‘n Oggend saam met manlief op ‘n gholfbaan in Almaty

In Ust-Kamenogorsk kon manlief nie gaan gholf speel nie. Daar was nie gholfbane nie. Of ek jok, daar was een. By die Nurtau ski-oord naby Ust-Kamenogorsk. Nie juis ‘n plek waar ek ‘n gholfbaan sou bou nie. Die sneeu bedek die aarde daar vir ses maande en dalk selfs langer met ‘n laag van so meter of meer dik. Kan meer wees, ek praat onder korreksie. Maar nie minder nie. Hoe moet die fynbesnaarde gras van setperke sulke uiterste koues oorleef?

Maar, laat ek sommer ook nou skryf dat dit moontlik is. Want die sneeu hou die grond klam. Anders as in droogte geteisterde gebiede is die grond dadelik sopnat as die sneeu begin smelt. Dalk is dit moontlik? Ek sou dit nie aanbeveel nie. Want, gholfbane is duur om te onderhou. En as mens net ses maande lank kan speel, sien ek nie die nut van ‘n gholfbaan nie.

Ag tog, laat ek daar ook sommer regmaak. Natuurlik sou ‘n ski-oord ‘n nut vir ‘n baan kon vind. Ses maande lank ski die mense en as die sneeu gesmelt het, kom die ander aan om gholf te speel. Op ‘n pragtige stuk aarde wat dadelik groen is. Ons was al in die somer en die winter daar.

Ewenwel, die gholfbaan by Nurtau bestaan net op papier. En in advertensies. Dit is nie meer met ons nie. Was nie in die jaar wat ons daar gebly het nie.

En toe ontdek ons dat Almaty ‘n gholfbaan het. Maar gesluit is weens die liewe inperkings wat my lewe die afgelope twee maande beheer. Ons kan nie speel nie. Die beperking is op 17 Augustus opgehef, van my verjaarsdag af kon mens wel gholf speel.

En ek weet dit is hoe ek my man van spanning kan laat vergeet.

As hy vir ‘n oggend lank op ‘n wit balletjie moet fokus om dit nie te verloor nie. Al moet ek saamgaan …

So soek ons op die internet. Daar is twee bane, een naby die president se park en een met die naam van Nurtau. Natuurlik neem ons aan dit is ‘n fout, Nurtau is nie sowat 12 km van ons huis af nie, dit is ‘n goeie 1 100 km weg, by Ust-Kamenogorsk. Dus kies ons die ander een.

Lekker opgewonde ry ons Saterdagoggend deur die hek van die estate. Vir die eerste keer in Qazaqstan voel dit soos Suid-Afrika. Die gholfbane om Johannesburg, wat deel van estates vorm. Of wag liewer, wat rede vir die inwoners gee om wel daar te koop. Maklik word ons deurgelaat, die hekwag verstaan nie Afrikaans nie, maar hy weet dat die pet wat manlief op het, ‘n gholf pet is.

Opgewonde stap ons in die voorportaal van die gholfklub in. Wat baie aan al die mooi gholfklubs in SA herinner. Die ontvangsdame is professioneel aangetrek, swart kleertjies wat ons al klaar moes laat wonder.

Nee, ons kan nie speel nie, hierdie seisoen word slegs lede toegelaat. Ek verstaan dit glad nie, laat ons nie so maklik afsit nie.

My vriendin en haar man het Saterdag hier gespeel, sy het my laat weet dat dit ‘n mooi baan is. Louwrens. Sy verstaan Engels, maar sy lyk verbaas. Ek het haar onkant gevang.

Ek wys die foto, sy verduidelik dat dit die ander baan is. So tien minute van daar af. Daar mag enige iemand speel. Hierdie baan is nie vir plebs nie. Daarom vra ek vir interessantheidsonthalwe wat die ledegeld behels.

‘n Allemintige 1, 6 miljoen tenges. Ons wil nie die baan koop nie, ons wil een keer speel. Ons sal dan maar na die baan vir plebs gaan. Daar is so twee maande oor voordat dit weer winter is. Dit sou belaglik wees om nou ‘n lid te wil word. Ook nie teen daardie kostes nie.

En hier weet mens nooit hoe koud dit kan word nie. Nee, ek verstaan waarom ons nie kan speel nie. En ek is dankbaar.

Wat sal een oggend kos?

So gaan soek ons die baan, kry dit en besluit om die volgende dag agtuur te gaan speel. Die dame agter die toonbank is soveel anders geklee as die een by die rykmansklub. Bloesie met knope wat net-net toemaak en toehou, styfpassende broekie, deurmekaar hare, laggend en vriendelik.

Ek hou sommer van die plek omdat ek nie so snobisties behandel word nie. Ons sou die volgende dag speel. Laat ek dan van die absoluut wonderlike oggend van gholf in die land van sneeu vertel.

Maandagoggend het ons gaan speel, dit was vakansiedag in Kazakhstan.

Ons het aangekom en parkeerplek gekry waar Dusty nie deur balle getref kan word nie. Toe is ons in, om ‘n ander dame agter die toonbank te kry. Swart hare, ook styf in die kleertjies ingeplak. Baie vriendelik, praat met ons Russies.

Manlief praat Engels en sy verstaan, lag verleë.

Vra verskoning, wys na my en verklaar dat ek haar verwar het. Ek lyk soos van hier. Sien, ek het dit mos al baie keer vertel.

Verkeerskonstabels kyk bo-oor manlief as hy nie Russies verstaan nie. En dan praat hulle kwaai met my! In Russies, ek lyk blykbaar soos die mense hier. Behalwe natuurlik vir my groen oë. Maar dit kyk hulle lyk my doelbewus mis.

Ons het betaal en toe is ons uit met kaartjies in die hand, en sleutels vir die gholfkarretjie. Sal aan die einde oor die pryse vertel.

Ons het geen idee wat om volgende te doen nie.

Toe moet ons die karretjie gaan soek, met ‘n sleutel in die hand. Dit kry ons toe met ‘n caddy se hulp, al het ek vir manlief gewys dat ek dink dat ons verby die plek stap. Hy wou seker maak hy mag vat.

Sy kon ook help om die sak met stokke te kry en te wys waar hy kan staan en oefen. Wel, al wat ek kan skryf, is dat dit indrukwekkend is. Ek was al by baie gholfbane, dit lyk nie so in SA nie. Dit is ‘n vertrek, met pilare waartussen die ouens en vrouens staan wat hulle houe oefen (derde foto bo).

En terloops, mens kan ook sien dat baie van die mans en meisies wat staan en oefen, nie in staat is om ‘n bal ver te slaan nie. Ek het nog nooit so baie balle so naby aan die afslaanpunte gesien nie. Ek dog eers dit is sampioene of iets, al het dit soos balle gelyk!

Toe moet manlief eers sy mikke op die setperk oefen. En uiteindelik kon ons in die ry gaan staan om af te slaan. Daar is nie iets soos begintye nie.

‘n Man in karretjie 12 het na ons gekom en gevra of ons nie sommer by 10 wil begin nie? So, waarom nie? Dus is ons na die laaste 9 gaatjies toe.

Ek dink dit was ‘n strikvraag. Die laaste 18 gaatjies het 5 balle gesteel. Net so. Sonder waarskuwing. Splinternuut. Teen R72 per bal. Nou verstaan ek waarom daar by die oefenperk so baie balle beskikbaar is. En waarom hulle so nuut lyk. Hierdie baan verkoop net Titleist balle, balle wat so duur is dat manlief hulle nie in Suid-Afrika koop nie …

So waar is ek in die prentjie?

Ek speel nie gholf nie, maar ek stap saam om foto’s te neem. En manlief dink dan dat ek ook sy aangestelde tweede oog is. Dit is nou die een wat moet seker maak dat die bal nie verlore raak nie.

Ek is nie ‘n goeie tweede oog as die bal die bome in is nie. Dit kan takke tref en afval soos ‘n nat vadoek. Of dit kan wegspat. Of dit kan genadiglik deur die takke en blare vlieg en heelwat verder te lande kom.

Ek het darem genoeg gehelp om lyn te volg. En om wegloperballe weer te vind. Ek het een van sy balle aan die anderkant van ‘n sementblok gekry wat aan die anderkant van ‘n sementkanaal was. Anders het iemand anders sy splinternuwe bal daar gekry. En ek het een gesien wat aan die kant van ‘n dam geland het. Toe kon ons hom uitkry. Die ander is reguit na die middel van water toe.

Ons het nie gewaag om ‘n caddie te vra nie. Hulle is almal meisies, met wit klere en wit voorskote waarop Caddy staan. Ek wil nie eens raai wat ene kos nie …

As ek nou ‘n geldjie wil maak, sal ek balle maak met ‘n tipe van alarm in. Soos wat my selfoon het as ek vra waar sy is. Dan druk ek ‘n toep op my foon en hy laat die bal ‘n geluidjie maak dat ek hom kan sien. Want, die gras langs die kant van die skoonveld (is dit die regte Afrikaans vir fairway) is ook gesny, maar lank genoeg dat my voet daarin wegraak.

‘n Simpel, peperduur wit balletjie ook.

Ek is ook nie ‘n goeie speurder nie. As ek weer sien, staan ek met my foon in my hand. Om foto’s te neem. Want dit is eintlik waarom ek saamgaan. En vergeet ek skoon om tussen die mooi herfsblare na ‘n bal te soek wat die bome in is.

Foto’s en die idee van vars buitelug trek my om saam te gaan. Plat op die aarde. Nie net vir 30 minute nie, maar sommer vir ‘n hele oggend wat gister in die middag ingeskuif het. Dus kan ek meer foto’s deel as wat ek kan deel van gholf.

My fotograafvriendinne, Scrapy, Anne en Perdebytjie sal seker kommentaar op die gehalte van die foto’s kan lewer. Ek maak op my iPhone XS staat vir so goed as moontlik. Ek sien nie mooi wat ek afneem in die son nie. Dus moet ek maar na die tyd kyk en lag as dit ‘n misoes was.

So tussen die fotonemery jaag ek saam met manlief oor die baan. Geen tyd om te stop vir ‘n foto nie. Soms het ek egter gerebelleer. Gevra of hy sy bal op die kort afstand sal kan volg. En dan het ek foto’s van die bome se bas en die blommetjies geneem. En natuurlik van die majestueuse berge wat elke nou en dan sigbaar is.

Tog stop hy vir hierdie foto: Neem gou! Hierdie mense maak nie tuin sonder prentjies nie. Die naam van die gholfbaan.

Ek kon nie die kleure laat verbygaan op die geel blaar waarop ‘n voëltjie geblerts het nie. Die pragtige beskrywing van elke gat op ‘n marmerbord was ook besonders.

En wilgers. Hemel tog, hoe laat wilgers my nie na Suid-Afrika verlang nie?

Ek kan nie ‘n waterplek laat verbygaan sonder om ‘n foto te probeer neem nie. Die prag van die natuur trek my ook, die speling van lig en donker op die pragtige plante.

Seegogga sal baie van die twee skilderye in die voorportaal van die klubhuis hou. Die “rivier” in Almaty word in ‘n sementkanaal beperk. Om so deur die stad te vloei (tweede foto onder).

So wraggies, hierdie mense wil vir my vertel dat dit ‘n rivier is. Hulle het beslis nog nie Ust se rivier gesien nie.

Kyk net die pragtige uitsig op die berge vanaf die gaatjie. Daar is baie soortgelyke foto’s. Ons het steeds sneeu op die bergspitse. So in die middel van een van die skoonvelde het die blomme gestaan. En ek moes eers gaan afneem. Geen idee watse soort blomme dit is nie, maar die tweede een in die eerste ry laat my vreeslik baie aan kosmos dink. Sy bllartjies ook. Wonder wat is die kans?

Elkeen van die blomme het my hart gesteel. Kan jy glo? Dat hulle die winter kan weerstaan om in die begin van herfs so pragtig in die natuur te staan?

En daar het ek ook so gelukkig gewees om ‘n by op ‘n blom af te neem (groot foto onder).

Aan jou gedink toe ek die by probeer afneem, Perdebytjie.

Die sonskerm was behoorlik duur, maar ruik hemels. Ek is sommer dankbaar oor die aanwins. En dan kan ek nie verby mooi bas stap nie. Ek word getrek deur die kleurespel van die bome. Moet nog uitvind watter soort boom dit is.

Is dit nie tekenmooi nie? Anne? Ek het elke keer aan jou gedink as ek my gunsteling voorwerpe afneem. Blare op die grond, kleure, bas van bome. Eende op die dammetjies.

Ons is egter deur kostes verras. Mens moet jou nie deur gemakliker voorkoms laat mislei nie. Ons was verstom oor wat dit kos om gholf te speel.

‘n Hele 50 000 tenges vir 18 gaatjies. Dit is ongeveer R2 000 omdat 10 000 tenges teen ongeveer R400 wissel.

Toe moes manlief ‘n sak met stokke huur, ‘n handskoen koop, ses balle koop teen R72 per bal. ‘n Gholfkarretjie huur as ek gedink het ons gaan stap. En natuurlik ‘n oefensessie, manlief moet sy oog weer inkry. Of is dit nou die staan? Of slaan? Sonskerm vir my, hy het per ongeluk muskietsmeergoed en nie sonbrand smeergoed gepak nie.

En toe moes ons nog by die halfweghuis stop om iets te eet – nog uitgawes. Dit was besonder duur, maar ook besonder lekker, die ete tydens die halftyd breek.

Die kos was hemels, elke duur sent werd.

Ons het vyf balle verloor, teen R72 per bal is dit ‘n aansienlike verlies. En nog ses balle koop … Op die ou einde het die uitstappie ons 117 000 tenges gekos, wat vandag teen R4 700 wissel. Ons twee het skoon naar gevoel om soveel geld aan ‘n potjie gholf te bestee.

Dit sal dus wel beter wees om by die ander gholfklub as lid aan te sluit. Twee maande se Saterdae en jy het jou ledegeld opgemaak. Op ‘n verskriklike mooi baan. Dalk moet ek tog probeer dat ons daar mag gaan stap. Om foto’s te neem.

Ek dink nie ons gaan weer speel nie. Ek en manlief gaan sowaar nie soveel geld op ‘n oggend op die gholfbaan verspeel nie.

Tog was dit een van die aangenaamste uitstappies wat ons in Almaty onderneem het. Vandag is ek en manlief in ‘n goeie bui.

En daar vergeet ek sowaar om te vertel, soos soveel kere tevore. Het jy die pragtige grasperke van die gholfbaan gesien. Siestog, ek is soos ‘n skoolkind daaroor. Ust het nie grasperke nie …

9 gedagtes oor “‘n Oggend saam met manlief op ‘n gholfbaan in Almaty

  1. Baie mooi en ñ unieke ervaring. Die skryfstyl is so geurig….”wegloperballe”…ek’t al baie van hulle gehad…ñ slegte dag ol die golfbaan is baie beter as ñ goeie dag op kantoor…vir mens se menswees…
    Baie dankie vir die fotos…

    Liked by 3 people

  2. Goeiste, maar dis pragtig daar, Christa! So netjies. Jou fotos is ook baie mooi, elke een van hulle. Jy maak my ook skoon lus om op ń golfbaan rond te stap.😉

    Liked by 3 people

    1. Dankie, Una, gelukkig het Suid-Afrika pragtige bane. Daar is een hemelse een by die dam. As jy van die tonnel se kant af na die 4-rigting gaan wat nou ‘n robot is, dink ekke, draai mens regs en so ent aan aan die regterkant is daar ‘n pragtige baan. Die bokkies loop oor die gras terwyl jy speel. Ek was so bietjie skrikkerig, ons het die dag gestap. Maar oe, dit is ‘n mooi baan. Ek sal bietjie foto’s soek en oor hom ook skryf.

      Liked by 1 person

  3. Ek het nog net 1 keer saamgestap op n gholfveld. Was heerlik want ek hou van stap. Maar die spelery self, het probeer maar daai tegnieke is net 1 te veel

    Like

  4. Jou fotos van die blomme, blare, bome – alles – is vir my baie aantreklik! Ek sou liewer sulke fotos afneem as gholf te speel: dit is goed dat jy so baie mooi goed kon afneem!

    Liked by 1 person

    1. Baie dankie, Anne, ek het baie aan jou gedink as ek spesifieke foto’s neem. Soos bome se bas, herfsblare en so aan. Want dit is die fokus van my foto’s as ek foto’s neem. Mense is nie te lekker om af te neem nie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.