Gepubliseer in Joernaal

Kaalvoetkind bied aan om Schnauzers op te pas

Die afgelope ruk is daar opgeskote seuns wat op fietse by ons huis verby ry. Soms net enetjie met baie dik glase in sy bril. ‘n Regte klein wilde wragtig. Loop oral sonder skoene en die pad is besonder warm hier in Kuruman, met klippe en slaggate voor ons huis, vra maar vir my.

Ek het hom in die senior grade van die laerskool geskat, gesiggie te jonk vir ‘n hoërskoolkind.

En toe maak hy kontak. Eers net skaam gewaai as ek die honde uitgevat het om te speel. Ek raak ook al so effens mak, soms laat ek die traliehek oop dat my kinders buite speel. Want ons bure oorkant die straat se baie klein voorskoolse kinders speel in hulle voorerf terwyl pappa en mamma by die werk is. Met twee manlike en twee vroulike werkers in die erf. Dit voel baie onverantwoordelik. Langs my bly ‘n gesin wie se klein voorskoolse kinders ook bedags by hulle werker bly. Die een gesin wit, die ander een swart. Maar beide se kinders is by die werkers terwyl pappa en mamma werk. Dus is ek so half en half skaam dat ek myself so in die huis toesluit. Al was dit op aanbeveling van die agent.

Dit is veral vir BB lekker om buite te speel. Eintlik lê. Soms lê sy op haar ruggie en rol en maak sulke kreungeluidjies. As ek weer sien, volg die twee manne haar. Almal op die ruggies, te lekker. Kreunend en steunend.

Die Dinsdag voor paasnaweek hoor ek my woefkinders blaf. En ek hoor iemand by die heining hallo? om te kyk of hier mense is. Toe ek deur die venster van my studeerkamer kyk, staan die seun met die dik brilglase by die heining, my drie blaffend by hom, hierdie kant van die heining.

En hy steek sy hand deur die heining om aan hulle te vat.

Ek is natuurlik dadelik uit om seker te maak sy bedoelinge is goed, maar hy het reeds geloop.

Donderdag dieselfde ding, maar ek is betyds uit en dit was ‘n fout.

Want toe vra die kaalvoetkind vir my of hy met my kinders kan gaan stap. En daar staan juffrou Christa met ‘n mond vol tande. Daar is mos geen manier waarop ek my woewe vir hom gaan gee om mee te gaan stap nie. Maar ek kan dit ook nie vir hom sê nie. Ek moet eers dink hoe ek dit gaan sê. Dus sê ek nie vandag nie, maar hy vat nie nee vir ‘n antwoord nie.

“Wanneer dan?”

My brein werk vinnig.

Vrydag gaan manlief tuis wees, dit is Goeie Vrydag, dan kan hy die saak namens my hanteer. Ek sê Vrydag en hy wil weet hoe laat Vrydag. Ek sê toe drie-uur, dit is goeie tyd vir my en manlief om saam te stap as dit moet. Alleen gaan hy nie met my kinders die strate invaar nie. Ek weet nie eens wie hy is nie. Waar hy bly nie.

Soos ek reeds gesē het, het seun en skoondogter en kleinseun my die Vrydag kom verras. En waai die stappery met my honde by my uit. Op ‘n stadium sit ek en skoondogter by die eetkamertafel en kry ek die gevoel dat ek dopgehou word. Die voordeur het oopgestaan, die traliehek was nie gesluit nie. En daar, aan die buitekant van die heining, sit die kaalvoetkind plat op die grond en waai vir my, roep my om uit te gaan.

Die scenario was anders as wat ek verwag het, dus was ek weereens onverhoeds betrap. Op pad na die voordeur vertel ek vir skoondogter van die reëling en sy bied aan om seun wakker te maak om saam met die kaalvoetkind te gaan stap. Want ek en oupa gaan dit nie kan doen nie.

Seun het ‘n uiltjie geknip na die lang reis na ons toe. Ek wil hom nie wakker maak nie en het reeds vir die kaalvoetkind gesê ek is so jammer, hy kan nie gaan stap nie. Ons het mense.

Hy lyk ongelukkig en ek sê hy kan inkom en met hulle speel, wat hy natuurlik toe aanvaar. Hy hou egter aan met vra om te gaan stap. Hy verstaan nie ons het mense as verskoning nie, dit is juis volgens hom goeie rede. En nou is daar vier woewe, Seth van seun het saam kom kuier. Hy vra hoekom nie en ek sê BB kan nie gaan stap nie, sy het gebreekte beentjie.

BB sit toe ook dadelik sommer aan, staan met die beentjie hoog opgetrek.

Hy antwoord dat hy dan met Seth en Bekka wil gaan stap.

Ek antwoord dat Seth nie my woef is nie.

Shilo staan nader en hy wil dan met Shilo gaan stap.

Ek lag vir hom, maar is ongemaklik met die kind wat nie nee vir ‘n antwoord vat nie.

“Shilo?”

Shilo weier volstrek om aan ‘n leiband te stap, dit gaan nie gebeur nie. Hy is my swaarste kind, hou sy lyfie stokstyf as hy van die grond gelig word. Dit is baie moeilik om hom te dra.

Hy sê dat hy Shilo sal leer stap en ek weier volstrek. Ek gaan nie ‘n vreemdeling toelaat om Shilo te leer as hy nie vir my luister nie. Ek het al vertel wat Shilo doen as ek die leiband aansit.

So is kaalvoetkind in die erf en toe seun uitkom, bied hy aan om saam met kaalvoetkind te gaan stap. Terwyl seun in is om Seth, sy Schnauzer, se harnas aan te sit, vertel kaalvoetkind vir my ‘n storie wat elke haar orent laat staan.

Ek het so pas vertel dat ek mak raak in Kuruman.

Kaalvoetkind vertel hy en sy pa is die vorige dag in die hoofstraat beroof, dit is nou die N14 na Kathu, naby PG Glass, by ‘n geel winkel. wat waarskynlik Angus slaghuis is. Hy het die naam van die plek vergeet, maar gesê ek moet weet van watter winkel hy praat. En daar is net een geel winkel naby PG Glass.

Sy pa het teruggeveg, was vol bloed. En hy het die man in die maag geslaan. Ek kyk na die kind en sien ‘n hand wat blouerig en geswel lyk. Pofferig. Volgens hom was sy pa vol bloed. Die man het op die grond gelê tot die polisie gekom het. Hemel tog, hoe vieslik is die dorp as laerskoolkinders op straat moet veg om nie beroof te word nie?

Ek het nie veel meer geluister nie, my kop het in sesde rat gewerk.

Hoe waar is die kind se storie?

Dit is ‘n gevaarlike dorp, my kinders gaan nie saam met kaalvoetkind in die straat stap nie. Al is kaalvoetkind blykbaar heel vaardig in selfverdediging.

Ek probeer vir seun beduie dat ek nie wil hê dat hulle moet gaan stap nie, maar hy sê Seth se energie moet uitgestap word.

So bly hulle lank weg, naby aan ‘n uur. Ek raak gespanne, vra manlief om hulle te gaan soek. Seun is opgelei in selfverdediging, hy sal ‘n man kan seermaak wat hom wil aanval. Hy doen crossfit training, Is besonder sterk gebou, maar dit help my niks nie, ek kan aan niks anders dink nie. Wag vir die gekef van woewe as hulle op pad is.

Want Bekka en Seth sit ‘n vreeslike keel op as hulle ander honde sien, mens sal sweer hulle word vermoor! Ek het daarvan ook vertel.

Manlief sê nee, sy kar is vasgetrek. Ons hoor niks en skoondogter bied aan om seun en die woefkinders te gaan soek. Sy kry nie haar foon nie, ons weet nie of seun sy foon by hom het nie, maar sy sal oor 15 minute inkom om te laat weet as sy hulle nie kry nie.

Ek is bekommerd, ons bly naby groot oop velde aan kant van dorp en kan nie ontspan nie. Sy kom terug, het hulle gekry net toe sy wou omdraai. Seun was verbaas, wou weet waarheen sy gaan. En nog meer verbaas omdat sy hom gaan soek het. Maar … hy ken ook sy ma, weet dit was op my instruksie.

Tuis gekom, speel kaalvoetkind nog ‘n rukkie met die woewe. En ek weet al hoe meer dat ek hom nie by my woewe gaan laat kom speel nie. Daar is verskeie gevaartekens wat my afsit.

Hy vryf Bekka en Shilo se koppe so vinnig teen mekaar, en maak dan of hy niks gedoen het nie. Dit is iets wat ander honde seker dadelik baie kwaad vir mekaar kan maak. Myne ignoreer die aanhitsing.

Hy sit Bekka van agter bo-op BB, wat te veel na doelbewus lyk. Mannetjie op die vroutjie. En iets wat BB dadelik ongemaklik maak.

En hy speel met BB se stertjie en toe ek weer sien, buig hy dit om asof hy dit wil knak. BB is reeds beseer, ek sal baie kwaad wees as hy haar seermaak. En hom beslis nie met my kinders alleen laat nie.

Dit is genoeg rede dat hy nie weer naby hulle kom nie.

Kaalvoetkind wil een van my woefkinders hê.

Ek sê ek kan nie een weggee nie en hy wil weet waarom nie. Wel, ‘n baie goeie rede is dat ek nie dink dat hy goeie bedoelinge met my woefkinders het nie. Nie uit wat ek gesien het nie.

Waarom wil hy alleen met hulle gaan stap? En hoe gaan ek hulle terugkry as hy nie terugkom nie?

Ons sê hy moet huis toe gaan, ons gaan uit en moet klaarmaak.

Hy bied aan om na my kinders te kyk as ons weggaan.

Ek verduidelik vir hom dat hulle oral saam met ons gaan. Dit sal nie nodig wees nie, maar ek sal onthou as ek hom nodig kry.

En toe kry ek raas by seun.

Ma kan nie saam met hom gaan stap nie, hy luister nie. Hy vertel allerhande stories, het sy pa ook vir seun gewys en waar hulle bly. Die pa is 73 jaar oud, en ek kry kaalvoetkind sommer jammer, veral omdat hy ‘n alleenkind is.

Maar die jammerkry gaan gou weg.

Want, kaalvoetkind luister nie, ma kan nie alleen met hom wees nie.

Hy wou vir Bekka ander naam gee en het langs die pad probeer om Bekka na ‘n ander naam te laat luister. Dit maak my ongemaklik, al weet ek Bekka sal my op enige plek herken. En ek vir hom.

Kaalvoetseun het Bekka met die leiband gepiets omdat hy blaf. Nie hard nie, maar seun was by. En as hy alleen is? Wat gaan hy dan doen?

Kaalvoetseun soek ‘n hondjie, maar hy is rof met hulle. Selfs geniepsig vermoed ek nadat ek gekyk het hoe hy ewe onskuldig vir my kyk terwyl hy mik om BB se stertjie te knak. As dit nou die regte woord is, maar ek dink jy verstaan wat hy gedoen het.

So sit ek die weke heel bekommerd elke dag, wat maak ek as kaalvoetkind weer kom kuier.

Ek was verniet bekommerd. Dit is weke later. Hy het nie weer kom kuier nie, nie weer by ons huis verby gestap nie.

En toe raak ek bekommerd oor kaalvoetkind. al is ek lugtig ook.

Kaalvoetkind wou dadelik weet wie se kar in ons erf staan. Want hy weet presies hoe dit daar lyk. Dit maak mens so efens ongemaklik.

O ja, kaalvoetkind het op ‘n manier oor ons veiligheidsheining probeer klim, vermoed ons. Want hy het ‘n diep sny aan die kant van sy enkel gekry. Donkerrooi bloed het uitgesypel. En hy het gesê hy het by die heining seergekry. Dit is al manier hoe hy die sny kon kry. As hy opgeklim het. Is hy nie bang vir elektriese heinings nie?

Het hy probeer oorklim? Ek sou my disnis geskrik het.

Die bloed het uitgesypel, dik en rooi, maar hy wou nie dat ek skoonmaak en pleister opsit nie, dit is volgens hom niks nie. Sou probleem wees as dit onder sy voet was.

Harde kind.

Alhoewel ek hom nie weer gaan innooi nie, steek die kind in my hart vas. Ek dink nie daar is ‘n mamma nie, ek dink die pa wat eerder sy oupa behoort te wees, maak die kind rof groot.

Donderdagmiddag gaan ons dorp toe en ‘n kleinerige motortjie stop van die ander kant af in die parkering regoor ons. Ek kon sweer dit is kaalvoetkind en sy pa. Hy het uitgeklim, reguit vir my gekyk, maar gemaak of hy my nie herken nie. Die pa is oud, met langerige spierwitgrys hare. Ek moet nog vir seun vra hoe die pa lyk. Volgens seun het kaalvoetkind te vertelle gehad dat sy pa 73 jaar oud is. Die oom lyk so oud.

Intussen het ons baie gespiegel oor waarom kaalvoetkind nie weer kom kuier het nie. Nie meer in my straat te siene is nie.

Het sy pa met hom geraas omdat hy met my seun in die strate stap?

Werk sy pa vir manlief en is hy verbied om weer by die “baas” se huis te gaan pla? Manlief is ‘n kwaai hoof, vat nie nonsens van kabouters nie. Ons hoor hy het ‘n bynaam by die werk, wat daarop dui dat hulle weet dat hulle nie met verskonings gaan wegkom nie.

Of is hy vir my kwaad omdat ek nie een van my honde vir hom wil gee nie?

Ek dink dit is een van eerste twee redes, want hy vat nie nee vir ‘n antwoord nie.

Hy het tog klaar gesien hierdie tannie het sagte plek vir kaalvoetkinders … Juffrouens wonder altyd oor kinders, of hulle die nodige aandag kry om in gebalanseerde volwassenes te ontwikkel.

En toe kom hy weer.

Ek het op die trappie van die stoepie gesit dat my woefkinders buite kan speel. En toe is hy net daar, aan die ander kant van die heining. Ek was ongemaklik, het slaapklere aangehad. Dik, swart, en lank, maar ek is geleer om nie so in die geselskap van ander te verskyn nie. Invlieg kon ek nie, dus sit ek maar, my arms om my bors gevou.

Hy sal later kom kuier, hy gaan na sy vriend toe wat iewers straatop woon. Hulle gaan drie kilometer hardloop. Weet die kinders nie van gevaar nie?

Hy lyk moegerig en ek wil weet of hy nie in die skool moet wees nie. En sy antwoord skok my.

Eers die volgende dag.

Ek is uit voeling met die onderwys, die bepalings rondom die pandemie. Moet kinders steeds nie elke dag skool toe gaan nie?

Ek wil nie weet wat die impak daarvan op die onderwys gaan wees nie. Want hoer kom ‘n ding. Gaan kinders na jare van gaan net elke tweede dag skool toe weer elke dag op skool wees?

Of het hulle ‘n nuwe vryheid ontdek? Een waarin mens nie elke dag op skool hoef te wees nie?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Kaalvoetkind bied aan om Schnauzers op te pas

  1. Eers het ek gewonder: Is die dorp regtig so erg of was die agent wat met jou gepraat het, paranoïes?
    Maar ja, ek sou ook nie my kinders sommer saam met ‘n vreemde kind laat stap nie.
    Ek kry die gevoel dat die kind goeie opbouende aandag en liefde nodig het, maar of jy dit kan aanmoedig, is die groot vraag? Want jy is die regte persoon om hom te bou, maar of dit goed is dat hy jou plek te gied keer ken is ‘n ander vraag. Maar sjoe, dink aan die wonderlike goud wat jy in sy hartjie kan saai.

    Liked by 1 person

    1. Toortsie, dit is waar, ek sien hoe ek die kind kan help. Selfs met skoolwerk, maar kan jy jou indink wat sal gebeur as die mense dink ek lok die kind na my huis? Die vreemde nuwe vrou in die buurt? Ek sien nie daarvoor kans nie – miskien as ek die pa leer ken en hy weet ek is ‘n juffrou.

      Liked by 1 person

  2. Christa, I like your new theme! As far as the child is concerned, I agree that while he clearly needs some affection, kindness and guidance, it is not your role to dive in and try to ameliorate his situation. If he is old enough to attend school, perhaps the local primary school should be informed. Otherwise contact a social worker perhaps? I sense your discomfort and hope that he will be guided towards the help he needs.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.