Gepubliseer in Reisjoernaal

En dan vra julle hoe ek in Kazakhstan oorleef het?

Ons het 18 maande in Kazakhstan gewoon. In Ust’-Kamenogorsk (Russies) of Öskemen (Kazakh), die hoofstad van die Oostelike provinsie, wat eintlik eerder noordoostelike Kazakhstan is, want ons het baie naby aan die grens met Rusland, Sjina en Mongolië gewoon.

In ons stad het die temperatuur Augustus (mid-somer) reeds begin daal en teen Oktober (wat eintlik herfs is) het die temperatuur na sub-zero – en ver daaronder – gedaal sodat dit kon sneeu – tot Mei die volgende jaar. Dus het ons 6 tot 7 maande sub-zero temperature beleef. Met temperature wat gereeld na -38 grade Celsius gedaal het. Ten spyte daarvan het ek nooit maar ooit in my huis so koud gekry soos tans in Suid-Afrika nie.

Dit is op die oomblik 8 grade Celsius buite. Ek is al van vieruur af wakker, want dan begin manlief gereed maak om werk toe te gaan. Hy “groom” baie langer as ek. As ek nie hoef hare te was nie, het ek minder as ‘n halfuur nodig om klaar te maak. Ek moet egter byvoeg dat dit hom rustig maak, dus kla ek nie as ek so vroeg wakker gemaak word nie. Want ek kan weer in die bed klim tot die son opkom.

Waaroor ek eintlik wil skryf, is dat ek baie, baie koud kry.

Ek slaap met dik winterslaapklere, duvet, kombers en dik kwiltdeken oor my. En kry koud as enige deel van my lyf by die komberse uitsteek. Ek dra skoene in die huis, die teëls is koud. Ek stort of bad al hoe later, want ek kry koud as ek sopnat uitklim om af te droog.

My vingers voel of hulle in stadige aksie wil beweeg, my lyf is koud as my klere nie styf teen my sit om my warm te hou nie.

Ek wou Sondag ‘n winter japon gaan koop, want die slaapklere maak nie warm genoeg as ek die honde moet uitvat vir ‘n nommer 1 of 2 nie. In die middel van die nag. Volgens die verkoopsdame is dit net twee maande koud. En toe glo ek haar en koop nie ‘n warm japon nie – en vergeet heeltemal dat dit nou eers begin Mei is. Junie en Julie kom ook nog … En ek kry koud in my huis.

Dit is soveel anders as in Kazakhstan.

Daar is die huise, winkels, taxi’s, busse, treine en vliegtuie warm binne. So warm dat ek met kort broek en bandjies top in die middel van die winter in my huis rondgeloop het. So 26 grade Celsius in die huis, wat met sentrale verhitting warm genaak word. En dit word eers weer afgesit as dit regtig warm buite is.

Jy kry eers koud as jy by jou deur uitgaan en baie koud as jy uit die gebou uitgaan. Binne is dit die hele lente, herfs en winter snoesig warm. Onthou, hulle lente en herfs is so koud – of selfs kouer – as ons winter.

Hier word huise nie verhit nie. Hou ek nie van verwarmers nie – want dit kan mens siek maak. So het ek geglo tot ek in Ust’ gaan woon het. Ons het nooit siek geword nie, al het ons uit +26 grade Celsius in die huis na -38 gade Celsius buite getstap. Ons het net reg aangetrek om nie te verkluim nie …

En dan vra julle hoe ek in Kazakhstan oorleef het? Ek wil weer vra hoe julle in ‘n koue dorp soos Kuruman oorleef. Want blykbaar word dit hier baie, baie koud in die winter, net soos dit baie, baie koud word in die somer …

En as April die pas aangee, gaan ons beslis bibber in die middel van die winter.

Buite skyn die sonnetjie heerlik, maar as jy uitstap, byt ‘n koue wind in jou rug, teen jou vingers en oor jou voete.

Hierdie Suid-Afrikaanse huis is nie gebou om die son te laat inkom nie, want die son byt in die somer erg. Miskien omdat die somer so warm soos die hel is dat hulle keer dat dit in die huis inskyn?

As die lugverkoelers in die somer af is, stroom die sweet teen jou nek af. Dit is dus lekker as die son nie in die somer bedags in die huis inskyn soos in die woonstel in Kathu in nie – daar moes die lugverkoeler heeldag werk om my koel te kry.

Maar – iemand het vergeet om ook aan die winter te dink.

‘n Ou toegeboude stoepie sou heerlik kon wees.

Ek wil nie met dik klere in die huis rondloop nie, het mos klaar in Kazakhstan ontdek dat mens nie siek word as jy vanuit ‘n warm huis in die koue buitelug stap nie. Dus het ons verwarmers gaan koop. En nou is my huis snoesig, kan ek werk sonder dat my vingers verkluim.

Dat ek nou in Kazakhstan moes gaan woon om die waarde van ‘n verwarmer in Suid-Afrika in te sien …

Ek mis wel Teraflue, die medisyne wat ons in Kazahkstan gedrink het as ons net effens goor gevoel het. Manlief dink Medlemon maak sy neus oop, maar ek gril vir die smaak …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

28 gedagtes oor “En dan vra julle hoe ek in Kazakhstan oorleef het?

    1. Aletta, ek kan aan paar maniere dink om dit te verbeter. In Kaz het mens dubbele ruite wat die temperatuur in die huis beheer, asook baie dik mure. Do dik dat ek op die vensterbank kon sit en uitkyk na buite. Maar ja, ons huise is koud in die winter. Daar is dit doodsake, mense sal in hulle huise doodvries as daar nie verhitting is nie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.