Gepubliseer in Joernaal

‘n Seder het in ons Kruin gemeente geval

Gisteroggend kry manlief die boodskap van die ouderling – ‘n groot boom in ons gemeente het geval – oom Jan Hatting is vanoggend vroeg oorlede.

Ek kontak dadelik vir Corrie, ons kantoordame, is dit ons oom Jan? Maar ek weet dit reeds, watter ander groot boom is in die gemeente wat sy skoene volstaan?

En die antwoord is bevestigend, my hart is seer, sommer baie. Ek weet ook dat dominee en Corrie en die gemeente dit moeilik gaan hanteer. Oom was ‘n instelling in die kerk, ek is seker die hele kerk gaan hom mis.

Ek was te kort in die kerk voordat ons Kazakhstan toe is om die meeste mense in ons gemeente se name te ken, maar ek weet dadelik wie oom Jan Hatting is. Hy is nie sommer enige boom nie, oom Jan was ‘n seder.

Ek besef mense hierdiekan vergelyking verkeerd interpreteer as hulle P.G. du Plessis se ‘Seder val in Waterkloof’ gelees het. In die boek en fliek is die seder wat val ‘n pretensieuse akademikus wat in Waterkloof (rykmansbuurt) in Pretoria woon en deur sy “common” familie tot ‘n val gebring word. Iets soos hoogmoed kom tot ‘n val. Dit is nie die waarom ek oom Jan as ‘n seder beskou nie. Ek kan nie regtig verstaan waarom P.G. du Plessis die man met ‘n seder vergelyk het nie, behalwe as hy iets gesoek het wat goed op die oor klink.

Vir my is ‘n seder baie na aan ‘n heilige boom, vanaf die Bybelse tye ‘n boom wat bruikbaar is, as baie waardevol beskou word. Ek dink dan aan hom as ‘n sederboom van Libanon.

Die seder is ‘n welriekende boom, en die hout word gebruik om skatkissies te maak. Dit word ook gebruik is om paleise en kerke te bou. ‘n Staatmakerboom. En daarom herinner hierdie boom my aan ons oom Jan.

Die Kruin se seder.

Want dit is juis in kerkverband wat ek oom Jan ken en onthou.

Oom Jan was ‘n netjiese oom, so netjies soos ‘n seder boom, elke haar op sy plek. Hy was soos hierdie nie-bladwisselende boom winter en somer dieselfde, nie twee verskillende mense nie. Netjiese pak klere en al. Hy kon deur ‘n ring getrek word.

Hy het elke liewe Sondag by die deur van die kerk gestaan. ‘n korterige, maer oom, maar impossant en elke een met die hand gegroet voordat ons in die kerk gestap het.

Hy was ‘n besige oom in ons kerk, so kosbaar soos seder hout. Hy het groot skoene in die gemeente volgestaan het – ten spyte van die feit dat hy al baie oud was. Ek vermoed oom Jan is een van die oudste lede van ons gemeente.

Ouderdom het hom nie van die kerk weggehou nie. Inteendeel, hy was altyd ‘n imposante figuur in die kerk. Altyd op sy pos. Ons was so paar weke gelede by die kerk. En sy plekkie by die deur was leeg. Volgens dominee was hy siekerig. Ek het deur die kerk vir hom ‘n bord kos laat aflewer om hom so te herinner aan die gemeente waarvoor hy lief is.

Self kon ons nie gaan eet nie, ons bly te ver.

Die pandemie het die afgelope jaar en ‘n half soveel keer veroorsaak dat oom Jan tuis moes bly omdat die kerk se deure gesluit is weens ‘n virus wat blykbaar ook by hom uitgekom het. Hy kon nie sy liefdesdiens gaan doen nie. Soos sedert daardie Sondag wat ons laas in die kerk was. Ons kerk se deure is gesluit lank voordat die regering so besluit het.

En nou is hy nie meer op die aarde saam met ons nie, hy het reeds sy pad na die Here gevind.

Ek is seker hy kyk vandag in liefde af na sy gemeente waar hy koningswerk gedoen het.

En my hart pyn.

Sy begrafnis word ook deur die regulasies oor die pandemie bepaal.

Hoe onregverdig is dit nie?

Oom Jan, ek salueer jou.

Jou stem is nou stil op aarde, maar, ek is seker dat jy klaar weer besig is om te help dat alles glad verloop daar bo – waar jou Vader vir jou gewag het.

Ek dink ek moet ‘n seder skenk om by die kerk geplant te word. Ter herinnering aan die grootste seder wat ek al by ‘n kerk ontmoet het.

Oom Jan Hattingh

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “‘n Seder het in ons Kruin gemeente geval

  1. Christa, jy is reg.Mens assosieer die seder met P.G. se storie.Hulle sê persepsies prast harder as feite, maar hierdie lofbetuiging van Oom Jan het my persepsie vir goed vernietig. Skenk jou boom!

    Liked by 1 person

    1. Baie dankie, Letty-Ann, ek dink ook ek moet dit doen. Jy weet, die seder het my bygebly, die waarom het weggeraak. Tot ek gaan oplees het en toe moes ek verduidelik, hierdie boom is spesiaal. Verl in Christelike literatuur.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.