Gepubliseer in Reisjoernaal,Resensies

Vadersdag by Mattanu privaat wild reservaat, distrik Barkly Wes, Noord-Kaap

Ek het nie veel erg aan vaders- en moedersdag nie, maar die kinders het mos met moedersdag gevra dat hulle pa my in Kuruman bederf. Aangesien hulle myle weg is. Maar, dit is basies onmoontlik. Want Kuruman Sondae so toe soos ‘n klei os se watsenaam is.

Manlief het my toe Kimberley toe geneem, so in die hitte van die betrokke Sondagoggend. Sondag was dus my beurt om pa hier om Kuruman te bederf.

Sommer gou het ek en my dollatjie agtergekom dit gaan probleem wees. Sy Google en stuur skakels. Ek bel. Restaurante is skaars in Kuruman en ek bel. Maar soos ek reeds geweet het, is dit toe.

Kla kan ek nie, want ek het so grootgeword. Sondae is kerktyd, net die noodsaaklikste winkels moet oop. En dit is nie ‘n restaurant nie.

So soek ek plekke om Kuruman wat dalk oop kan wees. Sien ‘n wildsplaas op die pad na Botswana en besluit om hulle te vra of hulle middagetes vir pa’s doen. Oorslaap kan ons om twee redes nie. Eerstens het ek drie Miniatuur Schnauzers wat nie saam kan gaan nie en tweedens kos slaapplek vir een aand daar bykans dubbeld soveel as wat ons huis se huur vir die maand is.

Ek vra of mens daar kan gaan eet vir vadersdag en kry die e-pos terug dat hulle nie dagbesoekers toelaat nie. Maar ek kan Jan Hendrik watsenaam – daai een van die Checkers advertensie – se restaurant wat op die plaas is kontak. Dalkies help hy my. Ek is ontevrede, maar klik op die skakel om te kyk hoe dit daar lyk. Hulle is nie eens elke dag oop nie en vra ‘n allemintige R2 500 per persoon vir ‘n ete. Selfs al maak hy vir die koningin van Engeland persoonlik kos, sal ek nie R5 000 vir ‘n ete betaal nie, ek wil nie die sjef saam koop nie.

En soek verder. En Mattanu privaat wildsplaas trek my aandag. Klik gerus op die skakel om te kyk hoe pragtig die plek is.

Hulle pryse is nie buitensporig nie, waarskynlik omdat hulle vir die mense om hulle ook ‘n plekkie in die son op hulle wildsplaas gun. Die plaas behoort aan ‘n wildveearts, dr Johan Kriek en hy en sy gesin bestuur die plaas. Pa, twee seuns, skoondogters, dogter en skoonseun is almal op die plaas betrokke. Kleinkinders ook.

Dit klink na my soort mense en toe ek sien dat hulle wel dagbesoekers toelaat, is ek in die wolke. Dit is een van die eerste dinge wat hulle adverteer. Na die groot skok van die ander plek, is ek verras met wat die plaas alles vir dagbesoekers aanbied – teen baie billiker pryse.

Ek kies die oggend wildrit met ‘n buffet ontbyt daarna wat my slegs R900 uit die sak jaag – vir ons altwee. Toe eers sien ek dat die plaas werklik baie ver van Kuruman af is – so twee en ‘n half uur se ry, net 50 km vanaf Kimberley, by Barkly Wes.

Ek bespreek en die vriendelike bestuurderes stuur vir my al die besonderhede. Nou moet manlief, wat elke oggend vieruur opstaan en Saterdag ook moes omdat dit sy aan-Saterdag is, oortuig dat hy Sondag ook vroeg moet opstaan.

Die keer het ons beplan, hy sal maar net teen sesuur opo die pad moet wees. Mattanu is darem voor mens Kimberley kry. Dit is 50 km nader aan ons. Ek pak geen padkos nie – ons eet mos daar. Maar, ons giggel tog oor ons moedersdag ervaring – ek het mos gedink die eiers is gaar gekook, toe breek ek ‘n lou eier teen my knie – met die eierwit wat teen my jean se pyp afloop. Ek kan steeds nie verstaan waarom ek nie baie, baie naar geword het nie. Die hitte van die oomblik?

Sondagoggend moes ons halfses opstaan om sesuur reeds op die pad te wees om betyds by die plaas te wees.

En so sny ek die riempies heeltemal te dun sodat ‘n paar dinge in die gejaagdheid in die slag bly toe ons moes ry …

Ek het sowaar my foon by die huis vergeet!

Ons het aangeneem dat mens voor Barkly-Wes links moet draai na die plaas toe, toe besluit ons om eers aan te ry om koffie by die garage te koop. Nader aan die dorp, sien ons dat mens in die dorp links draai. Ons sal waarskynlik nooit weer daar koffie koop nie. Teen R30 vir twee koppies koffie wat so sleg is dat ons altwee ons s’n maar liewer weggegooi het as om te drink, is dit ‘n onaangename verrassing.

So twee strate na die garage het ons links op ‘n teerpad gedraai en toe weer links op ‘n grondpad om 17 km verder by die hek van die plaas uit te kom. Ons het dus teruggery in die rigting vanwaar ons gekom het, maar dit is die enigste pad. ‘n Treinspoor skei die grondpad van die dorpie.

En toe sien ek dit.

‘n Mamma vark (sog) wat aan my kant van die pad in dieselfde rigting as ons stap. Aan die ander kant van die pad trek ‘n beweging my aandag. Vier of vyf baba-varkies wat aan daardie kant van die pad hardloop, al agter mamma aan. Die meeste is wit, met een pikswart enetjie tussenin.

Ek hou nie van varke nie, van my kinderdae af. Ons moes op ons Modderfontein plaas verby oom Danie van der Walt – die buurman – se varkhokke stap op pad na die hek om op die bus te klim. Hy het sulke groot, lang, wit, varke gehad – Landrasse. Hulle was beslis groter as ek, dit was in my graad 1 en 2, en standerd 1, 2 en 4 jare. Ek was doodbang vir die verskriklike groot varke.

Maar, ‘n babavarkie is nog altyd vir my een van die mooiste baba diertjies onder die son. Die ou pienk neusies, pienk oortjies en pienk wat deurskyn tussen die haartjies as hulle wit is. En die oi-oi-oi geluidjies wat hulle maak is my pot se deksel. O my genade, dit is vir my mooi diertjies.

Ek het ge-oe en a, wou net dat manlief stop om hulle te red. Iemand gaan hulle doodry. Was ook bang dat iemand hulle gaan steel en eet. Manlief wou weet wie sal ‘n babavarkie eet – en ek het hom gou stil geskok met speenvarkie? Ons altwee gril ons op vir die idee van ‘n ou baba varkie met ‘n appel of ding in sy bekkie op ‘n tafel. Ek sal dan my my mond aan varkvleis sit nie – al is dit maklik my gunsteling vleis. Volwasse vark vleis, nie babatjies s’n nie.

Red kon ons egter nie, netnou word ons van dierediefstal aangekla – die eienaar van die varkies was waarskynlik net in die bos. Of het hulle weggeloop? Ek sou ook as ek die ma vark was.

Afneem kon ek nie, ons was laat en my foon was tuis. Die varkies was aan manlief se kant. En ek moes op manlief staatmaak om die foto’s vir my te neem … Gelukkig het ek die vorige aand betaal en die e-pos gelees, anders het ons buite die hek gestaan. Daar was darem ‘n telefoonnommer by die hek.

Ons moes by die hek ‘n knoppie druk om ingelaat te word. Toe ons deur die hek is, loer ‘n tweede hek vir ons om die hoek. Ek het niks gelees oor hoe ons deur die tweede hek gaan kom nie. Maar daar is weer ‘n interkomknoppie en so is ons weereens ingelaat.

En toe is ons op die mooi grondpaadjie na die lodge toe. Met ‘n gemsbok was ons verras. In die pad staan en lyk asof hy eers nie gaan padgee nie. En dan vinnig in die digte bosse verdwyn.

En ‘n piepklein voëltjie wat aan manlief se kant van die pad gaan sit en vir ons kyk. Toe ons by hom is, sien ek net die geklap van vlerkies en vlieg hy reg voor die neus van die groot bakkie in. Ek was nog geskok oor die dood van die dingetjie toe hy voor my kant van die bakkie opvlieg en in die bos verdwyn. En toe lag ek gelukkig.

Manlief se kommentaar? Hy het net seker gemaak dat manlief nie die spoedperk oortree nie. Ek het so lekker gelag.

Wat ‘n aangename verrassing toe ons by die grasdak lodge aankom. Om deur mense soos ons by die plek begroet te word! Mense wat verstaan dat hulle ons nie uit die hoogte hoef te behandel nie – soos wat ek by soveel ander plekke al gevind het. Veral as dit soveel sterre het.

Nadia, die bestuurder, begroet ons met ‘n vrolike laggie in die onthaalvertrek van die wildsplaas. Dit ruik na koffie en ontbyt wat gereed gemaak word.

En die plek is pragtig. Ek hou nie van bokkoppe in my eie huis nie. Manlief het twee en hulle moet maar in die boonste deel van die rivierhuis hang waar hulle stof vergaar, solank ek nie in die glasogies hoef vas te kyk nie. Op ‘n wildsplaas van ‘n veerarts is dit egter baie gepas.

Die lodge se ontvangsarea – dit is ‘n baie groter plek as wat op foto lyk

Die meubels is van swaar hout gemaak en gee die gevoel van luuksheid. Manlief het baie, baie vederf gevoel. Ek het ‘n aar raakgeboor …

Nadia het ons met die nuus verras dat die eienaar se seun of hyself ons op die wildrit neem. Jacques – sy seun – het ons toe geneem. Hy was ‘n uitstekende gids en hy bestuur daardie groot vervoermiddel – ek het geen idee wat mens dit noem nie – met gemak.

Ons vervoermiddel – bly ek het dit gekies, die bosse is dig na die reën

Hy het selfs oor bosse in die veld ingery om vir ons ‘n pragtige bok te wys: Die tsessebe. En later ook om nader aan die pa van die kameelperde te kom.

Die teelbokke en kameelperde het besluit om die drie pa’s op die voertuig te verras. Ons was drie gesinne wat die rit onderneem het. het almal myle van mekaar gesit, dit was heerlik! Ons het al die teelpa’s gesien – die alfa manne. Pragdiere. En hulle kyk vir ons op ‘n afstand, hardloop nie net weg nie.Hulle weet hulle is veilig.

Die man het kennis van die bosse en plante en diere wat hy so deur die loop van die oggend met ons gedeel het. Natuurlik was dit heerlik om te hoor dat blinkblaar wag-‘n-bietjies ook daar groei. Hulle word net nie naastenby so hoog soos ons s’n langs die Vaal by Bothaville nie. Waarskynlik weens die feit dat ons s’n baie water kry en naby die rivier is.

En dit was ook heerlik om te hoor dat die plaas vanuit die Vaalrivier besproei word – die water het dan mos ‘n dag of twee te vore by ons rivierhuis verbygevloei.

Dit het soos tuiste gevoel.

Ek het interessante goed geleer. Soos byvoorbeeld dat die swartwitpens ram geen ander ram by sy vrouens toelaat nie. Die swart ram op die foto in die eerste twee foto’s.

Hier kon ons afklim en kyk

Hierdie groep bokke is die enigste waar ons kon afklim omdat hulle gewoond aan mense is – hulle kry ekstra voer gedurende die winter. Ek neem aan dit is ram? By bokke (wild) hang dit mos van die grootte van die bok af of dit ‘n bul of ram, koei of ooi, lammetjie of kalfie is. Daar kan net een ram vir die meisies wees. En net om ons te laat verstaan dat hy kan, het hy sy neus in die lug gedruk, gesnuif watter ooie gereed is, en toe sy speletjie begin speel – sal mens dit maar om beskaafde redes so noem?

Ek was verstom om te sien hoe wat die gids vertel voor ons afspeel. Die gids is nog besig om te vertel, dan demonstreer die ram vir ons waarom hy die alfa van die groep ooie is. Hy stoot sy een voorbeen so tussen die ooi se agterbene in en lig dit baie stadig op. As sy gereed is, lig sy haar stert. Indien nie, gee sy pad en moet hy ‘n ander gewillige een gaan soek. Hierdie ene was gereed, maar nie maklik nie. Hy moes maar aanhou en kyk of sy toeskouers gaan toelaat …

Hulle moet blykbaar maar so versigtig wees. Want as hulle eers in die lug is, kan dinge lelik verkeerd loop as sy padgee. Dit het al op hulle plaas gebeur dat die vroutjie padgee en die manlike bok nie betyds kon keer om nie te val nie. Tydens die val is die belangrike teelorgaan gebreek. Gelukkig kon die veerarts baas van die plaas die probleem regstel, is dit die woord? En dit het ook al gebeur dat die teelorgaan aan ‘n bos vasgehaak en uitgeruk is. Dit is ongelooflike groot skade, aangesien ek op die webwerf lees dat een van die teelbokke op die plaas al vir ‘n allemintige R4,4 miljoen rand verkoop is.

Ek wens ek het my foon daar gehad. Of ‘n baie goeie kamera. Op een stadium het dit gevoel of ons iewers in ‘n fliek oor die natuur is. Met ‘n baie groot trop sebras, wildebeeste en ander bokke wat saamgekuier het. Blykbaar hou die wildebeeste vabn lang gras en die sebras van kortes. Dus wei die sebras al agter die wildebeeste aan om hulle kort grassies te kry. Ek sien manlief het nie ‘n foto daarvan geneem nie – ai.

Die volgende bokke word op die webblad van Mattanu uitgestal foto).

Van die bokke en wild wat ons gesien het.

Ons het meer soorte gesien. Daar is goue wildebeeste ook. Ons het hulle net op afstand gesien, maar sjoe, hulle is baie, baie mooi. Was eers as probleem met genetika beskou, nou word die goues spesiaal so geteel. Daar is ook kameelperde.

Ek sien ek het manlief nie genoeg aangemoedig om foto’s te neem nie, ek het in die bosse gesoek om ‘n bok of wild te sien. Dit was baie, baie lekker om so hoog in die lug te sit, anders het ons baie bokke misgeloop. Dit het ek veral agtergekom toe ons later weer uitry in die bakkie wat allesbehalwe laag is. Die bosse was te hoog om wild te sien. Ons het baie gesien – want Jacques ken die plaas en weet waar die diere gaan en kan wees.

Kliek gerus hier om ‘n baie, baie interessante boek oor die Kriek-gesin en hulle wildsplaas te lees. Ek het glad nie geweet dat ek manlief op die plaas van een van Suid-Afrika se pionier wildboere gaan bederf het nie.

Ek kan Mattanu Wildplaas vir enige iemand aanbeveel. Indien jy ver bly, kan jy selfs per vliegtuig daarheen geneem word. Die plaas het ‘n landingstrook. Hulle bied helikopterritte aan, jy kan die plaas op ‘n vierwiel verken, self ry en piekniek hou, die wildrit en ete kombinasie kies wat ek gekies het, die een met aandete kies en oorslaap met verskeie kombinasies van keuses om ‘n onvergeetlike naweek te beleef.

Nadia het ons genooi om na een van die tenthuise te gaan kyk. Moenie dat die term jou verwar nie. Dit het ondervloerverhitting, ‘n regte toilet, ‘n spa hoekbad, ‘n hemelbed, en pragtige, swaar, hout meubels in die tenthuis. Lyk veel eerder soos ‘n kamer in ‘n 5-ster hotel as ‘n tent. Die tente staan nie op die grond nie, hulle is gelig omdat die tenthuise ook ‘n dek te bied vanwaar mens oor die omgewing kan uitkyk. En so terloops, die huise is nie na aan mekaar nie, jy kan wegraak in jou eie wêreld. Asof jy alleen in die wildernis is.

Sien wat ek bedoel? Luuks in elke opsig.

Die plaas is 5000 hektaar groot en dit voel of mens in ‘n wildtuin is – sonder leeus en tier en renosters om voor versigtig te wees. Daar is blykbaar ook uffels, maar hulle was iewers in die bosse. Ons het hulle nie ontdek nie.

Ek het die roofdiere mos al gesien, dit was hemels om die bokke, sebras, volstruise, kameelperde, wildebeeste en vlakvarke in hulle natuurlike omgewing te sien.

Manlief het hierdie collage saamgestel om vir die kinders te wys dat ek hom bederf het … Hy het beslis gedink dat ek weet waarvan hy sou hou …

Manlief se collage, ek het hom mooi geleer.

Sal ek weer gaan? Beslis, dit is glad nie te ver van ons af om ‘n spesiale naweek te geniet nie. Of ek sal kan, is die vraag, want ons trek einde Julie terug Gauteng toe.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Vadersdag by Mattanu privaat wild reservaat, distrik Barkly Wes, Noord-Kaap

        1. Jy sal glad nie spyt wees nie. Die mense is wonderlike, plat op die aarde mense. En jy sal verskriklik bederf word. As jy oorslaap, is twee widritte ingesluit by sommige van die pakkette, maar dit is die moeite werd omdat die plaas baie, baie groot is. Mens kan onmoontlik al die diere op een rit raakloop.

          Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.