Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal,Tegnologie

Uiteindelik leer ek my Pentax K20D ken

Ek het in Januarie 2010 vir myself ‘n Pentax DSLR kamera gekoop. Of liewer, my suster het hom namens my in Amerika gekoop. Ek was nogal ontevrede, want sy het besluit dat ek nie die gewone lens nodig het nie en so onderhandel dat ek eerder ‘n teleskooplens kry. Sy teleskopiese lens kan tot 250m infokus om my te help om goed baie nader te bring. Maar waarvoor sou ek dan soveel wou hê?

‘n K20D waarvan die lense vervang kan word. Dus nie net ‘n mik en druk kamera nie. Daar is instellings vir elke moontlikheid. Maar, dit is ongelukkig juis die probleem. As mens nie tyd maak om te leer om elke instellings baas te raak nie, kan jy neig om die kamera op outomaties te stel. En hom so toelaat om maar namens jou die beste instelling te kies.

Tot my skande moet ek erken dat ek die kamera al 11 jaar in my besit het, maar sy lyk soos ‘n kamera waaraan nog nooit gevat is nie. so min het ek haar gebruik. En kan ek maar skryf dat sy my ‘n arm en twee bene gekos het. DSLR kameras waarvan die lense vervang kan word, is nie goedkoop nie – ek kan nie sommer net weer een gaan koop nie.

Ek het al oorweeg, maar ek het vir hom 11 jaar gelede 20K betaal en ek gaan beslis nie nou 5K aanvaar as ek hom aan iemand moet verkoop nie, veral omdat die een wat ek dan gaan koop, waarskynlik weer 20K of selfs meer gaan kos. Hierdie oude dame gaan maar net intiem geleer ken moet word.

Sien San? Ek stem saam met jou, dit is nou die tyd om te groei en te leer om nuwe dinge te doen. En dit is wat ek gaan doen – leer om my kamera reg te gebruik.

My kamera met sy massiewe teleskopiese lens is swaar. Sy het aanvanklik saam met my gereis, was saam Australië en Amerika en Duitsland toe. Maar iewers langs die pad het ek haar begin verwaarloos, by die huis gelos. Want iPhones neem goeie foto’s en is nie so swaar en lomp soos my K20D nie. In vroue-onderklere terme kan sy eerder as ‘n 42DD beskou word – swaar op die skouerbene.

Toe ons die naweek gaan huis oppak het, het ek haar uit die kluis gehaal waar sy maar moes bly. Gelukkig het sy nie daar stof opgegaar nie, al voel sy ek het haar vergeet. En toe kon ek kies – boks vir stoor by seun? Of saamkom Kuruman toe.

Ek het besluit dat sy moet saamkom, want ek moet nou leer om haar ordentlik te gebruik. Wie weet? Dalk kan ek ‘n rand of twee met my foto’s maak? Spot sommer, ek wil net graag leer om haar volle potensiaal te ontwikkel – ek is mos ‘n juffrou, en dit is wat juffrouens doen.

Kyk ek op haar knoppie aan die linkerkant, kan ek kies tussen groen (outo), P, Sv, Tv, Av, TAv, M, B en ‘n rooi X en USER. Daaronder kan ek kies tussen drie instellings, dit lyk of dit fokuspunte kan wees. Op die kamera se voorkant (links) kan ek kies tussen AF.S, AF.S en MF. Al hierdie afkortings het tot vandag vir my niks beteken nie.

Daar is soveel instellings wat deur die Menu gedoen kan word, dat dit my skoon moeg maak. En dan is daar nog draai- en drukknoppies regs voor en op haar rug waar ek kyk om foto’s te kan neem. Sy bied ook ‘n kleurskerm waar ek na my foto’s kan kyk en selfs video’tjies kan sien.

Ek het nuus, maar ek gaan dit nie nou al deel nie. Sal wel later baie daaroor skryf. Maar die nuus gaan van my vereis om ‘n goeie kamera by my te hê. My iPhone gaan nie ken doen wat die nuus van my verwag nie. En daarom het dit dringend nodig geraak dat ek onmiddellik leer om my K20D reg te gebruik.

Vanoggend was dus D-dag – na 11 jaar van ek sien nie kans vir die dik boek met terme wat ek nie verstaan nie. En dan onthou ek dat ek so met verloop van tyd vir ‘n hele paar Udemy kursusse oor fotografie ingeskryf het as dit goedkoper aangebied word – en soos wat dit met MOOCs gaan, nog nie daarby uitgekom het nie.

Ek is dadelik daarheen en filter so deur die kursusse wat ek nog moet voltooi en toe trek een spesifieke een my aandag – beginner met DSLR kameras.

Wat ‘n oulike aanbieder! Hy begin by die begin, leer my sommer heel eerste om my kamera te programmeer met die P-instelling op die linker bokant van die kamera.

Ek moet ook kophou soos ‘n bosluis, want hy verduidelik met Canon en Nicon kameras. En ek het ‘n Pentax. Gelukkig speel Canon en Nicon met afkortings wat Pentax ook gebruik. Wel, die meeste van die kere. My instellings sit net soms op ‘n ander plek, maar ek kry dit. En dan is ek werklik supertrots op myself.

Ek weet nou waarvoor die AF.S en die AF.C op die linkerkant van my kamera is. Dit help my kamera om te weet wat ek wil afneem – stilstaande iets soos ‘n boom (AF.S) of bewegende ding soos ‘n leeu (AF.C).

Ek weet waarom dit belangrik is om my black/white eerder op outomaties te stel as om op ‘n ander instelling te vergeet. Anders kry ek swak beligte foto’s.

Ek weet ook dat my Pentax nie noodwendig swakker as Canon of Nicon is nie. Soveel mense wou my daardie tyd oortuig om vir een van die twee laasgenoemdes te gaan, maar ek en my sus was van mening dat die K20D van Pentax ‘n beter besluit is weens sy talle instellings. Ook omdat sy ‘n instelling teen bewe het en haar binnegoed self skoonmaak.

Volgens die aanbieder van die kursus, wat ook sommer sag op die oog is, maak dit nie saak watter kamera jy het nie. Moet jy nie na ander se kameras kyk en dink dat jy ook so een wil kry nie. Jy moet leer om die beste uit jou eie kamera te haal.

En dit is wat ek juis vandag moes hoor. Ek het oorweeg om vir my ‘n Canon te koop omdat sommige van sy instellings so geprogrammeer is. Veral vir die soort lig waarin jy werk. Instellings waarvoor mens nie altyd tyd het as jy die kamera wil gryp en afneem nie. Die oomblik kan weg wees.

Nou weet ek dat dit nie die moeite werd is om weer soveel geld vir ‘n kamera uit te gee as ek ‘n meneer van ‘n kamera het nie. Ek moet leer om haar perfek te gebruik, haar potensiaal te ontwikkel – of is dit nou myne?

Ek het een week tyd om te leer, Vrydag moet ek gereed wees om my kennis te toets, dit voel amper asof daardie krulkop van Die Groenste Vingers vir my die tyd aftel … jy het 10 minute oor …

Al wat ek weet, is dat ek my kamera nie so maklik sou leer ken het as dit nie vir hierdie geduldige aanbieder van die kursus was nie. Die boekie – of moet ek eerder skryf die dik handleiding – vertel baie vir die ou wat kameras ken. Vir die een wat dit leer ken, help dit nie, ek het al probeer en handdoek ingegooi.

Het ek vertel dat hy heel waarskynlik – soos ek – ‘n Afrikaanse Suid-Afrikaner is wat ‘n kursus op ‘n internasionale platform aanbied? Dit is regtig maklik en lekker om sy Engels te volg …

Ek verstaan sowaar my kamera!

“Done and dusted” – ek het so pas die sertifikaat gekry dat ek die kursus voltooi het. So San, hier groei ek nou in ‘n heel ander rigting – waarom sal ek later vertel.

En skielik kyk ek vreeslik krities na my eie foto’s …

Ek sou wondermooi foto’s in Kaz kon neem – sy was daar – in haar kamerasak. Maar ek haar teen daardie tyd al erg afgeskeep.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

41 gedagtes oor “Uiteindelik leer ek my Pentax K20D ken

    1. Letty-Ann, goeie genugtig nee, daardie kant van die spektrum van werk los ek in jou bekwame hande. Ek sal later vertel, mure het ore. Spot sommer, ek gaan in retrospeksie vertel; ek moet my kamera eers leer ken. Jy hoef darem nie te lank te wag nie …

      Like

      1. Toe ek nou vannaand by d huis kom, pyl ek reguit laai toe om te kyk watter Pentax ek het- en toe is dit n Canon! Canon Power Shot SX270HS. En toe onthou ek dat my ou Pentax eenkeer gebreek het en hulle toe d lense vervang het en dat hy sedertdien altyd oorbelig het. Toe koop ek die klein Canon vir my trippie Holland toe, 10 jr gelede. D. winkel het dit spesiaal vir my bestel en toe dit hier kom, is hy nie digitaal genoeg nie. Jy kan foto’s op memory stick sit, maar kan nie direk vanaf kamera na facebook of kinders stuur nie. Wat n teleurstelling- maar daar was ni tyd om te wag vir n ander nie. Klein, lig met n 20 x15 zoomlens, en neem mooi foto’s

        Liked by 1 person

          1. Ek het ook twee jaar intensiewe fotoneem klasse geneem. Dit was heerlik om alles reg te doen. Ongelukkig het die foonkamera oorgeneem en gebruek ek amper nooit my kamera meer nie. Baie jammer want die fotos is beslis volgens my baie beter.

            Liked by 1 person

          2. Haai Scrapy, ek stem saam, die foto’s is beslis van beter gehalte – as mens die kamera ken. Anders kry jy foto’s met te veel of te min lig. Ai tog, dit is ‘n proses.

            Like

  1. Ek wou ook nog altyd n goeie kamera gehad het. Geluk Christa! Ek wou sê niks oortref jou Apple fotos maar het n feeling dat jy die teendeel gaan bewys!!

    Liked by 1 person

    1. Dankie Woordnoot, ek waardeer dit regtig baie. En ja, ek sal moet uithaal en wys om met die ou dame beter foto’s te neem. Ek verstaan sy was ‘n hoge vrou in haar dae, maar tegnologie het intussen goed ontwikkel.

      Like

          1. Jy weet dan! Ek dog myne is so lank, nou sien ek mens kry 600 m. Ek dink ek sien vir so een kans as ek ‘n leeu sou moet afneem, maar met daardie gewig sal ‘n 600 m voorsprong my dalk ook nie help nie. Goeie genugtig, lense is duur.

            Like

          2. Baaskind het n kamera waarmee sy voëls afneem. Vrekkit..ek sien nie eers die voël nie en dan wys sy my daai foto..lyk of sy by die voëltjie staan. Maar sy lens is nie so vreeslik lank nie….

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.