Gepubliseer in Joernaal

My Jakaranda wat ek nie kon saamvat nie

Bushboy deel vandag foto’s van die jakarandas in sy stad in Australië. En ek gesels saam en sê dat ek tans in ‘n stad in Suid-Afrika bly wat bekend is as die Jakarandastad.

Wat ek nie byvertel het nie, is dat ek aan die Universiteit van Pretoria studeer het. En dat ons elke jaar eksamentyd onder die jakarandas deur geloop het op pad kampus toe in die hoop dat ‘n blommetjie op ons sal val. Want, dan sou mens volgens die legende op die kampus deurkom. Wel, dit is dalk nie so nie. Dalk moet dit mens juis misval? Want ek het elke jaar geslaag. En my 4-jaar graadkursus suksesvol voltooi.

Ja, ek het die professionele graad gekies, dus ‘n drie jaar graad met nagraadse diploma in onderwys nie. Ek het Opvoedkunde, Afrikaans en Geografie as hoofvakke gehad. Opvoedkunde het in ons tweede jaar begin en die laaste jaar was dit net Opvoedkunde 3. Dit is juis hier aan TUKS wat my liefde vir die jakarandas begin het. Ek dink nie ‘n ander boom maak soveel pragtige blommetjies vir so lank nie …

Dalk maak ander bome? Die jakaranda speel net – soos koraalbome ook – slim en laat die blomme na die winter eers kom en daarna die blare. Dus sien mens die pers bome myle en myle ver.

So gesels ons en hoor ek dat sy stad ook so genoem word. Juis oor die pragtige bome.

Toe is ek lus om iets oor my jakaranda te skryf.

Toe ons in November 2005 na ons huis in Roodepoort getrek het, het ek besluit om ‘n jakaranda in my tuin te plant. Ongelukkig het ‘n nuwe regering so paar jaar tevore aan bewind gekom wat gedink het geld groei aan bossies. En hulle het besluit dat jakarandas uitheemse bome is. En met alle mag en krag uitgeroei moes word. Vele van die reuse in Pretoria het in die slag gebly. Maar, soos ek geskryf het, het hulle hulle misgis met kostes. En so het die meeste van die bome gespaar gebly. Nog een van vele missies wat in die hek geduik het.

Toe ek dus my jakaranda wou plant, het ek voor ‘n doodloopstraat beland. Geen kwekery hou jakarandas aan nie.

So rukkie later gaan registreer ons by Merriespruit laerskool om te stem in die kiesafdeling. Die lang ry irriteer my en toe glip ek weg na die laning jakarandas toe. En tel ‘n paar sade op.

Die sade is vertroetel en toe hulle mooi in die pot gegroei het, is hierdie ene in my tuin uitgeplant. Bietjie te laat, sy penwortel het reeds skeef gegroei, al was dit nog so klein. En hierdie skeefgeid het die boom behou. Al het ek probeer om te snoei dat hy nie swaar aan die een kant dra nie.

Ek hoop hy staan steeds daar en dat hy nie afgekap is nie. Dink nie hulle sou nie, want die boom het die bure se oop uitsig in ons huis in versper … na vele jare van groei.

Iedergeval, ek sien ek het nie baie foto’s van my baba boompie nie. Inteendeel die eerstes wat ek met die vinnige soektog gekry het, is eers in 2014 geneem. Kon ek regtig vergeet het om te neem?

Aan die begin het mense – wat die eerste paar jaar alles geglo het wat diegene in beheer kwytraak – teregwysend vir my vertel dat ek die boom moet afkap. Dit is teen die wet.

En my antwoord: Ek sal, die dag wanneer ieder en elk van hulle wat die wette maak, hulle eie wette gehoorsaam.

Wel, luister maar net na die mannewales van die regeringsamptenare en jy sal weet, my boom sal nog baie lank en gelukkig kan staan en groei waar ek haar geplant het.

My eie Jakaranda … wat agter moes bly

Die laaste foto onder is ‘n foto van ons huis wat ons in 2021 verkoop het. Net toe ons begin aanvaar het dat ons in haar gaan terugtrek na die Kazakhstan, Kathu, Kuruman verhuisings het sy ‘n regte koper gekry.

Die eerste koper was ‘n bedrieër, het ons al die pad van Kazakhstan laat kom om in Julie 2019 uit te trek aangesien hulle wou intrek sodra die huis op hulle naam geregistreer is. En toe kan hy die huis nie bekostig nie.

Wat natuurlik ‘n goeie ding was. Want ons huis het die perfekte pasmaat gekry. En ek hoop hulle bly nog heerlik daar. Ek vra so nou en dan, en dan doen dit my hart goed as hulle so gelukkig klink.

Ons het die huis baie geniet.

Hooffoto: Verstaan jy waarom ek die boom nie kon saamneem nie? Ek is so vyftien jaar later klein teen die boompie wat ek geplant het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “My Jakaranda wat ek nie kon saamvat nie

  1. Net gister het ek na die mooi jakaranda bloeisels in ons dorp gekyk en gedink dit is weer tyd omfotos te neem! In Pietermaritzburg het ons ook die gedagte gehad dat as ‘n bloeisel op jou kop val sal jou eksamens goed gaan 🙂 In ‘n paar van die strate hier is die jakarandas tussen daardie rooi bloekombome uit Australië geplant: die rooi en pers blomme lyk baie mooi lanks mekaar.

    Liked by 1 person

      1. Jacarandas are South African Natives????? They grow here in Australia from when the two continents were joined. Most of the so called Natives in my garden are South African. When I was a lad we lived near Grafton which had a Jacaranda Festival every November, we had a parade and crowned the Jacaranda Queen. I don’t know whether they still do.

        Liked by 1 person

  2. Dis ‘n pragtige boom (met sy mooie blommetjies) … ek het nooit kon dink dis ‘n indringer boom nie! Ons hier in die suide van die land het weer geglo as ‘n akker van die laning akkerbome in Stellenbosch op jou kop val, sal jy elke jaar deurkom. Dink ek nou, dis seker beter (en sagter) op die kop as ‘n jakaranda blommetjie eerder op jou kop val as ‘n akker 😁.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.