Gepubliseer in Joernaal

Ek en padkos … ‘n be-eierde ervaring …

So daag moedersdag 2021 op. Die kinders stuur vroeg oggend boodskappe in ons groepie op Signal. Skoondogter stuur op Telegram boodskap. Die boodskap is dieselfde – ons hoop pa gaan ma bederf.

En ek sit met ‘n dilemma. Pa se manier van bederf is uiteet. En ek is nie lus om van restaurant tot restaurant in Kuruman te ry om een te kry wat op ‘n Sondag oop is nie.

Paasnaweek het ek en skoondogter mos na Rostilli – die enkele restaurant wat ons al oop gevind het in Kuruman gegaan, maar dit was dig gesluit. Nie net omdat dit paasnaweek is nie, maar ook omdat dit Sondag is. Hier is die restaurant Sondae gesluit.

Kyk, dit is iets wat my met gemengde gevoelens laat. Aan die een kant stuit dit my teen die bors, want ons wil dikwels op ‘n Sondag uiteet. Hier is byvoorbeeld ‘n Geel Kombuis restaurant waar ek graag wil gaan eet – maar seker nooit by gaan uitkom nie – want dit is naweke toe. aan die ander kant sal ek nooit daarteen skop nie, want ek het so groot geword. Winkels het Saterdae om 13:00 gesluit. My pa se slaghuis ook. Dan is ons eers teen 17:00 op pad huis toe, want daar moet skoongemaak word. En vleis moet op pad huis toe afgelewer word. sondae was rusdag – soos die Bybel beveel. ses dae moet jy werk, maar die sewende dag moet jy rus.

Hier leef ons nog na aan die Bybel se voorskrifte. Dischem en Spar en Pick-n-Pay en Checkers is elke dag tot laat oop. Maar hier vergeet baie plekke en restaurante van ‘n gejaag na geld. Hier maak baie restaurante en winkels Saterdae om 13:00 toe om eers weer Maandae oop te maak. Soos toe ek ‘n kind was. En daarteen gaan ek nie baklei nie. Dus is ek nie lus vir uiteet nie.

Ons kyk na die diens wat dominee aangestuur het, en toe vra manlief of ek lus is om Kimberley toe te gaan. Dit is net twee en ‘n halwe uur hiervandaan. As ons voor tien in die pad is, kan ons middagete se kant daar wees. Jy sal seker dink dat dit baie ver is om te gaan uiteet. Wel, nie meer vir ons nie.

Ons ry elke tweede week ver. Die een vier ure lank rivier toe om te gaan kyk of alles reg is. En die ander een sewe ure lank stad toe om by die kinders te gaan kuier. En bietjie in ons eie huis te slaap. Wat is twee en ‘n halfuur daarteen?

Maar ek is nie gepla oor waar ons gaan eet nie, ek versoek ‘n besoek aan Kimverley se gat. Dit sal my moedersdag bederf wees. Dus is ek binne ‘n halfuur gereed vir die pad. Padkos en al. Want sien, ons het nou in die Noord-Kaap mooi geleer. As ons nie lus is om honger op die lang pad te wees nie, moet ons self vir die proviand sorg. Hier is nie soos in Gauteng en op die N1 pitstoppe tussen dorpe nie. En die dorpies self is toe oor naweke.

Ek besluit op geroosterde toebroodjies, pataskyfies wat in die lugbraaier gaar gemaak is en gekookte eiers in my Thermomix. Omdat al drie masjiene my roep as hulle klaar is. Niks kan brand terwyl ek klaar maak nie. Ek maak tee wat hy net in die bottels moet gooi as dit 5 minute getrek het en hy maak ons nuwe glaswaterbottels vol. Dit kos heeltemal te veel om water langs die pad te koop. Gekoopte water kos hier R1.20 per liter, dus kos die bottel waarin dit is ons so tussen R8 en R10, afhangende waar ons koop. Ons gaan bietjie daarop begin bespaar, so ook sorg dat ons nie help om die aarde met plastiek te vervuil nie. En dit laat my so aan my kinderdae dink.

My ma het die kosmandjie gepak, dan het ons langs die pad by tafeltjies en stoele gestop en ons padkos geëet voor ons verder gery het. Toe was dit skoon, het dit nie soos ou kos en nommer 1’s en 2’s geruik as jy daar stop nie. Later sou ons so graag soos ander mense by pitstoppe wou stop en ‘n Wimpy-ontbyt eet, maar my pa het my ma se kos verkies. Ek dink met vyf dogtertjies was die padkos ook baie goedkoper as om by ‘n restaurant te eet. Nou leef ons terug na baie jare gelede. En ons sien uit daarna om ons padkos te eet. Ons raak selfs slim met wat wer en wat nie.

Die lugbraaier (16 minute) en Thermie (veertien minute vir hardgekookte eiers) is vir ongeveer ewe veel tyd gestel. Maar Thermie roep my baie gouer. Ek besef dat ek die tyd verkeerd gestel het omdat die lugbraaier nog 11 minute wys. Net vier minute, dit kort nog tien minute se kook. Vergeet dat die masjien aanvanklik op outomaties vir eierkook gestel was en stel die tyd en spoed weer. Vra manlief om alles in ons kosblik te pak as dit gaar is. Want ek gaan grimeer en hare mooi maak vir die besoek. Manlief sorg vir die inpak van die kos, sny ook vir ons appel, peer en piesang in skyfies wat ons kan eet terwyl hy bestuur.

Ons is net voor tien gereed, die woefkinders het kos en water en toe is ons opgewonde op die pad.

Ek het eers ‘n ligblou denims aangehad, maar toe ek ‘n donkerblou bloes kies, besluit ek gelukkig om my nuwe, donkerblou jean aan te trek.

Tussen Kuruman en Daniëlskuil maak ek die kosblikke oop dat ons so in die ry kan eet. Eers die patatskyfies wat toegemaak is terwyl dit nog warm is. En dit is absoluut heerlik. Beslis ‘n moet vir die naweek wat ons weer stad toe gaan. Toe die hardgekookte eiers.

Ek kap die eier teen my knie om in absolute verwondering te kyk na ‘n eier wat te maklik gebreek het. Die nat kol teen my knie, waar ek – volgens myself – die ramp net betyds gekeer het.

Ek het nooit die temperatuur ook weer gestel nie. Ek het ‘n basies rou eier teen my knie gebreek. Toe ek my been reguit maak, sien ek die skade. Eierwit wat teen my been afgeloop het en wat ek net betyds gekeer het om in my nuwe tekkies in te loop. Manlief het te vertelle dat hy gedink het dat die eiers darem baie koud is toe hy dit uit die masjien gehaal het.

My be-eierde broekspyp en nuwe waterbottel vir die lang pad

En ek kan nie kwaad word nie. Sou ek besef het die eiers is te koud vir gaar as ek dit uit die masjien gehaal het? Ek dink ek sou. Alhoewel die masjien die eiers gaar stoom, is dit gewoonlik so warm dat ek die beker eers met koue water volmaak dat dit kan afkoel voordat ek aan die eiers kan vat.

Die punt is steeds – ons was haastig. Sou ek besef het die eiers is te koud? Ek twyfel, dus haal ek natlappies uit die paneelkissie en vee my broekspyp af. Dit lyk skoon, dus sit ek been in die lug dat die sonnetjie wat gelukkig van my kant af in die kar inskyn my broek vir my droogmaak.

Intussen ontdek ek dat van die eierwit op die matjie geval het, teen my handsak gespat het. En maak dit ook skoon. Die handsak het gelukkig nie gevlek nie. Die matjie het met tyd droog geword. Maar, toe ons by Barkley-Wes uitklim om die toilet te besoek, sien ek dat die lang merk teen my broekspyp sit. Vanaf my knie tot by die soom van my broek.

Dus soek ek op pad Kimberley toe na ‘n Pick-n-Pay clothing. Dit is waar ek die jean gekoop het. Vir die eerste keer in my lewe dra ek jeans met gemak. Want die RealDNM midhoogte skinny jean nommer 8 pas my asof dit net vir my lyf gemaak is. Daar is een in die Noord-Kaap Mall in Kimberley en ons besluit dat ek nuwe jean gaan koop, gaan aantrek en dan eet ons sommer daar.

Volgens Google is daar verskeie kettingrestaurante in die winkelsentrum, ons gaan sommer twee vlieë met een klap doen. En by Spur eet. Manlief soek ‘n Wimpy burger, maar ons kom op Spur ooreen.

Die winkel is so wraggies klein en ek kry nie my grootte nie. Ander make wel, maar ek wil nie aanpas nie en die ry staan lank. Het ek al vertel ek verpes om in ‘n ry te staan? Manlief staan in die ry en ek gaan pas aan.

Wat ‘n gesukkel? Dit is tekkies uit, jean uit, nuwe jean aan en dit pas nie. Hoekom kan alle nommer 8’s nie aan mens sit soos die een nie? Ek haat klere aanpas, stap na manlief toe en vra of hy die streep teen my been duidelik sien.

Natuurlik sou hy nee sê, daaraan twyfel ek nooit nie. As hy haastig of honger is, is dit standaard antwoord dat ek klaar kry. Ek besluit dat ek net so gaan loop, my geëierde broek en al.

Mense kyk tog vir jou gesig en nie jou bene nie? En baie jeans is mos in die laaste tyd so gestreep teen die bene. Gewoonlik ‘n ligter kleur, maar die donkerder sal maar net gedra word asof dit so hoort. Asof dit so gekoop is. En ek kyk almal wat van voor af kom in die gesig. Dit is waar hulle vir my ook moet kyk …

Toe begin die gesoek na Spur. Dit is nou die restaurant wat ons daardie tyd geboikot het. As jy Afrikaanssprekend is, sal jy weet waarom. Hulle het darem om verskoning gevra vir hulle swak besluit. Dus is ek na jare lys vir Spur se kos.

Ons stap deur die sentrum tot aan die ander kant. Kry geen Spur nie. Wel John Dory’s, maar manlief hou niks van hulle nie. Ek vra waar dit is en mense verduidelik dat dit nie in die sentrum is nie, maar aan die buitekant. Ons sien ‘n Spur-agtige kenteken, besluit dit kan nie Spur wees nie en stap verder. Om later terug te keer, want ‘n man verduidelik dit is waar die Spur is.

Net om te ontdek dat dit Machachos is. Waarvoor ons nie lus is nie. Toe kom ons ooreen op Mugg and Bean, want ons wil nog die gat gaan besoek en ons moet teen vieruur huiswaarts begin keer.

Ek besluit om ‘n Red Espresso te probeer, nadat ek baie seker gemaak het daar is geen melk in nie. Die kelnerin stel voor dat ek pot tee ook vat, dit is baie min tee. Goeie genugtig, ek was dankbaar dat dit so klein koppietjie half met tee was. Dit is – en skuus vir jou as jy daarvan hou – maklik die slegste rooibostee wat ek al ooit in my lewe gedrink het. Gelukkig kon ek dit afsluk met die pot rooibostee.

Ons twee in Mugg & Bean, die Vaalrivier en ‘n meer vol water net buite Kimberley na die goeie reën van hierdie seisoen

Terwyl ons vir die kos wag, sien ek foto’s van Oppenheimer park. En dit laat my so baie aan Kazakhstan en ons reise duer die land dink, dat ek vra of ons dit ook kan gaan besoek. Dit is 24 uur oop, dus kan ons dit wel na die besoek aan die Groot Gat gaan besigtig voor ons huiswaarts keer.

Die besoek aan die Groot Gat was ‘n belewenis. Wens ons het geweet daar is ‘n gewilde restaurant. Dan het ons beslis eerder daar gaan eet. Sou seker geweet het as ek nie my broek be-eier het nie, maar so leer mens deur skade en skande. Ek gaan foto’s daarvan apart deel.

Die besoek aan Oppenheimer-park was ‘n geweldige teleurstelling, ek sal iets daaroor ook apart skryf. Ons is toe darem lank voor vier weer op pad terug huis toe.

Manlief moes langs die pad verskeie kere stop of stadiger ry dat ek foto’s kan neem. Want ons is oor die Vaalrivier, wat manlief laat dink het dat Kimberley nie in die Noord-Kaap is nie, maar in die Vrystaat – want vorm dit nie een van die grense van die Vrystaat nie? En toe moes ek eers Google, want sy redenasie het reg gevoel, al het ek tog geweet dat Kimberley die hoofstad van die Noord-Kaap is .

Juis iets wat manlief die oggend te vertelle gehad het. Ons kan mos nie in die Noord-Kaap wees en nie die hoofstad gaan besoek nie?

Natuurlik het die Vaalrivier ons twee se aandag gevang. Want die water wat tussen Barkley-Wes en Kimberley verbyvloei, was ‘n paar ure tevore by ons rivierhuis naby Bothaville verby. En kom van verder af, dalk selfs van my pa se plaas wat verkoop is – die een tussen Ermelo en Volksrus. Ons het nou bande met die Vaalrivier.

Tuisgekom was ons moeg, maar nie uitgeput nie. Dit was ‘n absuluut heerlike moedersdag. My kinders was nou wel nie by my nie, maar hulle het pa aangemoedig om my nameens hulle te bederf.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Ek en padkos … ‘n be-eierde ervaring …

  1. En kan sulke eierwit nie taai wees nie!!!
    Dankie vir die lekker vertel. ek kan myself so inleef in die roetes. My Geliefde hou ook van gaan ry en kyk en hy stop ook dat ek kan foto’s neem. Ek het in die laaste 2 jaar meer van ons land gesien as ooit tevore. En hy gebruik die agterpaaie. Te lekker.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.