Ek dink almal wat my skrywes lees, weet dat ek van gholf hou. Nie om op die TV te kyk as hulle speel nie, ook nie om self te speel nie. Maar om saam met manlief te stap of op ‘n gholfkarretjie te ry terwyl hy speel.
Ek deel gereeld foto’s van wat ek op die baan afneem. Manlief weet lankal dat ek nie die een is om sy bal die hele tyd dop te hou nie. AS daar ‘n nat spinnekopweb, ‘n blaar, ‘n boom of ‘n regte hoek vir ‘n foto is, is my foon uit en sy bal vergete. Wat natuurlik veroorsaak dat ek dikwels moet help soek na ‘n bal wat ek nie dopgehou het nie.
Ek skat ek kan skryf dat ek baie van gholf af weet. Wat mens mag dra en nie dra nie. Wat ek mag doen en nie doen nie. Waar ek mag loop en waar nie.
Dat vrouens eens op ‘n tyd nie mag gespeel het nie – die naam sê dit alles G(gents) O(only) L(adies) F(orbidden) = golf!
En natuurlik hoe die manne hulle gholfsakke gedra kry.
Sommiges stap met die sakke oor die skouer. En ek dink werklik hulle moet baie, baie fiks wees om die sak oor die baan heen te dra. Ek kry manlief s’n skaars geskuif van waar dit staan gemaak word in die huis. Daarom moet dit in die motorhuis plek kry, nie in die huis nie.
Sommiges het ‘n tipe van stootkarretjie waarop die sak gestoot of gesleep kan word. Dit word meestal voor hulle uit gestoot en nie gesleep nie. Mens kry selfs van hulle wat ‘n sitplekkie het vir rus as jy moeg raak. Manlief het so ene.
Ander se stootkarretjies is gemotoriseerd, sodat dit makliker gestoot kan word. En glo my, daar is bane waar die ops en afs so erg is, dat dit seker help as die sak se stootwaentjie ‘n motortjie inhet.
En mans soos myne gebruik as hulle ouer word ‘n gholfkarretjie. Hy het altyd een gehuur, maar noudat ons op ‘n gholflandgoed woon, het hy sy eie een aangeskaf. Dit is heerlik, want die goedjies het dakkies en keer dat die fel son mens gaar bak op die baan. Onthou, dit neem so vier ure om 18 putjies te speel. Ons gebruik haar gereeld om af te ry na die klubhuis vir ‘n ietsie te ete of te drinke terwyl ons oor die dam/meer kyk.
Ek het regtig gedink dat ek alles weet. Alles al gesien het. Eintlik as ‘n buitestaander kenner gereken kan word.
En toe word ek die week weereens verras.
Het jy geweet dat mens fietse kry om die sak van die een putjie na die ander te ry?
Volgens manlief is dit die nuutste rykmanryding vir sy sak. Dus het ek gou geGoogle. Daar is nog nie veel prente vir die fietse nie.
Maar ek het opgestaan en hierdie foto geneem van die vier mans wat gereed maak om die baan met hulle fietse te gaan platry, sak op die agterkant gemonteer.

Dit is blykbaar e-fietse, of dan elektroniese fietse, maar nogtans fietse. Tweewielrydinge waarop ‘n gholfsak staangemaak word om dit oor die baan heen te vervoer. Een ding wat ek definitief nie gaan beproef nie. Dit is klaar erg genoeg om alleen op my eie bergfiets te ry.
En ek wil nie regtig hoor hoe die stokke hier teen my ore klingel as ek moeg raak nie. Hoe gaan daardie liedjie? …Al klingelingeling deur die straat …
My eerlike mening is dat dit darem nou een te erg is. Hoe hulle in hierdie sport met al sy reëls reggekry het om fietse op die baan toe te laat, weet ek ook nie.
As mens gaan stap, sal jy seker vir die manne op hulle gevaartes ook op die uitkyk moet wees. Wat my verras, is dat dit wel ouer mans is wat ry – en nie jong manne nie.
Die jonges ry met gholfkarretjies of stap met hulle sakke.
Dus is dit dalk tog logies om af te lei dat dit ‘n rykmanspeelding is?
Toortsie, ek sou nog kon sien hoe jou driewiel gebruik kan word. Hoe balanseer hulle die sakke op die fietse? Die ou staanderstjies kan mos maklik in die gras indruk …
***
My rede vir dankbaarheid vandag is dat manlief nie die gier gekry het nie. Ek geniet die gholfkarretjie en my bergfiets staan in die motorhuis. Gaan haal by die rivier, gediens … maar ek moet nog die moed bymekaarskraap om na seker 10 jaar weer op haar te klim. Ek dink ons het in 2010/11 laas bergfiets gery.
Dalk moet ons die die naweek doen? Ek het al oorweeg om met my fiets langs kleinseun te ry wanneer hy met sy plastiese fietsie op die baan ry. Dan weet ek weer dat ek nie so maklik kan af as ek moet keer dat hy nie voor ‘n kar inry nie …
My man speel ook gholf en het vir jare self sy sak gedra, toe ‘n karretjie met 3 wiele, maar deesdae word die gholfkar ingespan om die takie te doen!. Weet nie of hy al van die fietse gehoor het nie 😀
LikeLiked by 1 person
Aletta, dankie vir die lekker saamgesels. Ek gaan gereeld saam gholf toe en dit is die eerste keer wat ek dit gesien het. My so verras dat ek die mans net daar afgeneem het om te wys.
LikeLiked by 1 person