Gepubliseer in Reisjoernaal

As ek boomdokter speel

Ons het ‘n kersfeesboom by die rivier geplant, ‘n hele aantal jare gelede. Ek gaan moet opsoek presies wanneer as ek deur my foto’s blaai. Vir nou is die datum nie noodsaaklik nie. Dit is net nodig om te weet dat ons so ‘n denneboom geplant het. Om ‘n regte egte kersboom te hê wanneer ons Desembers hier kersfees vier.

Die arme boompie het onder ons vorige wag, wat ook die gras versorg het, gely. Hy het daarteen gestry, maar ek is seker hy het die kabel van die grassnyer om die boompie gedraai om te keer dat hy die kabel raaksny. En in die proses het hy die boompie se takkies na onder afgery. So erg dat die boompie maar oes gelyk het (foto).

Ek was ontevrede met die wag. Ek was ontevrede met die boompie. Ek het nie gedink dit gaan groei nie.

Of altans, ek het seker gedink dit gaan groei, maar ek het nie gedink dat dit ‘n ou mooi kersboompie gaan wees nie. Inteendeel, ek sou die oes ou boompie eerder wou uithaal. Swak keuse van boom by die rivier.

Maar, ek wou die ou boompie ook nie uithaal nie. Mens het op ‘n stadium nogal gesukkel om hulle in ons gebied te koop te kry. Welkom en Virginia se munisipaliteite het hulle opgekoop.

Toe vat ek kabelbinders (cable ties) en vorm die ou takkies soos dit behoort te wees. Lig hulle op en trek hulle na mekaar toe. Om so te probeer vorm gee.

Vandag staan ek die boom so en bekyk. Dit het regtig in een pragtige boom ontwikkel.

Baie, baie langer as wat ek in my sokkies staan. Pragtig gevorm. ‘n Regte, egte kersfeesboom so op die walle van die Vaalrivier in die Vrystaat.

Toe ek die foto’s neem, staan ek en wonder of mense sal glo as ek vertel dat die ou boompie so verinnerweer was dat ek sy takkies met kabelbinders bymekaar getrek het. Omdat dit lelik afgebuig was. Heeltemal vervorm.

Toe neem ek die foto’s van die binnekant, om te bewys dat ek wel een keer in my leeftyd boomdokter gespeel het. Die bewyse daarvan is steeds in die binneste van my boom toegevou. Die boompie het die res gedoen, dit het net hulp nodig gehad.

Hierdie draadwerk vertel ‘n storie van ‘n ou boompie wat so amper uitgekap is. Ene wat die geleentheid aangegryp het toe iemand tyd spandeer het om hom te red. Ene wat die geleentheid gebruik het om pragtig te word. Dalk juis as gevolg van die gelapte binnekant.

So staan ek ook en wonder hoeveel mense ek dalk raakloop wat aan die binnekant vol draadwerk is waar seergemaakte plekke reggedokter moes word. Ek het draadwerk in my, plekke waar growwe mense duike ingeskop het. En ek sukkel soms om dit agter ‘n mooi uiterste te bêre.

Ek dink wat ek eintlik wil skryf, is dat mens jou so maklik deur uiterlike skoonheid kan laat mislei. Dat mens kan glo dat iemand heel is as sy uiterlike mooi is. Sonder om te besef dat die persoon deur ‘n louterproses kon gegaan het. Om so mooi te straal. Anders as in die geval van die boompie, kan die draadwerk maklik uitrafel, daarom moet mens sag met hulle werk. Met my ook.

Hooffoto: Ek het in Kazakhstan gedink dat ek goed met plante geraak het omdat my plante so mooi grootgeword het. En toe is dit ‘n lekker verrassing om vandag te onthou dat ek hierdie kersboompie van ons jare gelede reg gedokter het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “As ek boomdokter speel

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.