Gepubliseer in Joernaal

Swak diens by Waterworld in Randburg

Ek wil vandag hierdie plasing maak en dit met Waterworld deel. Die tak in Randburg. Die een wat ons boot vir ons moes diens. Die een wat nie weer gebruik sal word nie.

Ons het ons eerste en tweede bote by hulle gekoop. En getroue klante gebly. Die boot elke keer met heelwat moeite van Bothaville af gebring. Om in Randburg gediens te word.

Dit, terwyl ons verby bootplekke in Klerksdorp gery het. En seker ook vele ander plekke wat bote kan diens. Want sien, dit is meer as drie ure se ry met die boot agteraan die bakkie. Stad toe en meer as drie ure terug.

Hierdie keer was egter die laaste keer wat ons die boot weer daar sal laat diens.

Ons het die afspraak gemaak vir 3 Januarie 2020. En manlief en seun het al die pad Bothaville toe gery om die boot te gaan haal en stad toe te bring.

Mooi gevra dat die boot asseblief die 8ste Januarie op die laaste gereed moet wees. Want dit was die laaste dag wat ons die boot kon terugneem.

Hulle het ons al ‘n vorige keer in die steek gelaat.

Daarom het manlief die 7de gebel om seker te maak dat die boot die 8ste gereed sou wees. Hy sou teruggebel word, maar is eers vroeg die oggend van die 8ste gebel.

Die boot was amper klaar, hulle moes nog ‘n enkele verstelling maak. Famous last words van onbetroubare mense.

So is ons al die pad Randburg toe. Gereed en gepak om die boot te haak en terug te neem na ons rivierhuis toe.

Daar gekom is die enjin se kap af, die boot se sitplekke vuil en niemand in sig nie. Alles het soos vuil gemors gelyk. Wat doen hulle op die sitplekke om dit so vuil te kry?

Na ‘n soektog het ons die bestuurder opgespoor. En die man wat die boot diens.

Ons moes net wag, hulle is amper klaar.

Die meter wat die petroltenk moet kalibreer, is bestel en het so pas opgedaag. Dit sou nie lank vat nie, ons moet net wag.

Drie ure later kalibreer die petroltenk steeds nie. Die nuwe part werk nie, maar ons moes steeds die R1 800 daarvoor opdok.

Hierdie mense wat die boot gebou het, kan nie die part reg vervang nie. Meer nog, ons het die boot met die stukkende part nuut gekoop. Hy kon van die begin af nie kalibreer nie, ons het net gedink ons is te dom om die truuk uit te werk.

Toe ons vra hoe dit gedoen word toe ons die boot gekoop het, kon hulle nie verduidelik nie.

Ons moes die handleiding Google en lees. Wat net mooi niks gehelp het nie. Natuurlik omdat die part die vorige keer ook probleme gegee het. Nie reg ingesit is nie.

Manlief was moedeloos, ek rasend van kwaad omdat ek al vier ure in ‘n kar sit en wag.

Hy het toe voorgestel dat ‘n gewone brandstofmeter ingesit word. Die ene moes in die paneelbord ingesny word en kabels moes deurgetrek word.

Dit was heeltemal te laat om plaas toe te ry, reeds twee-uur in die middag en ons is daar weg met die versoek dat die boot die volgende oggend reg moes wees. Die boot moes gewas en getoets word in die dam water. Dit sou nog ure neem.

My hart was in my skoene. Ek sou die drie kleinseuns volgende oggend oppas omdat dit nog skoolvakansie was en dollatjie moes werk. Ek sou nie kon nie.

Ek het gevra of ons eers halfeen plaas toe kan ry, maar dit kon nie. Dollatjie kon ook nie vroeg van die werk af kom sodat ons kan ry nie.

Ek kon nie dat manlief alleen plaas toe ry nie, dus moes ek saam. En dollatjie moes die dag van die huis af werk omdat haar ma haar op die nippertjie in die steek gelaat het. Waterworld se skuld. Ek sal hulle nie daarvoor vergewe nie.

Die boot was die 9de gereed en ons is tienuur se kant Bothaville toe. Dit het die hele tyd gereën, ek verstaan daar het 100 mm reën geval.

Met die gevolg dat ons op die plaas vasgesit het terwyl manlief die boot in die stoor wou sit.

Na twee ure se gespook het dit gesous asof dit nooit weer gaan ophou nie.

Ons het sopnat gereën en moes uiteindelik die bure vra om ons met ‘n trekker te help om die boot te bêre.

So het ons almal sopwaternat gereën. En moes ek en manlief so papsopwaternat die pad terug na Gauteng aanpak. Ek sal meer daaroor in ‘n ander plasing vertel. Weereens Waterworld se skuld! Die vorige dag was perfek vir boot bêre.

So het Waterworld se laat diens veroorsaak dat ons ook nie die aand by seun kon braai en slaap nie.

So het Waterworld veroorsaak dat ons kuiers met ons kleinkinders en kinders ontbeer het. Ons was eers nege-uur die aand terug in die stad. Doodmoeg. En toe moes ons pak om terug te kom. En kon ons nie gaan oorslaap nie.

Dus wil ek mense graag teen Waterworld, Randburg, waarsku.

Ons het vier ure vir die boot gewag en is op die ou einde sonder die boot daar weg. Die diens het ons bykans R10 000 gekos.

Volgende keer sal ons die R10 000 spandeer by ‘n plek wat bote kan diens.

‘n Plek wat nie vir klante jok dat die boot gereed is en hulle dan vier ure vir niks laat wag nie.

‘n Plek wat verstaan wat dit beteken as iemand ‘n datum gee wanneer goed klaar moet wees. Daardie datum is nie vir Waterworld Randburg belangrik nie.

Ek kan baie goed vergewe. Selfs laat met iets klaar wees as mense nie vir my lieg nie.

Weet julle hoe het ons uitgesien na die laaste oppas van die kinders voor ons teruggekom het Qazaqstan toe? En hulle om ‘n oggend saam met ouma en oupa te kuier voor hulle ons vir lank nie weer sien nie?

Weet julle hoe het ons uitgesien om saam met seun en sy vroulief ‘n laaste keer te braai? Voor ons hulle vir maande lank nie weer gaan sien nie?

Waterworld se swak diens sal die keer nie vergewe word nie.

Selfs al is ander bootdiensplekke verder van ons af weg sal ons nie weer ons boot by julle diens nie.

Selfs al is hulle duurder, sal Waterworld ons nie weer sien nie.

My pa se besigheidmotto was:

As jy tevrede is, vertel vir ander. Indien nie, vertel vir my.

Ek vertel julle nou ek is bitter ontevrede met julle diens. Maar ek vertel dit sommer vir ander ook. Want sien, hierdie mense wat julle vir ‘n pop gevat het, is eintlik goed gekonnekteer. In verskeie netwerke verweef. Ons ontevredenheid kan ver genoeg uitsirkel om baie mense van julle swak diens te vertel!

Kan mens dit diens noem as daar geen diens was nie?

Ons is nie eens ‘n tee of koffie aangebied terwyl ons wag nie.

My haarkapster het beter maniere as julle! En daar betaal ek nie R10 000 vir haar diens nie.

Terwyl ons daar was, het werksmense buite gestaan en rook. Ingestap en nie aan die bote om ons s’n gewerk nie. Want julle vat almal wat hulle bote daar diens vir poppe!

Sterkte, ek neem aan julle wat vir daai bote gewag het, was net so ontnugter deur swak diens. Weet net, daar het niks aangegaan nie. Beslis nie tussen 10 en 14:00 die dag van die 8ste Januarie 2020 nie.

As jy van beter plekke weet, laat asseblief naam in die kommentaar. Hierdie kite gaan beslis nie weer vlieg nie.

Ons het al soveel geld by hierdie mense spandeer. Op opblaasspeelgoed, veiligheidsbaadjies en bote. Ons verstaan nou waarom ons vriende nie hierdie plek wil ondersteun nie!

Wie het tyd om daar in son en wind en weer te sit en wag vir ‘n besigheid wat sy klante vir poppe vat?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Swak diens by Waterworld in Randburg

  1. Ai dit is vreeslik!! Ek sal verseker ook goed de vieste in wees!! Die geld en swak diens is erg genoeg maar die kuiers wag julle gemis het is priceless!! Kla hulle aan by hallo Peter…

    Like

  2. So tipies van dienslewering in Suid -Afrika. Daar is geen trots op die besigheid, vakmanskap of diens nie.
    Alle dienste is laat of moet oorgedoen word weens swak gehalte.
    Ek herhaal: geen trots op die besigheid se reputasie nie. Hulle dink die kliënt is verleë. Maar eintlik is hulle net slapgat hierdie sogenaamde besigheidsmense.
    Natuurlik gaan iemand nou weer sê dis nie almal nie. My antwoord is:”Daar is te veel!”
    Baie, baie jammer vir julle Christa!

    Like

  3. Doen dit liewer volgende keer in Klerksdorp dan kan julle ten minste by my kom koffie en tee drink. Ek weet jy lief tee, ek het die gewones en Earl Grey en Chai. 😃

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.