Kazakhstan se 5 in 1 yurts as antwoord op Russiese poppies

Toe ek onlangs my huisie op die denkbeeldige Rebusfontein moes gaan opknap en naam gee, het ek besluit op ‘n yurt. Die ronde tente kenmerkend aan Kazakhstan.

‘n Huisie met geen hoeke nie, en waaruit ek 360 grade na buite kan kyk. Hoe lekker klink dit nie? Reg rondom my huisie.

Wel, toe kry ek sommer ook ‘n aangename verrassing toe ons verlede Vrydagaand by Kok Tobe op is.

Kok Tobe is ‘n vakansieplek op een van die uitlopers van die majestieuse berge agter ons woonstel in Almaty. Soort van ‘n uitkykpunt. En mens kan uiteindelik weer met ‘n kabelkarretjie na bo gaan. Nadat die vakansieplek, of sal ek dit eerder uitsigplek noem, vir maande leeg moes staan weens die inperkings in Kazakhstan.

Ons is na werk op, seker so teen sesuur se kant, want ons moes daarheen stap. Ons stap mos oral heen in hierdie land waarin ons tans woon. Mense het nie motors nie want die publieke vervoer is so goed. Maar, die meeste mense stap oral omdat dit veilig is.

Tuis sal manlief my skeef aankyk as ek vra dat ons na Clearwater winkelsentrum stap. Selfde afstand, maar geen mens by sy volle positiewe sal dit vir die lekker stap nie.

Ek moet byvoeg dat Kazakhstan ingerig is vir die stappery. Langs elke straat is sypaadjies, sommiges het selfs lyne vir fietsers en ander soorte rygoed. Ek sal meer daarvan in ‘n volgende plasing vertel.

Toe ons bo kom, is die stalletjies weer oop. En wat staan op die rakke van een van die stalletjies? ‘n Russiese poppie – die 5 in een soort. Die stelletjie word matryoshki (meervoud, meer as een poppie) genoem, ‘n enkele een van die vyf poppies word ‘n matryoshka genoem. Die soort poppies wat ‘n blogvriendin met ‘n seer hart soek. Woordnoot. En hier staan dit voor my.

Maar, nog iemand het gevra. Dus kort ek twee stelletjies poppies. En sy het net een. Ek koop die poppie in die hoop dat ek nog een sal kan kry.

Ons is nie eintlik lus vir koop nie, maar ons stap by nog ‘n stalletjie in. By die stalletjie kry ek meer as wat ek wou koop. Manlief koop vir ons ‘n muurhorlosie in die vorm van Kazakhstan.

Met sy provinsies en ons twee stede daarop. Öskemen en Almaty. 1000 km van mekaar, die een in die noordooste, die ander een in die suidooste. Ons was nog nie aan die westekant van Kazakhstan nie. Wel in Astana, die huidige hoofstad.

En ‘n tweede poppie.

Ek het ‘n stelletjie. My vriendin Bertie Swanepoel het vir my een in Rusland gekoop. Ek wou een op die lughawe in Moskou koop. Maar as mens daar R100 vir 500 ml water betaal, kan jy net raai wat die poppies daar kos. En daar was baie, maar ek sla nooit soveel vir poppies betaal nie. My stelletjie is rooi, ook 5 in 1, nog veel kleiner as die wat ek vir my blogvriendinne gekoop het. Baie kleiner, ek kry nie sulke kleintjies hier nie.

Toe vertel sy my in handgebare iets wat ek nie geweet het nie.

Kazakhstan het sy eie weergawe van die Russiese poppies. Yurts, of ronde tenthuisies, vyf in een. En dit trek my aandag soos ‘n magneet.

Die yurt was ‘n moet. Dit is in die kleur van Kazakhstan se vlag, vir my die mooiste kleur vlag op aarde.

Dit het die patroon op wat kenmerkend aan Kazakhstan is. Is dit nie uniek nie? Hierdie inmekaar huisies?

En dit gaan my herinner aan hierdie land wanneer ons eendag weer teruggaan huis toe. Dit vervat alles wat my aan Kazakhstan sal herinner.

Veilige land. Rustige land. Maar ook die een waarin nomades in die wintermaande in tenthuise oorleef. Met sneeu wat die helfte van die jaar ‘n meter of dikker lê. So dik dat mens net wit sien wanneer jy in die winter oor Kazakhstan vlieg. Van Almaty in die suidooste, 1000 km ver tot by Öskemen in die noodooste. Selfs na Nur-Sultan, die hoofstad soort van in die middel van Kazakhstan in die noorde.

Ek is nie seker hoe die westelike dele lyk nie, ek hoor dit is droog. Maar dan sien ek foto’s van sneeu, ook daar.

‘n Wit sprokieswêreld wat gevaarlik vir ons Suid-Afrikaners kan wees. As jy nie die gevare van die koue ken nie. Koud, baie koud, -38 grade Celsius is nie mens se speelmaat nie.

Maar dit is mooi. En mens vergeet van die koue sodra die sneeu gesmelt is. Jy geniet die groen om jou, wat amper dadelik is omdat die sneeu mos van water gemaak is. En iewers in jou hart mis jy die wit van die sneeu. Ten spyte van die gevaar.

Hoe verklaar mens dit?

Hierdie foto is in Februarie vanjaar in Us’-Kamenogorsk geneem.

31 gedagtes oor “Kazakhstan se 5 in 1 yurts as antwoord op Russiese poppies

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.