Gepubliseer in Skoolwerk

‘n Opstel-juffrou se frustrasie …

Vanoggend lees ek blogvriendin Scrapy se inskrywing oor frustrasie. Dinge wat haar frustreer.

En ek lees ook raak dat sy gefrustreerd is omdat net een blogmaatjie aan die vorige uitdaging deelgeneem het. Sy het dan soveel aandag aan die uitdink van die woord gegee.

En ek verstaan daardie frustrasie. Maar vanuit die perspektief van ‘n opstel-onderwyseres …

Ek het opstelskryf op skool gehaat. My vriendin se ma was ‘n skryfster, dit het ek eers in my matriekjaar ontdek. Sy het stories oor die woestyn, Arabiere en liefde geskryf. Maar my vriendin mag my nie vertel het nie. Want sy het onder ‘n skuilnaam geskryf. En toe haar kinders oorsee gaan werk, juis in die land van die Arabiere, het sy die kluisenaar geword wat sy altyd wou wees. Ek verstaan us onlangs na ‘n ouetehuis geneem.

Die frustrasie was dat ek opstelskryf op skool gehaat het. En toe word ek juis ‘n taalonderwyseres. Wat kinders moes oortuig dat opstelskryf lekker is. Want dit is een manier waarop jy sekere kan maak dat jy nie druip nie. Skryfwerk tel ‘n groot persentasie van die finale punt.

Ek het tred met skoolwerk verloor, maar toe ek nog skoolgehou het, was dit Vraestel 3. En die merk van vraestel 3 was ‘n nagmerrie. Omdat die meeste kinders – soos ek – skryfwerk verpes het.

Dus het ek met die opstel van die vraestel alles in my vermoë gedoen om hulle uit te lok om stories te skryf. Nagte lank aan opstelonderwerpe gedink. Gewonder waaroor seunskinders sou wou skryf. Net om by die merk van die vraestelle intense teleurstelling en frustrasie te beleef.

Die meeste kinders het nie omgegee wat hulle met die onderwerpe maak nie. Die opstel eers geskryf en dan die beplanning – want hulle moes beplanning wys. ‘n Verkeerdomproses wat nie werk nie, omdat hulle foute met die struktuur van die opstel kon regstel as hulle eers beplan het.

Spelfoute, want hulle wou nie leer dat dit hulle storie is nie. As jy ‘n woord nie kan spel nie, dink jy aan sinonieme of beskrywings wat jy wel kan spel. Spelling is baie belangrik. Dit help nie jy skryf ‘n pragtige storie in ‘n taal vol foute nie.

Ek het die leerders wat sukkel probeer leer dat ek nie weet wat hulle wou skryf nie, dus kon hulle eenvoudige taal gebruik, kort sinne. Want mens maak nie sommer woordorde foute met kort sinne nie. En gebruik jou sintuie om te beskryf. Leer ‘n paar goeie idiome aan en gebruik dit in jou skryfwerk. As ek die idiome raakgesien het, het hulle twee regmerkies gekry en ekstra punte vir goeie kennis van die taal.

Elke keer as ek die antwoordstelle teruggekry het, het die teleurstelling ingeskop.

Frustrasie.

Ek kon net sowel geen aandag aan die onderwerpe gegee het nie. Die kinders het nie aandag aan die skryf van die opstelle gegee nie ..

En dan ontdek ek die juweeltjies.

Leerders wat die onderwerpe gevat het en hul eie gemaak het. Stories geskryf het wat my armhare laat regop staan het.

Leerders wat kreatief met die onderwerpe omgegaan het. Anders geskryf het as wat ek daaroor gedink het.

Die kreatief-begaafdes.

Ek het nooit vir hulle gesê dat ek die onderwerp anders gesien het nie. Want dit is juis wat ek van hulle verwag het. Om die titel te vat en hul eie te maak.

Ek bêre van die beste opstelle. As ek geweet het waar dit op die oomblik is – want ons huis staan opgepak – het ek dit gaan kry en daarvan op my blog gesit. Om my daaraan te herinner dat dit juis sulke werk is wat die uitdink van opstelonderwerpe die moeite werd maak.

***

En nou wonder ek sommer, wat het my kleinkind se juffrou met sy antwoord op die vraag oor sy ouderdom gemaak?

Sy antwoord?

Hy is 9-10.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

0 gedagtes oor “‘n Opstel-juffrou se frustrasie …

  1. Ek het ook so ervarings met my leerlinge gehad. Oor die jare het ek besef dat dit moeilik is om ‘oombliklik’ kreatief te wees en het dus vir hulle ;n week of tien dae gegee om daardie soort opstelle te skryf. Natuurlik het die meeste van hulle seker net die aand voor die slotdatum iets neergeskryf, maar die ekstra tyd het vir ander die kans gegee om baie beter opstelle te skryf. Spel foute is altyd ‘n probleem, maar ek het hulle ook aangemoed om te lees om hulle woordeskat uit te brei. Dit was nie maklik nie, maar ek het altyd gevoel hoe meer woorde jy ken hoe makliker is dit om jou idees neer te skryf.

    Liked by 2 people

    1. Anne, ek stem so saam met jou. Ek het ook vir hulle baie tyd gegee vir opstelskryf, die eksamen se opstelle het die meeste van die tyd gepla. En ja, lees, lees en lees. Dit is hoe mens leer spel en woordeskat uitbrei. Lekker om te hoor jy dink soos ek. Opstellees is sommer lekker sodra een goeie opstel die lig sien.

      Liked by 2 people

  2. Ek was pateties met opstelle. Of so het ek gedink. Want daar waar ek vandaan gekom het, van Ouplaas, het ons nie regtig lewenservaring gehad nie, prys die Here daarvoor! Ons het beskermd grootgeword. Ek het nie ‘n storie gehad om te vertel nie. Of so het ek gedink. Ek wou skryf wat ek gedink het die jufrrou wou hê.
    Die akuut en gravis. Omdat my naam ‘n akuut klem het, het ek presies geweet hoe dit werk. En nou, na al die jare, weet ek skielik nie meer nie. Jy het mos een keer ‘n blog daaroor geskryf? Ek is nou heeltemal deurmekaar.

    Liked by 1 person

    1. Ek dink nogal ek het. Sal weer moet loer. Dalk was dit my probleem ook, Toortsie. Ek het net van plaas geken. En so nou en dan vakansie saam met pa en ma, as hy die slaghuis kon sluit. Wat amper nooit gebeur het nie. Jy skryf baie goed, lyk my mens moet eers lewenservaring opdoen. Om ‘n storie te kry om te vertel.

      Like

      1. Baie dankie vir die kompliment. Weet jy wat het ook gebeur? Ek was in die koshuis. Vrydae as ek by die huis kom, was my ma se eerste woorde: WAT WAS DIE OPSTELONDERWERP? Dan sê ek, onthou, my boek is reeds ingegee. Dan sê my ma: Jy moes ccc geskryf het. En natuurlik het ek nie. So wat glo hierdie dogtertjie? SY HET VERKEERD GESKRYF. Ek dink dat my opstelle taalkundig goed versorg was en dat daar nie spelfoute in was nie, maar die WAAROOR. Daarom dat ek so ‘n klompie kamtige ‘opstelhulp’ blogs geskryf het. Of dit vir IEMAND gehelp het, weet ek nie.

        Liked by 1 person

  3. Ek het ook nooit van opstel skryf gehou nie. Eintlik moet ek byvoeg dit was eers in die hoërskool wat ek niks kon regkry nie. Die taal waarin ek geskryf het was n skool aangeleerde taal wat baie moeilik was om te doen omdat daar baie woorde is waarvan ek nie geweet het nie. My leeswerk was ook baie stadig dus het ek nie so baie gelees nie. Met die skoolhou en die hoërskool kinders se opstelle stem ek saam met jou. Daar is min kinders wat doen hoe jy vir hul leer om te beplan en om eenvoudiger woorde te gebruik as jy nie weet nie. Dan was dit nog Engels tweede taal en sommige talentvolle kinders sal gereeld kom kla oor dit of dat omdat hul nie genoeg punte gekry het nie. Ek stem saam met Aletta om vir die kleintjies die liefde aan te leer vir skryf en lees. Ek het die tyd toe ek begin het met graad een en twee in een klas se onderrig besef ek beter my kombinasies en tafels begin leer en ken om darem vinniger die antwoorde te kan gee. Selfde met spel van woorde. Ek klank nou nog woorde as ‘n kind nie kan spel nie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s