Gepubliseer in Akademies

Blinde eweknie-beoordeling – ‘n interessante proses

Maandag kry ek weer ‘n boodskap van ‘n wildvreemde professor van ‘n iniversiteit waarvan ek nog net gelees het in my inboks – sal ek vir ‘n internasionale vaktydskrif ‘n eweknie beoordeling doen? Ek kyk na die ou e-posadres wat gebruik is en wonder hoe hulle op my afgekom het. Maar die titel trek my soos ‘n magneet – eportefeuljes.

Dit was verrassend. Twee soortgelyke versoeke in een week. Verlede week het die hoofredakteur van ‘n Suid-Afrikaanse vaktydskrif gevra dat ek al my besonderhede stuur, ek is deur iemand aanbeveel om eweknie-beorrdeling vir die tydskrif te doen. Ek het dit ingevul en aangestuur en het die e-pos gekry dat ek op die lys geplaas is. ‘n Groot eer, maar beslis ook ‘n uitdaging – of is die verantwoordelikheid?

Ek onthou die eerste keer toe ek ‘n eweknie-beoordeling moes doen. Ek was nadoktorale genoot by Unisa en het dit as ‘n geweldige eer beskou. Maar ook as iets wat ek nie kan doen nie.

Pleks dat ek stilgebly het, het ek dit met een van die ou professore (vroulik) bespreek wat haarself as die enigste kenner van alles beskou. Sy het haar dun lippies nog dunner getrek en vir my vertel dat ek dit vir die oues moes los, my ten sterkste afgeraai.

Ek het egter geweet ek het nie keuse nie, gaan my grootdogterskoene moet aantrek.

Want – ek is een van die enigste Suid-Afrikaanse navorsers wat geskool is in sosiale-netwerk-analise. As ek dit nie aanvaar het nie, was die skrywer van die Afrikaanse artikel in die moeilikheid – waar sou hulle iemand anders kry met die kennis wat ook Afrikaans verstaan? Ek is steeds een van die min kenners in Suid-Afrika op die gebied en was verras om te sien dat ek in Wikipedia genoem word. Toe aanvaar ek die versoek.

En kry terugvoer dat ek ‘n baie goeie werk daarvan gemaak het. Dit was ‘n aangename ervaring, want artikels wat gestuur word vir evaluering is reeds deur die eerste been – die redaksie het dit goedgekeur om verder deur die prosesse te gaan. Dit is dus van beter gehalte wanneer dit by ons uitkom. En ek het dit goed gedoen – ek word steeds versoek om artikels te beoordeel.

En nou is ek al gekonfyt in die proses. Ek geniet dit wanneer ek kommentaar lewer en dit word gebruik om die artikel te verbeter. Soos wat ek doen met die kommentaar wat ek van eweknie-evalueerders kry. Soms staan mens voor ‘n moeilike besluit – want jy moet na die lees van die artikel besluit of dit gepubliseer kan word of nie.

Ek het nog nie een artikel gekry wat net so gepubliseer kan word nie, daar is altyd plek vir verbetering. En uit ondervinding weet ek dat die kommentaar van die evalueerders waardevol is. Ek gebruik dit altyd om my eie werk te verbeter.

Ons is mos “blinde” evalueerders, jy weet nie wie die skrywer is nie en hy of sy of hulle weet ook nie wie jy is nie. En natuurlik word mens glad nie vir hierdie belangrike werk betaal nie. Ek weet nie of dit so goeie stelsel is nie, maar ek dink tog dit sou my intimideer as ek weet dat ek een van my profs se werk moet evalueer.

Ek moes al belangrike en bekende professore se navorsingsvoorstelle evalueer en dit maak mens skoon benoud. Ook wat die gehalte van hulle voorstelle betref en of die navorsing goedgekeur kan word soos wat dit in die voorstel beskryf word. Dit moes ek veral doen toe ek op die etiese komitee van Unisa gedien het.

Dit is miskien juis daardie ervaring en ondervinding wat my mak gemaak het vir blinde evaluering.

Ek sou graag wou weet hoe die twee internasionale professors weet dat ek kennis oor die toepassing van eportefeuljes het. En al wat ek kan raai, is dat hulle van my eie artikels oor eportefeuljes bewus is. Ek was natuurlik ook op die redaksionele komitee van ‘n internasionale vaktydskrif oor eportfeuljes – dit is dalk op daardie bladsy van die tydskrifte waar ek raakgelees is?

Interessant hoe mens artikels in ander velde kan evalueer as jy ‘n opvoedkundige is, met kennis van navorsingsmetodes, sosiale-netwerk-analise, opvoeding en iets soos eportefeuljes. Dit is dan wat ek weet dat mens ‘n verskil kan maak – as jy bereid is om vinnig te leer hoe om eportefeuljes in afstandonderwys te integreer.

Ek leer elke keer ietsie by die mense wie se werk ek evalueer. En kom so op hoogte van akademiese navorsing wat nog nie eens op die rakke is nie. Dit is wel ‘n striemende werk, maar absoluut die moeite werd.

Die keer het ek besluit om die bul dadelik by die horings te pak – al het ek vier weke daarvoor. Want as ek weet dat iets eers oor vier weke in moet wees, is ek geneig om dit vir later te los. Dit was sommer lekker om die knoppie te druk – ek is klaar. Drie en ‘n halwe week voor die tyd ingedien.

Ek weet egter dat die arme skrywer(s) tot na die datum sal moet wag voordat hulle my terugvoer kry. Want die kans is baie skraal dat die ander een of twee evalueerders so vinnig daaraan aandag sou gee.

En dit is natuurlik nog ‘n stresvolle proses – mens weet nie of die ander met jou gaan saamstem dat dit gepubliseer kan word of nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Blinde eweknie-beoordeling – ‘n interessante proses

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.