Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: I-kiem, i-kiem …

Kleinkind is ‘n interessante skepseltjie, ek verkyk my aan hom en sy taal wat aangeleer word. Omdat hy Engelse animasiestories kyk, praat hy Engels en Afrikaans.

Tot sy Afrikaansjuffrou ouma se ontsteltenis. Want hy is drie dae per week by my. Ek moet ‘n groter invloed op sy taalontwikkeling uitoefen.

As ek Afrikaanse stories op die iPad se Youtube soek, het die storie 3 sekondes om sy aandag te trek. Drie sekondes wat diegene wat dit maak, heeltemal verspil met iets soos: “Hi kyk wie is ek en wat ek doen en o ja, ek wou ‘n video ook wys.”

Teen daardie tyd het die vingertjie klaar na onder beweeg, links geblaai en ‘n ander storie gekies.

En is dit ‘n probleem om Afrikaanse video’s te kry! Waarom is daar bykans geen Afrikaanse animasiestories nie?

Nou dêps ek dit maar met skermvatvideo’s, sit dit op my rekenaar, maak daarvan MP4’s en stuur die video’s met baie moeite en gesukkel na my iPad mini 1 wat nog lank voor airdrop gemaak is. Dat hy dit daar op Videostar kan kyk. Elke video deur ouma uitgesoek en met moeite gemaak.

Want sien, ons kyk mos stories op die ipad terwyl ouma met ons stap om te slaap. So in sy rooi gevaarte van ‘n stootkarretjie.

***

Maar ek dwaal al weer af.

***

Vanoggend laai ‘n amper moedelose pappa kleinkind by my af. So teen halfagt se kant. Moedeloos want baba is moeilik, wil nie pappa los nie, wil nie dat ouma hom vat nie.

Toe sit ek maar ‘n storie op dat hy rustig raak en pappa kan ry. Tom die toutrok. Ek het dit op Youtube gekry, maar het regtig gedink dat dit nie sy aandag gaan hou nie. Hy lief Tom, die toutrok.

En maak ek sy gunsteling kos. Omelette (wat ek moes leer maak op my ouer dag) en Simply Chicken se hoenderworsies in skyfies gesny en gebraai. Intussen het ek hom na my toe gebring dat hy by ouma in die kombuis is.

En toe gaan die vingertjie na die yskas. En hy i-kiem (uitgespreek eye-kieem) my. Dié woord ken ek natuurlik nou goed. Want Dinsdag het ek die vrieskas gedeelte van die yskas oopgemaak om vleis uit te haal.

En toe sien hy oupa (wat dit nie mag eet nie) se roomys en i-kiem hy my. Ek het dus vanoggend voor 8 reeds geweet dat hy roomys vra. En die besluit geneem. As jy dan eers roomys wil eet en dan jou kos gaan ek nie ‘n wêreldoorlog veroorsaak nie!

Ons eet dan eers i-kiem!

Want die mannetjie hou van kos. Eet brocolli met ‘n “Njam-njam-njam” hy sal beslis sy omelette en worsies ook eet.

So eet hy roomys terwyl ouma sy kos maak. En toe ek die kos neersit met sjoe-sjoe warm, is hy dadelik gereed om die warm kossies koud te blaas om te eet.

Ek probeer om nie vir hom lekkers of koek of koekies te gee nie. Omdat hy so lief vir kos is.

Hy eet alles wat ek maak en dit is regtig lekker. Sal seker later ook vir my vertel ek maak nie kos soos mamma of pappa nie en dat ek dit so moet maak, maar vir nou geniet ek die etery te vreeslik baie om dit met lekkers of koek te bederf.

Siestog, ek hoop nie hy gaan eendag voel ek laat hom in die steek nie. Want hy hou blykbaar van lekkers ook.

Maar, as hy nie in ‘n winkel gekeer word nie, haal hy ‘n stuk pizza van die rak in Food Lover’s af en eet dit. Net daar in die winkel.

Kyk, ek verstaan dat hy i-kiem kies vir roomys. Dit sê soveel makliker as roomys. Maar die ouma het ‘n werkie, hy moet die Afrikaanse woord ook ken.

Roomys!

Dan dien ek ‘n doel.

Hooffoto: Ek wil nog daaroor skryf, maar ek gaan die foto tog nou al deel. Wat ‘n verrassing om roomys in my eie land met 11 tale te koop. En net Engels en ‘n vreemde taal op die bak te sien. Het ek iets iewers gemis? Dit is nie heeltemal Russies nie, maar die B (V) van Russies word wel gebruik. Watter taal is dit?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.