Gepubliseer in Reisjoernaal

Laaste week in Almaty

Ek het hierdie artikel ‘n week voor ons uit Almaty is, begin tik. En so hier en daar verder daaraan gewerk. Ons is nou ‘n week en ‘n half terug in Suid-Afrika. Miskien moet ek dit net eers klaarmaak voor ek met iets anders begin.

Die tyd het gevlieg en toe ek weer sien, is dit die laaste week in Almaty voordat ons permanent huis toe kom. Ek wou soos in Ust weer elke dag skryf wat ons gedoen het. Beginnende met die laaste Donderdag in ons woonstel.

Ons kry soveel genade van bo dat ons nie eens weet waarvoor ons alles dankie moet sê nie. Die kar is ‘n week gelede verkoop, en ek het my plante waaraan ek soveel aandag gegee het, net weggegee. Vier vir een vriendin en vier vir Gulnara, want ek weet hulle twee sal mooi na hulle kyk. Die vriendin sê hulle praat met haar Russies … Ek het so lekker gelag.

My naaimasjien, manlief se gereedskapkas met boor, die piekniekgoed en die groot olieverhitter is gister (laaste Woensdag) verkoop. Ek en manlief moes help om alles af te dra. Die koper was die meeste opgewonde oor die klein ronde braai wat baie soos ‘n Weber lyk. Ons het heerlike braaie met haar in Ust’-Kamenogorsk gehad. Geen in Almaty nie, ons het in inperkings geleef sedertons aankom einde Junie in Almaty. Hy gaan blykbaar vis op haar braai. Toe ons die kattebak toemaak, druk ons per ongeluk ‘n duik in haar. Maar, dit kon uitgedruk word.

Saterdagoggend het ons aangetrek en die gestap om die elektriese braai te gaan afgee aan sy nuwe eienaar. Toe is ons per bus na Coffee Boom, Dostyk winkelsentrum, vir ontbyt en het ons gaan pak. Manlief is al ver gepak, ek moet kyk hoeveel goed deur die agent aangestuur kan word en hoeveel saam met ons gaan vlieg. En dit is ‘n somme-besigheid.

Alhoewel ons besigheidsklas vlieg, word ons tot 40 kg elk beperk omdat ons van Almaty af vlieg, maak nie saak hoeveel tasse jy gaan inboek nie. Ons het drie groot tasse, twee kleintjies en twee bokse reeds saam met die agent gestuur. Dit was so effens rof wat finansies betref, maar daar was so paar goedjies wat ons nie net wou weggee of verkoop nie. En natuurlik klere. Ek dink wel dit sou meer kos om dit alles hier nuut te kom koop.

Wat ek wel wou doen, was om elke iets wat ek gekoop het vir die woonstel nie daar te los nie. Elke liewe ding. Behalwe manlief se groot bruin plastiese kas wat hy vir ons kamer se stoep gekoop het. Dit het hy agtergelaat.

Toe ek weer sien, is ek amper klaar gepak. ‘n Hele week voor ons vlieg. Nog nooit was ek so betyds klaar gepak nie. Ek was so opgewonde soos ‘n kind wat vir kersdag wag.

My persentjies sou wees om my kinders en kleinkinders weer te sien. My woewe. My ouers.

Die pandemie het ons laat besef – die mens wik, maar God beskik.

Ons gaan beslis nie weer die expat ding doen nie. Die Here het ons veilig huis toe gebring, Ons bly nou net hier.

Ons en Mia-hulle het Saterdagaand by Forest oorkant die pad gaan eet. Dit is die eerste keer wat ons saam met vriende daar geëet het. Hulle het al die pad van Ust af gekom om ons te kom groet. Ons het twee baie spesiale vriende in Kaz gemaak, sal altyd met hulle kontak hou. Was lekker om so in die doodsnikke van ons verblyf in Almaty en Kazakhstan saam met Mia-hulle daar gaan eet.

Hulle het Sondagaand laas week ook by ons gebraai. Ek gaan haar mis.

Sondag was ‘n lui dag. Dominee het verlof en het geen preek gestuur nie. Ons het dik aangetrek, dit het baie, baie koud geword. En by McDonalds middagete gaan eet. Daarna het ons die hele dag in die bed deurgebring, net opgestaan om pannekoek te meng en te bak. Ek meng, manlief bak.

Maandag het van die laaste goedjies nuwe eienaars gekry.

Die TV is verkoop aan ‘n man van die kerk en ons het al ons kruideniersware vir die kerk gegee om aan mense te gaan uitdeel.

Ons het sports ook gehad. ‘n Piepklein vroutjie het die laaikas kom koop, onderhandel en die bedkassies en die stofsuier saam gekoop. Sy het hangers gevat, ek het elke liewe hanger wat ek gekoop het, uitgedeel aan mense wat dit mag nodig kry. Sy skuld toe nog 25 000 tenges, so R1000, vra of sy die goed kan vat en dan betaal sy die res die volgende dag.

So is ek en sy en manlief af met die laaikas, die bedkassies en die stofsuier. Sy vat een kant en manlief die ander kant en dra die laaikas die trappies af. Ek was verstom, kan dit nie doen nie. Toe dra sy en manlief elkeen ‘n bedkassie en ek die stofsuier die trappies af. En daar laat sy ons staan, verdwyn om die hoek om ‘n taxi te gaan kry.

Ek en manlief kyk die petalje so, want daar staan ons met die goed op straat. En sy is weg. Ons kyk en kyk straatop soos wat sy met taxi moet kom. Manlief het vir haar gesē dat sy ‘n groot taxi moet kry.

En toe ons weer sien, stop ‘n piepklein Yandex taxi naby ons, heeltemal uit ‘n ander rigting gekom. Sy kom aangedraf, baie tevrede dat sy ‘n taxi het. Ek en manlief bekyk die saak so. Daar is geen manier waarop die laaikas gaan pas nie.

Die taxi-bestuurder is ook verras toe sy en manlief met die laaikas aankom. Hy maak die kattebak oop en die laaikas word ingesit, laai na die buitekant. Word weer uitgehal, laaie na die binnekant. Geen tou om dit vas te maak nie. Ek vra oor vasmaak, sy haal haar serp af en gee vir die taxi-bestuurder, wat een punt aan die deksel van die kattebak vasmaak. En een aan die onderkant vn die kattebak. Een enkele band om die laaikas in die kattebak te hou.

Die bedkassies en stofsuier kom op die agterste sitplek. En daar gaat hulle. Ek staan eers en kyk of die laaikas nie uitval nie. Maar hy staan stil. En toe lag ons twee baie lekker. Scrapy vra die week dat ons skryf oor boer maak ‘n plan, Wel, Scrapy, ek vertel jou dit. Kazakh vrouens maak ook planne. Sy het in Johannesburg grootgeword, dus het sy seker hier geleer om planne te maak?

Die aand is ek en manlief by Pinta restaurant in die Kazakhstan hotel gaan eet. Ek wou al so lankal daar gaan eet. Dit is regtig baie mooi, ek het die kos geniet. Behalwe natuurlik dat my kos heel laaste gekom het. Soos heel, heel laaste. Die ander was al klaar met hulle kos …

En sowaar, toe bel die vroutjie, sy is by die deur en gee die 25 000 tenges vir die goed wat sy gekoop het. Die Kazakhs is van die eerlikste mense wat ek ken.

Woensdag het die laaste goed saam met mense gegaan. Die man wat die kar gekoop het, het dit aan arm mense gaan uitdeel. My potte, panne, bakke, opskepbakke, borde, glase, pierings, badkamermatjies, alles. Die beddegoed is ook weggegee, saam met ons ekstra kussings.

Ons het ons laaste pakke gepak. Ek moes tussen my tasse rondgeskuif om die inweegtasse ligter te maak. Ek ontdek toe ook dat manlief sowaar een hele piekniekkombers in my tas gepas het. Ewenwel, ons was bereid om in te betaal vir die goed wat ons graag huis toe wou neem.

Donderdag vroegoggend was ons gereed. Ek het die laaste goed gaan neersit waar mense wat dit nodig mag kry dit kan vat. Dit is blykbaar hoe mens dit doen. My waterbeker, die welkom matjie, ‘n lekker dik rol plakplasties en bottels met sjampoe en handwasmiddel. Niks wat aan my behoort sou in die woonstel agterbly nie. Ek sal later meer daaroor vertel.

Manlief het oral help skoonmaak – dit help blykbaar om die tyd om te kry. Ek het die vloere gewoerts. Dit word mos mooi skoongemaak voor die nuwe huurders intrek. En ek was so dankbaar dat ek in my eie plek kon gaan terugtrek. Van huur het ek vir eers genoeg gehad.

Lank voor die tyd wag ons al onder. Die agent het die sleutels kom haal en ek het so bietjie pret met van haar vrae gehad. Ek sal later meer daaroor vertel. Maar nou ja, kom ons sê maar ek is ‘n vrou. Hoe moet ek al die tegniese goed weet? Buitendien, ons moes self uitvind toe ons intrek.

En toe is die kar daar om ons hotel toe te vat. Die Shera Park Inn is ‘n baie lekker hotel en ons kamer het op die berg uitgekyk. Anders as gewoonlik, het die berg my verveel. Hy staan in die pad, ons moet oor hom kom om huis toe te gaan.

Vrydag is ons na Helix laboratorium om bloed te trek en die CPR toets te doen. Dit was pret, ek sal daarvan vertel.

Ons het die aand in die Hilton hotel se Vista restaurant op die 30ste verdieping gaan eet. Dit was heerlik, ek sal daarvan ook vertel.

Saterdagoggend het ons ontbyt gaan eet. Maar eers moes ons terug na die laboratorium omdat ons nie al ons papierwerk gekry het nie.

Daarna is ons hotel toe om die laaste goed in die tasse te pak. Maar ons kon nie ontspan nie – ons uitslae was nog nie uit nie. Ek sal later ook daarvan vertel, maar toe ons manlief se CPR negatief uiteindelik kry, toe is die man honger.

So is ons met die bus af na McDonalds, want dit is soveel lekkerder as Suid-Afrika se MacD. Dit is regte, egte vleis. Die plek was vol, dus het ons wegneemete gevat, die koeldrank op pad na die busstop gedrink, gewag (langer as wat ons gedink het ons sou) en by die hotel gaan eet.

Ons wou al vieruur gaan slaap, op die ou einde is ons eers agtuur in die bed.

My hare gewas, alles reg om net aan te trek, te vat en te loop. Vir ingeval ons wekker nie afgaan nie. Ek toe kan ek slaap. Nadat ek die hotel se ontvangs en seun gevra het om my wakker te bel. Dit is een vlug wat ek nie wou mis nie.

My laaste gedagte was dat ek die volgende dag nie sou omkyk nie. Die hele tyd voor my sou kyk. Want hoe baie ek die lewe in Kazakhstan ook geniet het, daar was geen manier wat ek soos Lot se vrou in ‘n yspilaar wou verander nie.

En toe is ek weg in droomland.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Laaste week in Almaty

  1. Julle tyd in Qazaqstan was so ‘n lekker reis, amper soos ‘n skugter sitplekkie agter in Johan Votespore se Cruiser oor vreemde paaie. Dis tragies dat mens so ver moet gaan om by McD kos te kry. Terloops, een oggend twee-uur op ‘n piepklein eilandjie in die Stille Osean, stap die Maori-stamleier in en gee my iets: “Now Peter, eat up it’s gettin’ cold.” ‘n Big Mac uit Auckland, vier uere se vlieg ver.

    Liked by 1 person

      1. Ons moes Goodwood toe vir ‘n beter McD, daar by N1 Stad Value Centre, die beste een in die Kaap. Ons het een skuins oorkant gehad maar hulle was pateties.

        Liked by 1 person

          1. Wow! Ek het onlangs op GoogleMaps gevorder tot Gr 8 LocalGuide en het vreeslik baie resensies gedoen; net twee keer het ek iets negatiefs gese en elke keer was dit McD naby my huis. Maar in Centurion was ons eenmaal op afgedeelde diens by ‘n Weermagformasie en die kos was iets vreesliks. Toe gaan ons Spur toe, wag twee ure vir die wegneemetes en toe ons tuiskom, was dit erger as die weermag se kos. Ek is geleer om te eet wat in my bord is en nie te kla nie; maar daardie was net te erg vir woorde. Ekself het gekook en my resepte geplubliseer, maar ek is nou nie Masterchef-materiaal nie. Anders as party sg restaurante, kan ek ‘n baie ordentlike burger maak. Maar ek maak eerder bredies, bobotie of sulke goed.

            Liked by 1 person

    1. Ai Appeltjie, daai was ‘n groot besluit. Sy is swaar en teen 30 dollar per kg sal sy my baie meer kos as waarvoor ek haar gekoop het. Dus moes sy gaan. Ek het ‘n Elna naaimasjien en omkapmasjien hier, wou hulle nie saam oorneem nie. Ek moet ‘n masjien in die huis he.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.