Kleinkind het hierdie week vier volle dae by ouma gekuier en ons het soveel pret gehad. Ek was natuurlik ook doodmoeg, dus het ek lanklaas geskryf …
Ons het so ruk terug vir die mannetjie ‘n groen plastiese motorfietsie gekoop. Daardie goedkoop soort waarmee sy pappa ook rondgejaag het toe hy klein was. Natuurlik was dit eers ‘n moeilike fietsie vir die baba, maar tans jaag hy daarmee.
Ek geniet dit so om die houding op die fietsie te sien. Boude uitgestoot na agter, beentjies wat beter verby die wiele steek om te kan jaag. En dan word die beentjies saam gebruik om spoed te kry.
Skielik moet ouma teen die afdraende uit die kompleks na die straat se kant draf, want hy beweeg vinnig. Dus leer ek hom om elke paar meter “Stop! Kyk of daar karre is, nou kan jy weer ry” sommer padreëls ook. Terwyl ouma kan asem skep, so elke nou en dan.
Ek moet voor hom in die straat wees, dit is lewensnoodsaaklik.
En hy speel lekker saam.
Sodra ons by die ingang na die paadjie langs die gholfbaan kom, kies hy watter paadjie hy wil vat. Gaan hy regs om, is dit nag vir ouma.
Want daar is ‘n baie steil afdraende, dan ‘n gelyker deel en dan weer afdraende na ‘n besige straat wat gekruis moet word. Dus stop ons baie, oefen die padreëls, sodat ek hom veilig teen die afdraendes af en oor die pad kan kry.
As ons eers oor die pad is, is daar op- en afdraendes. En daar mag ouma nie help nie. As hy baie sukkel, stoot ek so effens teen die ruggie, maar my hand word weggevat. Los, ek kan self, dit is sy houding.
Onder draai mens weer links op ‘n paadjie met heelwat opdraendes na die straat wat weereens gekruis moet word. As ons eers oor daardie straat is, is hy moeg.
En ek ook.
Dan stop hy, sit die een beentjie so effens oor die fietsie. En dit is die teken dat ouma hom kan optel en verder dra. Seker so 400 m terug huis toe. Met die fietsie onder die een arm en baba op die ander heup. Teen ‘n hoofsaaklike opdraende terug huis toe.
Die ander dag sien ek die tuinman by een van die huise in die straat werk. En vra ek die man of ek die fietsie daar by hom kan los, sal later kom haal.
Kleinseun was onmiddellik ontsteld. En met ‘n “Nee!” moes ek die fietsie maar onder die arm sit en verder strompel.
Die krag kom werklik van Bo, ek is op teen die tyd wat ek die opdraende in die kompleks na ons eie huisie ook moet aanpak.
Dan kom ek rooiwarm by die huis ingestrompel nadat ek die fietsie eers neergesit het. Geen krag om dit tot in die huis te dra nie.
Maar sy ouma is nie verniet ‘n juffrou nie. Ook nie verniet ‘n plaaskind wat planne moes maak om dinge gedoen te kry nie. En sy het natuurlik ook heeltemal te veel van McGyver gehou. Dus kan sy planne maak.
Ons twee moet tans vir die mense in die landgoed ‘n vreemde verskynsel wees.
Want ek stap nou met sy stootwaentjie langs hom terwyl hy in die straat fietsie ry. Daar is soveel voordele, waarvan een is dat ek tussen hom en die aankomende verkeer is.
As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.
Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra.
So kom ek steeds rooiwarm en doodmoeg by die huis aan. Maar dit is soveel sagter op my arms as twee dooie gewigte, een in elke arm.
Woensdag ry ons weer met die fietsie en die stootwaentjie op die baan. Dit het die vorige nag erg gereën en daar was een lang waterplas in die pad. Hy jaag daarheen en ek kyk hoe ek en my mooi skoene en die waentjie op die gras langs die paadjie deur kan gaan sonder om sopnat te wees terwyl hy na die diepste water mik.
Toe hy besef dit is diep en die skoentjies is in die water, pluk hy die beentjies op. En daar staan hy in die water geparkeer. Ek het erg aangemoedig om hom deur die water te kry sonder om self in te gaan.

En toe hy eers deur is, word daar gestop, afgeklim en met ‘n ô … ô na die bande gekyk. Voor en agter. Want die gras het aan die bande vasgeklou. Dit word aandagtig beskou en dan kry ek en die bande die kyke. Met ‘n ô…ôô. En ek verduidelik hy hoef nie bekommerd te wees nie, die bande is net vuil. Hulle kan nog mooi ry.
Donderdag kies hy weer regs om.
En toe ons by ‘n opdraende kom, sukkel die beentjies om te trap. En ek weet ek mag nie teen die ruggie help nie.
Toe druk ek die voorpunt van die waentjie teen die haak van die fietsie en stoot hom liggies vorentoe. Dit het perfek tussen die wiele ingepas.
En hy verstaan so wraggies wat ouma doen. En trap-trap saam om bo te kom.
By elke volgende opdraende het hy gestop, terug gekyk na die insleepwaentjie wat moet kom red. En dan stoot ouma en vertel vir hom hy moet voor hom kyk en bestuur. Anders gaan hy van die pad af gaan.

Mens sal sweer hy het dit in sy vorige lewe ook gedoen.
Sodra daar ‘n afdraende is, jaag hy weer vir my weg. En moet ek die waentjie teen ‘n drafstap stoot om by te hou. Toe hy moeg is, word die beentjies weer opgetrek, tyd dat die insleepwaentjie weer van gedaante verander en slegs ‘n stootwaentjie is.
Ek moet egter steeds met YouTube Kids gereed wees sodat hy stories kyk terwyl ouma stoot met die fietsie op die kappie. Anders wil hy nie soos ‘n baba gestoot word nie. Dra is goed, stoot is ‘n nee!
En ek verwonder my aan die baba wat die Engelse stories verstaan en hard lag as iets snaaks gebeur. Of ô…ô as iets slegs gebeur. Al die pad tot by die huis.
***
My rede vir dankbaarheid is dan sommer vir die hele week. Een waartydens ek my kleinkind so baie gesien het dat my huis vandag heeltemal te leeg was. En natuurlik vir die geleentheid om hom te sien ontwikkel, daarvan sal ek nog baie vertel.
NS: Ek het reeds voorheen genoem, ek verkies om nie foto’s van die kleinkinders te plaas nie. Dus sny ek die foto’s so om die storie te kan vertel sonder om die kindjie se gesiggie te wys.
Slimme kind! En nog n slimmer ouma! Hy is bevoorreg om jou as ouma te hê
LikeLiked by 2 people
Ai Seegogga, ek is die bevoorregte ene. My leee kry weer sin, dit is hemels om die kindjie by my te hê.
LikeLiked by 2 people
Ek glo so
LikeLiked by 1 person
Jy is nou vergewe dat jy vir so lank stil was: speel eerder met jou kleinkind as om te blog! Dit is goed om vir hom die kans te gee om te groei, te leer, te baljaar en om vuil te kry. Ek stem saam met Seegogga dat hy bevoorreg is om jou as ouma te hê want jy gee om genoeg om vir hom die vryheid te gee wat hy nodig het.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Anne, dit is sulke mooi woorde. Ek waardeer dit baie.
LikeLiked by 1 person
Slim ouma! Dis verstommend hoeveel krag die liefde mens gee.
LikeLiked by 1 person
Is dit nie so nie? Ek sal mos nooit met 10 kg in die een arm rondstap vir die pret nie …
LikeLiked by 1 person
Dit klink vir my na wonderlike pret Christa! Jy is werklik bevoorreg om jou kleinkind se vordering te kan beleef!
LikeLiked by 1 person
Ai Aletta, dit is hemels.
LikeLiked by 1 person
As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.
Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra
LikeLiked by 1 person
Where was that hiding, in the ether.
As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.
Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra
LikeLiked by 1 person
Hi, I do not understand.
LikeLike
Please delete its just pasting the copy not my reply.
I was waiting for grandma’s carrying time.
Good idea, the pram.
LikeLiked by 1 person
Thanks, it was. Much better than carrying the bby, although he sits still.
LikeLike
Oe, dit was nou lekker om te lees. Geniet die tydjie, dit gaan so gou om en dan is hulle groot. Ja, dit is baie veiliger om nie foto’s te plaas nie, want ons wêreld is vol siek mense.
LikeLiked by 1 person
Ek stem so saam, mens weet nooit wat mense kan aanvang nie.
LikeLiked by 1 person
Ek is nou skoon moeg saam gestap! Ouma kry darem lekker oefening so saam met die kleinkind – en dis heerlik om te lees hoe die mannetjie se koppie werk (en ook om te sien dat Ouma ‘n plan kan maak 😉).
LikeLiked by 1 person
Jong, daai koppie werk in ‘n kreatiewe rat. Doen anderste goed met alles. So lief om dit te sien ontwikkel.
LikeLiked by 1 person
Jy is ‘n pretouma! Wel gedaan@
LikeLiked by 1 person
San, ek het nie byvertel dat ek dood-dood-dood moeg is in die aande nie. Ek is baie lief vir die ou kindjie.
LikeLike
Ja, na die pret en plesier kom die moeg, maar volgende keer speel ons weer saam, want ons is so lief vir hulle!
LikeLiked by 1 person