Gepubliseer in Joernaal

Dag 13: WRG se 21 dae dankbaarheid uitdaging

Vandag moet ek briefie skryf aan iemand wat ‘n groot impak op my lewe uitgeoefen het. En dit gaan beslis aan my twee ouers.

My twee ouers het dit nie breed gehad toe ons klein was nie. My pa het eers op klein plasie geboer en later slaghuise oopgemaak en sy geld so gemaak. By hulle het ek geleer dat mens hard werk vir wat jy wil hê, dat sukses met harde werk gepaard gaan en dat jy niks bereik as jy nie bereid is om jou moue op te rol en aan die werk te spring nie.

Ek onthou kere wat ons vyf slapende sussies in die middel van die nag in die kar gesit is omdat my pa nie seker was of die vrieskaste reg gestel is nie. Hy kon nie slaap nie, dan het my ma hom ondersteun dat hy gaan seker maak sodat hy kan slaap.

By my ouers het ek geleer dat gaste wat etenstyd opdaag, plek aan die tafel kry. My ma kan ‘n ete rek dat almal kos kry. Dit hetal gebeur dat die Page-gesin opdaag, ook met vyf kinders. En dat my ma vir ons almal kos op die tafel sit. Dit sit nie sommer in enige vrou se broek om soveel mense (14) te voed as jy net vir 7 beplan het nie.

Ek moes eintlik nie geskryf het dat ek geleer het nie. Want ek bied nie sommer kos aan as ek onrewags gaste kry nie. Ek stel eerder voor dat ons saam iewers gaan eet. Manlief het eerder by hulle geleer. Hy het al dikwels mense genooi vir saameet by die rivier en dan moet ek die kos laat rek dat almal ‘n happie het. Gelukkig het ons gewoonlik te veel vleis wanneer ons rivier toe kom. Ek hou nie noodwendig daarvan om onverwags gasvrou te wees nie.

Behalwe as my kinders kom kuier, dan staan ek altyd reg om kos te maak, want dan kuier hulle so bietjie langer.

By my pa et ek geleer dat mens twee soorte vrouens kry. Vrouens en dames. Ek gaan nie die verskil uitlig nie, ek neem aan dat dit logies is. Ek verkies dames as my vriendinne.

By my ouers het ek geleer dat my kinders my lewe is. As ons na ‘n troue genooi is waar kinders nie welkom was nie, het my pa die uitnodiging van die hand gewys. Meer as een keer is hy gevra om wel te gaan, met sy vyf dogters en al.

By my pa het ek geleer dat geleerdheid belangrik is. Hy het ons grootgemaak met die wete dat ons vel nie vir ons ‘n werk gaan verseker nie, ons kennis wel. Nog lank voor 1994, ons was in die 60’ en 70’s kinders. Ek het in 1979 universiteit toe gegaan. My eie kinders het geen keuse gehad nie, het ook van kleintyd af geweet. Eers studeer en dan kan jy vir jouself ordentlik sorg.

By my ouers het ek geleer dat Sondag kerkdag is, en ek probeer om steeds daarby te bly. Daarom is die pandemie se belaglike inperkings vir my iets wat my teen die bors stuit. Ek wil in die kerk wees, nie by die huis voor die TV nie.

By my ma het ek geleer klere maak, maar ek mag nie met haar masjien gewerk het nie. Die basiese was my werk. Patrone uitsny, vasryg (ek haat dit) ritssluiters inryg. Some insit dat dit nie lostrek nie. Ek maak my eie klere, kry soms nie genoeg tyd daarvoor nie.

By my ma het ek geleer om botter te maak, ek wou nie leer deeg knie nie. Het net gesê dat ek nie voorarms soos Popeye wil hê nie. Die seun wat toe gedink het dat ek sy trouvrou gaan word, het beaam met ‘n boervrou moet ‘n brood kan bak. En sommer net daar van nommer miskien tot nommer nooit nie in my boekie gesak. Tans bak ek wel brood, want Thermie knie my brood se deeg in 3 minute. Dit is nie ‘n vuil, morsige daglange proses nie.

By my ouers het ek geleer dat familie belangrik is. Dat mens jou vriende versigtig kies. want as jy dit so doen, is julle lewenslange vriende, selfs al sit julle iewers langs die pad vas. Dit is hoe vriendskappe groei.

My ouers is altyd bly as hulle my sien, vergewe my nogal vir baie. Ons stem nie altyd oor dinge saam nie, maar dit is mos soos die lewe is. Kinders moet vlerke sprei om te oorleef, ek moet ook. Ek laat my kinders ook toe om hulle vlerke te span. Al krimp my hart wanneer dollwatjie ver weg trek om haar kinders in hulle pa se grootworddorp te gaan groot maak.

My pa is tans 87 en my ma 81, en hulle is steeds gelukkig getroud. Het soos ander paartjies deur moeilike tye gegaan en mekaar steeds gekies. En dit is wat ek ook by hulle geleer het. Hulle is hierdie jaar 62 jaar getroud, ek en manlief is Januarie 40 jaar getroud. En dit is een van die mooiste voorbeelde wat ons vir ons kinders bied.

Huwelike is nie maklik nie, mens skaaf voortdurend aan mekaar. En net soos ons, kies die kinders mekaar ook die hele tyd om hulle huwelike te laat werk.

Daar is nog soveel meer wat ek kan skryf, maar ek dink die boodskap kom deur.

My ouers het ‘n baie groot impak op my lewe gemaak. En daarvoor bedank ek hulle ook sommer nou.

Ek sou geen ander ouers kies nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Dag 13: WRG se 21 dae dankbaarheid uitdaging

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s