Die vreemdste ding is besig om met my te gebeur. Ek kry koud in Oktober in Suid-Afrika.
Eers het ek gespot dat Karma my aan die boud kom byt het. Omdat ek vanuit Kazakhstan gespot het met my vriende wat gesê het dat die Suid-Afrikaanse winter koud is. Iets soos kom voel hoe voel -38, dit is koud. Maar ek glo mos nie regtig aan iets soos karma nie.
Die ding is dat Suid-Afrikaanse huise nie vir koue gebou is nie. Ons mure is nie vier rye bakstene dik nie, ons het nie dubbele ruite met ‘n spasie tussenin wat die koue buite hou nie. Ons huise is nie 10 grade warmer as buite nie. Ons het nie sentrale verhitting in ons huise nie. Dit hoef nie warm in huise te wees nie, want dit word nie -38 hier nie. Buitendien, juis ons dun mure en enkelruite maak ons huise leefbaar in die somer. Dat ons nie vergaan van die hitte nie.
Wat ek dus eintlik wil skryf, is dat dit in Kazakhstan altyd warm in die huis was. En dat ek sedert ons tuis is met langbroeke en lang warm rompe loop. Want ek kry so wraggies koud in my huis. Seker te verstane, ons was vir sewe maande in ons huise ingeperk.
Dit is natuurlik regtig koud buite. Die wind sny deur my langmoubloese, wat nie warm is nie omdat ek nie warm klere in Kazakhstan nodig gehad het nie. Jy trek in dun lagies aan as dit koud is met ‘n dik jas bo-oor en skil die lagies af soos jy in winkels instap. Anders vergaan jy van die hitte.
Ek het menigmale in ‘n winkel gestaan met my serp, mussie, handskoene, jas in my arms soos wat ek afskil om nie om te kap van die hitte nie. Dan is daar nie plek in my hande om na iets te kyk nie. En stap en uit sonder om iets te koop. Wat natuurlik goed vir my sak was.
By sommige winkels kan jy jou jas ingee en later weer gaan haal. Jy hoef nie eens bekommerd te wees nie, niks word gesteel nie. Jy kry jou eie jas weer terug as jy uitstap. By ander kon jy jou jas in ‘n kassie sit, sluit en dit later gaan haal. Glo my, jy sal nie vergeet nie, die koue is wild in die winter as jy uitstap. Jy sal wel dadelik onthou wat alles kort. En dit gaan haal.
Hier kry ek so wraggies koud in my huis. Selfs buite. Dit is nou die ek wat jaarliks op 17 Augustus ‘n somersrokkie aangetrek het. Om vir die winter koebaai te sê. Met die bloeisels in die lug is dit somer, of lente dan. Maar nie winter nie. En moes my warm klere weggepak word. Om die lente te omhels.
Wel, my lyf protesteer tans. En dit is al middel Oktober. Sy wil warm gemaak word. Ek trek selfs my warm winterstewels met die wol aan die binnekant aan. Het vir my sandale gaan koop omdat myne nog op pad hierheen is. Dra dit net dorp toe. Myne is eers gister op ‘n vliegtuig gesit. Ons moes mos self by doeane wees om vorms in te vul dat ons goed mag kom. Hoe dom is dit? Kon nie vanaf Kazakhstan reël en stuur om saam met ons aan te kom nie.
Die sandale word dorp toe gedra, maar in die huis dra ek stewels. En my ski-langbroeke. Wat in die koudste winter in Kazakhstan my bene warm gehou het. En ek lag lekker vir myself. Hoe het ek in 18 maande so geklimatiseer dat ek nou in my warm land koud kry?
As jy my nie glo nie, moet ek mar die storie vertel.
Ek en manlief is dorp toe en na verskillende winkels toe. Ek wou skoene kry en hy moes sy bankkaart by ABSA gaan afhaal. Ek is voor hom klaar, soos altyd as een van ons by die bank in is. Hulle het mos geen idee van tyd nie.
Toe ek by die deur wil in, word my temperatuur geneem. Soos oral in Kazakhstan ook. En die masjientjie piep.
Die wag sê ek mag nie ingaan nie, my temperatuur is te laag. Let wel, te laag.
Ek glo hom nie, lees op die skerm. 27 grade.
Ek weier dat hulle my temperatuur teen my voorkop meet. Twee redes daarvoor. In die eerste plek is dit uiters onaangenaam omdat die masjientjies te veel aan ‘n rewolwer of pistool herinner. Tweedens sit daar blykbaar een of ander iets in mens se voorkop wat nie so bestraal moet word nie. In Kazakstan word dit net geneem as jy in die winkelsentrum instap. Hier word dit by elke winkel in die sentrum gemeet.
Almal gaap my aan. Want hulle dink my temperatuur is te hoog.
Die een tannie vra sommer ook, bang dat ek ‘n virus dra. Ons is mos almal besmet. Al is ons nie.
Ek sê nee, dit is te laag. Ek is seker besig om dood te gaan.
Tuis toets ek my temperatuur aan die bokant van my pols. En my masjientjie skree: Lo. Net so, dit is te laag, meet dit nie eens nie.
Toets aan die onderkant van my pols. 35,3. Heel aanvaarbaar. Toe my keel, effens hoër. My arms kry dus regtig baie koud.
Ek moes dus maar warm aantrek. Totdat my lyf kliek dat sy nou in Suid-Afrika is.
Dit het ons lyfhorlosies meer as ‘n week geneem om te kliek dat ons nou in ander land is. Teen 4 uur soggens was ek en manlief wakker soos spoke. Dit was dan 8 uur in Kazakhstan. Het gevoel of ons verslaap het. Wou nie opstaan nie, want dit is koud voordat die son opkom. Dus het ons maar in die bed gebly.
Smiddae teen 4 was ek en manlief hondmoeg. Het ons met moeite kos gemaak en geëet om teen 8 in die bed te wees. Wat middernag in Kazakhstan sou wees. Ons kon net nie wakker bly nie.
Gisteraand het ons vir die eerste keer na tien gaan slaap. Wat meer normaal voel. Ons horlosies skop darem in.
Ek is egter steeds 4 uur soggens wakker. Dalk omdat my woewe my dan vir ‘n piepie wakker maak? Maar dit is heerlik.
Ek hoor die voëltjies buite, hulle is lank voor die motors op die hoofstraat aan die gang. Twiet-twiet-twieeet vir die son om nou op te kom, daar is werk om te doen. Hoe hemels is dit nie? Om deur die natuur wakker gemaak te word omdat ek weer op die grond bly. Nie meer in ‘n nes hoog in ‘n wolkekrabber nie.
Dan lees ek my Bybel op my Bybeltoep.
Ek is amper halfpad deur die Bybel, lees hom mos vir die eerste keer in my lewe van voor na agter. Nou nie heeltemal so nie. Die Bybeltoep neem my in 365 dae deur die Bybel. Deel uit ou testament, korter deel uit nuwe testament en afgesluit met Psalms of Spreuke. Elke dag. Die toep hou telling, maak seker dat ek elke dag kom lees.
Ek het die besluit op 16 April 2020 geneem toe die inperkings een maand oud was.
Om die inperkings om te kry. Verby te kry.
Maar ook om telling te hou van die lengte van die inperkings.
Vandag die 181ste dag gelees. Ja, jy het reg gelees. Dit is al 181 dae van inperkings sedert die dag in April toe ek die besluit geneem het.
En as ek reg is, was die inperkings toe reeds 30 dae aan die gang.
Wie sou ooit kon dink dat ‘n siekte waarvan meer as 80% van die mense op hulle eie gesond word, die wêreld sou laat stilstaan? Ek het my eie idees daaroor, bespreek dit net nie. Sal maar mettertyd sien of ek reg was. Want een ding is seker. Dit maak nie sin nie.
Foto: Hierdie mamma tree soos alle mammas op. My woewe is in hulle winterjassies. Omdat ek koud kry. Maar ook omdat Bekka bewe van die koue … sy ma se kind.
Dit neem ‘n tyd om aan die weer gewood te raak – tog IS dit kouer as gewoonlik.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Anne, ek dog ek is heeltemasl laf om so koud te kry. Die termometer wys dit is koel, maar ek kan nie glo ek kry so koud nie.
LikeLiked by 1 person
Ai Letty-Ann, in Kazakhstan het die son sy kop in die somer al voor vier gelig en saans eers baie naby aan tien gaan sak. Ek hou van Suid-Afrika, die natuur verstaan ons beter.
LikeLike
Ek sukkel ook om hierdie keer warm te bly, Christa.
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, tog vir die antwoord, Una, ek dog my lyf het besluit om my in die steek te laat.
LikeLike
Ons winter was amper somer en die lente was winter.
Een plek wat ek verafsku, is Marks & Spencer in London waar hulle jou uitbak dat jy voel jy gaat omkap van die hitte, want ek is nie hittebestand nie. Dit terwyl die sneeu lekker val buite. Ek is seker hulle brand hulle eie private gat in die osoonlaag met die hoogoonde wat hulle winkels verhit. Ek staan liewer met vier lae klere op Wembley Park stasie in die ysige wind as wat ek na daai ellendige winkel toe gaan.
Toe Capt Bligh en sy gevolg op Rarotonga aankom, het die Maori-manne die vrouens se rokke opgelig om te sien wat onder aangaan. Hulle was verbaas om te vind dat die “konstruksie” nie van hulle eie vroue verskil het nie, maar dat daar vier lae klere was. Van toe af word buitelanders papa’a genoem, wat “vier lae” beteken.
LikeLike