Gepubliseer in Joernaal

Ansie die verskriklike

Ek het laas week gesels oor ‘n manlike naam wat negatiewe reaksies by my ontketen, daar is egter ook ‘n vroulike naam, naamlik Ansie.

Net soos in die geval van die manlike naam, is dit moontlik dat dat ek die karaktereienskappe koppel aan ‘n spesifieke vrou met die naam omdat ek bitter min mense met die naam ken?

Ek het ‘n kollega met die naam gehad. En glo my, ek wens min mense ‘n kollegas soos sy toe.

Sy was ‘n nuwe kollega, ouer as ek en het haar as vriendin voorgehou, gemaak of sy my beste belange op die hart dra. Maar ek het gou agtergekom dat sy ‘n verskriklike kollega is.

Soggens het sy my op en af bekyk en my kleredrag, haarstyl vir die dag en selfs my skoene as onvanpas beskryf. As my hakke nie na haar mening te hoog was nie, was die spleet van my romp te hoog, my bloes te laag of het ek op ‘n ander dag beter gelyk. My grimering is ook elke dag bespreek. Selfs al dra ek bittermin.

Sommer direk met my bespreek, en toe kom ek agter dat sy my ook met ander bespreek.

Asof ek die tante se toestemming nodig gehad het oor wat ek mag aantrek. Ek het nooit kommentaar oor haar klere gelewer nie al was haar bloese deurskynend. Ek het liewer net weggekyk, sy het mos ‘n spieël? En sy is mos bedag op ander se klere?

Blykbaar geld haar reëls net vir ander, dalk omdat sy groter as ek was. Dalk omdat sy ouer was? Dalk omdat ek volgens haar beter gelyk het?

Ek het ongelukkig nooit teruggekap nie. Stil gebly en my lelik vererg.

Ek kon haar nie vermy nie, sy was elke dag deel van ons oopplan werksplek.

Sy het mede-kollegas met my bespreek en ek het bykans almal se slegste eienskappe deur haar leer ken. As ek weer sien, staan sy hand om die blaas met die mense en gesels terwyl ek verbystap. En dan het ek net geweet dat ek die een is wat bespreek word.

En sy wou altyd weet of ek enige skindernuus het. Gelukkig trap ek nie sommer in sulke strikke nie.

Sy het hulle voorkoms bespreek, hoe hulle lyk en dan ook sommer gewonder of hulle enige “operasie” of “implantings” laat doen het. Op enige plek op die lyf, selfs hulle wange.

Ek het weens sinusinfeksies twee kolle op my wange wat opgeswel is. In die winter veel meer as in die somer. En dan het ek gewonder of sy dit op my bedoel. Wou nie ‘n gesprek daaroor begin nie, want my gesondheid het niks met haar te doen nie.

Ek het altyd gewonder waarom sy ander mense so bespreek. Dalk doen sulke mense dit om goed oor hulself te voel? Ek voel sleg as ek mense bespreek het, nie goed nie.

Sy het by my uitgevind wat ek vir my leerders beplan, niks van die metodes geweet nie, my probeer oortuig om iets anders te doen en as ek nie na haar pype dans nie omdat ek ‘n opgeleide onderwyser was en sy nie, het sy my by die hoof gaan beswadder.

Daar is ek ingeroep en as ek verduidelik wat ek beplan, is ek vir goeie werk geprys. Maar, ek hou nie daarvan om op my agtervoete te staan om myself te verdedig nie.

Sy het my droompos in ‘n nagmerrie verander, in so mate dat ek nie meer daar wou werk nie. Ek kon later nie meer konsentreer nie, al my aandag was op die slegte situasie gefokus. Nog later is ek op senuwee-pille geplaas om deur die werksdag te kom.

Dit was hel om werk toe te gaan.

Aangesien ek tydelik was, was dit maklik om te gaan. Ek het bloot nie vir ‘n pos daar aansoek gedoen nie, waarna ek ingeroep om te hoor waarom ek nie aansoek gedoen het nie.

Ek het geen redes gegee nie, net klaargemaak en toe ek die laaste dag terugry huis toe, het ek ‘n vrede oor my voel spoel.

En ek het bitter-soet gelag toe my “leerders’ my laat weet dat sy van my werk moes oorvat. Bitter omdat ek geweet het dat sy dit nie kan doen nie, haar kennis was beperk. Soet omdat dit nie my wraak was nie, sy het dit oor haarself gebring.

Die tante het toe nie gehou nie.

Sien, my hoofde weet selde hoeveel ek doen voor ek weg is en iemand dit skielik moet oorvat. En wie nou beter as die een wat my beswadder het? Sy het dan “bewys” dat sy dit beter as ek kon doen.

Ek wonder altyd waarom kollegas so jaloers en gemeen met ander is. Veral in ‘n opvoedkundige konteks. Hulle kan tog nie jou pos oorvat nie omdat hulle nie in jou vakgebied gespesialiseer het nie.

Hulle sukkel as jou werk op hulle afgelaai word as jy nie meer daar is nie. Is hulle dalk net te kortsigtig om te weet dat hulle aan die kortste end gaan trek as jy loop? En dan is die druk te veel as jou werk hulle werk word.

Veral as hulle jou merkwerk moet oorneem en geen idee het waaroor die opdragte gegaan het nie.

Sy het geweet sy maak verkeerd, selfs een dag vir my gesê haar man het vir haar gesê sy moet ophou om so met my aan te gaan. Maar sy het daarmee aangehou.

Iedergeval, dit is dan waarom die naam Ansie baie negatiewe reaksie by my uitlok, selfs na al die jare.

In my gedagtes kom Ansie die verskriklike dadelik op as ek die naam hoor. Kan ek kwalik geneem word?

Dit was my droompos, maar selfs daarvoor sou ek nie my emosionele welstand op die spel geplaas het nie.

Ek hoop jy het beter ervarings met ‘n Ansie. Ek ken geen ander een nie.

Of nee wag, ek het ‘n nig Ansie aan my pa se kant. Alhoewel ons ewe oud was, was ons nie maats toe ons kinders was nie, ons was heeltemal te arm vir haar. Dus het ek nie herinneringe aan ‘n ander Ansie nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Ansie die verskriklike

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.