Gepubliseer in Joernaal

Waarom lees jy my blog?

Ek lees die naweek ‘n mede-blogger se artikel oor blogging. Wat sal die regte Afrikaans wees? Ek dink nie ek hou van ViVa se “werfjoernalis” vir blogger nie, my blog is nie ‘n werf nie. Werf het ‘n ander betekenis as jy op ‘n plaas grootgeword het. Daar is nie ‘n voorstel vir blogging nie. Ek gaan sommer net blog en blogger en blogging gebruik. Alhoewel hierdie blog my persoonlike joernaal is.

Wat ‘n interessante artikel! Ewenwel, sy vra twee vrae vir ons – haar lesers – twee vrae wat sy ook self beantwoord. Waarom mense blog mense? en Is blogging ‘n mors van tyd? Ek dink daar kort ‘n derde vraag om die vrae goed te kan beantwoord, daarom beantwoord ek die twee vrae en voeg ek die derde vraag aan die einde by …

Volgens haar kan bloggers in twee groepe gedeel word, diegene wat blog om geld daarmee te maak en diegene wat dit vir die lekker van die skryfaktiwiteit doen. En hierdie twee groepe kan maklik onderskei word.

Diegene wat blog om geld daarmee te verdien, skryf lysie blogs. Raad vir enige iets waaroor hulle die nodige kennis het om die artikels te kan skryf. Vir hulle is hou vans baie belangrik, statistiek baie belangrik, dit stoot hulle verdienste op.

Diegene wat dit vir die lekker doen, skryf stories. Volgens haar het baie van die storieskrywers heel moontlik lysie blogs geskryf en so hulle nis ontdek, besef van watter artikels hulle volgers hou en van watter nie. En toe geleer om stories te skryf. Ek skat dit is omdat ander bloggers neig om by ons stories betrokke te raak?

En dit is hoe my blog begin het.

Ek het aanvanklik my kennis oor tegnologie gedeel – op ‘n ander blog – https://odel.com. Dit het soveel lesers gekry, duisende trefslae, verskriklik vinnig gegroei, al het ek nie daarmee geld gemaak nie, ek het geen advertensies toegelaat nie.

Maar, lysie en raad lesers lewer nie kommentaar nie en hulle kliek ook nie op die hou van knoppie nie, dus het dit al minder ‘n behoefte geraak om die kennis te deel – veral omdat tegnologie so gou verouder. En toe ek weer sien, het ek weke en maande laas daar iets gskryf en die domain ook nie weer hernu nie.

En toe besluit ek om my CV aanlyn op datum te hou en begin ek hierdie blog. Onder my eie naam, om as my professionele blad te dien. Ek was teen daardie tyd so moeg om my CV op te dateer as ek dit vir een of ander rede nodig gehad het. En dit het vinnig uitgebrei omdat ek gereeld akademiese artikels publiseer. Dit is maklik om my CV in Afrikaans en Engels op hierdie blog op datum te hou. Dit is werklik lekker om dit so te doen – ek stuur belangstellendes sommer reguit na my aanlyn CV toe. Dit is vir my ook ‘n goeie manier om weer by my eie artikels uit te kom. Ek kan net op die skakel kliek wat ek in die CV’s deel. Ek hoef nie by my rekenaar te wees om die PDF’s te kry nie.

Toe ons Kazakhstan toe getrek het vir 18 maande, het ek die snaakse goed wat met ons gebeur in lang WhatsApp boodskappe gedeel, en mense het kommentaar gelewer en my aanmoedig om die stories in boekformaat uit te gee. Hulle sal koop.

Ek was nie lus om ‘n boek te skryf nie, is nog steeds nie lus nie, want die stories sou dan georden moet word. En daarvoor het ek werklik nie tyd nie. Toe besluit ek om die stories op hierdie blog te skryf. Sommer so onder my eie naam, eerder as om weer ‘n domain te koop.

Die stories oor Kazakhstan het daartoe bygedra dat ek volgers gekry het. Soos wat Toortsie dan ook vandag vertel het. Ook dat ek met baie van my volgers bevriend geraak het. Want dit is vir my net reg om hulle ook te volg en hulle blogs ook te lees en daarop kommentaar te lewer as hulle myne lees. Daardeur is ek diep in blogland ingetrek, het ek ook Engelse en selfs Nederlandse vriende gemaak.

My antwoord op haar eerste vraag is dus eenvoudig.

Ek het die ook aanvanklik lysies geskryf, maar ek het ook ‘n metamorfose ondergaan, ek skryf stories. Ek vergeet van statistiek, tot WordPress vir my ‘n boodskap stuur dat ek op die betrokke dag baie meer as normaal verkeer kry. Dan eers gaan loer ek van waar die verkeer kom en spesifiek watter artikels soveel aandag kry. Want statistiek is net vir my belangrik wanneer ek navorsing wil doen, iets spesifieks wil weet. Dit gaan nie vir my oor die gehoor nie, maar eerder om die interessante dinge wat gebeur te boekstaaf vir my toekomstige, ouer self, wat dalk nie meer so mooi sal onthou as sy op die stoep van die ouetehuis sit nie.

Soms neem ek aan uitdagings deel, meer om vriendskappe uit te bou as omdat ek dink dat ek goed genoeg is om aan hulle uitdagings deel te neem. veral wanneer ek my eie foto’s deel. Dit doen ek omdat ek dit geniet om myself so bietjie buite my gemaksone te strek. Ek verloor egter belangstelling as diegene wat uitdaag, nie by my bydrae saamgesels nie. Ek sal nogal van kommentaar daarop hou – kritiek om presies te wees. As ek nie kommentaar kry nie, voel dit of ek baie tyd gemors het om foto’s te gaan soek. Dan voel dit soos ‘n mors van tyd, veral omdat fotografie so ‘n uitsoek nis is.

My nis is hoofsaaklik reisverhale, my persoonlike reisverhale – al beskou ek myself glad nie as ‘n reisiger nie. En dan natuurlik my en manlief se ervaringe – dit gaan prettig wees om dit eendag te lees as ons oud is. Maar ek is ‘n oud-onderwyseres en -lektrise, akademiese navorser, opvoedkundige en iemand met ‘n intense belangstelling in begaafdekindonderwys. Daarom skryf ek ook artikels wat meer akademies van aard is. En dan het ek ook my persoonlike mening oor die dinge wat om my gebeur … hoofsaaklik omdat ek van selfrefleksie hou.

Op die vraag of ek dink of blogging ‘n mors van tyd is, is my antwoord eenvoudig. Nee, dit is nie. Ek skryf bykans elke dag een artikel, vroeg soggens wanneer manlief werk toe gaan. Dit is nog donker, en tans ook so koud dat dit lekker is om in die bed te bly, maar ek mors nie tyd nie omdat ek my brein aktief besig hou. Kreatief.

Ek mors ook nie tyd nie omdat ek eintlik vir my ouer self skryf wat eendag gaan wonder wat sy met haar lewe aangevang het. Omdat sy nie meer so lekker kan onthou nie. En ek besef vandag terwyl ek die vrou se vraag oor blogging lees. Dit is lekker om al die positiewe ervaringe vir my ouer self te bewaar. Ek gaan sommer doelbewus daaraan werk om ‘n heerlike onthou-ervaring te skep.

Dalk mors ek tyd, dalk onthou ek op 87 so goed soos my pa? Dalk nie? Dan het my ouer self nou my hulp nodig … Daarom skryf ek ook dadelik as iets snaaks gebeur, gee ek ook soveel detail as wat ek kan. Want ‘n week later het die details reeds begin vervaag.

Ek spot nie verniet dat my geheue soos ‘n rekenaar s’n is nie. As die spasie beperk raak, word ouer detail vervang met nuwes. Hier kan dit nie sommer gebeur nie – tegnologie is geduldig, die details word geberg.

Opgesom skryf ek dus eintlik vir my ouer self, maar miskien ook vir my manlief en kinders en kleinkinders. Ek weet hulle lees nie my blog nie, hulle is besig met hulle werk en kinders en so aan. Maar, ek vermoed hulle gaan dit lees wanneer ek die dag nie meer op die aarde is nie. Omdat hulle weet dat ek skryf, maar nie tyd kry om dit te lees nie. En dan skep ek vir hulle ook stukkies onthou. Ek weet ek graag daar bo wil sit en hulle gesigte dophou. Ek skat hulle gaan verras wees … ‘n sy van my leer ken wat hulle nie ken nie.

En juis daarom is blogging nie vir my ‘n mors van tyd nie – dit is amper soos ‘n boek vir een dag …

Ek volg baie bloggers, leer by almal, gesels met hulle saam en moedig hulle deur my kommentaar en hou vans aan om weer en weer te deel en te skryf. Ek skat mens kan dit van my verwag, ek is ‘n taalonderwyseres wat my leerders altyd aangemoedig het om weer te skryf. Dit is hoe onderwysers is, maar ook mense wat daarvan hou om verhoudinge te bou. My navorsingsveld is verhoudinge – en ek weet eenrigtingverhoudinge word maklik verbreek as mense voel dat hulle nie by verhouding baat nie.

Blogland is lekker. Bloggers gun mekaar net die beste. Hier het ek mense leer ken wat ware vriend- en vriendinmateriaal is. Mense wat aanmoedig eerder as om te kritiseer.

Hier is dit anders, is ek nie taalfjuffrou nie, soek ek nie foute nie, volg ek mense wie se werk vir my interessant is. Ek hoef nie punte toe te ken nie, ek lees vir die lekker. As ek moes lees om te kyk waar ek kan kritiseer, sou ek beslis tyd gemors het. Ek geniet elke liewe blogger wat ek volg se werk. Om die waarheid te vertel, ek kan nie wag dat hulle weer skryf nie. Hier is dit ook anders, ek lees selfs oor tikfoute, ek weet ek sien myne dikwels eers raak as ek die publiseer knoppie klaar geklik het. Blogland is gelukkig genadig, ek kan die typo regmaak.

Soveel anders as wanneer ek my eweknie-beoordelaar hoed opsit. Akademiese artikels lees. Dan is dit my werk om fout te soek om die skrywer te help om ‘n beter akademiese artikel te publiseer. Baie bloggers is versigtig om akademiese artikels te skryf. Ek dink hulle sal goed kan doen.

Ek het nou geantwoord waarom ek blog, waarom ek ander se blogs lees, waarom ek kommentaar lewer as ek lees en waarom ek nie dink dat blogging ‘n mors van tyd is nie.

Ek dink die vraag wat die blogger nagelaat het om te vra, is:

Waarom lees haar volgers haar blogs?

Wat kry hulle daaruit?

Waarom volg hulle haar?

En dit is drie belangrike vrae. Die antwoord daarop kan bloggers help om hulle nis uit te bou, te vestig, aan te hou skryf. As ‘n blogger verstaan waarom mense besluit om hulle te volg, hulle werk te lees en wat hulle daaruit kry, kan hulle beter fokus.

Ek is werklik dankbaar vir elkeen wat die tyd afstaan om saam te gesels of die hou van knoppie druk. Die gesels na die tyd is amper lekkerder as die skryf van die artikel.

Maar …

Ek ek is nie ‘n lysie blogger nie. Ek skryf oor my eie lewe, wat vir my belangrik is, en deel waarvan ek hou en dit laat my ook wonder: Waarom word my blog gelees? Wat kry ander daaruit? Waarom volg hulle my?

Daarom vra ek vir jou:

Waarom lees jy my blog?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Waarom lees jy my blog?

  1. Ek het jou leer ken as towerin. Ek geniet jou kritiese analitiese denke in die akademiese blogs oor die begaafde kind, want ek is ook oud-onderwyseres en skoolsielkundige wat gespesialiseer het in kinders met serebrale gestremdheid en spesifieke leeruitvalle.
    Die stories van Kazakstan was interessant, want dis n werelddeel waarvan ek niks weet nie. Die verbeeldingstories is lekker, want dit is speel!

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie Seegogga, dit is lekker om te weet. Ek het jou ook deur die towerinne leer ken, iemand wat sag is en aanmoedig. En ek dink die kreatiefste vrou wat ek ken. Ek is mal daaroor om jou as vriendin te kon vind, al het ons nog nooit in persoon ontmoet nie. Eendag gaan ek wel die pad na die Kaap aandurf …

      Like

      1. Nee ek us al te lank uit due onderwys uit. Terminologie het al verander, nuwe bevindings en metodes is seker al gevind ens. Maar ek kan jou sê dat inklusiewe onderwys veroorsaak dat baie kinders deur die gleuwe in die planke val, veral in die armer gemeenskappe.

        Liked by 1 person

  2. Christa, ek geniet jou skryfsels baie. Alles, die vêrre, vreemde land waar julle gewoon het, jou woefkinders, ag sommer alles! Hou asb aan met skryf!

    Liked by 1 person

    1. Hallo Jeanne, dit is sommer baie lekker om te hoor, lekker om jou te ontmoet. En ja, dit bring sommer ‘n warmte om my hart as ek weet dat daar mense soos jy is wat lees. Ek sal probeer, ek geniet dit baie, dit het instelling geword.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.