Ons het mos die 4de Oktober geland. En toe moet ons twee weke van ons kinders en kleinkinders en naastes weg bly. Net vir ingeval ons ‘n gogga op die vliegtuig kon blyplek in ons lywe gee. Nie dat die staat dit van ons verwag nie, maar ons het dit tog gedoen. Ons bly mos nou permanent en wat is twee weke tussen familie?
Ons het die twee weke ook van die kerk af weggebly want ons kerk se mensies is ou mensies. Die meeste is ouer as ons en enkeles het nog kinders by hulle in die huis. Om die waarheid te sê, ons kerk se gemiddelde ouderdom is seker 50 of ouer.
Sondagoggend is ons lank voor halfnege gereed om kerk toe te ry. Wat ons ook doen. Om eers buite die kerk in die kar te sit en rustig te raak. Nie dat dit noodsaaklik is nie, die paaie is Sondagoggende mos leeg. Wat my natuurlik laat wonder hoeveel mense nog kerk toe gaan. Of begin hulle dienste net later?
By die voordeur het oom Jan ons ingewag. Die oom is altyd op sy pos, ook nou tydens die pandemie.
Corrie het kom groet en verwelkom, ons is weer terug na soveel maande. Die ander mense het ek nie herken nie, en ek moet eerlik sê dit is baie sleg om so agter maskers mense te probeer herken.
Dominee het ons by die sitplek kom groet. Soos wat sy gewoonte is. Toe is hy weer by die voorste deur uit om sy ouderlinge en diakens te ontmoet. Om saam met hulle die kerk binne te kom.
En toe preek hy.
Dit was verskriklik lekker om weer in die kerk te wees. Al is dit agter maskers. Om te sing en te luister en te bid. Te voel en te beleef dat ek in die huis van die Here is. Daar waar ons saamkom om te hoor wat die Here vir ons wil sê. Deur die predikant.
Hy het oor Jesus se woorde gepreek:
Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Uit Johannes.
En dit was belangrik om te hoor dat Jesus nie ‘n gebruiksartikel is wat ons kan gebruik om eendag in die hemel te kom nie. Ons moet elke dag in volheid lewe. Jesus het die pad aangewys, die rigtinggewers na die ewige lewe gegee.
Dit is wonderlik om weer in my kerk te wees. Dat ons predikant vir ons gespaar is. Om ons te herinner om daagliks op die regte pad te lewe.
En ek dink baie mense in Suid-Afrika voel soos ek. Die inperkings het hulle uit die kerk gehou. Die een plek waar ons juis saam moes wees om te bid vir die land en sy mense tydens hierdie krisis wat die wêreld sedert middel Maart in die gesig staar …