Manlief het sy werk in Kazakhstan so binne die inperkings voltooi. En ons kon huis toe kom. Dit was een stresvolle week of twee, want Suid-Afrika se grense was nog toe-erig.
Ons moes aansoek doen om te self-isoleer. En toe gaan die grense oop en was ons, met die Here se genade van die eerste passassiers wat ‘n negatiewe toetsuitslag moes wys om huis toe te kan kom. Wonder om te isoleer, want die grense is oop vir toerisme. Ons was sommer voorbarig, het ook die teenliggaampie toets laat doen. Beide het negatief teruggekom. Ons het nie die virus nie, het dit ook nog nie gehad nie. Ons is virusvry.
***
Die vorige dag wou ons 16:00 slaap, maar ons kon nie aan die slaap raak soos ons wou nie, want ons toetsuitslae was nog nie volledig nie. Bel help nie, die mense by Helix laboratorium verstaan my nie. Dus spring ek aan die werk. Instagram hulle. Facebook hulle. Want die website werk nie. Dit vra ‘n kode en as ek ons toetskode inlees, wil dit dit nie vat nie. Dus moes ek op sosiale media staatmaak om my te help. Uiteindelik het ons al die uitslae gehad om te kan slaap.
Eers na 20:00. Ons sou skaars 4 ure kon slaap. En ek het ten minste 7 nodig om nie kwaai te wees nie. Die keer gee ek nie om nie, ek gaan huis toe!
Sondagoggend halftwee moes ons lughawe toe. Om 4:45 na Dubai te vertrek, twee ure op die lughawe te wees en dan verder te vlieg. Om 16:45 dieselfde dag in Johannesburg te land. Ons was mos vier ure voor, dus vlieg ons terug in tyd op pad na Suid-Afrika toe. Ek was seker manlief is verkeerd, maar dit was goed om eerder later as te vroeg by die lughawe te wees.
Ons was bang ons verslaap. Dus het ons bystand gehad.
Seun moes my bel, die hotel moes ons bel, my wekker is gestel en manlief se wekker is gestel. En toe werk almal.
Seun het gebel, die wekkers het een na die ander afgegaan en die hotel het gebel.
Lank voor halftwee staan ons twee reeds buite die hotel en wag vir die kar, maar dit was koud en toe staan ons binne.

Foto: Ons bagasie, wag vir tyd om om te gaan in hotekamer, besigheidsklas sitkamer op Almaty lughawe, internasionale kant. Die nasionale kant s’n is piepklein.
Die man was betyds, maar ek het al vertel dat verkeerskonstabels hier nie van geel nommerplate hou nie. Ek weet nie waarom het die myn se motor ‘n geel nommerplaat nie, dit is vir buitelanders. Ewenwel, toe hy op die hoofpad draai, loei die verkeerskonstabel se alarm agter ons. Hy moet stop. Die ou het verrassing gekry toe hierdie buitelander vlot Russies praat, maar dit het nie gehelp nie.
En ons sit in die middel van die nag in ‘n kar op die hoofpad, met die bestuurder by die verkeerskonstabels se kar. Tien minute later is hy met boete in die hand terug in die kar. Ek wou al uitklim en gaan sê dat ons laat gaan wees.
Dit was nog donker en mens sou nie die berg kon sien nie al wil jy. Maar ek het voor my gekyk. By die venster voor my uitgekyk en die een langs my. Maar nie agtertoe nie. Ek het ook nie, soos in Ust, teruggekyk na die woonstel toe ons daar verbyry nie. Want een ding was vir seker, ek wou nie in ‘n yspilaar in Kazakhstan verander as ek die stad en land kan verlaat nie.
Die inboek was ‘n tydsame proses. Eers het ons buite die ingang na die inboekafdeling gestaan. Manlief het sommer besluit dat ons tasse die keer met plasties beskerm moes word.
Alhoewel ons besigheidsklas was, moes ons staan en wag om in klein groepe deurgelaat te word om in te boek. Dit het die tyd ook help omgaan, dankie daarvoor.
Daar gekom, druk een ongeskikte Kazakh voor ons in. En sy maat volg sy voorbeeld. Toe staan ons by die toonbank.
Ons gee die Engelse toetsuitslae, hulle sukkel om te verstaan en ons kry die Russiese uitslae ook uit. Tevrede dat ons negatief is, kan die proses aangaan.
Ons weet Thermie gaan probleme gee. Maar sekuriteit word geroep, kyk nie eens in haar tas nie en sē sy moet in die vragruim wees. Manlief skop vas, die ou verstaan so bietjie Engels en Thermie kan saam met ons vlieg. Hy kry dit ook reg dat ons trollie saam kan gaan om haar op die lughawens te stoot. Toe word sy twee tasse geweeg, net-net oor die 40kg wat toegelaat word. ‘n Ander beampte word geroep, stoute manlief! Hy is oorgewig.
Ons kyk na mekaar, myne is beslis swaarder as syne. Want hy het ‘n groot tas en ‘n kleiner een. Ek het twee groot tasse mooi vol gepak. Die vorige aand nog steeds goed tussen die twee handbagasie tasse en my rekenaarsak en die groot tasse geskuif. Om hulle ligter te maak. En die handbagasie swaarder. Maar ek het geweet dit is swaarder as 20kg elk.
Ons het geweet ek gaan oorgewig wees. Maar ons was vies. Het vir twee weke met Emirates en Flydubai probeer reël vir oorgewig. Hulle kon maar vloermoer gooi, dan moes hulle weer normaal word. Ons betaal vir die ekstra gewig. En …
Ons het aanvaar dat hulle die handbagasie nie gaan weeg nie. Want as hulle sou, sou ons baie, baie meer inbetaal het.
Dit was gelukkig koud, dus het ek my swaarste jas en stewels aangehad, En my swaar pêrelhalsnoer was ook in my jas se sak. In geen tas was daar plek daarvoor nie.
R10 000 later, regtig, dit is wat die ekstra gewig gekos het, is ons deur sodat ons paspoorte nagegaan kon word. Dit was egter ‘n vulletjie, ons het verhuisingstoelae gekry en die myn het ons vlug betaal. Om in die gerief van besigheidsklas terug te vlieg.
Gelukkig het hulle die tasse nie geweeg nie. Want dit was so swaar gelaai dat ek al my krag nodig gehad het om te trek. En dan nog moes lyk of ek ‘n veertjie trek. Met die jas oor die tasse, dit is mos baie warm in die geboue. En die kopkussinkie wat ek by skoondogter gekry het.
Sekuriteit het gedink Thermie gaan by paspoorte vashaak, maar sy is met vlieënde vaandels deur. Ook by die skandeer masjiene. My rekenaarsak is ook gemaklik deur. Maar my een handtassie het probleme gegee.
Ek het geweet dit sou. Dus is my swaar Rhode mikrofoon, sy staander, eksterne geheue en sak met kabels so aan heel bo in die tas gepak. Om met oop te maak en uit te haal. Die ou is tevrede en ons is deur na die besigheidsklassitkamer van Almaty.
Wat ‘n teleurstelling. Die kos en drank moet ten duurste gekoop word. My water het R100 gekos. As dit in die winkels skaars R10 kos. Die gratis kos is lekkers en neute. Wat ek beslis nie twee uur in die oggend wil eet nie.
Toe ons weer sien, word ons vlug aangekondig om te gaan opklim.
Ons stap deur en weereens druk mense in. Manlief vertel sommer vir die een kind dat hy regtig baie ongeskik is. Asof hy of sy pa kon verstaan. Hy skop aan Thermie se sak se wieletjies. Onthou, ons twee dra baie swaar. Drie swaar stukke handbagasie per persoon is nie ‘n grap nie. Stout kinders nog minder.
Die twee ongeskiktes druk weer in en ons laat hulle begaan. Ons sit heel voor in die vliegtuig. Ry 1D en F. Die vriendelike lugkelner (hoe noem mens ‘n manlike lugwaardin) wat voor ons in die ry staan, beduie dat Thermie nie bo gaan pas nie. Maar manlief is op ‘n missie, toets verskeie maniere en gee later bes. Sy pas nie. Flydubai se hokkies is klein.
Ons bagasie maak amper elke kassie in die besigheidsklas vol. En ek is verbaas dat die lugkelner nie keer nie, net meer en meer oopmaak. Maar die man kla nie. Hy beduie dat Thermie op die sitplek agter my moet staan. En sy word vasgegord.
Eers toe ons gereed is, verstaan ek en manlief waarom. Alhoewel baie mense by die besigheidsklas deur ingestap het, was ons die enigste passassiers in die afdeling van die vliegtuig. En natuurlik Thermie, hoe kan ek vergeet?
Die vlug tot by Dubai het so bietjie meer as vier ure geduur. En ons is bederf met heerlike kos en drankies.

Die oorstaan op Dubai was minder as twee ure. Ons het wel laat in Almaty vertrek, maar die tyd is in die lug ingehaal. Toe ons stop, is manlief en die man besig om ons tasse bo uit te haal. Hy het geweet dat ons oorstaan baie kort is en ons kon byna dadelik van die vliegtuig afklim toe die trappies daar is.
Tot ons skok het ons nie aan die gebou geheg nie, ons moes per bus na die gebou vervoer word. En ons het elkeen baie tasse gehad om af te dra. Ek is mos bang vir die trappies nadat ‘n vrou iewers in die vorige twee jaar in Suid-Afrika afgeval het en haarself erg beseer het.
Natuurlik is ons eerste af, dit is mos maar hoe dit werk. Die een bus het nader gery en die vlugkelner het ons gehelp om die tasse onder te kry en toe is ons twee in die bus.
En staan totaal verstom toe die deure toegaan, net ons twee op ‘n hele bus. Ons is gewoond om te staan en wag en wag tot almal uiteindelik soos sardientjies ingedruk is.
Eers toe kyk ons rond. Die stoele lyk soos gemakstoele, op elke tweede een is ‘n plakker om sosiale afstand af te dwing. Ek gaan sit nooit nie om plek te maak vir ou mense. Toe sit ek.

Foto’s: Ek moet die maan afneem as ek so hoog in die lug nader aan haar is, die bus en ‘n lugfoto geneem terwyl oms gesak het om te land.
En so ry ons in absolute gerief tot by die gebou. Dit het baie lank gevat, ek skat so 15 minute weens aanbouings. So lank dat die bus met ander passassiers reg agter ons gestop het. Hulle het ingehaal terwyl ons gewag het dat ons weer mag ry.
Ons is na die hysbakke verwys en toe het ons in die lughawe se besigheidsklassitkamer gaan sit. Heeltemal te vol geëet en drink om vir enige iets lus te wees.
Toe ons weer sien, word ons vlug geroep om te klim.
Die keer is eersteklas en besigheidsklas saam geroep om eerste te klim. Mensig, eersteklas is iets anders op Emirates hoor!. Elkeen van die passassiers het hulle eie plek, soos ‘n houthuisie afgesonder. Ek wou nie te nuuskierig lyk nie. Dus het ek nie foto’s geneem nie.
Besigheidsklas is ook baie anders as op Lufthanza, waarmee ons 18 maande gelede na Kazakhstan geneem is.
Daar was ‘n afskorting tussen my en manlief. So hoog by die sitplekke dat ek hom die sewe en ‘n halwe ure net gesien het as ek wou opstaan en oorbuk na sy kant toe.
Aangesien die man effens doof raak, raak hy ongeskik as hy nie lekker hoor nie. Want hy sit mos met sy Apple oorfone ook in die ore. Altans, ek neem dit so op. Ek is nie so as ek nie hoor nie.
Dus het ek die tyd gebruik om die luuksheid van besigheidsklas op my eie te geniet.
Self sal ek nie sommer soveel daarvoor betaal nie. Maar as die myn daarvoor betaal, gaan ek sowaar ook nie nee dankie sê nie.
Ons het weer baie van die hokkies volgemaak met bagasie. Thermie het bo ingepas. Toe ons verterk, sien ons dat daar slegs drie ander mense saam met ons is. Sosiale afstand op sy beste.
My stoel het soos ‘n bed platgeslaan, tot heeltemal plat. Aan die voorkant was ‘n baie groot TV-skerm, met ‘n rakkie agter glas waar twee waterbottels was. Aan de kant van die sitplek was daar koeldranke, ‘n glas glas en nog water. Regs bokant my kop was daar ‘n ipad-grootte skerm wat ek kon gebruik om die TV te beheer.

Die vensters, waarvan ek drie gehad het, het houtrame omgehad, en die skerms het knoppies gehad wat gedruk word om twee stelle te laat skerms te laat sak. ‘n Ligte ene en ‘n donkerder een om dit donkerder te maak.
Hulle het geweet dat ek nie melk kon inkry nie en ek het die heerlikste salm gekry. Die poeding was ook melkloos, maar ek het dit liewer nie probeer nie.

Ek was doodmoeg na die vroeë oggend en het eers my stoel laat sak om ‘n slapie in te kry. Iemand sou oor manlief moes klim om by my uit te kom, dus het ek heerlik geslaap.
Toe ek wakker word, het ek eers op die kameras gekyk hoe die aarde onder ons lyk. Ek geniet daardie kameras van Emirates baie. En natuurlik het ek lugfoto’s geneem toe ons opgestyg het en gedurende die vlug.

Foto’s: oor Dubai, Burh Kalifa vanuit die lug in die dowwe foto. Mensig, ons was mos in Augustus 2018 in daardie gebou om van doer bo af oor die aarde uit te kyk. Ek weet nie of dit besoedeling is nie, en of dit die vogtigheid in die lug is nie, maar ons het soort van om die gebou opgestyg. En ek kon nie een mooi foto neem nie. Ek kon wel ‘n baie mooi foto van die plesierboot in een van die hawens neem. En natuurlik moet ek wolke afneem – ek is ‘n Geografie juffrou.
En toe soek ek ‘n fliek om te kyk.
Toe ek Afrikaans kry, het ek Afrikaans gekies.
Ek het Fiela se kind, die nuwe weergawe, verskriklik baie geniet. Dit is regtig baie goed, ek sal die ou weergawe weermoet kyk. Maar ek dit ek dink hierdie een is dalk selfs beter.
En toe ontdek ek Alice in Wonderland, die 1961 tekenprent. Ek het onlangs saam met die goue vroue help skryf aan ‘n nuwerwetse weergawe vir grootmense. Wel … ek dink ons s’n is beter, al het die regte weergawe baie geniet.
Ons het intussen weer iets lekkers gekry om te eet. En toe is ons by Johannesburg.
En nou moet ek bieg.
Na maande en maande waartydens ek nie huis toe kon kom nie, was my hart se nerwe maar dun. Toe die loods van ons Emirates vliegtuig met ons in Afrikaans praat, loop hierdie Afrikaanse boervrou se trane. Gelukkig kon manlief nie sien nie, die skerm is te hoog. Anders sou hy baie lekker vir my gelag het. Hy is mos die een wat tranerig raak, nie ekke nie.
Op die lughawe is ons vinnig deur die proses. Hulle was tevrede met ons negatiewe toetsuitslae en ons kon soos gewone toeriste deurstap. Die paspoortafdeling was vriendelik, almal was eintlik vriendelik.
En toe staan ons by die carousel om ons tasse te kry. Wat met M&C op die wit plasties gemerk was om hulle uit te ken. Anders as gewoonlik, was ons tasse heel eerste. Ons het twee trollies bykans onmiddelik tjok en blok gepak.
En sowaar Thermie se trollie net daar vergeet. En so ook vinnig ontdek dat ons nie meer in Kazakhstan woon nie, dat jy jou goed moet oppas. Want die trollie is weg. Raai net, op ‘n lughawe waar niks mag ronstaan nie, het niemand hierdie trollie by verlore goed gaan ingee nie. Dus het ons nog iets geskenk – onwetend.

Hulle het foto’s gesoek, toe stuur ek die een waar sy mooi daar staan en die een met die rooi sakkie, wat ons afgehaal het om Thermie op die trollie te pas. Niemand het niks gesien nie. In Kazakhstan sou ek dit weke later steeds kon gaan afhaal.
Kla ekke? Nee wat, mens weet mos waar jy is en jy pas daarvolgens aan. In Kazakhstan by die uiterste koue. Hier by die lang vingers van mede-passassiers. Sal nie weer dit fout maak om iets iewers te vergeet nie.
Toe moet ek my staal wys om myne gestoot te kry. Anders as gewoonlik kon seun nie vir ons kom wag nie, die pandemie keer dit.
Daarom moes ek dit op- en afdraendes stoot tot by die parkade waar ons altyd stop. My arms was lam, my bene was lam en my rug het dit gevoel. Maar dit het nie gepla nie.
Want …
Ek sou seun en skoondogter in lewende lywe sien, al mag ek nie soen en druk nie. En ‘n masker dra. En ek kon ons vierde kleinkind en hulle eerste in lewende lywe sien. Al was dit op ‘n afstand.
In ons bakkie, wat seun vir ons sou bring, sou my drie Miniatuur Schnauzers vir my wag. BB, Shilo en Bekka. En hulle sou my sommer dadelik vergewe dat ek so lank weg was. Na alles, hulle ken my darem al meer as tien jaar elk?
Dit het my krag gegee om vinnig te stoot.
Die wedersiens was verskriklik lekker. Ons kleinkindjie is baie, baie kleiner as wat hy op foto’s lyk. En baie, baie mooier in lewende lywe. Nie gedink dit is moontlik nie.
Sou ek Emirates se besigheidsklas aanbeveel?
Ek dink nogal so. Selfs die toilette se afwerking is met hout. Dit is regtig baie mooi, maar ek dink tog dat ek verkies om ekonomies te vlieg as ek uit my eie sak moet betaal. Dit was egter verskriklik lekker om so bederf te word om pad huis toe. Ek en manlief het uitgerus by die huis aangekom.
Daarvan sal ek ook moet vertel …

Laaste foto’s: Ek het sowaar baie min geneem. Die oorfone het baie lekker gewerk, ek het drie ruite gehad waardeur ek die aarde kon besigtig, ek en manlief in ons stoele en, net on te bewys dat ek my dik stewels aangehad het omdat dit nie in my tasse wou pas nie. Dit is interessant, my voete het deur die vlug heerlik warm gebly. Ek gaan dit in die vervolg dalk net weer aantrek …
Welkom tuis!
LikeLiked by 2 people
Dankie, liewe vriendin
LikeLiked by 1 person
So bly Tannie hulle is veilig terug in Suid-Afrika❤
LikeLiked by 1 person
Dankie, liewe Karlien, ons ook. Dit was ‘n aangename tuiskoms.
LikeLiked by 1 person
Eerlikwaar baie bly vir Tannie hulle💕
LikeLiked by 1 person
Jy is baie spesiaal.
LikeLiked by 1 person
😄🤗💕
Beplan Tannie hulle darm om julle tuiskomste te vier? Of het Tannie hulle klaar?
LikeLiked by 1 person
Ons het vandag, uiteindelik die kinders en kleinkinders na twee weke van afsondering van hulle gesien.
LikeLiked by 1 person
Dit moes sekerlik baie vreugdevol gewees het! Ek is só bly vir Tannie hulle, ek hoop julle geniet elke oomblik verder en bederf die kleinkinders stukkend💕
LikeLiked by 1 person
Dankie, Karlien, ons het so uitgesien hierna
LikeLiked by 1 person
Die ding staan so: Besigheidsklas was basies leeg en elke passassier kan 40 kg vat. Toe ons soontoe gevlieg het, het ons elkeen 64kg gehad. Nou kom hulle met die storie dat dit so is, van Afrika af. Van Almaty af, net 40 kg. Selfde vliegtuig, net vol nonsens om geld te maak. Met elkeen wat 24 kg minder mag vat, was my 16 oorgewig ‘n druppel in ‘n emmer. Plus, ek is ligter as die meeste mans, dus is ek seker die probleem is nie so groot nie.
LikeLiked by 2 people
Jong, jy moet maar kom kyk met hoeveel bagasie die mense klim. Klein sakke om ingeboek te word, weet nie hoeveel klere in so ‘n sak kan pas nie, maar ons het beslis niemand se lewens in gevaar gestel nie. Die ekstra gewig was 1) 24 kg minder as wat ons mag vat in besigheidsklas, 2) daar was 7 oop sit plekke, dus het hulle mie gewig gelaai nie 3) die vliegtuig was nie vol nie, dit is mos pandemie en mense is bang om te vlieg, en 4) my gewig is 30 tot 60 kg ligter as die meeste mans op die vluf]g s’n. Hulle moet dit dan maar ook in ag neem. As jy ‘n tas se gewig kan beperk, moet jy in ag neem dat die eienaar van die tas baie ligter as die norm is.
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die lesing, ek is seker ons paar kilogram oorgewig het nie ‘n verskil gemaak nie. Dat daar wel ‘n speling is vir ingeval. Indien nie, is die ingenieurs regtig vlak. Die Kazakhs is baie erg oor reëls, as ons enige gevaar sou veroorsaak het, sou hulle ons wel gekeer het. Dubai is net so erg oor reëls. Ons het nie honderde kilogram opgelaai nie. En … as ek van Suid-Afrika af gevlieg het, soos toe ons soontoe gegaan het, sou ek baie meer kon inlaai in my tas. In dieselfde vliegtuig. Selfde grootte. Selfde alles. Dit is dus nie ‘n veiligheidsgevaar nie. Dit gaan oor ander goed. En as nuwe regulasies onnosel is, kan mens nie sommer blindelings volg nie. Ons het ook nie doelbewus oorlaai nie – ons betaal ‘n fortuin vir die res van ons goed wat per vragvlug deurgestuur is. En steeds nie hier is nie. Ons wag steeds daarvoor. Oor nog onnosel reëls. Ons moet in persoon hier wees om aansoek te doen dat ons goed gestuur word. Sommige van ons goed mag nie in daardie vrag wees nie. Dit moes in ons bagasie by ons wees. En selfs dan, amg sommige goed nie in die inboek bagasie wees nie, dit moet in ons handbagasie wees. En dan word dinge moeiliker gemaak omdat Kazakhstan nie ‘n see het nie, alles moet per vliegtuig huis toe kom. Wat dit onmenslik duur maak. Ons moes groot besluite neem oor wat bly en wat kan kom. Nie dat ons aan aardse goed gebonde is nie. Dit het geld gekos om te koop en ons moes weggee en teen laer pryse verkoop omdat ons nie weer teruggaan nie. Dus – kan ek nie verstaan waarom ons so beperk word van die een kant af, maar nie van die ander kant af nie. My eie gewig maak op vir die 16 kg oorgewig …
LikeLiked by 1 person
Ja, jy is reg, mens verwag dit moet konsekwent wees, maar daar is die FAA se regulasies, dan ons eie CAA en elke land het sy eie. Die ingenieurs is dalk nie so vlak nie maar die boontjeitellers wat dit te ver neem met ‘veilige’ berekenings. Party sien kans vir wins maak uit elke effense krisis, soos ‘n te swaar tas. Dan maak hulle dit ‘n krisis. Uiteindelik verg dit x liter brandstof om y km te vlieg op z vt teen s kts.
LikeLiked by 1 person
Bly, dat julle veilig tuis is en seker al ingeleef, soos die Duitsers sê.
LikeLiked by 1 person
Jy verstaan, Coetzee, voel of ons ‘n leeftyd gelede in Qazaqstan gebly het.
LikeLike
Is thermie nog steeds weg😣
LikeLiked by 1 person
Hi Dromer, nee sy is veilig by ons. Haar trollie is weg, geen antwoord verder van die lughawe gekry nie. Ons het haar darem opgepas.
LikeLike