Gepubliseer in Joernaal

Die SA Rugbyraad “verkoop” Springbokke

Kyk, ek het lanklaas so lekker gelag oor ‘n nuusberig as vanoggend. Want kan jy nou meer? Die nuusleser het dit sowaar nuuswaardig geag om te lees: “Die SA Rubyraad beskuldig dat hy Springbokke verkoop.”

Rugbyspelers is te koop. Toe ek skoolgehou het, het skole rugbyspelers gekoop in ‘n poging om ligas te wen. En as ‘n speler een keer te koop is, is hy altyd te koop.

Voor ek vertel, moet ek eers sê dat Elton Janjies tel onder die groep kinders met die mooiste maniere waarvoor ek al skool gehou het. Hy het eendag in my graad 10-klas gesit en nie aan sy opstel gewerk nie. En toe ek vir hom vra om sy werk te doen as hy wil deurkom, sê hy vir my dat hy nie hoef nie, want hy is gekoop om rugby te speel.

Natuurlik moes ek ‘n antwoord gereed hê vir kinders. En toe buk ek by hom en sê vir hom: “As ek te koop was, het ek dit vir niemand vertel nie.”

Want glo my, daar is niks so erg soos ‘n arrogante rugbyspeler wat dink dat hy nie in die klas hoef op te let nie. Want hy is gekoop. Elton het egter nie onder daardie klas arrogante kinders getel nie. Hy was geraak deur wat ek gesê het. En hy het daarna in my klas gewerk.

Sy pa sou my nie kom aanval omdat ek sy kosbare seuntjie aangevat het nie. Inteendeel, sy pa het gesorg dat hy en sy broer op die aarde bly. Al was hulle uitstekende spelers. Wat nou nog sigbaar is as mens na hulle kyk, na hulle Facebook-bladsye kyk. Elton is dankbaar dat hy sy droom as werk kan uitleef. Hy leef sy droom van skooldae af.

Maar sowaar, as dit nou ‘n nuusberig is dat SA Rugby daarvan beskuldig word dat hy rugbyspelers verkoop, dan moet ek lag. En hard lag ook.

As ek soveel geld spandeer het om ‘n rugbyspeler beroemd te maak, het ek ook my pond vleis geëis. Om sodoende ander spelers die geleentheid te bied om op nasionale vlak te speel.

Sonde is dit beslis nie, want rugbyspelers is van skooldae af te koop. Hulle gaan waar die geld is. Hulle is nie lojaal nie.

Vat nou maar vir Bryan Habana.

Ek was sedert my universiteitdae ‘n vurige Blou Bul ondersteuner. Tot so 8 jaar gelede toe ‘n veiligheidswag my borste bevat het. Toe ek kla, was die antwoord van die bestuur dat ek haar moet verskoon, sy word nog opgelei! Ek wou ontplof, maar het nie kans gesien om ‘n groot saak te maak en hoofopskrifte in ‘n koerant te word nie.

Daarna het ek nooit weer my voete op Loftus gesit nie. En selfs oorgeskakel na ‘n ander span – die Crusaders van Nieu-Seeland. Maar ek wou oor koopbare spelers praat.

Habana was my held, ek het soos ‘n Jack-in-the-box opgespring as hy die bal vat en net geweet dat hy weereens ‘n drie gaan druk. Ook as Springbok.

En wat doen hy toe?

Loop agter mammon aan na die vyand. Die Stormers wat toe nog as die Westelike Provinsie of WP bekend gestaan het. Ons Blou Bulle en die WP was aartsvyande. Al het die Haaie en Transvaal soms gewen, was WP vyand nommer 1. En hy het na hulle toe oorgeloop.

SA Rugby is ‘n besigheid.

En as ‘n privaatmaatskappy sy “besittings” wil vat, moet daar vir die insette betaal word.

Wat my nou natuurlik wil laat wonder.

Wat wil ‘n privaatmaatskappy met rugbyspelers van Springbokgehalte maak?

En kan die SA Rugbyunie hulle wel opgee sonder om sy pond vleis te eis?

Nie dat ek omgee wat die antwoord is nie.

Ek het voor die vorige wêreldbeker reeds besluit ek is ‘n te vurige toeskouer om my hart aan die Springbokke toe te vertrou.

Dit is nou die een wat ek dink in Engeland gespeel is. Toe ‘n krok kaptein saamgevat is. Een wat moes terugstaan vir iemand wat nie beseer is nie. Een wat toe nie die pas kon vat nie en lekker op die paviljoen gesit het. Terwyl hy die plek gevat het van iemand wat nie beseer is nie. En net daar het ek oorgeskakel en ‘n All Black ondersteuner geword.

Die All Balck het daardie beker toe gewen. En die Springbokke muise gemaak. Maar my hart het nie soos ‘n verraaier gevoel nie. Inteendeel dit was lekker om ‘n keuse uit te oefen.

En ‘n span (wat ek voorheen gehaat het) te ondersteun wat alles insit om bekers wel te wen.

Nie dat wen vir my alles is nie.

Maar – ek kan nie staan en toekyk en ondersteun hoe ou mans in die spanne ingesluit word terwyl beter, jonger, vuriger spelers nie gekies word nie.

So, wat ek dan eintlik wou skryf is dat dit verstommend is dat dit ‘n hoofopskrif van ‘n nuusberig is.

Dat die SA Rugbyraad beskuldig word dat hy spelers verkoop.

Hallo!

Waarom word hy nie beskuldig omdat hy spelers “koop” nie?

Mens moet mos eers koop om te kan verkoop.

Die probleem kan slegs opgelos word as rugby weer is soos dit was toe ek jonk was.

Nie ‘n professionele sport nie.

Maar een waar mens speel vir die span van jou hart. Waar jy jou hart uitspeel.

En daardie eienskap het die Springbokke lankal verloor.

Omdat hulle sedert skooldae te koop (en verkoop) is.

Hartseer maar waar. Die eens magtige Springbokke se opvolgers het hulle siele aan mammon verkoop. Hulle speel nie meer vir die genot nie, hulle is nie meer lojaal nie. Hulle gaan speel selfs oorsee as hulle hier nodig is vir ons Curriebeker.

Ek het geen probleem daarmee as ‘n privaatmaatskappy moet hoes as hy hulle wil vat nie. SA Rugby het miljoene der miljoene bestee om hulle op Springbok vlak te kry. Hulle kan nie net muit nie.

Of nee wag, hulle kan seker.

Maar dan moet hulle SA Rugby terug betaal. Dat nuwe spelers die geleenthede gebied kan word om te presteer. Dit, sal hulle natuurlik nie doen nie.

Wel, dan moet SA Rugby sy pond vleis by die koper eis …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Die SA Rugbyraad “verkoop” Springbokke

  1. Ek kyk nie eintlik (meer) rugby nie … vir my het dit te veel soos ‘n besigheid geraak. En dit is beslis so as mens nou jou post lees van “koop” en “verkoop” van Springbokke.
    Maar ek wil eintlik gou ‘n ander staaltjie deel (as ek mag). Toe ek en Berto die Camino in Spanje gestap het, het ons by ‘n bar saam met ‘n groepie Italianers gesit. Die kommunikasie was baie moeilik tussen ons – ons kan nie Italiaans praat nie en hulle Engels was baie beperk. Die man wat agter die bar werk, hoor toe ons is Suid-Afrikaners en vra (in goeie Engels) toe of ons wild jag in SA. Berto se toe: “Yes, I have shot one or two Springboks in my life” … jy moes die Italianers se gesigte gesien het – afgryse was duidelik sigbaar. Ons besef dat nie almal wild jag goedkeur nie (maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag) … die Italianers was werklik stomgeslaan en ons kon nie verstaan waarom … tot een van hulle verduidelik het “You shot Springbok that plays rugby” 😅. Na ‘n hele paar verduidelikings van ons en die kroegman, was almal so verlig dat ons sommer nog ‘n bottel wyn bestel het!

    Liked by 3 people

      1. Dankie vir die saamgesels, my man ook. Sy hart bly groen, seker maar omdat hy van kinderdae af speel. Ek het eers deur hom van rugby begin hou. Maar was wel altyd aan die Bokke se kant. Tot onlangs. Nou doen die haka – wat ek gehaat het – dit vir my.

        Liked by 1 person

  2. Ek het eers saam met die Oom begin rugby kyk. En selfs later genoeg geweet maar ek het belang verloor. Dit het vir my ‘n sirkus geword. Snaaks, die Oom het dit ook heeltemal ontgroei.

    Liked by 2 people

      1. Ja…dit was lekker tye.veral saam met die kinders. Maar hulle almal het dit ontgroei of belang verloor. Dalk is dit omdat ons almal nie meer DSTV het nie.

        Liked by 2 people

  3. Rk is msl oor fir All Blacks. Mar n Sll Black ondersteuner as die Springbokke speel? Nooit! Ek bly maar ‘n Springbok, my man ‘n Bloubul en ek n Vrystater. Ek het nie n saak met hulle koop of verkoop of lojaliteit nie, net my eie.

    Liked by 2 people

  4. liewe chista, toe ek Springbokke lees het ek aan die dier gedink en gewonder hoekom hulle hulle koop. Ek dink ook dit is snaaks en ‘n snaakse, ek het Rugby gespeel op Hoërskool, maar nie sedertdien nie.

    Liked by 3 people

  5. Ek het selfde ondervinding met rugby spelende seuns in hoerskool gehad. Daardie arrogante manier van ek speel eerste span rugby skoolwerk is nie belangrik nie. Ek sal deurkom want ek speel rugby. Ongelukkig het dit nie by my gewerk nie. Geen werk, geen punt en druip sal dit wees. Baie onderondies met afrigters gehad daaroor.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.