Kyk, ons het lankal besluit dat Dischem nie omgee vir sy lojale klante nie. Maar, ons het ook agtergekom dat ons bybetaling op ons chroniese medisyne al meer en meer raak.
Toe stuur Dischem se CEO daardie gewraakte e-pos aan sy werknemers. As werknemers – wat die kleur van hulle vel by geboorte ontvang het – se vel wit is, kan hulle maar vergeet van bevordering.
Kwalifikasies, werksetiek, klantdiens, stiptelikheid, goeie terugvoer van klante en selfs goeie leierskapeienskappe tel nie.
Voor die e-pos was ons een naweek op pad Stilbaai toe. Rivier om omdat ons daar oorgeslaap het. En so in die vroeë oggend gejaag om drie-uur weg te wees voor die staat die krag – waarvoor ons al duurder betaal – afsit, vergeet manlief sy insulien by die rivier.
Dit was ‘n ramp. Want ons sou ‘n week by die see bly, en hy kan nie ‘n week daarsonder gaan nie.
Die vergete insulien het hy eers naby Graaff Reinet onthou!
En dit was halftwaalf op ‘n Sondagoggend. Apteke in kleiner dorpe maak eenuur toe. Nie soos in ons stede waar dit bykans altyd oop is nie.
Graaff Reinet kan ons betyds bereik, maar daar is geen Dischem nie. Aangesien ons vriende in Mosselbaai het wat vir ons kan afhaal, bel ek Mosselbaai.
Mosselbaai se Dischem het nie die soort wat hy gebruik nie, verwys my na George. Waardeur ons gaan ry, maar ons ken niemand in George nie.
Hulle het, maar daar is geen manier waarop ek hulle kan oortuig om die medisyne by een van die winkels vir ons te los nie. Ek verstaan, daar kan met die penne gepeuter word, maar ons het ‘n noodtoestand.
Hulle bied egter geen oplossings aan nie. Daarom was ek nogal kwaad-verontwaardig-verras toe ek ‘n dag later in Stilbaai in ons straat gaan stap en Dischem medisyne by bure aflaai! Dit was tog ‘n oplossing? Om die medisyne die volgende dag by my af te laai?
My dogter ken toe gelukkig mense in George wat vir ons kon gaan afhaal. Ons het so langs die pad ‘n EFT gemaak dat sy net kan instap en afhaal. Met ‘n groot gesukkel want die seine kom en gaan op die N9.
Daar gekom, weet hulle nie waarvan sy praat nie. En moet ek inbel om te vra of hulle dit asseblief vir haar sal gee. Nadat ek so gereël het voordat ek haar gevra het om te help.
Tog het ons by Dischem gebly!
Al het ons vermoed dat ons baie duurder vir ons medisynes betaal.
En al het Dischem Centurion elke keer geweier om medisyne vir my op dieselfde dag af te lewer as ek nie die voorskrif voor 9 uur die oggend e-pos nie. Ek moes maar in lang rye tussen mense gaan sit wat hoes en proes as ek nie kan bekostig om siek te word nie.
Ek verkies aflewer omdat die rye by Dischem altyd baie lank is. En ek nie net kan instap en voorskrif medisyne kry nie. Ek kan wel vra dat dit voorberei word, maar dan moet ek tyd inreken vir wanneer hulle dit eendag gereed sal hê. Insulien moet koud gehou word. En aflewer word mos net die volgende dag gedoen as ek nie voor 9 ingestuur het nie.
Noodgevalle tel nie.
Die gewraakte e-pos het ons laat besluit om Arrie Nel apteke te toets.
Anders as in die geval van Dischem, is ek vir Arrie Nel apteke belangrik.
Ek was al drie-uur in die middag by die dokter, waarna ek my voorskrif na die apteek ge-e-pos het. En ‘n uur later is dit by my afgelewer. Hulle het iemand in diens wat die aflewerings doen, en dit word gratis afgelewer. En so leer ek my afleweraar ook ken, wat ‘n veiligheidsaspek inbou.
Ek kan ‘n voorskrif WhatsApp (vanaf ‘n ander foon, ek gebruik nie meer WhatsApp op my persoonlike foon nie) of e-pos. En wanneer ek bel, moet ek nie na lang opgeneemde gesprekke luister om keuses te maak om gehelp te word nie. As ek bel, praat ek direk met die apteker.
Wat my ook in my taal kan help. Sommer baie aangenaam, omdat ek mooi kan verduidelik wat ek graag wil weet, of hê.
Die kersie op die koek is dat manlief R400 per maand minder inbetaal as by Dischem, wat daarop dui dat ek wel reg was dat Dischem glad nie meer goedkoop is nie.
Die Arrie Nel apteek wat ek gebruik is baie verder van my af as Dischem, tog gee hulle nie om om die ekstra myl vir my te loop en my medisyne dieselfde dag af te lewer nie.
Dit help natuurlik ook dat daar ‘n Arrie Nel in Stilbaai en kleiner dorpies is. Ons kan dus gehelp word as die nood druk. En ons kan voorskrifte sonder ‘n probleem daar afhaal.
Watter wonderlike voorreg om te getuig van hierdie groep apteke.
Dischem moes lankal die stap geneem het. Dan het ek lankal besluit om ander apteke te toets.
Clicks groei blykbaar weens die Dischem e-pos. Ek is nie ‘n Clicks liefhebber nie. Ek hou – net soos in die geval van Dischem – nie daarvan om in sulke lang rye te staan om my voorskrif te kry nie.
Ek lees nou die dag ‘n berig waarin Solidariteit (as ek reg onthou) aangehaal word dat hierdie nie ‘n boikot is nie. Boikotte hou ‘n maand, of twee. En ek lees dat Dischem R 1.9 miljard weens die e-pos verloor het. Maar ek lees veral Solidariteit se stelling raak dat dit nie ‘n boikot is nie, maar ‘n vertrouensbreuk.
Dit is natuurlik waar. Hoe kan ek ‘n besigheid met my gesondheid vertrou as hulle teen mense in hulle eie besigheid diskrimineer op grond van die kleur van hulle vel?
Maar, ek ondervind dit anders.
Arrie Nel is goedkoper, Arrie Nel lewer gratis af, wanneer ek die medisyne nodig het. Nie eers die volgende dag nie.
Gegrond op die vriendelike en vinnige diens wat ek ontvang het, is ons gister na die apteek om die vriendelike span te ontmoet.
En staan ek verras voor ‘n klein aptekie. In Irene. Dit is so groot soos ‘n gang of twee in Dischem Centurion. Dit verkoop nie skoene en allerhande ander goed om voete in die apteek te kry nie. Dit is ‘n apteek, en nie ‘n algemene handelaar nie.
Ek het ‘n massiewe een verwag gegrond op die vinnige, goedkoop en betroubare diens!
So ja, ek het Dischem verlaat.
Ek bedank die CEO van Dischem dus vanuit my hart. Baie dankie!
Ek en my man spaar – as ek vinnige somme moet maak – so R6000 per jaar. Daarmee kan ek baie doen. Veral as ons eers die dag aftree en ons sente dalk moet tel.
Ons boikot nie, ons gaan nie terug nie.

DANKIE vir hierdie info. Ons was onlangs in ‘n winkelsentrum in Bloem, en ek het die apteek gesien. Toe ek nou die naam sien, weet ek onmiddellik dis daardie apteek. Ek stem met jou… ek gebruik ons plaaslike apteek in Middelburg-Karoo en kry super persoonlike diens. Maar sou ons ooit weer rondry, sal ek vir seker eerder by Arrie Nel instap as by Dischem.
LikeLiked by 1 person
Ons ook. En dit is absoluut lekker dat hulkle gratis aflewer. Ek geniet dit om my apteker te leer ken.
LikeLike
Lees ek reg? Middelburg op die N9 in die Kaap? Ons ry in die laaste tyd gereeld daar verby, hou baie daarvan om by die lodge te stop vir bene rek en ontbyt as ons op Colesberg oorgeslaap het – en manlief geniet dit om sy tenk daar vol te maak! In die dorp? Voel nou of ek mense al die pad Kaap toe ken.
LikeLiked by 1 person
Dis reg. Ons bly in die dorp. Volgende keer kan jy gerus inloer. Ons het ‘n koffie-in en koffie-uit!!
LikeLiked by 1 person
Nou gaan jy moet verduidelik wat dit beteken. ‘n Plek waar mens vir ‘n koffie kan stop? Dan gaan ons dit beslis opneem.
LikeLike
Alhoewel ons altyd ‘n plaaslike apteek gebruik het was hulle onlangs deur Clicks oorneem: wie het ooit gedink dat groot beter werk as klein? Dit is ‘n groot gemors, maar dit is alwat ons het! Dis-chem sal my nooit sien nie.
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam, Anne, Dischem sal my ook nie weer sien nie. Dan eerder Clicks.
LikeLike
Jy het my nou aan die dink gesit. Ons bly in Stilbaai, maar gebruik Dischem Mosselbaai vir ons kroniese medikasie. Ek het nou net afskrifte van ons voorskrifte aangestuur na Fynboe Apteek (Arrie Nel) om ‘n prysvergelyking te doen.
LikeLiked by 1 person
Ons insulien was nie daar toe ons by die apteek was nie. En … toe ek weer sien … word dit by my huis afglewer. Ek is baie beïndruk daarmee.
LikeLike
Stilbaai! Ons gaan Desember vir drie weke daar wees. Wat sou die kans wees dat ons mekaar raakloop? Ek verstaan dat die plek uit sy nate bars oor Desember. Waar daar gewoonlik 6 000 mense is, was daar verlede jaar 30 000 mense in die dorp!
LikeLike
Nou toe nou. Ons apteek het ook n jaar if wat felede tiegemaak en clicks of checkers was enigste.opsie. noy is daar n nuwe apteek. Ek sal moet gaan inloe en hoor of dit dalk n Arrie Nel apteek is
LikeLiked by 1 person