laat staan. Lees jy raak waarom?
Saviour en Salvation. ‘n Entstof?
Ek verkies hierdie weergawe van saviour en salvation wat ek toevallig in dieselfde tyd raakgeloop het.

Jesus is my redder, my redding, nie ‘n entstof nie. Weereens word gerief bo veiligheid geplaas, soos met die keuse om WhatsApp te behou of verlaat.
En juis daarom geniet ek dit om te sien dat my blog die reiswerk namens my doen.
As jy van een van die genoemde lande (of ‘n nuwe een) afkomstig is, laat asseblief ‘n boodskap. Ek sal graag wil weet ek gesels met iemand iewers anders op die aardbol. En as jy van my land is, laat asseblief ook die naam van jou tuisdorp. Daar is nog baie dorpe in hierdie land wat ek nog wil besoek.
Dus, liewe leser, kan jy glo?
Ek is sowaar ‘n reisiger, ek wil Suid-Afrika nog platreis. Veilig in my eie motor. Geen vliegtuie vir ‘n lang tyd nie. Ek het genoeg daarvan gekry in die 18 maande in Kazakhstan. Om ses lughawens in drie lande nodig te hê om huis toe te kom en terug te gaan is nie ‘n grap nie. En ons het dit voor die virus baie gedoen …
Noudat ek daaraan dink, ek gaan dit darem vreeslik mis om foto’s van daar bo te neem. Dit is die een plek waar ek so na aan my Skepper voel. Die maan so naby dat ek amper daaraan kan vat. Die son ook. Al wil ek nie daaraan kan vat nie. Wil ek die maan ooit self besoek? Nee, ek hou van die magiese daarvan, die droom. Die werklike kan mens uit daardie droom ruk …
Ek is ek so dankbaar dat die virus oorwin kan word. Met God se genade. So het verskeie van my blogvriendinne nou getuig na eerstehandse ervaring daarmee.
********
En toe kry ek so pas, nadat ek alles geskryf het, die skok van my lewe.
Ek gaan met behulp van Chrome na my blog en wat sien ek? Bucketlists … En ek het oor emmerskoplysies geskryf. Daar vertaal Google sowaar my hele blog, in Engels! Met my toestemmimg natuurlik, ek het iewers toestemming gegee dat my werk vertaal kan word. Natuurlik is ek nie heeltemal tevrede nie, Engels het nie al die nuanses van Afrikaans nie, dus is dit op plekke nie waffers vertaal nie. Kan mense selfs dink dat ek vrot Engels skryf . Maar, nou kan ek verstaan dat dit nie noodwendig Afrikaanssprekendes is wat my blog lees nie.
Hallo aan almal …
********
Grabouw Suid-Afrika
LikeLiked by 2 people
Pragtige plek as ek so na die agtergrond van jou huis kyk. Berge … sal my altyd trek.
LikeLike
En groen met baie water
LikeLiked by 1 person
Ek stem daarvoor ook.
LikeLike
Ek het ook al dikwels gewonder oor my lesers in die buiteland, plekke waar ek niemand ken nie. Die een wat my op die oomblik nuuskierig het, is Namibië. Wie op dees aarde? Tien teen een ń Afrikaanse persoon, wat ek ook graag van wil weet.
LikeLiked by 2 people
Ek stem saam, ek is ook die meeste oor Namibië nuuskierig.
LikeLike
Ek geniet ook om te sien dat ons wereldwyd gelees word- tot self in Ysland. En n mens wonder! Dis mos die dat ek sê: Afrikaans is deesdae ‘n wereldtaal.
LikeLiked by 3 people
Presies net so, vriendin. Presies net so. En met Google wat ons goed vertaal, word dit leesbaar vir mense in hul eie tale. Ek dink egter steeds dit is hoofsaaklik Afrikaanses wat my goed lees.
LikeLike
Ja ek dink ook so want die vertalings lees moeilik. Dis mos n rekenaar wat dit doen en wat weet n blikbrein nou eintlik?
LikeLiked by 2 people
Presies, maar hulle leer mooi deur wat ons skryf en doen. En word al hoe beter …
LikeLike
Em het ook vriende wat my blog volg en die Afrikaans in Engels oorsit al is dit nie regtig vreeslik goed nie. Met tye vertaal ek ook stukke sodat ek dit met my skryf groep kan deel. Waar daar n wil is is daar weg.
LikeLiked by 3 people
Ek stem so saam, ek het net altyd gedink dat ek spesifiek in Afrikaans wil skryf.
LikeLike
Vir my is dit makliker om dit eers in Afrikaans te skryf omdat dit vloeiender gaan as ek skryf. Met Engels moet ek met tye hard dink om regte woorde te gebruik en dit breek my spoed. Almal wil ook elke keer weet skryf jy dit in Eng? As ek nee sê weet jy mos die beste stuurman staan aan wal! Verduidelik dan altyd hoe sou jy maak as jy in n ander taal as jou moedertaal skryf. Dan verbaas dit hul dat hul gladnie so slimis soos hul dink nie want hul ken net een taal waar ek in n tweede taal skryf haha. Die regte Engelse is party maar baie selfgesentreed.
LikeLiked by 2 people
Hulle is. En ja, vriendin, dit is absoluut heerlik. om in meer as een taal te kan dink en skryf.
LikeLike
My ou tannie wat ons skryfsessie aanbied Vrydae(97 jaar hierdie jaar) is baie trots op hoe goed ek vordering gemaak het gedurende jare vandat ek in 2012 by haar begin het. Sy prys en moedig my altyd aan.
LikeLiked by 2 people
Hoe lekker is dit nie om so iemand te ken nie. Jy skryf pragtig, Scrapy.
LikeLike
Dankie Christa, Ek twyfel ook maar maklik en dan kom daar n positiewe aanmoediging en gaan mens weer verder.
LikeLiked by 1 person
Mense op Maroelamedia het my gesoebat om in Afrikaans te skryf, en toe doen ek dit. En wie lees? EEN persoon. Nou, komende vanuit my hoek, kan ek eenvoudig nie met peperduur selfoondata vir een mens skryf nie. Op een stadium het ek net in Afrikaans geskryf en het toe ‘n peperduur betaalde WordPress gehad – en ek het die vertaalknoppies daarop gesit. Maar ek het afgewyk van evangelisasie en oor ander onderwerpe geskryf, baiemaal op versoek van vriende. Min lesers uit SA, maar toe ek suiwer sendingwerk gedoen het, was elke leser uit ‘n geslote land regtig iets wat my hart warm gemaak het. Dit was nie meer nodig om halfpad anderkant die aarde “gekidnap” te word soos in 2001 nie, of soos my vriende wat die volgende oggend onthoof sou word nie. Daardie trauma word ons gespaar deur die Internet, as ons tog net toegang kan bekostig. Dis lekker om te sien iemand lees in Mongolië, Uzbekistan, Kurdistan, ens. Of Qazaqstan. Dis moeilik genoeg vir my om te skryf en baie dae kan ek net nie, al WIL ek ook. Vertaalwerk staan op die agterplaat van die stoof. Ek sal weer in Afrikaans skryf as iemand gaan lees – ek skryf net as daar redelike reaksie is. Want ek kan nie skryf vir ‘n stal vol koeie nie, soos die radio-omroeper wat een oggend drie-uur gewonder het of iemand ooit luister. Totdat iemand inbel en vertel daar is 41 van hulle. “It’s me and me forty cows in the byre; we are milking at 3am” was die antwoord.
LikeLiked by 2 people
Dankie vir die saamgesels. Ek skryf om verskeie redes in Afrikaans, maar ek skryf hier in die eerste plek vir myself. En ek is Afrikaans in hart en siel, murg en been. Ek sal dus nie sommer na Engels oorskakel nie. As mense lees en saamgesels is dit wonderlik. As hulle nie doen nie, was die skrywe in elk geval in die eerste plek aan myself geaddresseer. Vir eendag wanneer ek wil terugdink aan hierdie tyd in my lewe. Wens ek het vroeër begin boekstaaf. Die afgetrede pad kan lank raak …
LikeLiked by 2 people
Sien, my roeping is om ander te bereik en meeste is nie Engels of Afrikaans nie. Ek het nog nooit vir myself geskryf nie; het nog nie so daaraan gedink nie, miskien omdat my hele lewe nog net oor ander se welsyn gegaan het.
LikeLiked by 1 person
Dan kan ons saampraat, ek is ‘n gebore juffrou. Soos jy uit my blogs kan aflei.
LikeLiked by 1 person
Ekself wou graag dosent in tale word, my belangstelling was tale, bedryfsielkunde en kommunikasiekunde. En filosofie. En geskiedenis. En en en.
LikeLiked by 1 person
Ek dink ek gaan weer probeer en dan net skryf oor waarvan ek hou, bietjie myself geniet vir ‘n slag. https://afrikaanses.wordpress.com/
LikeLiked by 1 person
Die lewe is vol gevegte, dit is lekker om my blog sommer net te skryf oor dit waarvan ek hou en hoe ek my lewe beleef.
LikeLiked by 1 person
Tussen my eerste drie lesers op Afrikaanses was een uit Indië nogal.
LikeLiked by 1 person
Sowaar?
LikeLiked by 1 person
Jip! Ek kan ‘n Indiër genaamd Smiley wat ‘n orkes het in Kaapstad en NET Afrikaans praat; hy is in ‘n rolstoel. Hy is BAIE trots Afrikaans.
LikeLiked by 1 person
Stal vol koeie! 😂 Sies man! Koeie het ook gevoelentheite. Hulle wil ook blogs lees.
LikeLiked by 2 people
Grootoog staan Witlies en Bontrok, Blommetjie en Butterfly en wag dat ek die boeke uitdeel sodat hulle kan lees terwyl ek hulle melk. Hulle verkies Vegan-resepte en nie-suiwel, dus gaan hulle nie hou van wet ek skryf nie. Sal nou op Krombeks ligte in die stalle moet installeer, en leestafeltjies, en ‘n coffee shop.
LikeLiked by 1 person
Jy sal moet.
LikeLiked by 2 people
En hulle sal graag van ander diëre ook wil hoor selfs al doen hulle dit nooit.
LikeLiked by 1 person
Appeltjie sal moet vertel wat dawie gelees het
LikeLiked by 2 people
Jaaa
LikeLike
Inderdaad. Ek hou daarvan as mense kommentaar lewer as hulle so voel. En nie saampraat nie as hulle so voel. Ek hou van lesers, sommer baie.
LikeLiked by 1 person
Ek ys om te dink wat You se beskrywing is … ons Christenland het verrrr agteruit gegaan.
Geluk! Jou blog het vlerke en op ons elkeen se eie manier maak ons die wêreld beter.
En ek sluk ‘n knop af toe jy sê ek word gesond met die Here se genade. Die enigste manier.
LikeLiked by 1 person
Soos jy self getuig, my liewe vriendin. En my blogmaats ook, die Goue Vroue.
LikeLiked by 1 person
Bredasdorp, Wes-Kaap. Daarvwaar jy die heel naaste aan Antarktika kan kom.
LikeLiked by 1 person
Gits, vriendin, die een plek wat nie op my emmerskoplysie sal wees nie.
LikeLiked by 1 person
Nooit! Hoekom nie? Of bedoel jy Antarktika?
LikeLiked by 1 person
Antarktika, nie jou pragtige dorpie nie. Daar wil ek beslis nog ‘n draai gaan maak.
LikeLiked by 1 person
Dis nou interessant. Maar jy skryf lekker en ek lees en geniet. Jy is, mos nou sowaar ‘n internasionale skrywer in Afrikaans alleen.😁Maar eintlik is die eer ons wonderlike taal s’n. Sonder die instrument sal ons stom wees. Lank lewe Afrikaans sy sprekers en sy skrywers!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, dit is ‘n groot kompliment van iemand soos jy. Ek stem, sonder my taal is ek stom. Nie eens ‘n halwe mens nie, stom. Ons het in Kazakhstan maar met handgebare gekommunikeer. Iets soos stomstreke. Stom. Hulle doof, kon ons nie verstaan nie.
LikeLike
Oor die jare het ek ook 1000 mense van oor die wereld gekry en het ek in die begin baie belanggestel om te sien waar mense vandaan kom en gewonder hoekom van daardie lande… Later het ek agtergekom dat daar soveel Suid-Afrikaners reg oor die wereld is! Dis net ongelooflik. Ek het kommentaar van besoekers uit lande soos o.a. Azerbajan/Fiji ens. gekry – in Afrikaans en dit het my besef hoe verspreid ons SA-ners is! Baie keer is dit slegs ‘n enkele ‘search’ met ‘n sekere term wat mense by jou blog uitbring, maar dit is nogtans interessant om te weet waar in die wereld mense is en die rede. Jy moet aanhou blog – al is tyd nie altyd daar nie, dit maak dat meer mense die taal kan lees. Ek het ‘n leser – vir jare nou – in Argentinie! Hy het sy eie site ook en hy het jare terug (my blog is al byna 15 jaar oud!) my blog ontdek deur gedigte en alhoewel hy al jare in Argentinie is, skryf hy die taal nog perfek! – Terloops, hy is nie ‘n afstammeling van daardie Afrikaanse groep waarvan almal weet nie. Daar is heelwat mense, wat ek glo, wat lank nie meer iemand het om in Afrikaans te kommunikeer nie, wat daarvan hou om die taal op die web te lees en so in voeling te bly.
LikeLiked by 1 person
Ag Nikita, dankie vir die lekker saamgesels. Jy is in die VK?
LikeLike
Sak en pak hierdie kant, presies 20 jaar nou.
LikeLiked by 1 person
So lank, so jy het ook in die vreemde eers begin blog?
LikeLike
Ja iewers in 2007.
LikeLiked by 1 person
Jy moet meer skryf, ek geniet jou skryfwerk. Hou die skool jou steeds so baue besig?
LikeLiked by 1 person
Ja, vreeslik – ek wens ek het meer tyd gehad vir skryf en ook lees van blogs! Daar is soveel blogs – ook van mense hier wat hier kommentaar lewer – wat ek so bitter graag sou wou lees en soms scan ek oor ‘n naweek so deur die ‘WordPress reader’ en wens so ek het meer tyd gehad, soms nie eers tyd om te scan nie. Dit is maar ook hoofsaaklik omdat hulle elke jaar = vir die afgelope 5 jaar(!) hierdie mense gee wat nie ervaring het nie of wat glad nie gekwalifiseerd is nie en hulle weet ek sal alles doen – kan uitputtend raak.
LikeLiked by 1 person
Ek kan jou glo. Jou werk om hulle te help?
LikeLike
Omdat hulle ‘niks’ weet nie of beginners is, word van my verwag om meeste (en soms kom dit neer op alles) te doen. Ek gee natuurlik leiding, maar nie tot vele sukses nie – nie almal wat skoolhou het die regte ingesteldheid, as jy verstaan wat ek meen. … 🙂
LikeLiked by 1 person
Ek verstaan presies.
LikeLike
Ek deel jou sentiment. Ek is gereeld verstom om te sien waar my Afrikaanse blog gelees is. Plekke soos Estland, Ysland, Azerbeidjan, Macedonië, Trinidad & Tobago, Liberië, Guatemala, Maldives, Georgië, Kambodja, Grenada, Slowakye, Gibraltar, Togo, Libië, Colombië, Monaco en nog vele meer. Dis ook meer gelees in Noorweë as in bv, Australië, NZ of Kanada, wat eienaardig is
LikeLiked by 2 people
Dit is ongelooflik, hoe lank blog jy al? Ek sien ek het ‘n land of twee bygekry, maar jou mense is van lande af wat ek nog sou wou besoek. Soos Georgië. Dankie vir die gesels.
LikeLiked by 1 person
Sedert laat 2012
LikeLiked by 2 people
Dit is al lekker lank. Ek het in 2017 begin, maar min geskryf. Toe ontdek ek die lekker van mense soos jy wat saamgesels. En nou skryf ek baie.
LikeLiked by 1 person