Gepubliseer in Joernaal

Om deel van ‘n groep te wees …

Hierdie blog is nie deel van my normale inskrywings nie – dit vorm deel van ‘n skryfuitdaging van ‘n groep bloggers. Hier is die uitdaging:

*** Dis nou jóú Beurt!


Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf. Ons is geanker in die werklikheid maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer. “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt. Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan. Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. (Hierdie konsep is deur Stephen en Franklin Covey in hulle kursusse tot meer effektiwiteit benut om empatieke luister te bevorder). Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees:


https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352

***

En hier sit ek met die stok in die hand.

Oor die slimgriep gaan ek nie praat nie. Want ek voel soos die vorige verteller oor die onderwerp. Ek voeg egter massa-histerie aangehits deur massa-media by die slimgriep. Ek wonder of saint Cyril (raai maar self waarom ek hom die bynaam gee) weet dat dit nie nodig was om kerke te sluit nie, my kerk se leiers het dit sommer twee of drie weke gelede self gedoen. Teenstand gaan hy beslis nie van kerke af kry nie.

Dus gaan ek oor iets anders praat, noudat die stok in my hand gesit is.

Groeplidmaatskap – of eerder om deel van ‘n groep te voel …

Ek was vandat ek kan onthou nie ‘n groepsmens nie. Dalk omdat ek ‘n paar dinge oor groepe geleer het toe ek vanaf eenjarige ouderdom skielik deel van ‘n groep van twee, drie, vier en toe vyf susters moes word? Dalk het die ervaring my geleer dat ‘n groot/groterige groep nie regtig ‘n groep is nie – dit bestaan eerder uit kleiner, dinamiese klieke – dus klein groepies wat mettertyd kan verander. Klieke wat ‘n samehorigheidsgevoel in die groep ondermyn. En dit het my waarskynlik onbewustelik ‘n renons in groepe gegee.

In so mate dat ek op skool met enkele meisies vriendinne geword het. Dalk was ons ook die randeiers. Maar ek het gekies om nie deel van groot groepe te wees nie. Ek kon my vriendin vertrou. Dit het waarskynlik my gees gevoed voordat ek weer huis toe moes gaan om die dinamika in ‘n groep susters te hanteer.

Hierdie groepie vriendinne kan ek opnoem. Wilma de Beer (graad 1-einde standerd 2 en standerd 4), Marlize van der Merwe (standerd 6-10) en Ina de Beer (nie verwant aan Wilma, eerste – vierde jaar Tukkies). Ina was my enigste vriendin wat ook deel van ‘n groep vriendinne was, maar ek het nie by die groep ingeskakel nie. Is baie genooi, maar ek kuier nie saam as dit van my verwag word om ander se rook in te asem nie.

Standerd 3 en 5 is in ‘n waas gehul, ek kan nie onthou dat ek ‘n vriendin gemaak het nie. Standerd 3 was ek skielik deel van ‘n baie groot skool en standerd 5 weer van ‘n piepklein skool, ons was minder as tien standerd 5’s. Ek kan egter ook nie onthou dat ek pouses alleen was of by my suster gesit het nie. Wonder wat het ek gedoen?

Ek onthou myself dus as iemand wat groepe vermy.

Die groepvormingsfunksie van toeps en die koms van sosiale media het veroorsaak dat ek wel deel van tegnologie-gesteunde groepe geword het.

Soms skep ek die groep – soos een vir my gesin, een vir my en manlief en seun, een vir my en manlief en dogter. En een net vir die VanStadens – ek, manlief, seun en dogter. Almal weet wat in al die groepe gesels word, daar word nie van mekaar geskinder nie. Dit maak dit net makliker wanneer mens reëlings wil tref en nie die ander se fone die hele tyd wil laat piep as dit niks met hulle te doen het nie.

Soms het ek twee nommers – soos die een in Kazakhstan en my Suid-Afrikaanse nommer. En nou die een in my ou foon en die een in my nuwe foon. Dan vorm ek ‘n “groep” met ‘n vriendin – ek en myself en sy, sodat ons steeds kan kommunikeer as my foon in ander land nie opvang nie. Dit is darem nie “me, myself and I” nie, maar ek wonder nou so met my tong in my kies. Sal dit nie ‘n lekker groep wees nie? Een waarin ek my sê van die een foon af kan sê, dit vanaf ‘n ander een kan beantwoord en so tyd vir selfrefleksie skep. Ek spot egter sommer nou – alhoewel ek weet dat dit wat geskryf is, beslis tussen ons drie sal bly …

En so kom ek by die tameletjie.

Dit waaroor ek vandag wil gesels noudat die stok in my hand is.

Wat is nodig om deel van ‘n tegnologie-gesteunde groep te voel? Want ek voel nie deel van die Goue Vroue nie. Ek gaan die twee vrae so gesamentlik beantwoord.

Die Goue Vroue bestaan uit ‘n groep van 14 skrywers wat soms bloguitdagings aan mekaar stel. Dit vereis so een inskrywing per maand of drie. Omdat dit ‘n groepaktiwiteit is, vereis dit – myns insiens – dat almal daaraan deelneem, wat natuurlik ook indirek vereis dat ons mekaar se inskrywings sal lees, daarvan (kan) hou en beslis – myns insiens – kommentaar moet lewer. Om mekaar aan te moedig tydens die moeilike skryfproses. Dit is vir my die kriteria vir so ‘n skrywersgroep.

En dit is juis die feit dat ek baie min kommentaar op my deel van uitdagings kry, wat my laat voel dat ek nie deel van die groep is nie.

Ek is mos ‘n navorser … dus gaan ek soek bewyse vir my intuïtiewe aannames of voorgevoelens.

Gebaseer op die kriteria, is ek nie deel van die Goue Vroue nie, op die meeste kan ek daarop roem dat ek deel van ‘n kliek van sewe of agt vroue in die groep is. Hierdie groepie lewer gereeld kommentaar op my insette by bloguitdagings, dus bietjie meer as 50% van die groep.

Vanuit ‘n netwerkperspektief is ‘n kliek ‘n groep binne ‘n groep wat eerder verhoudinge met mekaar bou as met ander lede van die groter groep. Dit is nie noodwendig negatief nie, maar dit beïnvloed wel samewerking in groepsverband – en ‘n gevoel van samehorigheid of “belonging” – daardie gevoel dat jy regtig deel van die groter groep is.

Ek het al aan soveel van die bloguitdagings in die groep deelgeneem, maar enkeles reageer op my insette. En nou moet ek eers by hierdie punt stilstaan.

Ek verstaan dat mense besig is, maar tegnologie is geduldig. ‘n Jaar later kan steeds kommentaar gelewer word … Dit is nie soos ‘n groep in die fisiese omgewing wat vereis dat mens op ‘n spesifieke tyd op ‘n spesifieke plek moet wees nie …

Ons is almal besige vrouens, met baie hooi op die vurk. Vir my is die uitdaging selfs groter omdat daar van my verwag word om in ‘n genre te skryf waarbinne ek ongemaklik voel – stories, verbeeldingsreise, denkbeeldige dorpies. As ek weer sien, maak ek dit doenbaar, tasbaar, prakties. En as ek weer sien, geniet ek dit ook.

Ek ruim tyd in om aan ‘n moeilike uitdaging deel te neem. Die uitdagings wat van ons vereis om ‘n vervolgverhaal saam te skryf, eis baie tyd omdat ek notas moet neem uit die vorige stories om sinvol verder te skryf. Tog sit ek tot onlangs alles neer om aan so ‘n groepaktiwiteit deel te neem.

Ek kry egter so min terugvoer dat ek voel dat ek nie weet of ek regtig as ‘n skrywer gereken kan word nie. Veral as ek die ander lede s’n lees en sien hoe bykans almal kommentaar lewer en daarvan hou. Twee aktiwiteite wat mens aanmoedig om weer te probeer, maar as dit nie gebeur nie, my ook ontmoedig om verder deel te neem

Deelname aan groepsaktiwiteite kan nie geforseer word nie. Dit moet spontaan gebeur. Maar – deelname aan groepsaktiwiteite bou ‘n gevoel van samehorigheid in groepe uit. En daarom is dit te verstane waarom ek nie deel van die groep voel nie.

Kan ek dit dan nou, terwyl ek met die stok in die hand staan, met ‘n praktiese probleem belig?

Ek het ‘n uitdaging aan die groep gerig om kinderstories te skryf. En daar is ‘n allemintige 35 stories uit die pen van 8 van die groep van 14 Goue Vroue. Ek het die stories verskriklik baie geniet. Lees hulle gerus by hierdie skakel https://fresh.inlinkz.com/party/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247. Maar dit bring my by die punt.

Ek wil die stories graag in boekvorm saamstel, maar gaan beslis nie “deur die Goue Vroue” as skrywer/s van die boek op die voorblad aanbring nie. Ek kan ook nie skryf “deur 8 van die Goue Vroue” nie, want lig dit dan die moontlikheid van klieke uit. Om die dilemma te oorkom, het die projek maar in laai 99 gestoor, wat my soos iemand laat voel wat ‘n projek begin en dit nie klaar maak nie.

Ek besef dit klink dalk vreeslik juffrouerig. En moenie vergeet nie, ek is ‘n gebore juffrou. Almal in groepe moet aan die aktiwiteite deelneem – dit is hoe mens groepe vestig.

Dit is juis hierdie dilemma wat my laat onttrek het, ‘n boodskappie aan die groep laat stuur het.

Jammer, ek is te besig om aan verdere uitdagings deel te neem.

En so het een of twee uitdagings sonder my voortgegaan, sonder dat ek my ware redes ontbloot het. Noem my maar ‘n sissie, ek was nie lus om my besluit te verdedig nie.

En toe plaas Aalsie (Letty-Ann) die praatstok in my hand.

En sit ek met die dilemma.

Gaan ek kuiken speel en net weer skryf dat ek ongelukkig nie tyd het nie?

Maar dan sien ek iets baie groter in haar versoek raak. Ons is alfabeties gerangskik en elkeen kry ‘n beurt om die stok te vat en te praat. Keuseloos, al is ek seker ek sou kon laat weet dat ek nie tyd het nie.

En ek besluit. Deelneem gaan ek, want Aalsie druk onbewustlik my gevoelens, begeerte, verlange, hoop, droom vir die Goue Vroue uit. As jy deel van die groep is, moet jy aan die groepaktiwiteite deelneem – jou eie uitdagings ten spyt – om ‘n gevoel van samehorigheid te help bou.

Daarsonder is dit nie ‘n groepaktiwiteite nie, op die meeste ‘n kliekaktiwiteit. Ek is lief vir elke lid van die groter groep, ons het verlede jaar bietjie later as hierdie tyd ‘n massiewe sak sout saam opgeëet. Dit was die tyd van die groot skeuring in die virtuele wêreld. En toe het ek my by hulle geskaar. Ek het egter verder terug gaan opsoek – en toe ook het ek nie deel van die groep gevoel nie. Gebaseer op bogenoemde kriteria.

En daar het ek nou gepraat.

Ek skat mens kan die praatstok blameer. Want sien, ek het nie voor die stok in my hand geplaas is, die moed gehad om my standpunt te stel nie. Ek doen dit ook nie sommer nie. Ek wonder altyd oor hoe dit my verhoudinge gaan beïnvloed. Die praatstok in my hand het my egter die vrouemoed gegee om tog my saak te stel …

Dalk verstaan iemand?

***

Tannie Frannie, die praatstok is nou in jou hand …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

39 gedagtes oor “Om deel van ‘n groep te wees …

  1. Dankie, Christa – ek sal so oor twee dae my praat praat. Ek is self een van die booswigte wat nie genoeg kommentaar lewer nie, want ek het dikwels niks sinvols om te sê nie, of iets trek my aandag af, of ek is besig met ander goed. My kosbare blogmaats kan egter seker wees dat ek ‘n inskrywing gelees en geniet het, as ek daardie “hou van”-knoppie gedruk het.

    Liked by 1 person

        1. Ek dink ek druk myself verkeerd uit, Frannie. Op my eie blogs verwag ek geen hou van’s of kommentaar nie. Inteendeel, ek skryf dit vir myself vir my oudag op die stoep van die ouetehuis wanneer ek sukkel om al die details te onthou. As iemand saamgesels, is dit heerlik verby. As niemand kommentaar lewer of daarvan hou nie, sien ek dit nie eens raak nie. Maar, wanneer ek aan ‘n groepaktiwiteit deelneem, verwag ek wel dat die groep kommentaar sal lewer. Want ek noem elkeen by die naam wanneer ek skryf, lok hulle uit om saam te gesels.

          Liked by 2 people

  2. Christa,ai,hoe dankbaar is ek dat jy die praatstok opgeneem het en met groot openhartigheid jou sê gesê het💃. Dit is so dat party van die G.V. mekaar persoonlik ken vandaar die verkeer tussen spesifieke blogs. Dan is daar dié wat daagliks kontak hou agv die whatsapp groepie (dis waar ek jou ook leer ken het😃). Maar nou klou ek aan die messages naelstringetjie vas om ons verbintenis te bewaar en siedaar! Dit werk, want jy is steeds deel van ons klomp bloggers en ek identifiseer so sterk met jou want ek is ook ‘n 1957 model sonder boeties. Moenie wegraak nie!!

    Liked by 2 people

  3. Ai Christa…verstaan dit dat jy so voel. Ek is ook skuldig dat ek blogs lees en nie eers net ‘n duimpie gooi nie. Jy het nou keel skoon gemaak, en dis waaroor die praatstok gaan. Ek het vroeg besluit dat ek skryf omdat dit my terapie is, neem deel waar ek kan en wil en dis oukei. Maar soos jy tereg sê..ons het ‘n virtuele oorlog gewen en saamgestaan….ons kan nog steeds. Ek dink ook net die sosiale media se verskeidenheid veroorsaak dat mense mekaar deesdae mis….dis hartseer. Maar jy bly deel van die GV solank as wat jy wil….

    Liked by 2 people

    1. Ek dink die groepdinamika het baie verander toe daar n whatsup groep ook gestig is. Aanvanklik was dit net n groe (meestal) vreemde, uiteenlopende individue wat saamgewerk het aan stories. Maar agv die whatsup groep het hulle begin om persoonlike detail te deel. Rnbhoewel ons bligvriende is, en begin omgee vir mekaar, is ons in werklikheid mense met baie uiteenlopende lewens, en elkeen redelik individuslisties en op sy eie. Soms is party ongelooflik besig of het stiltyd nodig.
      Ek glo nie n mens moet verplig voel om deel te neem agv die groep nie. ‘n Mens moet dit eerder sien as n geleentheid om deel te neem as jy wil.
      Ek probee4 deelneem omdat dit vir my aanspoor om te skryf ipv om slap te tê en niks te skryf nie. Dit dwing my ook om buite die boks te dink. Maar ek neem nie aan alles deel nie, en h bv in die verlede aan woordsnoere deelgeneem nie, want ek was envoudig nie lus jue en ek was baie besig. En ek dink dis ok. Dis vry en vrywillig. Die groeo se eerste naam het toevallig ontstaan omdat almal deelgeneem het aan die perfekte misdaad by Towerkop. En tor die oorlog kom, het sommige Goue Vroue geword. En party skryf baie en party min, maar wees verseker, jy is geliefd en welkom !

      Liked by 2 people

      1. Haai Seegogga, geliefd voel ek wel. Welkom ook. Maar, ek gaan nie verder aan uitdagings deelneem nie omdat dit ‘n emosionele impak op my het waarvan ek nie hou nie. En my iemand laat word waarvan ek ook nie hou nie – een wat doelbewus nie meer mense se werk gaan lees en daarop kommentaar lewer as hulle myne ignoreer nie. En ek praat spesifiek van bloguitdagings. Ek het sedert ek nie meer deelneem nie, die deelname aan inskrywings gelees, kommentaar gelewer en my “vriendinne” wat almal insluit, so aangemoedig om weer te wil skryf. Ek stem saam dat mens kan skryf wanneer jy wil. Maar as mens ook net kommentaar lewer om sommiges se werk en nie op ander s’n nie, is dit ‘n perd van ‘n heeltemal ander kleur. Dan kan ons in elk geval nie meer praat van “one for all” en “all for one” nie. Dan is daar klieke wat ‘n negatiewe invloed op groepwerk het. Ek verstaan dat almal besig is. Omdat ek verskriklik besig is. Ek moet soveel artikels as wat ek kan per jaar skryf om my inkomste te vergroot. En dit is waarop ek liewer gaan fokus. Dit verg baie emosionele inspanning van my, want ek moet my werk elke keer vir keuring voorlê en ‘n maand of twee vir terugvoer wag. Dit is juis daarom dat ek miskien aan die bloguitdagings deelneem – die kommentaar is onmiddellik. Daarsonder voel ek nie meer lus om deel te neem nie. As ek onttrek, sal die groep waarskynlik beter saamwerk?

        Like

        1. Ek is eerlikwaar nie bewus van enige onderstrome of klieks nie. Ek weet wel dat party lede mekaar goed ken. Ek , Toortsie, en Letty-Ann woon op Bredasdoro en ken mekaar redelik goed( maar is nie huisvriende nie). Appeltjie is ook n ou Brwdasdorper en my kleuter was destyds in haar soeelgroepie. Sy word nou aangetroude familie van Toorts. VirgovC us Una se skoonsus. Una ken ook die Pretorianers en die meeste ander bloggers, maar ek kan nie onthou hoekom nie. Ej dink hulle is waarskynlik gieie vruende met positief, want hulle het saam eiensom in mosambuek gekoop. Trommeltjies en Toortsie was ( toevallig?( saam io n bergstap uitstappie. Jy en San is vriende?
          Scrappy is ver en ek glo nie iemand ken haar persoonlik nie. Sy neem ook baie min deel.
          So sommige is nader emosioneel aan mekaar as ander. Dit pla my glad nie, want ek is baie n alleenmens. Was enigste kind en gewoond om dinge op my eie te doen. En soms verkies ek dit ook. Ek steur my eenvoydig nie te veel wat mense van my dink nie. Ek moet sê due Rebusfonteinbding het my gewwldig ontstel- sekee omdat so in due minddel van n kekkee avontuur was, in lock-down, toe almal se emosies dalk n bietjie broos was. Liewe land en dit oor n plek wat nie eers bestaan nie!
          Ek bewonder jou dat jy so aktief skryf en publiseer. Ek besef dat dit baie tyd neem. Dit is wonderlik dat jy so kan inkomste verdien enige plek in die wereld!
          As jy nue wil deelneem nue, is dit mos ok. ‘n Anderdag pak due gier joy weer, en dan skryf jy weer! Hierdie is n oop groep en almal wat wil saamspeel is welkom, soos apeltjue en Letty-Ann verlede jaar en San nou onlangs ook nou ingestap het.

          Liked by 1 person

          1. Haai Seegogga, ek praat nie oor klieke in die algemeen soos wat mense dit verstaan nie. Die negatiewe deel van ek hou van jou of ek hou nie van jou nie. Ek speel saam met jou of ek speel nie saam met jou nie. In sosiale-netwerk-analise – my studieveld – is ‘n kliek ‘n groep binne ‘n groep wat digter verhoudinge met mekaar bou en nie met ander lede van die groep ook nie. Om verskeie redes, soos byvoorbeeld dat hulle mekaar beter ken en daarom gemakliker met mekaar gesels. As daar egter saamgewerk word met ‘n doel om mekaar aan te moedig om ook te skryf, is dit wel probleem as sommiges nie op ander se werk kommentaar lewer nie – veral as hulle nuut in die groep is.

            Like

    1. Hi Una, jy weet ek praat spesifiek van die groepuitdagings. Ek het ook nie tyd om almal se gewone blogs te lees nie, haal soms na ‘n week eers in en lewer dan kommentaar waar ek kan. Ek praat vandag spesifiek van die groepuitdagings. Daar voel ek nie deel van die groep as ek nie kommentaar of ‘n hou van kry nie.

      Like

  4. Jy weet waar ons staan, selfs al kom ek niealtyd by elke bloglees uit nie. Ja, dit is so dat mense in ‘n groot groepdalk nader aan sekeres staan en met sekeres meer kommunikeer as met ander. In ons vriendekringe is dit ook so en weet ek dat daar van die ander is wat dalk groter maats is. Ek is gemaklik daarmee. Weet dat elkeen van die Goue Vroue lief is vir jou en dat ons jou mis.
    Oor die boek. Gee dit ‘n naam, skryf Saamgestel deur Christa van Staden en medewerkers. Of net Deur: en dan tik jy elkeen wat geskryf het se naam alfabeties onder mekaar of langs mekaar.

    Liked by 1 person

    1. Hi Toortsie, ek praat spesifiek van die bloguitdagings in groepsverband. Ek en jy skryf albei baie en ek kan nie altyd al joune lees nie. Soos jy ook nie myne kan lees nie. Maar – ek is van mening dat daar wel moeite gedoen kan word wanneer dit ‘n groepuitdaging is – al is dit net om lede aan te moedig om saam te skryf ‘n ‘n genre waarmee hulle glad nie vertroud is nie – soos byvoorbeeld vervolgverhale. Dit is veral die vervolgverhale wat tyd verg, beplanning. mens kan nie net joune skryf en wag tot almal s’n gepubliseer is nie, jy moet tred hou met die storie voor joune dat joune sin maak. Ek besef dat daar mense is wat min tyd het, en dat dit ‘n rede kan wees waarom hulle nie reageer nie. Die boodskap wat deurgegee word, is egter “ek ignoreer jou” en nie “ek is besig nie.” Ek is elke keer verras as iemand op my gewone blogs reageer, daar verwag ek geen kommentaar nie want ek skryf ‘n dagboek vir my oudag wat ek sommer so in die openbaar deel ook. Wanneer ons saam skryf, voel ek dat ek nie deel van die groep is as my deelname nie erken word nie. Dit is egter geen ultimatum nie – ek het bloot my gevoelens oor die saak gestel.

      Liked by 2 people

  5. Ek is bly jy het die vrymoedigheid geneem om jou sê te sê. Dit kan ons as groep net baat om bietjie aan onsself te skaaf. In ons samelewing leer ons met verdrag hoe om op hierdie tipe groep teenoor mekaar te reageer. Dit gaan weereens oor doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê as ons die groepuitdagings doen. Dit is waar ons moet “bond”. En om ‘n “like” te kliek beteken vir mense só baie. Dit inspireer en laat mense deel voel. Dit is hoe ons die skryfgroep kan versterk en mense as skrywers kan aanmoedig om aan te hou skryf. So kan ons vir skrywers ‘n tuiste skep.

    Liked by 3 people

  6. Ek skryf nie baie nie, ek probeer altyd as daar ń groep uitdaging is saam lees en kommentaar lewer. Ek neem nie altyd deel nie, probeer, maar ek is nie so ń kranige skrywer soos julle nie. My kinderstorie muse het my heeltemal verlaat, so ek het nie deelgeneem nie. Dis my kant gestel (sommer sonder die praatstok). Christa miskien voel jy ook uit omdat jy nie meer kan saam babbel op die whatsapp groep nie, dit laat my nogal meer deel voel. Dis maar net ń waarneming. Ja, daar is noodwendig in die groep mense wat mekaar beter ken en ń langer pad met mekaar stap, maar ek dink nie dit moet jou nie deel laat voel nie. Ek is ook maar ń kantlyn enetjie.

    Liked by 2 people

    1. Haai Trommeltjie, nee dit is nie omdat ek die WA groep verlaat het dat ek uit voel nie – ek voel nie uit nie, net nie deel van ‘n groep van 14 vrouens nie. Ek voel wel intiem deel van ‘n kleiner groep vrouens binne die 14 – want die res reageer selde op my bydrae tot saamskryfstories. Die saamskryfdeel was daar lank voor die WA-groep gestig is – die groep is maar eers in gedurende die pandemie gestig – ek dink dit was in Mei 2020. Ek wil niks forseer nie, ek wou seker maar eintlik net verduidelik waarom ek besluit het om nie meer aan uitdagings deel te neem nie. Alhoewel dit lekker is, is ek seker elkeen van die GV’s sal saamstem dat die eintlike lekker in die saamgesels oor die bydrae is. Mens kyk gereeld of daar kommentaar is en daarom is jy ook bewus daarvan dat daar nie op jou werk kommentaar gelewer word nie. Wat my natuurlik by die volgende punt bring – die natuurlike uitvloei is dat ek dan ook nie meer lus is om hulle werk te lees of saam te gesels nie … en wanneer mens eers so voel, is dit noodsaaklik om oor die probleem te gesels.

      Liked by 1 person

  7. Dis lekker om almal se opinies te lees. Hierdie goue vroue is seker die grootste groep waaraan ek behoort. Ekself hou van like as ek klaar gelees het, maar het nie altyd iets nuuts om by te voeg nie.

    Liked by 2 people

  8. Dit sal interessant wees om te sien of daar van nou af meer interaksie sal wees op elkeen wat bydra aan ons bloguitdagings😉🤓😃.Ek beskou jou opinie as ‘n pleidooi vir meer interaksie,Christa💞

    Liked by 1 person

  9. Dit het nou guts gevat die skrywe, haal my hoed af vir jou. Buiten dat ek nie comment op alles nie, neem ek nie deel aan alles nie- baie skuldig. Was vir my baie erg in begin met uitdagings en is steeds en wou baie keer net ophou en verdwyn. Ek is te veel “ek voel nou so en nou wil ek dit uitskryf- eerder as so voorbereiding te doen of te dink aan iets wat ek totaal geen benul het van wat om te sê nie- Afrikaans en ek was nie regtig maats nie, danksy ‘n aaklige onnie (not getting into that). Maar ek dink ek verstaan wanneer jy praat van kleiner deel in die groot groep, ek voel half so wanneer GV praat oor diep Christelike verhoudings en antwoorde kry van Heilige Gees af, dit freak my uit. Nie dat ek nie glo nie, ek doen, maar sal nooit so iets kan skryf nie, want ek weet nie hoe nie- en ek kan nie op sulke goete comment nie. Tog, ek leer so baie en hoor so baie wanneer ek dit lees. Jy weet ek skryf en praat padlangs. Ek dink wat jy geskryf het, het almal dalk bietjie in die bek geruk, en dalk goed in mate, want ons kan meer moeite doen gedurende die uitdagings en individuele skrywes, al is dit later (wys ek my vinger vir myself). Persoonlik geniet ek wanneer jy sulke taai toffies aanvat en jou ding sê -van die Afrikaans moet ek opsoek want jy praat baie hoog en tussen my Afrikaans/Engels/Arabies en wie weet wat nog alles vang ek nie altyd al die woorde nie. Comments is vir my vreemd, want ek het my notifications af. Meestal kom ek agter as ek tyd kry om iets te lees en sien daar is comments, sleg van my, ek weet, maar dalk my manie van beskerm. En dalk het my comment nou heeltemal van die bus afgeval:)

    Liked by 1 person

    1. Hi Virgo, dankie vir die saamgesels. Jy verstaan wat ek bedoel. Vir my is dit net so moeilik soos vir jou om aan die uitdagings deel te neem – ek moet my strek in ‘n rigting wat vir my nie net vreemd is nie, maar wat ek ook op skool verpes het. Ook weens ‘n onderwyser se manier van Afrikaans aanbied. Ek dink ek skryf ook padlangs, oor my ervaringe eerder as om te maak asof ek ‘n mens in ‘n denkbeeldige dorpie is. Ek wil dit half sien om te verstaan – en omdat ek dit nie sien nie, is dit moeilik om almal se diere en huise ens te onthou. Maar – ek doen dit – omdat dit is waarvoor ek my ingelaat het toe ek die uitnodiging aanvaar het. As ek dan geen kommentaar van baie mense kry nie, is dit ‘n emosionele ding. Was myne nie goed genoeg nie? Die kommentaar van enkeles laat my dink dat dit kon wees, so wat is die volgende afleiding? Word ek doelbewus geïgnoreer? En as dit so is – waarom? En dan wonder mens – is daar klieke wat jou wil uitstoot?

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.