Ek deel nooit sommer net foto’s oor my blyplek nie, eers as ons uitgetrek het sal ek deel. Waarom weet ek nie, miskien omdat ek nie almal op die internet vertrou nie. Of dalk om kritiek te vermy?
Vandag herinner my iPad my aan hierdie foto. En dit bring herinneringe aan die drie maande in ons Almaty woonstel

Koskook is nie vir my lekker nie, maar as ek ‘n mooi kombuis het, kan ek daar woeker en bak en brou. Ek het aanvanklik na my troue koekies gebak, nuwe disse probeer en dit laat staan. Want manlief is werklik vol fiemies, spreek sy gedagtes uit sonder om te dink dat dit kan veroorsaak dat ek nie meer wil kos maak nie. Ek maak nie meer interessante kos as dit net vir ons twee is nie.
Soveel anders as my kinders, hou hy van braaivleis, aartappels en pap of rys. Ander groentes en geles – ek moes dit net gebruik na verlede week se Safari 4×4 episode waarin die een aanbieder gespot word oor sy fiemies oor groente – moet ek in die sous versteek om in sy lyf te kry. En dit is probleem, want ek maak nie sommer sous nie – nie sedert sy dieetkundige vir my ‘n preek afgesteek het oor kos wat hy as diabeet nie moet inkry nie. Nou oordoen manlief as hy uiteet – kies die rykste souse.
Maar, ek wou eintlik oor die foto skryf.
Ons het die woonstel tydens die pandemie gekies – was van die eerste mense wat weer binnelands kon vlieg na die sluiting van grense en lugverkeer. Toe het ek die virus nog gevrees, dit was nog tydens die bangmaakfase van die pandemie. En daar dwaal ek af, ek wou eintlik oor die kombuis skryf.
Die kombuis was groot, met wit kaste net aan die een kant van die vertrek. Met ‘n goeie stoof en ‘n blad wat maklik skoonmaak. En ‘n venster sonder diefwering op die 17de vloer van ‘n gebou – daar leer kinders in die skool dat mens nie in ‘n vensterbank sit nie. Hier sal daar beslis probleme wees as daar nie tralies is nie – veral as kinders wel daar van bo af val.
As die kinders kom kuier, speel ek met idees vir kos. En hierdie spierwit kombuis herinner my dan ook sommer aan hoeveel ek my kinders gemis het. Die pandemie het verhoed dat hulle kon kom kuier. Seun en skoondogter sou die Desember van 2019 kom kuier, toe verras ‘n kleinkind ons en kan hulle nie meer kom kuier nie. Die res is geskiedenis, die kuier kon nie later gebeur nie weens beperkings op internasionale reise. Dieselfde inperkings wat ons laat terug keer het – ons kan nie toelaat dat regerings ons verhoed om ons kinders te besoek nie.
Dit was in die herfs, en ons en almal wat by ons kuier, het kaalvoet in die huis geloop. Skoene is by die voordeur gelos, dit is hoe dit in Kazakhstan werk. En dit is die rede waarom manlief kaalvoet is.
Hy is in sy element, het mos daardie tyd van die huis af gewerk, dan dra hy nie formele klere nie. Met die braaivleisie in die hand, dat hy in die sitkamer op die elektriese braai ons vleisie kon braai om amper soos ‘n buitebraai te proe – sonder die rook. Wonderlike braaitjie wat ons daar ontdek het … Na ‘n dag van werk agter sy rekenaar. Daar het die son eers nege-uur saans begin sak.
Natuurlik staan Thermie daar gereed vir aksie – en ek sien dat ek die pot op die stoof op superwarm gestel het. Dus neem ek aan dat dit die water vir pap was – ons het mieliemeel van Suid-Afrika oorgeneem om pap te maak. Die Kazakhs ken nie pap soos ons dit ken nie. Al het hulle groot mielielande, maak hulle nie papmeel nie. Na gister se Ontbytsake program wonder ek waarvoor hulle die mielies gebruik? Drank? Ek sien mens maak Wisky van mielies – maar hulle is eintlik Vodka-mense. Drink dit soos koeldrank. Dalk vir veevoer vir die winter?
Ewenwel, as manlief in ander land is, soek hy pap. Al eet ons dit selde. Ek kan natuurlik lekker pap maak, maar ek hou nie daarvan om te maak nie.
Dit vereis heeltemal te veel persoonlike aandag en tyd om gaar te word. As ek dit net los, brand dit maklik.
Dit was absoluut wonderlik om ‘n woonstel te kry wat nie muurpapier het nie, maar skoon mure.
Vandaar kon ek elke dag oor die hele Almaty uitkyk, sien hoe vliegtuie later weer kon inkom om te land. En weer styg. Want aanvanklik was die lugruim doodstil – daarna het plaaslike vlugte ingekom om te land. Die internasionale vlugte was steeds verbied weens die pandemie. Die eerstes waarmee ons uit kon vlieg het eers vanaf 2 Oktober 2020 die land verlaat.
Ek sal nog van die woonstel vertel, behalwe vir die mooi kombuis het ons in die laaste maand uitgevind dat dit ‘n riller sou wees om in die winter in die plek te bly … Hierdie foto herinner my egter aan ‘n tydperk van my lewe – skaars agt maande gelede – wat soos ‘n ewigheid gelede voel.
Persoonlik hou ek van ‘n kombuis met regte, egte hout kaste.
Al hou ek nie meer van koskook nie, het ons vorige drie eie huise my met eikehoutkaste oortuig dat dit my huis is. Die een in Volkstraat in Welkom, die een in Ruimsig en nou ook ons nuwe meenthuis. Ek is gek oor kaste wat gemaak is om te hou, met skarniere wat ook hou. Interessant genoeg is die nuwe kaste effens anders as wat houtkaste gewoonlik is, maar ek hou wel baie van die nuwe, platter deure.
Sal seker net rukkie neem om daaraan gewoond te raak. Ek vermoed dat dit baie makliker gaan wees om geolie en versorg te word.
Onhelooflik as n mens dink watter avonture julle al beleef het. Toe julle Kazakhstan toe is, het ek nog nie eers geweet daar is so n land nie.
LikeLiked by 1 person
Moenie sleg of alleen voel nie, vriendin. Ek het ook nie geweet waar dit is nie. Het net geweet is naby Rusland en Sjina en dat ek nie naby een van die twee wil bly nie …
LikeLike
En nou het jy interessante herinneringe
LikeLiked by 1 person
Inderaad, em my iPad laat my nie vergeet nie, hoor.
LikeLike
Die kombuis is verbasend luuks.
LikeLiked by 1 person
Verbasend is die regte woord, Letty-Ann. Ek wou nog vertel. Kombuise is Kaz is klein, baie, baie klein. Dit kom uit die dae van Russiese onderdrukking – volgens die Russe het ‘n vrou niks meer nodig nie. As ek het, sal ek nog foto’s van die ander woonstelle se kombuise eendag deel.
LikeLike
Dit sal interessant wees,Christa.Dankie.
LikeLiked by 1 person
Ek sal bietjie kyk wat ek kan doen. Op die oomblik is ek in my siek in gepla met die gesukkel met WP. En as ek eers ‘n ander toep moet gebruik om die blog te tik, sukkel ek om lus te raak vir tik.
LikeLike
Sukkel maak mens se rieme pap! Ek en Joanie,my sussie,stik vatlappies om en nou sukkel die naaimasjien se voetstuk om goed kontak te maak.Hy werk vandag soos ‘n kar se flikkerliggie!
LikeLiked by 1 person
Oe jitte, dit kan my lam maak.
LikeLike