Ons bly nou twee maande in Almaty. En almal wil weet hoe dit is. Ek sê dan maar net dat ek nog nie kan sê nie, ek is te kort in die stad. En ek mis Ust’-Kamenogorsk ala Öskemen nog te veel om ‘n oordeel te kan maak.
Want ek is nie lus vir ‘n geredekawel oor die voordele van Almaty nie. Ja, Almaty is een hele vliegtuig nader aan my huis. Ja, Almaty is ‘n stad, een massiewe een. Die grootste in Qazaqstan. En ja, ons bly in ‘n pragtige woonstel. In vergelyking met ons woonstel in Ust kan die een as ‘n paleis beskou word. En ja, Almaty is pragtig. Ek verkyk my aan die pragtige nuwerwetse geboue, die groot winkelsentrums, alles is soveel nuwer en beter as Ust. Behalwe die lug.
En ek is beslis nie lus om te hoor dat dit onmoontlik is dat ek so swaar kry met die omgewingsfaktore nie. Die lug is verskriklik droog in Almaty. Baie droër as in Ust. En daar het ons al met ‘n lugbevogtiger in die kamer geslaap.
Hier is nie twee massiewe riviere wat deur die stad vloei soos in Ust om vog in die lug vry te laat nie. Die een rivier wat ek al gesien het, se loop is droog. Die spruitjie waar ons was, kan nie genoeg vog in die lug vrylaat nie. Hier is nie ‘n oseaan om Qazaqstan wat vog in die lug kan stoot nie. Die rieviertjie is eintlik ‘n kanaal, wat met sement uitgelê is om erosie te beperk. Hier is een groterige dam iewers in die stad, maar dit help nie veel nie. Die lug is verskriklik droog.
Ek sukkel oms saans te slaap. Word wakker met keel wat so droog is dat glase water nie help om dit vogtig te laat voel nie. My neusgate is so droog dat ek in die stort gaan staan, so met my slaapklere aan want dit is een massiewe stort, om die stoom in te asem tot die seer weg is. My longe sukkel ook, ‘n dowwe seer is soggens tussen my blaaie.
Ons het nou twee lugbevogtiger masjiene in die kamer. En ek het ‘n hidrometer gekoop om die lug se voginhoud te meet. Dat ek vir manlief kan wys die aircon maak die lug nog droër.

Die een staan in die vensterbank, ons het mos ‘n toestoep anderkant die venster. Die ander een op die vloer langs my bed.
Dit is beter om die vensters oop te maak. Die wind waai gesellig en lekker deur ons huis as die vensters oop is.
Maar, dit is ook nie die beste oplossing nie. Het ons die week agtergekom. Vir die eerste keer vandat ons hier bly het die wind nie gewaai nie. Altans nie in die bolug nie. Toe bou die fabrieke en die motors se uitlaatgasse so op as gevolg van die massiewe bergreeks agter ons woonstel dat ons skaars 2 km ver uit ons woonstel kon sien.
Ons het nie gewaag om vensters oop te maak nie. Uiteindelik het manlief se keel ook seer geword. Dat hy verstaan hoe ek voel. Saam met my is hy elke twee ure wakker, om water te drink. Wat jou weer wakker maak van ‘n nood, en dan is jy weer wakker omdat die nood die vog uit die lyf gehaal het. Dit is nie lekker om doodmoeg op te staan omdat jy niks geslaap het nie.
Ek het so twee dae lank siek gevoel. Baie droë keel en neus, so droog dat ek snags wakker word om water te drink. Elke twee ure. En die water help nie om die keel nat te maak nie. Met die gevoel dat my longe ook swaar kry.
Eers het ek met manlief geraas. Hy sit die lugverkoelers bedags aan. En koue lug is droër as warm lug. Hy het gestry. Nou bewys die hidrometer dat die aircons die sitkamer se lug 9% droër maak as die slaapkamer s’n. Ons het een massiewe woonstel.
Maar ek wou eintlik vertel van die medisyne kopery. Die agtergrond was nodig om die nood te verstaan.
***
So is ek en manlief die week na werk in die kar, af na Central Apteek toe. Daar kry ons alles wat ons soek, dit is een massiewe apteek. Mens ry net af in Nazarbajef straat tot in die onderste deel van die dorp. En daar staan hy op een straathoek aan die linkerkant van die pad. Net nadat jy by ‘n pragtige gebou verby gery het.
Ons is daar in. Die keer het ek lysie gemaak. En in Google translate gesit om te vertaal. in Russies. Ek gee vir haar die foon en sy stap met die foon weg en bring my goed een vir een.

Hulle het sowaar Voltaren vir seer spiere, maar pilletjies. Sy wys vir my, ek sê Neto. Ek wys met ‘n draaibeweging oor my bors smeer. En sy knik, gaan haal vir my die room.
‘n Groen boksie met suigtablette. Vir my baie droë keel, wys sy. Dit is nie suikerlekkers nie. Hulle het Halls en Strepsils, beide help nie vir my keel nie. Hierdie tablette is iets soos jellielekkers, gemaak van mos van Antarktika af. En dit werk, my keel voel vogtig, die mos plak seker daar vas. Ewenwel, soos reeds gesê, die nag slaap ek soos baba.
Ek sien Vitamien C bruistablette op die rak agter haar, wys daarna en vra Vitamien C. Sy bring pakkie tablette, ek sê Neto, en die vrou wat langs haar help, wys vir haar ek soek die bruistablette. Vitamien C tablette brand my maag dat ek nie kan asem haal nie. Sy stap weg en kom met twee buise aan. ‘n Witte met suurlemoen op en die oranje lemoensoort. Sy wys na die buisies, ek moet kies.
My eerste gedagte is om die suurlemoen nie te kies nie. Maar ek besluit op een van elk. In die kar, toe ek my bril opsit, sien ek dat dit nie ‘n smaakverskil is nie, maar die hoeveelheid Vitamien C. Die suurlemoen een het meer as 1 200 mg, die lemoen een 850 mg. Manlief het ook gedink dit gaan oor smaakverskil. Ons begin toe sommer met die suurlemoen een, al is ons bruistablette nog nie op nie. Dit is heerlik.
‘n Massiewe boks met ‘n neussproei as ek so na die prentjie kyk. Aqua Maries. Ek weet ek sal moet vertaal om te verstaan. Sy wys ek moet lees om te kyk hoe ek dit moet gebruik. Dit is vir my droë keel, wys sy. Natuurlike produk lees ek later, geemaak van regte seewater. Geen chemikalië in nie. Dit werk, kom ek die nag agter, ek slaap soos baba deur.
En Terraflue. Die beste griepmedisyne ooit. Ek is nooit daarsonder in my huis nie. as ek net effens grieperig voel, word ‘n koppue gemaak. Dit het ‘n baie lekker smaak, lemoenerig.
Natuurlik het ek Mum, die naam van Vicks hier ook per ongeluk vertaal. Na mama. Die eerste een op die lysie het sy dus glad nie verstaan nie. Mama (mamma, maar met lang a’s) gaan ek nie in die apteek kry nie. Maar, dit sit my nie af nie, want MOM is in die rak regby my oë. Ek wys vir haar en sy verstaan. Sy bring ‘n boksie met pilletjies of iets vir my. Ek wys smeer, haar gesig sê sy is so jammer, sy het nie die smeer ene nie. Ek gaan moet soek, in Ust was dit by alle apteke beskikbaar.
Ek stap gelukkig met my vonds die huis binne, 13 000 tenges armer. Dit is nie baie nie, so R500. Vir al die medisyne. Neem eers foto’s van alles dat ek dit op my foon het vir volgende keer.
So word my bors die aand met Mom gesmeer, die bietjie wat nog oor is. My seer voet met Voltaren. My neus met seewatrer gespuit en ‘n suigtablet (as mens dit so kan noem) wat aan my verhemelte vaskleef terwyl ek dit suig.
En ek slaap soos ‘n baba.
***
Dalkies sal ek nou met oorgawe kan vertel dat ek van Almaty hou. Dit is moeilik om van ‘n plek te hou as jy snags nie kan slaap nie. Omdat jou kurkdroë neus en keel jou wakker maak om water te drink.
O ja, verpleegster vriendin Carien (Virgo) het baie goeie raad vir dehidrasie gegee, dit help ook vir ‘n droë keel. Natuurlike produk. Kokosneutmelk. Dit het blykbaar alles in wat rehydrate in het. Sonder die groot hoeveelheid suiker en sout. Dankie, Carien!
En dit werk. Ek drink dit al so twee weke lank as ek in die nag wakker word van ‘n kurkdroë keel. Help baie vinniger as water. Maar, ek het steeds elke twee ure wakker geword. Die medisyne help om my neus en keel langer vogtig te hou.
Hooffoto: Die lug was twee dae lank so besoedel dat ek die berg bykans nie kon sien nie.
Dis darem nie lekker as mens so voel nie, maar gelukkig het jy aanpassings gemaak en klink dit asof jy nou ‘okay’ is? Die mens is ‘n wonderlike ding – altyd gereed om aanpassings te maak, maar as jy eers gewoond is aan ‘n sekere standaard of leefwyse, dan kan dit nogal moeilik wees tot op die punt wat jy dit moet aanvaar en ‘laat gaan’, ‘n Baie goeie vriendin – en eens kollega – het in Novosibirsk gebly vir omtrent 4 jaar. Eers Engeland toe Rusland en nou in Spanje. Haar man werk vir ‘n SA Firma wat takke oral het en so word hulle ook rondgeskuif sodat hy ‘n nuwe tak kan oopmaak. Novosibirsk was pragtig. Sy het voor haar vertrek daarheen eers ‘n paar weke Russiese lesse gehad en agtergekom dat van die klanke baie na-aan ons taal is. Ek beny mense wat so rondtrek en moet aanpas – veral in lande waar Engels nie die voertaal is en jy jou weg moet vind op allerlei maniere. Ons was ‘n paar jaar terug Pole toe vir ‘n troue en ‘n paar dae ekstra gebly en moes ook apteek toe gaan. Gelukkig kon ons sommer met ons vingers wys wat ons wou he. 🙂
LikeLike
Ons kan nie altyd met vingers wys nie, maar dit help baie. Ek het klass geneem, dit help nie baie as mens lees nie. Hulle klanke verander. En dan spreek mens dit verkeerd uit. Lekker irriterend, toe sit dit my so af dat ek nie eens meer probeer nie. Die probleem is ook dat ek tuis werk, min uitgaan en nie met die taal in aanraking kom nie. Ek wou dit baie graag leeer en ek dink ek gaan steeds as ons eers weer tuis is.
LikeLike
Ag jitte, dit is ‘n probleem, maar soos jy se, jy het min nodig om uit te gaan. Ek kan nie onthou watter land dit was – ek wil nie se China nie want ek’s nie seker nie – wat ‘n masjien-tipe device het wat iets vir jou vertaal in Engels – of jou taal. Dis ook ‘n paar jaar terug – nie seker waar ek dit gelees het nie.
LikeLiked by 1 person
Ons maak baie op Google Vertaal staat. En soms kan ek dit selfs na Afrikaans vertaal. Sou so lekker wees om met hulle te kon gesels.
LikeLiked by 1 person