Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Poefies op ouma se t-hemp …

Kleinkind begin mos nou baie praat. Die hele tyd word daar met my gesels. En ek geniet dit so baie.

As ons stap, kyk die gesiggie vraend na my en sê: “Is haas, ouma!” en dan antwoord ek dat dit wel ‘n haas is. Of gras, bome, ensovoorts.

As ons doek ruil, gesels hy met my. Die ander dag sê hy iets wat ek moet sê. Maar ek verstaan glad nie. Sê naderhand ek is jammer, maar ouma verstaan nie die woord nie.

En toe herhaal hy dit stadig vir my.

Ha – di – da …

Hoe moes ek weet dat hy sulke groot woorde kan sê?

So gaan ons nou die dag kamer toe om sy doek te ruil. En ontdek ek dat die doek te vuil is vir Wet Wipes.

Sy pappa en mamma meet die vuil van die doek aan die getal nat lappies wat uitgehaal moet word om die boudjies skoon te kry.

Sy ouma meet dit aan haar idee of mens dit ooit skoon kan kry.

As ek dink dit het meer as twee lappies nodig, lig ek die lyfie op. Gaan badkamer toe. Laat hom op die marmerblad staan. Maak die water warm in die wasbak en spoel die boudjies eerder met warm water af as om lappie na lappie na lappie te vat om dit te probeer skoon kry.

Ek het tot Januarie ‘n bad met warm water en skuim getap, maar ons nuwe huis het net in my badkamer ‘n bad. En daardie bad is een van daardie hoekbaddens. Te groot om lekker te werk met babatjie. ‘n Wit olifant.

Dus moet die wasbak in die gastebadkamer as bad dien.

En dit doen ons altyd, hy ken al sy ouma se ritueel. Soms gaan sit hy in die water en dan bad hy in die wasbak. Ander kere staan hy net stil dat ek die boudjies mooi kan afspoel.

Maar verlede week doen hy dit onverwags anders.

Ek laat hom op die marmerblad staan en maak die kraan oop dat die water warm word. O terloops, ek staan voor hom, naby hom, om seker te maak dat hy nie kan afval nie.

Die volgende oomblik slaan hy sy armpies om my nek. Gooi sy beentjies om my middel en sê:

“Koud! Koud!”

Hoe kon ek anders as om my arms om die lyfie te slaan en hom styf vas te hou?

Die t-hemp kon weer gewas word.

Die oomblik was te mooi en te groot en te kosbaar om daaraan te dink dat ek onder ander omstandighede waarskynlik baie naar sou word.

Nadat die boudjies gewas is, is die doek eers aangesit voordat ek baie versigtig van my t-hemp ontslae geraak het om seker te maak dat niks my gesig tref terwyl ek die hemp oor my kop moes kry nie …

Soete herinneringe vir die ou dag.

Foto: Shutterstock

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

23 gedagtes oor “Kleinkindpret: Poefies op ouma se t-hemp …

    1. Ag Anne, ek dink ek is die gelukkige een. My dollatjie se kinders het baie minder by my gekuier, soms ‘n uur of twee in meer as ‘n maand. Dit is nou alleen sonder hulle mamma. Want sy het nie gewerk nie om al haar aandag aan hulle te gee. Soos ek gemaak het tot myne drie was. Daarna is hulle kleuterskool toe en groot skool toe. Hulle het wel soms naweke oorgeslaap, maar nou is hulle ver weg. Meer as 12 ure se ry van ouma af. Dus waardeer ek dit so dat ek na hierdie kleinkind aan seun se kant kan kyk. My dag gaan leeg wees as hy eers kleuterskool toe gaan … volgende jaar … en ek nie in die oggende geselskap het nie.

      Liked by 2 people

      1. Ek glo jou. Ek sou ook, maar tog het ons oorlewe met ons kinders se vreeslike doeke, spoegdoeke ens. Dit was gister so dierbaar toe my groot volwasse seun uit die blote vra hoe laat hy gebore is. Sweet memories.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s