Gepubliseer in Reisjoernaal,Woefkinders

Bewerasie by Mams Mega Stop in Vryburg

Ons was die naweek rivier toe, dan ry ons oor Vryburg, Schweizer Renecke, Wolmaranstad en Leeudoringstad na Bothaville. So vier ure se ry, wat ons met ‘n pitstop by die Mams Mega Stop net anderkant Vryburg onderbreek – soontoe en ook terug.

Die pitstop is so 150 km van hier af en dus so 200 km van rivier af, maar daar is nie ander pitstoppe waar ons die woefkinders kan uitlaat om die plekke namens ons te merk in die drie klein dorpies nie. Ons kan wel in Wolmaranstad by die Wimpy padkos koop, maar die ander dorpies het nie plek waar ons wil stop nie. Of kan stop met drie woefkinders nie.

Op pad soontoe en terug koop ons droëwors by Mams se winkeltjie. Mens wag altyd om gehelp te word, selfs al is jy heel eerste by die kassier. Ek dink hulle geniet dit om mense wat op lang paaie is te laat wag.

Gewoonlik besoek ek die dames, dan besoek manlief die here en dan laat ons die drie woefkinders aan hulle bandjies uit om die plek te merk. En dit doen hulle bykans dadelik en dan hu-huuh-huh hulle omdat hulle wil weet wie dit gewaag het om hulle plekke tussen nou en die vorige keer te merk.

Sondag doen ons dit anders.

Manlief help eers dat ek al drie buite die kar aan hulle bandjies het, hulle ry sommer met die harnasse aan dat ek net die leibande moet heg. Toe is hy in om droëwors te koop, met my vir die eerste keer met al drie aan die bandjies.

Nou moet ek net eers verduidelik.

Shilo se harnas het by seun agtergebly en is effens te groot. Hy weier om aan sy bandjie te loop, gaan sit en ek kan maar trek soos ek wil, hy gooi sy agterpote soos remme uit. Ek sal met hom kan ploeg as ek wou. Stap sal hy nie stap nie. Behalwe as die piepie groot is, dan hol hy vir die naaste muur/boom/plant. Doen die ding. En sit.

Bekka merk vinnig en dan trek hy – daar is meer om te sien, ek is stadig. En BB doen iets tussenin. Sy loop gemaklik in haar bandjie, het as oudste kind baie meer aandag as die res gekry. En so koek haar en Bekka se leibande soos hulle snuif en soek … in die een hand, met Shilo se leiband in die ander hand.

Skielik awhhhhhh! Bekka asof ‘n perdeby hom gesteek het. En toe kom ‘n wit en bruin foxteriër om die kar gehardloop, reguit tussen my drie in!

Hy is nie aan ‘n leiband nie!

Sy baas skree agterna, skree vir my dat hy nie behoort te byt nie en ek is so verbouereerd dat ek nie weet wat om te doen nie. Regtig? Die hond behoort nie te byt nie, maar hy luister glad nie vir sy baas nie.

En wie by sy volle verstand laat sy woefkind hier sonder ‘n leiband loop? Dit is enkele meters van die N14 af waar trokke teen ‘n hengse spoed verbysnel. Ek was by die laaste ronddawel, die bakkie het langs die drie rondawels gestaan.

Ek trek my honde se bande in dat hulle teen my bene is en buk af grond toe om te keer waar ek kan. En ek vo3l die Here se beskerming, onmoontlik ian ek die drie alleen beskerm. Want hoe het ek dit gedoen met drie woefkinders se leibande verstrengel in my vingers?

Gelukkig is my drie nie vegters nie, anders weet ek nie wat die pak sou doen nie.

Sobek raas met hom terwyl hy nader hardloop en BB is doodstil. Voor ek kan keer is die hond by haar en sy is ongenaakbaar. Sy druk hom in die hoek teen die muur vas. En ny dink dit is oulik, sy is ‘n mooi, maar tawwe meisie. En hy is glad nie vies nie. Bekka kom nader om te ruik of hy dalk sy stert het … en die man kom om my en die woefkinders om sy woef op te tel en weg te vat.

Ek kyk nie vir hom nie want ek is baie kwaad. Te kwaad vir mooipraatjies met ‘n man sonder ‘n plan.

Sal aan einde vertel waarom.

En van manlief is daar geen teken nie. Hy het blykbaar lank in die ry gestaan en toe sommer sy nood gaan verlig. Ek moes die hele drama alleen hanteer. So tel ek die kinders een vir een in die warm kar, draai vensters af en sit die lugverkoeling aan.

Want daardie is nog een van die dinge wat my gepla het – die kar is oop, met sy sleutels in en ek staan met drie woefkinders langs die kar op die gras. Met my handsak in die bakkie aan die ander kant. Geen manier waarop ek alleen na die kar kan kyk in hierdie dorp waar ons al amper besteel is toe die bakkie se kappie oopgepluk is by ‘n stopstraat nie.

Toe almal in is, kom die man weer aangestap, sy stout kind aan ‘n leiband. Maar ek kyk ander pad, is nie lus vir geselsies maak oor kinders nie. Inteendeel, ek sou hom wou vra hoekom hy so onverantwoordelik was – as sy hond wel die nodige het om ons almal gelukkig te hou.

En toe staan ek buite die kar en bewe, sukkel om my asemhaling weer normaal te kry, want die gebeure het iets uit my verlede teruggeruk wat ek lankal wou vergeet. Wat ek ver weggebêre het.

Ek het, toe ek alleen in Welkom agtergebly het dat my man die kinders solank in laerskool Reynfield in Benoni sit, ‘n wit poedel gehad.

Tieka.

Sy was die mooiste ding en slim, soos poedels is. Sy het bedags in die huis gebly terwyl ek op kampus was en so het ek geweet ek kan maar in die huis ingaan, ek is veilig. Naweke het ek en sy die pad Benoni toe gevat.

Manlief en die kinders het in ons karavaan langs die dam gebly, hulle eie maandlange vakansie. Ons het huis gekry, maar kon nog nie intrek nie. Naweke was daar baie mense, in die week baie minder, want dit is ‘n gewilde vakansieplek.

Die heel laaste naweek het die kinders met my Tieka aan haar leibandjie gaan stap. Ek wou nie, maar hulle wou so graag met die ou mooi hondjie rondloop, sy was dan heel week by ma.

Toe vlieg een van die vakansiegangers se groot hond in die paadjie in en byt my Tieka aan haar leibandjie voor my kinders se oë dood.

Hoe kon hulle so ‘n gevaarlike hond tussen vakansiegangers aanhou?

Die rooi op die wit hondjie het jare lank by my gespook.

Seun was maar in graad 1, dollatjie in graad 6. Dit was verskriklik toe die kinders met die nuus by ons aankom, manlief het Tieka gaan haal waar sy dood gelê het. Ek kon nie gaan kyk nie. Ek sou die eienaar van die hond aanval en iets vreesliks aandoen.

My kinders was in gevaar – ek was buite my verstand van kwaad. Veral omdat mens se eerste gedagtes was dat dit gelukkig nie my kinders is wat gebyt is nie.

Ons het haar gaan begrawe en ek het daardie nag die hele tyd wakker geword en gedink ons moet haar gaan uitgrou, sy is nie dood nie.

En die Here gedank dat my kinders veilig was.

Vandag het ek besef hoe bevrees my kinders moes wees toe die groot hond op ons Tieka afstorm. Hierdie een was klein.

Gelukkig het hulle nie soos ek probeer keer nie, of liewer, gelukkig het die hond hulle nie ook gebyt nie. My kinders was histeries.

Na vandag gaan ek nie weer alleen met hulle staan en wag terwyl manlief goed gaan koop nie.

Sal maar weer soos gewoonlik maak, die een gaan, dan die ander een en dan eers haal ons die woefkinders uit om ook hul nood te verlig. Saam kan ons beter na hulle kyk.

Ek sou met arms en bene en hande en tande moes veg om my woewe te red as die hond wou veg.

Ek wens mense wil leer om hulle honde aan leibande te hê in die openbaar.

Ek wonder wat die man sou doen as ‘n groot hond by my kar uitgespring het en sy foksie doodgebyt het? Seker nie genoeg breinselle om daaraan te dink nie.

As myne los was, was al vier dalk oor die besige pad gter mekaar aan … ek is steeds baie kwaad.

Ek weet wel dat die Here by my was. Sondag. By ons kinders was, daardie Saterdag in Januarie 1995. En dit is genoeg vir my.

Ek het jare lank geweier dat hulle weer ‘n klein hondjie in my huis inbring. Ons het net wolfhonde aangehou. En toe steel dollatjie se Katryn my hart, koop ek BB en teel ek met Miniatuur Schnauzers. Om nou drie van hulle in my hart te hou.

Ek besef nou eers waarom ek nie weer ‘n poedel wou koop nie. Dit is nie omdat hulle maklik vuil word nie, Tieka was ‘n spierwit meisiekind. Dit is oor die kleur wat ek onthou …

Kan mens ‘n tragedie so diep in jou hart weg gaan steek? Om in ‘n oomblik van vrees weer na vore te tree?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Bewerasie by Mams Mega Stop in Vryburg

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.