Vandag moet ek oor drie persoonlikheidtrekke skryf waaroor ek dankbaar is. Goeie aarde, dit is ‘n moeilike ene. Ek wonder of ek by drie gaan uitkom. Maar hier gaan ekke.
Die eerste eienskap waarvoor ek dankbaar is, is dat ek pligsgetrou is. As ek my ja gegee het, kan mense maar weet dat ek die taak sal afhandel. In dieselfde asem wil ek skryf dat ek nie sommer laat is nie omdat ek ander mense se tyd net so belangrik soos my eie ag. Ek is gewoonlik ‘n halfuur voor die tyd reeds gereed as iemand by my kom kuier. Ek het my op ‘n dag nogal vererg toe ‘n vrou my genooi het om by haar te kuier en sy eers in die bad gaan spring het toe ek daar opdaag. Toe was daar nog nie selfone nie, ek moes net sit en wag en wag en wag …
Tweedens is ek dankbaar dat ek deursettingsvermoë het. En nou praat ek nie van manlief nie, hy is deel van my lewensreis. As ek iets laat gaan en nie meer in my lewe wil hê nie, is dit nie ‘n impulsiewe besluit nie. Dit het met tyd die regte besluit geword. Ek het mooi gepraat, verduidelik wat my pla. Maar dit val soms op dowe ore. As ek dan gaan, gaan ek ook nie maklik terug nie. Soos toe ek die onderwys laat vaar het. Maar ek kan byskryf dat ek so 23 jaar lank skoolgehou het.
Laastens is ek dankbaar dat ek ‘n vriendelike mens is. Ek maak nie maklik vriende nie, maar ek is vriendelik met mense.
Ek moet egter byskryf dat ek die afgelope twee jaar sukkel om vriendelik te bly as ek by ‘n winkel instap en eers soos ‘n vuil, onwelriekende kakkerlak bespuit moet word. Die kwaad daaroor het seker maar in Almaty, Kazakhstan begin. Ons moes deur ‘n boog by winkelsentra instap om van alle kante bespuit te word. Dit het my eers niks gepla nie, tot ‘n Kazakh meisie vir my vertel het dat dit gif is. Daarna het ek my kappie oor my kop gesit, my hande in my moue ingetrek en vinnig deurgehol. En toe begin ek doodeenvoudig om langs die masjien verby te stap, en te wys dat ek sinus kry. Hulle het my laat begaan.
Daar kon ek nie my probleem stel nie want ek kan nie Kazakh of Russies praat nie. Hier haal ek net my eie botteltjie uit, gooi op my eie hande en stap in. Al die deurwagte aanvaar dit. Want ek het kwaad geword as die goed teen my klere ook vasspuit.
Ek kan glad nie verstaan hoekom ons dit gelate aanvaar om by elke winkel waar ons instap bespuit te word nie. Selfs by die nuwe kerk waarheen ons wou gaan. Asof ons vuil is, vergeet het om te bad. In ons hande nies en die kieme so oral afsmeer waar ons gaan.
Soos ek geskryf het, ek sukkel om vriendelik te wees daarna.
Ek haat dit ook as mense laat is vir n afspraak!
LikeLiked by 1 person
Aletta, dit vat vir my sommer die lus vir kuier weg. Maar ek werk daaraan.
LikeLike
Stiptelikheid is vir my baie belangrik. Eks beslis nie n vriendelike mens nie. So het elkeen maar sy goeie eiensksappe.
LikeLiked by 1 person
Waarom sukkel mens so op dit op te noem?
LikeLike
Dink mens is te ernstig van aard en mens het ook nie regtig lus vir mooiweer praatjies nie. Dan kom mens baie onvriendelik voor wat nie regtig die geval is nie.
LikeLiked by 1 person
Jy kom darem nie onvriendelik oor nie
LikeLike
Die mense wat my ken sê ook so! Die eintlike ding is ek het ‘n pa gehad wat gepraat het en as kind het jy stil gebly as iemand praat. Ek kom baie bot voor maar as ek op my gemak is is die Kaap Hollands.
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam, Scrapy, maar die onderwys het my geleer om my mond ook oop te maak.
LikeLike
Jong, ek het gesukkel om my mond oop te maak. Toe ek getroud is het my man my gehelp om op te staan vir myself. Ek het ook ‘n skoolhoof gehad daardie jare wat erkenning gegee het aan die werk wat ek gedoen het wat by vorige skole nie die geval was nie. Toe het ek eers werklik skoolhou begin geniet. Ek en hoof was ewe oud en ons het dus selfde idees en dinge in gemeen gehad.
LikeLike