Gepubliseer in Joernaal,Woefkinders

My Shilo Schnauzer is nie meer Shy-lo nie …

Ek het al vertel dat ek Rogz harnasse vir my woefkinders gekoop het. En dat dit my ‘n arm en ‘n been gekos het. Maar die harnasse is pragtig pragtig en beslis duursaam. Die knippe het selfs ingeboude slotjies en natuurlik ‘n handvatsel soos ‘n tas.

BB en Bekka wil dit nie aantrek nie, maar Shilo kom staan stil om syne aan te trek. Siestog, ek skat hy is dankbaar dat hy uiteindelik ook ‘n mooi ene het.

So klim ons en hulle die naweek in die kar om die lang pad na Johannesburg in een skof te ry. En die harnasse kry die groot toets. Ons gaan mos in die laaste tyd rivier om om die reis te onderbreek. Vier ure tot daar en dan die volgende oggend drie tot by ons stadshuis. Die keer doen ons dit weer reguit stad toe. Sewe ure op die pad.

Ons eerste stop is by Komtiekie, die pitstop tussen Vryburg en Kuruman op die N14, so 70 km vanaf Kuruman. Manlief moet volmaak en ek koop vir ons skyfies en water vir die pad, ons Powerades is reeds gekoop en in die kar. Die woefkinders word nie vir ‘n waterafslaan gevat nie, dit is nog te naby aan die huis.

Volgende stop is 50-60 km verder, by Mams Mega Stop in Vryburg. Ek het mos al vertel hoe ek die vorige keer hier so geskrik het toe ‘n los woef op my woefkinders afstorm. Wel dit is juis daarom dat ek dankbaar was dat die harnasse in die pos was, dat ek beter beheer oor my woefkinders het as hulle weer bestorm word. Mams is baie besig, dit is nie net alleen die begin van ‘n selfgemaakte langnaweek nie, maar ook die begin van die skoolvakansie.

Ek is eers na die winkeltjie toe om biltong en droë wors te koop. ‘n Moet by Mams as jy ooit deur die dorp ry. Elke keer heerlik, ek koop die biltong blades (sal mens dit na lemme vertaal? Kan nie wees nie?). En toe sit ons die leibande een vir een aan terwyl ons die woefkinders uit die kar tel – aan die handvatsels, dit werk soos ‘n bom.

Manlief stap sommer gou met BB en Bekka, Shilo gaan sit sy ploegskaarsit – my probleem as ek die leiband aansit. Ek het mos daarvan vertel. Jy kan met hom ploeg, hy weier om te stap. Volgens Seegogga is dit verstaanbaar, hy is mos nie ‘n hond nie, dit is vernederend.

Die Rogz-harnas werk heerlik, want ek tel hom aan die handvatsel op, soos wat mens ‘n tas sou dra. Ek hoor ‘n gegiggel agter my en toe ek omkyk, staan ‘n kombi-agtige ryding so entjie agter ons, sommer so in die ryvlak en nie in ‘n parkeerplek nie. Die agterdeur staan oop en die ma en dogters lag vir my wat eers probeer het om Shilo te laat stap en hom toe aan die handvatsel dra.

Shilo gee glad nie om nie. Die harnas trek op tot teen sy nekkie, trek agter onder die voorpootjies in. Hy hang soos iets wat in ‘n sak aan ‘n hangpaal opgehang is. Hy hang gemaklik, dra kan ek, stap sal hy nie.

Ek dra hom na die naaste paal waar Bekka gemerk het, want ek weet hy sal dit oor moet merk. Wat hy dadelik doen. En toe sit hy weer.

Manlief lei BB en Bekka terug motor toe en ek dra Shilo aan die handvatsel, wetende dat die passasiers in die kombi my dophou, die keer stap ek in hulle rigting. Ek kyk maar op en glimlag verleë, en manlief tel die laaste kind in dat ons verder kan ry.

Shilo gaan nie aan sy leiband stap nie, dit lyk al meer na ‘n feit soos ‘n koei.

Die naweek bly ons in ons karig gemeubileerde huis in die stad. Ons het mos in Junie 2019 al die pad uit Kazakhstan gekom en uitgetrek toe ons koper kry en die pes het net gemaak of hy koper is. Ons het intussen na Suid-Afrika teruggekeer, maar net die nodigste in die huis teruggesit. Want ons woon nou in die Noord-Kaap.

Net die basiese. Twee beddens, goed om mee kos te maak, handdoeke en so aan en natuurlik skottelgoedwasmasjien en wasgoedwasmasjien. En tuinstelletjie in TV-kamer, met ‘n TV.

Thermie is saam, asook die lugbraaier en die toebroodjiemaakmasjien. Daarmee kan ek vir almal kos maak wat soos wegneemetes proe, maar tuis gemaak is.

Seun en skoondogter en kleinseun het van die Vrydagaand tot die Sondagaand oorgeslaap. Te heerlik popgespeel. Ons kleinkind is baie, baie slim en baie, baie oulik. Ek is gek oor hom. As ek met een van my masjiene speel, kom staan hy teen my op. Hy wil ook knoppies druk! My ander kleinkinders was almal so.

Ouma se kinders.

En toe slaap my ander drie kleinkinders die Maandagaand oor, want Dinsdag het ons ‘n gesinsete gehad. Weereens lekker pop gespeel, hulle is effens ouer en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit.

So speel middelste kleinkind met die woewe. Bekka is mal oor hom, staan oral reg om gekrap en gevryf te word. Selfs langs sy kampbedjie. Hulle het kampbedjies saamgebring om by ouma te slaap.

Middelste kleinkind het so bietjie vergeet dat dit vakansie is. Volgens hom gaan hy die volgende dag by die skool vertel hy het by ouma en oupa gekamp. Dit gaan sy naweek-vertel wees.

Shilo is maar skugter, hy kan mos nie met mini me’s speel nie, hy moet my oppas.

Hy is egter nie bestand teen middelkind se liefde nie.

En toe ek weer sien, staan hy saam om gevryf te word. En toe verlekker ek my aan die kind se insig.

Hy is mos nou in graad 1, en op die stadium wat mens dit geniet om te spog met jou kennis van die rooi taal. So kom hy na my toe met die volgende woorde:

Ouma, Shilo is nie meer shy nie!

Ek het my verluister daaraan – ek het nog nie so daaraan gedink nie. Die probleem met Shy .. Lo is in sy naam – die skaam mannetjie! En Shilo is volgens hom nie meer skaam nie.

Ek het my natuurlik ook verluister aan jongste se woordeskat. Hy is nou vier, word later in die jaar vyf. Volgende jaar is graad R sy voorland. As hulle in die stad gebly het, sou hy daarvoor groot skool toe gegaan het, sodat almal in een skool was. Vir ‘n rukkie, want ouboet is reeds in graad 5. Nou gaan hy dit in die kleuterskool doen.

Hy spog ook met sy Engels. Kom hy by my aan met: Ouma luister net hier!

One, two, three, four, FIVE (baie hard). I do not want to do the garbage dive!

Ek sê dit is mooi.

Hy het dit self uitgedink, vertel hy.

Ouma is beïndruk met die goeie Engels en rymskema, sē dit is mooi, want ouma hoor die mooi Engels.

Middelste kom verduidelik wat kleinboet opgemaak het.

Ek verstaan dit nie reg nie, ouma moes die onuitgespreekte R nie gehoor nie.

Garbage dRive.

En daar word vir my verduidelik. Hulle wil nie die garbage drive doen nie, want – en die gesigte word vreeslik getrek om te vertel hoe erg dit is – daar is vrot piesangskille en so moet ek hoor wat alles garbage is. Hulle wil dit nie doen nie! Is dit nie oulik nie?

Maandag teen 12 het ons weer die pad terug gevat. Harte se kamers weer vol liefde gemaak, maar swaar omdat ons al weer op pad is.

Ons het koeldrank by die pitstop buite Ventersdorp gekoop en die woefkinders nie laat water afslaan nie. Teen die tyd wat ons deur Sannieshof is, staan Bekka verlangend by die venster en uitkyk, hy het ‘n nood. Manlief sê hy sal in Delareyville stop, maar die garages lyk maar pieperig, dus stop ons net buite die dorp by ‘n inham vir trokke.

En … ek kom nie regtig agter dat Shilo aan sy leiband stap nie … Hy het mos ‘n nood en ons is haastig.

Ek dink ons was die eerste mense wat daar met woewe gestop het, want hulle soek en soek en kry geen plek om te merk nie. Shilo besluit hy hou van die voorste wiel van manlief se bakkie en manlief kla nie. Die ander twee wil nie. Die volgende stop is Mams net voor Vryburg.

Ek is gou in om bilton en droë wors te koop en manlief tel toe solank die woefkinders uit vir die noodverlossing.

Los Shilo vir my.

Ek tel hom uit en raai wat?

Shilo stap aan sy leiband na ‘n plek om water af te slaan, wat naby was.

En toe stap hy verder aan die leiband. Ek toets-toets om seker te maak ek het die leiband in my hand. En hy stap gemaklik verder.

Was dit ‘n vloekskoot?

Of het middelste kleinkind die deur vir hom oopgesluit? Sy skaamgeid uit sy naam gehaal?

Is Shilo nie meer shy nie?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “My Shilo Schnauzer is nie meer Shy-lo nie …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.