Ek het nie meer ‘n weertoep nodig nie

Ek het so pas my weertoep, Weather Live, gestaak, want ek het dit nie meer nodig nie. Hier ken ek die weer, weet ek hoe om aan te trek as ek by die venster uitkyk en kan ek nie verkluim as ek nie reg aantrek nie.

As ek in die oggend opstaan en die huis is koud, weet ek dit is koelerig buite. Dan trek ek daarvolgens aan. In Kazakhstan staan mens in ‘n snoesige huis op en kan jy in die winter verkluim as jy uitgaan en nie baie, baie warm aantrek nie. Daar raak dit -38 grade Celsius, nie ‘n Suid-Afrikaner se speelmaatjie nie.

Daar is dit absoluut noodsaaklik om in die winter met jou oog op die weertoep te leef. Daar is geen manier waarop ek die -20 tot -38 wintertemperature gaan mis nie. My man se gesegde pas goed: “Been, there, done that, got the t-shirt.” Ek het nie t-hemp gekoop nie, maar my kaste hier is vol dik, gestopte skoene en dik jasse en vele meer om te getuig dat ek dit beleef het.

Daar gaan jy nie sommer uit die huis as die temperatuur onder -15 grade Celsius daal nie. Want dit is so koud soos ‘n vrieskas. As jy doen, moet jy reg aantrek om nie skade te kry nie.

Ek vermoed my lyf is besig om sissie met my te speel, na die buitengewone koue in Kazakhstan. Sy kerm sommer baie gou dat sy koud kry. Dan moet ek maar warm kouse aantrek, selfs met baadjie loop. Ek vermoed sy gaan ‘n ruk vat om oortuig te word dat ek nie meer in temperature baie kouer as vrieskaste leef nie. Ek sou myself ook nie gou vertrou het nie.

Dalk moet ek dit tog hou?

Want dit waarsku teen tornado’s. En wie sou kon raai dat die huise om ons so jaar of drie gelede deur ‘n tornado getref sou word? Ek het op die stoep gestaan en staar na die voëls wat hulle vlerkies toegevou het om soos balletjies in die lug te roteer. Sonder om te besef dat ek ‘n tornado sien. Ek het gelukkig ingegaan, anders kon ek ook van die stoep afgehaal word. Soos huise om ons se deure uit die kosyne gehaal is.

Of dit kan my teen ‘n haelstorm waarsku. Doen dit?

Ons huis is so sewe jaar gelede deur haelkorrels so groot soos gholfballe getref. Die vensters was veilig, maar die gebreek van dakteëls het oorverdowend geklink. So asof ons met erdepotte gegooi word. Toe die storm oor is, moes meer as 100 teëls vervang word. Hulle was gaar geslaan. My plante ook. Die bome ook. So wonderlik dat die natuur homself herstel, die merke van die skade is lankal weggevee. Asof dit nooit gebeur het nie.

Dit gebeur egter so min dat ek nie dink dat ek verder moet betaal vir ‘n toep wat my waarsku dat ‘n tornado of ‘n haelstorm op pad is nie.

Dit waarsku my egter gereeld teen swaar weerlig. En die kaart wys dan dat die weerlig van hier tot in Pretoria en verder baie, baie swaar is.

Iets waarteen ek selde in Öskemen ala Ust’-Kamenogorsk gewaarsku is. Daar het die reën sommer net uit die wolke geval, geen aankondiging dat dit gaan reën nie. Soms het ons in ‘n gebou ingestap om sopnat te reën as ons aan die ander kant uitstap. In Almaty het ek wel so nou en dan ‘n waarskuwing gekry dat weerlig so 20 km buite die stad slaan.

Hier het ek egter nie ‘n toep nodig om my teen die weer te waarsku nie. As die cumulus wolke hoog opstapel om cumulonimbus wolke te vorm wat hulle aambeelde ver uitstoot, dan weet ek dat ek weerlig kan verwag. Hoe groter die aambeelde en hoe hoër die wolke, hoe groter kan die korrels wees. Want die waterdruppeltjies word op en af in die wolke gevoer om met elke op nog ‘n lagie ys by te kry. En as hulle dan val, maak hulle groot skade.

Ons het geen hael in Kazakhstan beleef nie, maar ek wonder nou of dit daar wel kan hael. Sal moet opsoek. En so wraggies, dit hael daar. Het in Junie vanjaar hael voorspel, in die Oostelike Provinsie en oor Nur-Sultan, die hoofstad. Ons het toe nog daar gebly en dit het nie in Ust gehael nie.

As ek die weerlig sien, kan ek begin tel tot ek dit hoor om uit te werk hoe ver die weerlig van my af is. Vir elke 3 sekondes wat ek tel, is die weerlig 1 km van my af. Sjoe, en as ek so daaraan dink, is die strale hier altyd nader as die 20-40 km waarskuwing wat ek in Kazakhstan gekry het.

As die straal en slag tegelykertyd is, is die weerlig reg bokant my huis. Wat baie gebeur en my in vervoering laat kyk na die kragvertoning, vanuit die veiligheid binne my huis.

Weerlig is een ding waarmee ek nie speel nie. ‘n Hele paar van my pa se beeste het een keer op die plaas naby Ermelo onder ‘n boom skuiling gaan soek. En daar is hulle deur een straal doodgeslaan.

Daar is ook die storie van ‘n man wat tydens ‘n weerligstorm op sy plaas tussen Ermelo en Standerton en eintlik tussen Morgenzon en Standerton die Here gevloek het oor die droogte. En net daar deur ‘n straal dood geslaan is. Sy spoor is in die klip ingebrand.

Dit is blykbaar onwaar. Hy is wel deur die weer doodgeslaan, en die plek waar sy skoen was, het in die sand ingebrand. Sy spoor daar gelaat. Die gras groei ook nie waar sy elmboog die grond getref het nie. Lees gerus oor hierdie stukkie interessante geskiedenis hier.

Het jy al Anton Myburgh se liedjie gehoor waarin hy daaroor sing?

Ek dink sy naam is Voetspore, laat ek gou soek en deel.

Ek is mal oor die liedjie, miskien omdat ek die storie van die voetspore in die sand ingebrand ken. Ons het al daar gestop om daarna te kyk. ‘n Herinnering dat die weerlig uiters gevaarlik is …

Hooffoto: Sonsondergang langs die Vaal. ‘n Tyd van vrede en geluk.

9 gedagtes oor “Ek het nie meer ‘n weertoep nodig nie

  1. Vir donderweer. Ek glo dat dit waar is van die man wat God gevloek het en die weerlik, want God laat nie met Hom speel of Hom vloek nie. So bly jy het betyds ingegaan sodat jy veilig kon wees met die tornado.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.