Drie vinnige weke in Suid-Afrika

Nee gits, ek gaan nie soos my blogvriendinne maak nie. So het ek gedink toe ek hulle gegroet lees, groete omdat hulle rukkie weg gaan wees want dit is Desembervakansie. Ek gaan kontak hou en gereeld plasings maak, soos ek die afgelope paar maande gemaak het.

Toe nie!

Pleks dat ek maar by my blogvriendinne geleer het en gegroet het. Toe veroorsaak baie duur data, kuiers en werk dat ek soos ‘n groot speld in die sonnige Suid-Afrika weggeraak het. Het jy my darem gemis?

Ek het jou gemis, elkeen van my vriende wat my plasings lees. Veral diegene wat gereeld saamgesels. Daarom haal ek sommer op die eerste oggend terug in Qazaqstan in.

Begin ek hier groet en saamgesels en vertel van ‘n heerlike vakansie in Suid-Afrika. En toe oorval die slaap my en maak ek eers twee dae later daarmee klaar.

Anders as wat ek verwag het, het ek die kinders min gesien. Mens vergeet mos dat hulle eintlik werkende mense is. En ons het self ‘n groot taak gaan aanpak. Die huis binne gaan uitverf. Sodat dit beter vir verkopers sal lyk.

Seun en sy vroulief het ons op die lughawe gaan haal. En so veroorsaak dat ek gehuil het toe ek hulle sien. Na drie vreemde lughawens is dit heerlik om bekendes in die ontvangslokaal te sien. En ons het saamgekuier voor ons na dollatjie toe is om daar oor te slaap om die volgende dag saam na ons plasie te gaan.

O my genugtig! En het ek vir haar jongste gelag! Hy kom aangehardloop om sy ouma te groet, kyk my so op en af en vra:

Ouma, is jy reg vir kersfees?

Ek dog ek vreet die driejarige knapie op. Ek het so lekker daaroor gelag.

Seun, sy vroulief en haar suster en ma het oor kerstyd drie dae saam met ons by die rivier gekuier. Daarna is hulle stad toe om die babakamer vir die nuwe aankomeling in die Van Staden familie te gaan gereedmaak. Tyd het gevlieg. Oor bietjie meer as twee maande is die nuwe Van Stadentjie hier. En hy gaan sy oupa en pappa se name dra. Oupa is vreeslik opgewonde oor die naam wat dan in die derde geslag oorgedra word.

Oujaarsdag se middag het ons almal saam by dollatjie gebraai. Wat ‘n saligheid om so saam te kuier, gesus in die wete dat ons mekaar se naastes is. Volgende jaar is daar meer kleinkinders om die dag saam met ons te vier. Ons sien vreeslik uit daarna. Die mannetjie sal dan al nege maande oud wees. Kan jy dit oorvertel? Ons gaan darem in April kyk hoe hy lyk, hy moet weet hoe sy ouma en oupa aan pappa se kant lyk.

Manlief en seun het een Sondagoggend gaan gholf speel en die twee is ook saam plaas toe om die boot te gaan haal om gediens te word.

Ek het tuis gebly om ‘n oog oor die verwers te hou. So maak mens mos maar seker dat ‘n werk klaar kom.

Seun het ons ook teruggeneem lughawe toe en daar, soos gewoonlik, eers saam met ons gekuier. Ek koester die kuiers op die lughawe baie. Dit was werkstyd vir almal, vieruur in die middag.

Dollatjie en haar manlief en die drie kleinseuns het ons meer gesien.

Ons het die eerste aand daar oorgeslaap, is die volgende dag saam plaas toe en het tot die 27ste Desember saam op die plaas gekuier.

Die kleinkinders het by ons kom oorslaap. En dit baie vreemd gevind hoe ons huis op die oomblik lyk. Baie leeg, hulle moes op kampbedjies slaap!

Ons het met twee beddens, ‘n yskas, wasmasjien, skottelgoedwasmasjien en kampstoele in die huis ingetrek. Om daar te wees dat die verwers vinnig kan werk.

Die stadsverkeer is net te mal om elke dag in die oggendverkeer vas te sit.

Ons het saam met dollatjie en die kleinkinders gaan uiteet en ook daar gaan kuier voor ons die boot teruggeneem het plaas toe.

Ook maar goed, want Waterworld, wat die boot diens, het ons lelik in die steek gelaat. Daaroor gaan ek in ‘n aparte plasing skryf. Want kwaad is ek beslis. En dit moet hulle weet.

Hulle het ons van ‘n oppas van die kleinkinders die tweede laaste dag beroof. En van ‘n braai saam met seun en sy vroulief voor ons terugkom. Goed wat mens nie maklik vergewe nie.

In die tyd wat ons die kinders gesien het, het my liefdestenk mooi vol geraak. Kan weer maande aangaan tot ek hulle weer vas kan hou om ‘n drukkie te gee. Dit voel so min, maar die saamkuierdae was vol lag en liefde en geluk en bederf.

Ek en manlief was elke aand pootuit na ‘n kuierdag saam met die kinders en kleinkinders. Het nie eens saans ons stories en sepies opgevang terwyl ons in die land was nie.

Op die alleendae het ons Amerikaanse Survivor gekyk, so in die huis wat elke dag al meer na verf geruik het. Nou kan ons dit nie hier verder kyk nie.

Ek sal later grepies deel uit die dae saam met die kinders. Ek wil vandag sommer net oor my ander kinders skryf.

Soos ek beplan het, het ek my drie Miniatuur Schnauzers elke dag gesien. Wat ‘n vreugde en andersheid aan my woewe.

Mens wonder mos maar of jou honde jou gaan onthou. Veral as hulle by seun en sy vroulief bly wat hulle vreeslik baie met aandag bederf.

Die mense wat my drie geken het, gaan verbaas wees. Ek sweer my seun en sy vroulief is dog whisperers.

Want, is daar nie ‘n stelling dat ou honde nie nuwe truuks kan leer nie? Wel, my drie het.

Die drie sit geduldig en wag dat ek hulle kos opskep. Dan wag hulle dat ek roep dat hulle kan eet. En dan eers draf hulle na hulle bakke toe, elkeen by sy eie bak. Hoe oulik is dit nie?

Ek moes altyd raas en dan hardloop almal na elke bak wat ek neersit. Om seker te maak dat die ander nie beter kos gekry het nie. Nou is dit ‘n vreedsame vreetproses.

Die drietjies was so opgewonde om ons weer te sien.

BB het my vinnig gegroet en toe is sy verby my na manlief toe om hom te groet. Sy het speels oor sy hand geknibbel en sulke kermgeluidjies gemaak wat hom natuurlik baie spesiaal laat voel het.

Want BB is mos my eerste kind. Myne!

Shilo en Sobek is agterna om ook vir pa te groet. Daarna was hulle drie my skaduwee. Soos altyd.

Die drie het op die plaas saam met ons in die kamer geslaap. En soos altyd vir manlief wakker gemaak as die nood druk.

Dit is baie lagwekkend, want manlief het nie vir die twee kinders in die nag opgestaan nie.

Hy het my net geskouer en dan moes ek opstaan om kinders te troos. Soms het ek sommer met die baba in die bed geklim na so ‘n opstaansessie. Dan het ons drie lekker verder geslaap.

Die woewe staan egter, anders as kinders, self op. Gaan staan aan sy kant van die bed en dan blafkerm BB dat hulle wil uitgaan. As hy vra of hulle wil uitgaan, antwoord BB met ‘n kort blaf.

Dan is hy so opgewonde omdat BB antwoord dat hy gewillig opstaan om hulle uit te vat.

Op die plaas word hulle die tweede keer in die huis ingebring. Daar kan mens nie waag om jou hondekinders buite te los nie.

In die dorpshuis kom hy die tweede keer sonder hulle terug. Dat hulle buite kan speel terwyl ons verder slaap. Gesus in die wete dat die hondekinders veilig is. Nie dat hulle speel nie. Hulle wag by die deur dat ek vir hulle gaan oopmaak.

Bedags het ek dit geniet om gereeld op te staan om iets anders te doen. Net om te kyk hoe hulle my volg. Hulle het my nie toegelaat om te wees waar hulle my nie kan sien nie. Wat natuurlik daartoe bygedra het dat ek met hulle wegkruipertjie speel.

‘n Lekker wegkruipplek is agter gordyne. Onthou, die huis is leeg, daar is nie veel ander wegkruipplek nie.

Dan kom hulle in die vertrek ingehol, soek oral, behalwe agter die gordyne. En as een my ontdek, staan almal en wag dat ek loop voor hulle beweeg.

As ek kos maak, lê hulle onder die tafels en stoele en slaap. Dink ekke. Want hulle ogies is toe, maar hulle is bewus van elke beweging wat ek maak. As ek uit die vertrek gaan, is drie Schnauzertjies op my hakke. My liefste diertjies.

En Miniatuur Schnauzers het mos die manier om voor mens te gaan staan. Of om te bly staan as hulle agter jou aanloop en jy halt roep. As jy dan skielik omdraai om terug te gaan, is hulle onder jou voete. Kan jy selfs oor hulle struikel. Dit is mos maar hoe hulle is. By jou.

Ek is besonder lief vir hierdie honderas. Veral seker omdat hulle mens se beste maats is. Hulle het die mooiste hare, naby aan dié van ‘n mens, maar verloor nie hare nie. My klere en meubels bly dus skoon.

As ek op my quad is, draf hulle agterna. Hulle wag in die koelte onder die bome as ek in die rigting van die hek ry. Omdat hulle weet dat ek gewoonlik daar omdraai en terugkom. Soms terg ek hulle, dan ry ek by die hek uit. Net om te kyk hoe drie Schnauzertjies vinnig aangehardloop kom. Omdat ek uit hulle gesigsveld verdwyn het.

Ek weet dit is stout van my, maar ek voel so geliefd as hulle my dan kom soek. En hulle geniet dit ook om saam met my te ry. Sien foto.

Ek skat dit is wat ek die meeste hier in Qazaqstan mis. My hondekinders wat so lief vir my is. Mens is gewoond daaraan om die kinders minder gereeld te sien, want hulle werk en is besig met hulle eie lewens. Die tye wat mens saam kan wees, is dus besonder kosbaar.

My honde is egter deel van my daaglikse lewe. My skaduwees. Daarom was dit so lekker om te sien dat hulle my nie vergeet het nie. Dat hulle steeds langs my bed slaap. Dat ek moet oppas om hulle nie raak te trap as ek deurmekaar in die nag opstaan nie. Iewers in my onderbewuste is ek bewus van hulle. En kan ek opstaan sonder om op hulle drietjies te trap.

Ek is so dankbaar dat seun en sy vroulief aangebied het om na hulle om te sien terwyl ons hier is. As hulle nie kon nie, was die drie nou hier by my.

Maar glo my, dit sou nag gewees het om saans vir hulle op te staan om hulle uit te vat. Dit is ysig in die nag, tot -45 grade Celsius.

Ek het die idee ek sou hulle op weggooidoeke gesit het.

BB was op weggooidoeke toe sy op hitte was. Lank gelede. Sy is reggemaak nadat Shilo en sy werpselmaatjies gebore is. Dit was al manier waarop ek die ander woewe by haar kon toelaat. Sodat hulle kon ophou kerm. Terwyl hulle geen nhond haaraf kon maak nie!

Drie weke voel so lank in Qazaqstan.

In Suid-Afrika het dit omgevlieg. Drie weke se sonskyn op my vingers het hulle goed laat genees. Al het die son nie noodwendig elke dag geskyn nie. Daar was egter genoeg sonskyn dat ons twee saans teen elf in die swembad gespring het om af te koel. In ‘n lou swembad.

Terwyl ons die kamer gespuit het om muskiete weg te hou.

Dit is een ding wat ek nie in Qazaqstan mis nie. Muskiete. Hulle geniet dit mos om my op die oog te steek. Dan lyk dit of ek geslaan is, sulke toegswelde oë. Wat ‘n verleentheid!

Hier is muskiete nie ‘n probleem in die stad nie.

O ja, my lisensie is ook in die drie weke hernu. Daaroor gaan ek beslis ook ietsie skrywe wanneer ek die tyd daarvoor kry. Interessante proses.

Snaaks hoe veilig mens in Suid-Afrika voel. As jy nie nuus lees nie. Terug in Qazaqstan besef ek eers weer hoe gevaarlik die land geword het terwyl ek nuus op Netwerk24 lees. En ek bid: Here, help asseblief.

Foto: BB liefie haar mensmamma. Die dorings in die baard is probleem wanneer ons by rivier is want hulle haat die uithaalproses.

25 gedagtes oor “Drie vinnige weke in Suid-Afrika

  1. Welkom terug, Sonvanger op Ys! Ek het gewonder waar jy was toe dit stil raak.

    Weet jy, die rassistiese galbrakers kerm en kla heeldag oor SA. Ja, slegte goed gebeur.

    Ek is beroof, at gunpoint.

    Ek is beroof, terwyl 19 polisiemanne binne gemaklike hoorafstand my hulpkrete geïgnoreer het. Pretoria is ‘n ander plek.

    Daar is baie op my geskiet, van bosbokjagtery by Blombos tot maneuvers langs die Letaba. Nog elke keer was die skieters my eie mense, jagvriende of kamerade. As jy ‘n ruie bos nodig kry soos in nood-ig, koes maar vir haelgeweerskote.

    Twee keer raakgeskiet, nie te ver van daai klein kamertjie af waar my kinders vandaan kom nie. En reg langs ‘n slagaar, ver van dokters en hospitale af nie. Nee, dit was nie ‘n gewapende rower nie maar ‘n bloedneef wat ‘n ongedissiplineerde skut en teksboek-boelie was. Daai soort wie se slagoffers altyd kleiner en jonger as hy is en wie se grappe altyd ten koste van ander is. Ek wys graag die letsels maar nie vir meisies nie.

    Ek is uit my aftreegeld, eiendom, motor, meubels en myself verneuk oor ek na ‘n plek toe gegaan het waar ordentlike mense liewer moet wegbly. Die kerk, natuurlik.

    Ons buurvrou is twintig treë agter ons doodgesteek in ‘n idilliese kusdorpie genaamd Amuzingberg. Vermy. Toe trek ons en woon ten duurste, sonder werk of aftreegeld, in ‘n lekker woonbuurt waar almal welkom is, ons vryelik buite kan wees selfs tydens SA se beurtnagte, ens. Mense swem na donker in die Milton getypoel. Sondae salsa hulle by die Pavillion en almal is daar. Doodnugter en sommer net loslit. Langsaan blaas ‘n walvis sy ses meter hoë V so in die verbyswem.

    Snags twee- of vieruur loop bure en besoekers huis toe, leeggesing by die karaoke en vol getap by die krane daar. En sing nog twee, drie vals note.

    Blonde meisie met kort rokkie stap uit Langstraat tot in Clifton. Dis ‘n hele paar km. Sy kom veilig tuis, net die voetjies kort room.

    Die enigste ding wat ons oues pla is “tienertefies geklee in tergtoutjies” wat met strandgewaad die winkels invaar en halfnaak mens laat aardig voel. Op ‘n suidsee-eiland sou die Polisie hulle eers beboet en dan gedwing het om iets aan te trek.

    Ons is vry om te kom en gaan, dis regtig kosmopolitaans en jy kry dertien of dertig tale in een straatblok.

    Sondae is ons strate geblokkeer soos wat besoekers eers instroom en dan weer die uittog tot halfelf die aand. Armes agterop geroeste bakkies, rykes in reuse groot oop Bentley’s.

    Ons leef soos in die outyd. In Suid-Afrika. Op ons promenade. My neef kom kuier nie en niemand skiet op my nie.

    Like

        1. Dit doen Pete. En dan voel ek so sleg as ek kla oor my vingers wat my eie onnoselheid was. Wou mos my ore aan mevrou strydom (stry maar bly dom) uitleen. Tog was dit my eie skuld. Jy is deur mense ingeloop en beseer en bly steeds blymoedig.

          Like

  2. Awh Christa!! Eendag as jy weer kom moet die hele spul groenbus dames jou gaan halo sê. Kan net dink hoe verlang jy terug maar ook dankbaar jou liefdes tenk is weer vol. Dis baie belangrik

    Like

  3. Daar is ‘n paar van ons wat nou vir nuwe kleinkinders wag. Hierdie kant is dit ook ‘n seuntjie. Einde Maart is die datum. Bly jy het jou tyd in sonnige Suid Afrika geniet.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.