Gepubliseer in Reisjoernaal

Terug in Suid-Afrika waardeer ek klein goedjies

Ons sal wel eendag emigrasie oorweeg as ons moet, met ons kinders en kleinkinders se tassies langs ons s’n gepak. Ons is nog nie by daardie punt nie. Buitendien, die Bybel herinner my elke dag dat die Here ons sal beskerm. Ons moet net bid en glo.

Volgens manlief moes ons die 18 maande in die buiteland deurbring om te besef dat ons land die land van melk en heuning is. Ek lag lekker daaroor, want Kazakhstan kan eerder as die land van melk en heuning beskryf word – daar is bykans 40 soorte heuning beskikbaar en jy kan bees- en perdemelk koop. Ek grap nie, mens kan sowaar perdemelk koop. Dit is blykbaar baie suur en sleg, ek het geweier om dit te probeer. Om die eerlike waarheid te skryf, ek het nog nooit daaraan gedink dat ‘n perd sal stilstaan om gemelk te word nie.

Dus weet ek ook nie of dit regtig perdemelk is nie.

Toe ons na Kazakhstan getrek het, het ons nie geweet dat daar ‘n pandemie gaan uitbreek nie. Dit was ondenkbaar dat die hele aarde se vliegtuie op die grond sou staan. Dat lande sou weier dat jy oor hulle grense gaan – en dat jou eie land sou weier dat ‘n vliegtuig jou huis toe bring.

Ons het maande lank vlugte bespreek, om ‘n dag of ses voor die tyd te hoor dat die vlug gekanselleer word want Suid-Afrika weier dat so en so lugredery in die land land. Toe ons uiteindelik 3 Oktober 2020 na Suid-Afrika kon terugkeer, het die venster net oopgemaak. Nie lank daarna nie is vlugte weer gekanselleer.

En dit het ons laat besef dat die Here se hand in ons terugkoms is. Wie anders sou kon weet dat ons wel na einde September vir goed sou kon huis toe kom?

In Kazakhstan het ons veilig geleef, kon ek gaan stap soos ek wil. Tussen wildvreemde mense wat my nie eens verstaan nie – en ek ook nie vir hulle nie. Terug in die land is ek bekommerd oor misdaad in Kuruman, waar ons tans woon. Maar … ek sien klein goedjies raak wat Suid-Afrika ‘n wonderlike land maak. Ten spyte van politici.

Ons verkoopsmense en mense agter toonbanke waar jy moet betaal, is net so vriendelik soos die Kazakhs. Dalk selfs vriendeliker. Ek word nou nie gedobrei-utro of dubrei-deng nie, maar ek word in Kuruman by elke kassier in Afrikaans gegroet met, goeie dag en totsiens as ek wegstap. Het ek dit ooit waardeer voor ek landuit is? En as hulle agterkom ek is Afrikaans, word ek in Afrikaans gehelp. Veral hier in Kuruman en Kathu. Waarom het ek dit nie voorheen raakgehoor nie?

Eers toe ek in vreemde tale gedobre utro (goeie môre) en dobre deng (later in die dag) en dezwidanje (totsiens) is, het ek agtergekom dat mense jou by die kassiere groet. Of, het Suid-Afrikaners in die inperkings geleer om klante beter te behandel? Ek weet nie, ek weet net dit is sulke klein dingetjies wat dit maklik maak om mens se beursie oop te maak om te maak. As mens vriendelik by die kassiere gegroet word. In Afrikaans of Engels.

Dit is absoluut wonderlik om verstaan te word. In Afrikaans – of in Engels. Moes ek eers weggaan om tussen mense te gaan woon wat my nie verstaan nie – nie in Engels of Afrikaans nie – om dit te waardeer om verstaan te word? Natuurlik my skuld ook dat ek nie verstaan is nie. Na 18 maande in die land ken ek die minimum woorde. Ek kon dit makliker gemaak het. Maar as jy die taal net nodig het wanneer jy kos op die mark koop, of medisyne nodig het, is daar ander goed wat gedoen kan word. Handgebare en foto’s werk goed. Kazakh is na aan Turks, ‘n moeilike taal. Russies is meer verstaanbaar omdat daar woorde is wat net soos Afrikaans klink, al word dit effens anders gespel: soos teatr (teater) en vele meer. Maar dit was nie lewensnoodsaaklik om die taal te leer praat nie. Dus het ek nie …

Ons land is mooi. Maar dit is eers hier waar ek agterkom dat die mooi selfs mooier is as wat ek onthou. Die berge om my is nie so hoog soos die een by Almaty nie, maar dit is begaanbaar. Dit staan nie soos ‘n groot, donker reus nie. Ek kon dit nooit regtig afneem nie, die vuil lug om Almaty het die meeste van die tyd veroorsaak dat die berg in ‘n waas was. Selfs al het ek teen die hang daarvan gewoon. Hier is die berge oop, die lug is skoon, altans waar ek gaan, dit is slegs wasig as mens baie ver daarvandaan is. ‘n Blou skynsel wat deur afstand veroorsaak word.

Ek is dankbaar ek is terug. Ek is dankbaar ek kan weer iets vir R40 koop en nie vir 1000 tenges nie. Dit klink net soveel duurder.

Ek is dankbaar ek kan weer skoene vir goeie bedrae koop, 30 000 tenges is verskriklik baie geld vir ‘n paar loopskoene (R1 200).

Klere is hier goedkoper, waarskynlik omdat ons nie alles invoer nie. In Kazakhstan is daar nie fabrieke wat klere maak nie. En dan is hulle kieskeurig ook, verkies om niks te koop wat uit Sjina ingevoer is nie. Waarvan ek natuurlik hou – ek koop nie sommer klere wat van Sjina af kom nie. Swak gemaak, die meeste van die tyd. En dit pla ook dat kinders waarskynlik in die fabrieke werk.

Ek is dankbaar dat ek nie nou in die sneeulandskap woon nie. Dit is mooi ja. Dit is wondermooi. Maar, ek kon vir maande lank nie sommer net vir die lekker buite gaan stap nie. Nie in Ust’-Kamenogorsk nie. In Almaty het ek die koue misgeloop. Ek kry nou die dag ‘n video op Instagram van Dostyk plaza terwyl dit sneeu. Alles wit. En ek sien nie die mooi raak nie, eerder koue. En beperkings. Wat nog met inperkings ook saamgaan. Maande lank tydens die pandemie. Nee, wat, dit trek my nie meer aan nie. Ek verkies die weer in sonnige Suid-Afrika.

En kan ek nou nie help om te lag vir my stelling nie.

Sonnige Suid-Afrika?

Wel, sedert ons 4 Oktober 2020 geland het, het die son in Johannesburg, langs die Vaal, in Kathu en Kuruman selde geskyn. As dit skyn, is dit baie, baie warm in die Noord-Kaap. Maar dit skyn min en daarom dra ek soms warmer klere. Nou nie Kazakhstan warm nie, maar warm genoeg.

Ek is dankbaar dat die winters nie so koud soos in Kaz is nie. Die winter is koud, maar nie so koud soos in Kaz nie. En vir almal wat vra wat ek met my Kaz klere gaan doen – hulle word hier ook gedra. Ek het nou die dag my een dik langbroek gedra. En dit was heerlik. Die kameelhaar-sykouse kom ook goed te pas. Ek gaan dit beslis in die winter dra. En ja, my jasse ook. Ek het die een al die ander dag uit my kas gehaal en aangetrek. Dit hou my warm in my koue huis. Ek het gister daaroor geskryf – ons huise is nie vir winter ingerig nie.

En ek is so dankbaar om weer naby my geliefdes te woon. My kinders en kleinkinders. My ouers en susters. My vriende en vriendinne. Die Goue Vroue, San en ander Suid-Afrikaanse blogvriendinne en natuurlik die Valkies, my vriendinne.

Ek is dankbaar dat ek nie meer vleis op ‘n mark hoef te koop nie. Dit is absoluut hemels om weer by ‘n slaghuis in te stap. En vleis te koop in snitte wat ek ken. Sonder om die skrapnel van die bene wat op die vlies is nadat dit met ‘n byl in snitte gekap is af te skraap. Veral steaks. Daar kry mens nie steaks nie, alles word gekook. In Almaty kon ek wel koop, T-been. Sirloin. Maar geen Rump steak nie. Daar is nie slaghuise soos ons dit ken nie. Dit is hemels om weer in ons slaghuis in te stap. En te koop wat ek wil hê. En kan ek noem dat ek meer biltong eet as wat ek moet?

En kan ek byskryf dat die reuk van biltong my soos ‘n magneet trek. Ek wil nie, regtig. Maar as ek weer sien, stap ek met biltong uit die slaghuis …

Wors ruik ook lekker, maar ons het snoep geraak. Maak hier ook ons eie wors. Hoenderworsies ook. Dit is nie noodwendig goedkoper as in die slaghuis nie, maar dit is regte, egte vleis. Ons weet presies wat in ons wors is. Daar is nie wors te koop nie, hulle ken nie regtig van braai nie. En toe ons ontdek dat daar kaniena (perd) in die wors kan wees, het ons onmiddellik ‘n worsmasjien gekoop en self gemaak. Ek het gelukkig in ‘n slaghuis grootgeword, dit was dus maklik om te verstaan hoe om wors te maak. Daarvan het ek baie vertel, lees gerus by die skakel as jy nuut op my werf is.

Ek is dankbaar dat ek in ‘n materiaalwinkel kan instap. En vra wat ek wil koop. Ek kan sonder moeite koop wat ek wil koop. Ek kan gare koop sonder om te sukkel om die verkoopsdame te laat verstaan wat ek wil koop. Kleur, dikte, ensovoorts. Ek kan knope en rek en ritssluiters en kant koop. Dit is absoluut hemels. In Ust-Kamenogorsk was daar twee materiaalwinkels. Piepklein, die keuses so beperk dat ek skaars gekoop het. En baie, baie duur. Ek het materiaal soontoe gevat om rompe te maak. In Almaty was wel ‘n materiaalwinkel. En ‘n gare winkel. Maar ek geniet Metro by Menlopark nou baie meer as gewoonlik. Dit is hemels om te vra wat ek soek – hoeveelhede ook.

Oor die algemeen is dit wonderlik om in Suid-Afrika te wees. Al het ons dikwels geen krag nie, al is ons soms ‘n dag sonder water. Hier kan ek ten minste vra wat fout is. En hier is Telegram groepe waar ek kan vra waarom ons nie het nie.

Wat wel pla, is dat Suid-Afrika en Kaz ongeveer dieselfde tyd demokraties geword het. Daar is vooruitgang, hier word die land rot-en-kaal besteel. Binnekort gaan ons geldeenheid teen die tenge verswak. Om dalk uiteindelik niks te beteken nie. Hoe hartseer is dit nie?

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Terug in Suid-Afrika waardeer ek klein goedjies

  1. Vars lug, lekker sonskyn, ‘n groot verskeidenheid voëls, wilde diere, mooi wildsblomme, vriendelike mense, familie, berge, riviere … ons woon in ‘n pragtige land.

    Liked by 2 people

  2. Ek het dit so geniet om te lees watter klein goedjies jy waardeer. My ervaring van kos oorsee is dat ons gewoond is aan baie smaaklike kos. Ai, en die kos in die Kaap! Uitnemend waar ons in die Kaap geëet het. Ek kan ook ons humor in ons taal mis as ek daar ver is! Oeee en materiaalwinkels is ‘n plesier in SA! Meestal. Ek sê altyd: kyk net hoe goed dit elke dag met ons gaan. Ons gaan aan met ons eie ding, want God sorg vir ons. Hy beskerm ons teen die regering se flaters!

    Liked by 2 people

  3. Jy is baie blessed Christa, dis ‘n pragtige land met baie goed wat nog is, ons moet net weer leer om dit raak te sien en minder op negatiewe konsentreer. Ek is so bly vir julle🌻🌻

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.