Goed, ek het gisteroggend geskryf oor kersete. Wel, dit het toe ietwat anders verloop as wat ek en manlief beplan het, maar dit was heerlik.
Die kalkoen en gammon moes oond toe, want die gasbraaier met die roteerder wou nie brand nie. Hoe manlief ook al probeer het. Seun het geGoogle oor hoe om dit gaar te maak en toe het hy en sy skoonma oorgeneem. Hy die kalkoen, sy die gammon en manlief – wat so trots op sy kalkoenvaardighede is, was skielik werkloos vir die dag.
Seun en skoondogter het die bygeregte oorgeneem en seun se skoonsus het opgedaag, maar weer huis toe gegaan. Sy het olik gevoel. Gevolglik moes ek en manlief die drankies oorneem, sowel as voorgereg (seun en skoondogter se takie) en nagereg (seun se skoonsus sou ‘n tert bring). Of eerder hier kom maak.
Ek en manlief het dus takies oorgeneem waarvoor ons nie beplan het nie, met die gevolg dat ons dorp toe is om bestanddele te koop.
Ons eerste keuse is garnale vir voorgereg en vrugte vir nagereg.
Om een groot vet verrassing te kry.
Stilbaai is toe op kersdag.
OK is toe, Spar is toe.
Ons vra by die enigste garage waar ons batterye vir die gasbraaier se roteerder kan koop en waar ons bestanddele kon kry en ons word na die Sjinees gestuur.
Hulle het batterye, maar nie garnale of vrugte nie.
Dewan(i) oorkant die rivier is oop, maar het baie beperkte goed op die rakke. Die winkeltjie is niks wat wonders nie.
Geen garnale en die vars vrugte lyk af.
Ek sien boks met Ina Paarman se roomkaaskoek en dink dat dit poeding kan word. Ek het so een by die huis en kyk net na die bestanddele en sien ek kort room, roomkaas en koekies. Hulle het nie roomkaas nie, maar ek koop kondensmelk, suurlemoensap en koekies. Dalk kan ek my eie resep roomkaastert maak?
Ons sien rooiworsies en koop uitjies (hulle het net geles oor) en gepiekelde komkommers (is dit komkommers). Kaas het ons, die worsies word gebraai en saam met die uie en gepiekelde komkommers op stokkies gesit. Kaas was daar baie.
Ons koop ook Bacon Kips. Dit kan as peuselhappies dien. En gekookte eiers waarvan die gele uitgehaal word en met mayonnaise gemeng word. Devil’s eggs. Is daar ‘n Arikaanse woord daarvoor? Ek het daarmee grootgeword en het geen naam daarvoor geleer nie.
By die piepklein kafeetjie langs die kwekery kry ek room, maar geen roomkaas nie.
Terug by die garage het hulle kaserige goed, maar geen roomkaas nie. Dit word laat en ek besluit dat ek maar by die huis sal dink aan ‘n poeding.
Tuis gekom sien ek dat die Ina Paarman boks koek toe al die tyd Lemon Meringue is! En dat ek wel al die bestanddele het. Ek het verniet so agter roomkaas aan gesoek.
En ek het net mooi drie eiers oor toe ek nege eiers kook vir die voorgereg! Roomkaas was onnodig.
Die tert kan eers gebak word as die kalkoen en gammon uit die oond is. En dit sou beteken dat ek dit eers kan bak as ons al aan tafel sit en eet. Maar dit is mos nie probleem nie?
Ek lees die resep natuurlik ook toe nie verder nie. Eerste keer wat ek ‘n Lemon Meringue bak.
Toe die kalkoen amper uit die oond moet kom, bied seun aan om die meringue met ‘n handmenger te klits. Ons het nie eierklitsers saamgebring nie en om een of ander rede het ek geglo dat Thermie dit gaan opmors as ek effens te veel klits. Vandag onthou ek dat sy room opmors, as mens effens te veel klits word dit weer slap – of botter!
Die tert het gebak terwyl ons eet, maar o wee, ek het nie geweet dat dit dan vir ses ure of selfs oornag in die yskas moet staan nie! Gevolglik moes ek plan kry om dit koud te kry, want skoonseun en die drie kleinseuns het om die tert gedraai.
Skoonseun veral omdat hy wou strand toe. Ek het aangeraai dat hy gaan terwyl ons vir die kos wag, maar dit wou hy ook nie doen nie. Dus moes hulle maar geduldig wees en wag dat die kos en die tert reg word.
Skoonseun het onderlangs gebrom dat ek dit dan die vorige aand moes maak. Ek het stilgebly.
Dit was nie ons afdeling nie, ons het die beste van die saak gemaak. Buitendien, wat is nou so erg daaraan om vir ‘n tert te wag om af te koel?
Ek en manlief het gebundu bash het om iets te kry wat ‘n tert kon wees. Ons het van plek tot plek gery om bestanddele te kry. Dit was ‘n lekker onthou storie vir volgende kersfees. Nie een van ons wat kos gemaak het, het geweet dat niks op Stilbaai oop gaan wees as ons na kerk gou stop om inkopies te doen nie. Daarvan het dollatjie ons eers oukersaand vertel toe ons daar gekuier het. En toe was dit te laat om inkopies te gaan doen.
Iedergeval, die ete het heerlik afgeloop. Die tert was lekker en die voorgereg was min genoeg dat niemand hulle ooreet het nie. Anders as wat ons beplan het, maar baie lekker.
En seun en skoondogter het hulle goed van hulle taak gekwyt om die hoofgereg oor te neem. Ons het die bestanddele gekoop en vertel wat ons beplan het. En hulle het oorgeneem en so gemaak. Rys met blokkies groente, groen slaai, beetslaai en aartappel en bacon slaai.
Die tert was blykbaar lekker. Ek mag mos nie proe nie weens die bestanddele. Daar was drie snye oor, maar toe ek weer sien, staan skoonseun en sy drie seuns om die bak en maak hom skoon. Was dus die moeite werd om te wag daarvoor.

‘n Kersete om te onthou omdat ek en manlief uit ons bekende roetine geruk is om voor- en nagereg oor te neem! Maar veral om te onthou dat Stilbaai op kersdag toe is.
Soos dit hoort.
Klink na n lekker ete!
LikeLiked by 1 person
Dit was heerlik, ek doen dit sommer weer volgende jaar. Om die keer voorbereid te wees op ‘n voor- en ngereg. Baie dankie.
LikeLiked by 1 person
Ja-nee, die winkels se toe deure laat mens weer besef hoe maklik ons moderne lewe is. Hier is winkels ook toe Kersnaweek en Nuwe jaars naweek(soos dit hoort) Bly jul het toe hherlik fees gevier.
LikeLiked by 1 person
Dit is soos dit hoort, mense moet by hulle gesinne wees. Dankie, hoop julle s’n was ook heerlik.
LikeLike
Presies. Myne stil en rustig op my eie. Take away by winkel gekoop. Heerlike skaap skenkel met kapokaartappels en groente.
LikeLiked by 1 person
“The best laid plans of mice and men often go awry”, maar die lewe gaan aan en partykeer ontdek ons iets nuut. Hierdie kersfees moes ek bestandele omruil (want wat ek wou gebruik kon ek nie kry nie) en my kleindogter het vir tamatiesop gevra … ek het vir die eerste keer gou-gou tamatiesop gemaak van die tamaties in my yskas en ‘n blik tamaties met ‘n paar ander bestandele – dit was so lekker dat almal wou daarvan eet. So het ek geleer dat ek wel iets sonder ‘n resep kan maak as die wil daar is! Ek is bly julle het lekker saam gekuier.
LikeLiked by 1 person
Ag natuurlik, dit sou probeelm in die meeste klein dorpe wees! En ja, die iets maak van niets was lekker. Jy gaan resep – of liewer – bestanddele – moet deel. Klink lekker.
LikeLike