Blogvriendin Woordnoot skryf vandag oor doringbome. En toe is ek sommer lus om ook te skryf. Veral omdat ek een in ons tuin laat afkap het. Ene wat die gras versmoor, ons het hom op verkeerde plek geplant. Ek wil oor twee soorte bome met dorings skryf wat by ons langs die rivier groei.
Die doringboom en die wag-‘n-bietjie op die wal van die Vaal. Die boer by wie ons gekoop het, het raad gegee. Haal die doringbome uit, hou die wag-‘n-bietjies. Manlief het die raad in die wind geslaan, hy is baie lief vir doringbome, ek is versigtig vir hulle slagysters wat in die gras gelos word. Dus het ons beide gehou.
Daar is doringbome.

Die doringbome groei heeltemal te vinnig tot baie, baie hoog. Troon bokant almal uit. Druk selfs bome om hulle wat stadiger groei weg. En druk in mekaar se takke in in die poging om eerste heel bo te wees.
Hulle gooi gereeld sulke wit tweebeendorings af, om vir onwetende kindervoetjies te wag. Wat angswekkende gille oor ‘n kersnaweek kan veroorsaak.

Hulle smagting na eerste die hoogste wees, het rampspoedige gevolge. In kleigrond wat nie vir hulle pieperige wortelstelseltjies kans sien nie. Pleks dat hulle aandag aan die bou van wortelstelsels bestee. As ek weer sien, begin hulle kantel. Droog die takke uit weens te min water wat opgeslurp kan word.
Die voëltjies, wat die doringbome verkies, sien die probleem raak voordat die reus weet hy gaan val. Maak nie meer nessies in die droë takke nie. Hulle gaan sonder nessies ten gronde. Niks bly meer in hulle nie.
En as die ou reus val, ruk en pluk hy die takke van die bome om hom uitmekaar. Dit is mos nie goed genoeg om alleen ten gronde te gaan nie, almal om hom moet verwoes, of ten minste beseer word.
Daar waar hy gestaan het, is die grond tydens die val skaars versteur. Ek kan nie glo dat sulke hoë bome op sulke pieperige worteltjies staatmaak nie (kyk foto’s).
Die doringbome laat my aan mense dink wat die leer heeltemal te vinnig wil klim, te vinnig groot wil wees en dalk selfs die mense wat hulle tradisies en geskiedenis wil ontken. In ‘n poging om deur ander aanvaar te word.
Hulle los ook dorings wat op die pad van ander val. Kry, ek dink, genoegdoening daaruit om te sien watter pyn hulle veroorsaak as ander in hulle dorings trap. En sal nooit sê dat hulle jammer is nie. Want jy moes weet, jy het naby ‘n doringboom verbygegaan.
Hulle sal knoei om heel bo uit te kom. En baie maak nessies in hulle takke. Omdat hulle dink dat hulle daar beskerming gaan kry. Almal vlug egter weg wanneer die takke droog raak, is betyds bewus dat hy gaan val. Behalwe die langs hulle wat saam na wind jaag. Hulle kry ook seer tydens die val.
En dan sit hulle turf. Hulle het nie die regte pad geloop nie, nie ‘n goeie kennisbasis gebou nie. Nie tyd afgestaan om by ander om te leer nie.
Het nie geweet dat ‘n goeie wortelstelsel nodig is om die werk te doen nie. Hulle het eerder die mense om hulle vertrap om eerste bo te wees. En as hulle uiteindelik val, is daar skaars ‘n rimpeling wat aandui dat hulle daar was.
***
Dan is daar die wag-‘n-bietjies.

Die wag-‘n-bietjie op die hooffoto hier bo is so jaar of tien gelede moeg geval deur ‘n reuse dorringboom. die stam het in twee geskeur en so boog gevorm.
Ons het die blinkblaar soort. Hulle groei stadiger, bestee meer aandag aan hulle wortelstelsels. En hulle val nie, selfs al val ‘n doringboom bo-op hulle.
Hulle het ook dorings, maar dit is tussen die blare versteek.

En as jy te naby aan hulle kom, haak die dorings jou vas. Hoe meer jy spartel om weg te kom, hoe meer weerhakies haak jou vas. Van daar die naam wag-‘n-bietjie. Jy moet so bietjie sukkel om van die dorings los te raak. Maar, dit gebeur net as jy te naby aan hulle kom. In hulle binnewerke gaan vroetel, waar jy nie hoort nie. Wat sou die doel wees? Hulle eet tog nie die kos wat hulle verstrengel nie. Dus net lus vir bietjie seermaak?
Hulle bou sterk wortelstelsels, neem langer as die doringbome om hoogtes te bereik.
Maar, hulle staan vas. In die kleigrond op die wal van die Vaal.
Selfs as die ou groot doringbome langs hulle val, hulle takke flenters skeur, een deel van die boom selfs verwoes. Steeds dan staan hulle geanker deur die wortelstelsels waaraan hulle tyd bestee het.
Selfs dan blink hulle blaartjies, skiet hulle lote uit waar die vorige takke verwoes is. En word hulle weer mooie bome. Die tekens waar die doringbome hulle verrinneweer het, bly egter sigbaar.
Maar hulle bly geanker staan waar hulle was. As gevolg van hulle wortelstels. Selfde slegte grond vir hoë bome. Die verskil lê in die wortelstelsels.
So is sommige mense ook vir my.
Hulle bou sterk wortelstelsels, bly vas staan waar hulle staan. Die wortelstelsels is goed gebou, anker hulle.
Hulle bly geanker staan, selfs al val die doringbome hulle flenters. Want hulle wortelstelsels is goed gebou.
Hulle kry dit reg om die seer wat deur ander veroorsaak is te verwerk. Maar, die letsels van die seer bly sigbaar. Asof hulle dit nie heeltemal wil laat gaan nadat hulle herstel het nie.
Hulle blink blaartjies maak hulle mooi, hulle lyk soos mense wat jou verwelkom.
Maar, hulle dorings is ook iewers in die binnekant ingeweef, tussen die mooi blink blaartjies.
En as jy ‘n hand uitsteek, kan jy dalkies net in die dorings verstrengel raak, om te sukkel om los te kom. Ek het hele rukkie gesukkel om my trui los te kry. Moes maar uittrek en so probeer.
Die seer waar hulle dorinkies ingesteek het, sukkel om te genees.
Hulle wil jou ook nie opeet nie, maar hulle maak dit moeilik om naby hulle te wil wees.
***
En toe ontdek ek vanoggend nog ‘n soort doringboom toe ek gaan foto’s neem. Blare soos die wag-‘n-bietjie, dorings soos die doringbome. Maak soort van blommetjies op die oomblik, daarom het ek die verskil nou eers opgemerk. Wonder watter soort boom dit is?

Massiewe dorings tussen die blare versteek. Blare soos die wag-‘n-bietjie, dorings amper erger as die doringbome. Ken jy dit? Amper soos kruising tussen die twee.
***
Ek hoop ek is nie een van die drie soorte bome nie.
Ek laat nie dorings om my los om onskuldige mense seer te maak nie, ek haak nie my vriende met weerhakies vas as hulle so vrypostig sou wees om te na aan my te wil kom nie en ek vertoon ook nie soos die laaste boom pragtige blare waaragter massiewe dorings sit wagtend om mense te steek nie.
Of liewer, ek probeer om nie so te wees nie. Ek wil nie doringrig wees nie.
***
Manlief het gister ‘n doring is sy voet gekry. Met skoene aan. Ek kon dit uitkry, maar die seer het nog lank gesit waar die doring gesteek het.

Pieperig, hoor, ek het afgeneem. Toe maak hy of hy seer kry. Skelm. Spot sommer, die dorings steek seer. Siestog, die doring het regtig diep ingesteek. En hy het gekla.
Watter soort boom ek is, is iets waaroor ek mooi gaan moet dink.
Ek weet net ek wil nie ‘n boom wees wat ander om my seer maak nie.
Miskien omdat ek die seer van dorings verpes?
Diep filosofies en goed beskryf! Koorsbome is populêr op ons munisipaliteit se sypaadjies.Dit sê “Bly weg!” vir boomstropers.
LikeLiked by 2 people
Baie dankie, verduidelik asseblief. Hoe hou dit stropers weg? Klink na goeie idee.
LikeLike
Dit keer nie perlemoenstropery nie🤣,maar daar is nie vrugte of blomme om te stroop nie en mense verniel nie die doringtakke nie. Niemand wil nie eens in dié bome klim nie!
LikeLiked by 1 person
Nou moet ek gaan soek hoe hulle lyk. Dankie, Letty-Ann.
LikeLike
Die koorsboom se stam en takke is geelgroen.
LikeLiked by 1 person
Christa ek het hierdie vergelykings geniet! Ek is baie lief vir doringbome – hoe langer en witter hul dorings hoe beter. Die wag-‘n-bietjies groei nie baie hoog hier nie en een het self begin groei net onder die venster nay ons voordeur. My man wou dit verwyder, maar ek sny die takke terug waar ons loop en los die res van die boom: good luck to anyone who wants to get in tharough that window! Ek dink die laaste boom is ‘n Maytenus heterophylla (Common Spike Thorn) maar kan nie seker wees nie.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Anne, ek gaan nou opsoek, met ‘n naam kan kan ek ver kom. Ek is lief vir die bome, nie op die erf waar die kinders speels nie. Maar – is dit nie dalk juis ‘n goeie idee om die dorings te hou nie? As ons weet waar hulle is …
LikeLiked by 1 person
Ek het jou inskrywing oor die doringbome baie geniet. Jy het my sommer laat terugverlang na die plaas waar ons so baie van die bome gehad het. Iewers op my blog het ek jare terug ‘n inskrywing gemaak oor bome – maar die tipe persoonlikheid. Opvoedkundidge sielkundiges vra altyd vir klein kindertjies om die ‘mens’ tekening te maak – maar jy moet dan ook vreeslik versigtig wees wat jy daaruit ‘lees’ natuurlik. So ook kan jy kyk na die boom sketse – en ook versigtig wees wat jy daarin ‘lees’. Toe ek vir my Dyslexia kwalifikasie gestudeer het, het ek op die ‘bome’-ding afgekom en dit was redelik interessant.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, jy moet asseblief meer daarvan vertel. Ek sit juis nou met navorsing waarin mens- en gesinstekeninge gebruik is. Interessante afdeling van navorsing.
LikeLiked by 1 person
Jongie, kinderkuns is wonderlik vir navorsing. Ek hou baie daarvan om kleiner kinders se kuns te bekyk en veral as daar leerprobleme is – ek het eendag ‘n kleuterskool besoek, juis om tekeninge te versamel vir ‘n kunsprojek (toe ek gestudeer het vir ‘n onnie!) en daar was toe die een kleintjie wat pers vetkryt plat neergesit het en dit van bo-af die bl na die onderkant van die bl getrek het. Die Onderwyseres het my gese dat sy emosionele probleme het en tuis het dinge nie so ‘goed’ gegaan nie. Dit wys jou nou net.
LikeLiked by 1 person
Siestog, mens vergeet dat kinders uit baie slegte omstandighede kan kom. En dat daar mins mense is wat hulle kan help, behalwe hulle onderwysers. Jy is oulik, ek geniet die geselskap baie.
LikeLiked by 1 person
As jy ‘tree personalities’ op my blog intik, sal jy die link kry, maar het so pas uitgevind dat die tweede link in die inskrywing ook nie meer werk nie – ai tog. In elk geval, kyk na hierdie link: https://exploringyourmind.com/karl-kochs-tree-test/
LikeLiked by 1 person
Ek gaan so maak – en lees. Dalk is ek daar …
LikeLike