Tradisioneel? Ekke?

Webjoernaalvriendin Una skryf gister oor tradisies wat oorgedra is. Sy weet van vyf wat by haar oorgedra is van geslag tot geslag. En sy meen sy pluk.

Una, ek gaan jou voorbeeld volg en kyk of ek by tien kan uitkom.

Maar ek moet waarsku, ek is tradisioneel, maar oop vir veranderinge. As iets nie werk vir my of my nageslag nie, gly dit al is dit tradisie. Iets soos behou die goeie …

So laat ek kyk …

***

Fourie-Van Staden-tradisies.

Ek het nie een van my oumas geken nie. Dus is deurtrek na hulle moeilik.

Aan my ma se kant is haar ma en die ouma wie se naam ek dra met haar geboorte oorlede. My ma het dus nie haar ma geken nie. Sy het tot sy agt was by ‘n tannie gebly, maar is daarna aangeneem. Haar pa het haar ouer boetie grootgemaak. Sy het nie goeie herinneringe aan daardie jare nie en ek weet nie of daar goed is wat sy by haar aanneemma geleer het nie.

Aan my pa se kant het ek ook nie oumas geken nie. Oupa het ‘n tweede vrou gehad, ek dink ek ken net haar. Weet net sy was baie kwaai. En het nie veel aandag aan die soveelste kleinkinders gegee nie. Sy was al oud toe ek klein was.

Ek onthou kuiers op die plaas en tafels wat kreun van kos wat die susters en skoonsusters gemaak het. Ons was een massiewe familie wat Sondae op die plaas gekuier het. My pa-hulle was 11 kinders en almal het twee of meer kinders gehad.

Ons kinders was altyd buite, nooit in die geselskap nie. Ek weet wel dat ons boerekos geëet het. Ek kan nie slaaie onthou nie. Miskien wil wortels onthou word? Dalk beet? Daar was altyd poeding.

Aan manlief se kant het ek sy ouma leer ken. Beatrice. Sy ma het ek goed geken. Het baie daar gekuier. Skoonma het in groot borde kos geglo.

Myne opgeskep en ek moes eet. Daarna kon ek net slaap. Soos krokodil of luislang wat alles moet staak dat maagsappe kan werk.

Tot ek manlief gevra het om haar in te lig dat ek self kan skep. Daarna is ek met voëltjie gespot. Pik net aan haar kos.

So, laat ek dink watter tradisies ek aangeleer en oorgedra het. Hier volg my poging, maar ek vermoed ek gaan nie by tien uitkom nie. Wat oordra van tradisies betref.

1. Christenskap

Oorgedra van ons voorvaders. Beide die Van Stadens en Fouries was Hervormers. Ek wonder nou of dit tradisie is? Geloof. Ek gaan dit egter wel as een reken. Oorgedra van oumas en oupas, deur ons, na ons kinders en kleinkinders toe.

Hierdie Van Staden-Fourie tradisie is oorgedra van voorgeslag tot nageslag. Ons is Christene, glo soos tradisioneel oorgedra. God, Jesus en die Heilige Gees.

Dollatjie is Mosaïek toe en seun is uit NG Kerk getroud. Ons kerke verskil dus.

2. Bid voor ons eet.

Oorgedra uit Van Stadens en Fouries se voorgeslagte. Ek ken nie bid na ons geëet het nie, wel voor ons eet. Hierdie tradisie kom van grootouers af en is na kinders en kleinkinders oorgedra. Die mans doen die tafelgebed en elkeen het sy eie gebed wat altyd gebid word. Ek onthou hierdie een uit my kinderdae.

Segen Vader, laat ons eten. Laat ons nimmer U vergeten. Amen.

Wie het dit gebid? Moes Oupa Fourie gewees het. My man bid anders. My seun en skoonseun ook.

Hierdie Van Staden-Fourie tradisie is oorgedra van voorgeslag na nageslag.

3. MieliePapeters

Oorgedra van beide Van Stadens en Fouries se voorgeslagte. Papmakende vrouens. Ek weet nie of my ouma pap gemaak het nie, daar was geen braaivleis nie. Maar sy moes, my pa eet pap met melk.

Pap saam met braaivleis is van ons na ons kinders oorgedra. My ma het pap en melk vir ontbyt gemaak. Manlief hou daarvan, my kinders is met bokspap grootgemaak.

Ek vermoed dit kan dalk uitsterf. Dollatjie en haar gesin is vleis en slaai en hoender mense, maak net pap as ons gaan kuier.

Volgens Dollatjie vul dit nie honger seuns se magies nie. Manlief verskil ernstig van haar.

Maar sy sal weet, sy ken hangry kinders. Dit is nou kinders wat angry van die hungry is. Sy weet wat magies vol hou en wat nie.

Aan seun se kant is daar pap op die tafel, maar ek vermoed ook net as ons daar is. Sal so skempies moet uitvind.

Ek vermoed hierdie Van Staden-Fourie tradisie kan uitsterf. Altwee dogters vra dat ek pap maak as ons daar braai. Maak hulle as ons nie daar is nie?

4. Braaivleis

Oorgedra van die Van Stadens.

Aan die Fourie kant het Oupa en Ouma nie gebraai nie. My pa en ma ook nie.

Vreemd nê? Dat my pa wat op ‘n plaas grootgeword het, nie met braaivleis grootgeword het nie. Dat ek, die dogter van ‘n boer en slagter, nie in ‘n braaivleis huis grootgeword het nie.

Dalk nie? My ma het kos gemaak. My pa nie. My ouma het kos gemaak, oupa nie. Skoonma het mans wel by kosmaak betrek. Manlief het die braaiwerk gedoen as ons daar gekuier het.

Braaivleis word egter sterk van ons kant af as tradisie gevestig.

Seun en sy vroulief braai gereeld. Daar is kleinseun op pad. Dus sal braai nie somner daar uitsterf nie.

Dollatjie en haar gesin braai ook. Sy betrek haar manlief ook by kosmaak. Ek kan nie dink dat dié tradisie met drie kleinseuns daar gaan uitsterf nie. Veral nie omdat hulle ook Voortrekkers is nie.

‘n Van Staden-tradisie wat gaan voortleef. Die seuns vat klaar by manlief oor as ons saam braai.

So wat het ons dan as vleis geëet?

5. Vleistradisies wat hou en gly

Ek onthou heelvleis, wat ek nie sommer kook en in die oond braai nie, my kinders ook nie. Sou nou handig te pas kom. Die Qazaqs kook alles. Die een het uitgesterf.

Ek onthou hoender, wat ons almal eet. In die pot of in die oond. Die een is oorgedra.

Ek onthou afval en kerrie-brawn. Ook op ouma se tafel. Ek was as kind gek daaroor. My ma ken van en maak steeds. Biologie het my daarvan afgesit. Ek het die tradisie nie na my kinders oorgedra nie. Manlief het nie daarmee grootgeword nie. Dié Fourie-tradisie het gevou.

6. Naaldwerksters

Oorgedra van Fouries. My ma is ‘n naalswerkster van formaat. Het ook gebrei. Met vyf dogters was dit waarskynlik ‘n noodsaaklike vaardigheid.

Ek het by haar geleer. Vir my dogter en skoondogter elkeen ‘n masjien gekoop. En sleg gefaal met die oordra van die liefde of vaardigheid.

Vir elke dogter een gekoop, wat staan en stof vergaar. Ongebruik. Die tradisie gaan uitsterf. Daar is net seunskind kleinkinders. Dalk kan ek nog hulle vrouens leer?

Neem ek hulle kwalik? Nee. Hulle werk voltyds, wanneer moet hulle naaldwerk doen? As juffrou was dit my vakansie ontspanning. Is dit steeds my ontspanning.

7. Rugby op TV

‘n Manliefliefde wat by ons twee gaan uitsterf. Ons was net dogters, geen rugby tot ek manlief leer ken het nie. My pa het so bietjie begin belang stel, maar net om ons twee te koggel as Noord-Transvaal toe en die Bulls nou verloor.

Seun kyk nie rugby op TV nie, daar is ‘n wye verskeidenheid goed wat sy aandag trek. Skoonseun ook nie. Sy TV word met drie kleinseuns gedeel. En hulle wen gereeld.

Alhoewel beide groot wedstryde sal kyk, gaan hulle nie soos manlief word nie. Hy maak sy foon tot teen ‘n glas staande as ‘n uiteet met ‘n wedstryd se uitsaaityd inmeng.

‘n Van Staden-tradisie wat klaar gegly het.

Rugbykyk gaan nie in ons gesin met braaivleis saam soos toe die kinders klein was nie. Hier trek gholf ook manlief se aandag af. En krieket. En atletiek.

8. Slaai op die bord

Slaai by alle kos is aan die Van Stadens en Fouries se kant van voorouers oorgedra.

Met gesondheidsbewuste kinders is hierdie tradisie gevestig, maar die soorte slaaie bly of gly.

Aartappelslaai, soos my ma en ma Van Staden gemaak het, kan by seun voortgedra word. Skoondogter is lief vir goeie mayonaise. By dogter het dit klaar uitgesterf.

Groen slaai soos my ma en ma Van Staden gemaak het, word voortgedra. Altyd op die tafel. Kan nie dink dat hierdie Van Staden-Fourie tradisie sal uitsterf nie.

Die twee dogters maak skougehalte slaaie. Neem by my oor, myne lyk vaal teen hulle s’n.

9. Drawwers

Oorgedra van my ma se kant. Manlief het ook gedraf op sy dag. Skoondogter se ma was ‘n Springbok spiesgooier, dus was draf daar ook van haar ma se kant oorgedra.

My ma het my as kind probeer kry om saam met haar te draf. My sus het haar gevolg, ek was vol verskonings.

Het mos die seker 10 km skool toe met ‘n dikwiel skool getrap. En terug. In die ongenadige Hoëveldse hitte. In ysige winters.

Wat teer- en grondpaaie ingesluit het. Ons plot was aan Camden se kant van Ermelo. Die skool aan Bethal se kant. Na op- en afdraendes was ek nie lus vir grondpad en stof nie!

Manlief het gedraf. Sy ouers nie. Aan my kant het die geen geskip, maar pa se geen is oorgedra. Draf het behoorlik tradisie geword.

Dollatjie het dit soos ek op skool vermy. Tot in haar dertigs. Nou hol sy 30 km en meer in berge. Uit nood gebore. Haar manier om stilte te kry. Met drie seuntjies is dit haar sailigheid. Haar man doen selfs 100 km. Ek dink die tradisie gaan aan die seuns oorgedra word.

Seun het, soos ek, draf gehaat. Toe trou hy in ‘n drawwende gesin in. Hulle Parkrun elke Saterdag, gaan vir die kompetisies ook. Het elk al 100 gedoen. Gaan ook vir die toeris ene. En vir die verskillende letters waarmee Parkrun se naam begin.

Ek en manlief het ook so bietjie geParkrun. Ek om iets saam met die kinders te doen. Haat dit, maar lekker om saam te doen.

Aan beide kante dink ek gaan die drawwende Van Staden-Fourie tradisie voortleef. Met seuns wat in voetspore kan volg.

10. Kersfees

‘n Van Staden-Fourie tradisie wat van ons voorgeslagte aan ons nageslagte oorgedra word.

Ek lees onlangs webjoernaal inskrywings oor kersfees. En hoe dit gevier of nie gevier behoort te word nie. Ons vier kersfees tradisioneel.

Met tafels wat kreun van kos, met geskenkies, met kersboom en versierings, met kersvader.

Met die wete dat dit die dag is waarop Christene die koms van die Verlosser vier. Of dit nou die regte datum is, pla ons nie. Die dag is op almal se dagboeke oop. Behalwe in Qazaqstan!

Die tradisie is so van die Fourie en Van Staden en Van Schalkwyk (skoondogter) voorgeslagte oorgedra. Nie van die Louws (skoonseun) se kant af nie, maar dit het nou ook daar posgevat.

Ek weet die dag word gekommersialiseer.

Maar ons almal koop ‘n boom en versierings, stof dit elke kersgety af en slaan dit na die tyd weer op. Dus eenmalige uitgawe.

Ek weet mense kritiseer dat dit oor geskenke gaan. Is dit dan nie lekker om ‘n geskenk te kry nie? Daar is selfs mense wat die spot dryf met die geskenke wat hulle kry. Maar wat koop mens vir ‘n man of vrou wat jy nie ken nie?

Kouse. En mens kry sulke mooies. Vir mans en vrouens.

Toe ek klein was, het mens die mooiste sakdoekgeskenkpakkies vir meisies gekry. Toe neem sneesdoekies oor. Ek mis dit steeds. Die fyn, kantagtige geborduurde lappies vroulikheid.

Ons trek die afgelope paar jaar spoke. Dan kies ons ‘n bedrag en jy koop vir die een wat jy getrek het ‘n geskenkie. Nogal oulik. En ons geniet dit vreeslik baie.

Die afgelope twee of drie jaar trek ‘n webwerf ons name. Dan kry jy e-pos met boodskap wie jou spook is. En die persoon kan ook ‘n wenslysie maak.

My arne spook het nag. Want die webwerf het ook ‘n geskenke wat mens kan koop. Ek het seker 10 voorbeelde van wolkouse gegee. Al wat my voete hier warm kan maak.

Hierdie Van Staden-Fourie tradisie sal nie maklik uitsterf nie. Daarvoor geniet ons almal die familiesaamwees te veel.

11. Afrikaans

Ons almal is Afrikaans grootgemaak. Praat Afrikaans in die huis. Ons almal het die liefde vir die taal op moederskoot aangeleer.

Dit is oorgedra van ver voor ouma en oupa aan die Van Staden en Fourie en Louw en Van Schalkwykkante. En word so aan ons kinders en kleinkinders oorgedra.

Ek het grootgeword met spesiale woorde wat my gesin geken het. Soos govermentspetrol.

Ken jy dit? My pa het die kar op ‘n afdraende uit rat gehaal, laat vryloop sonder om die pedaal te trap. Dan het die vuisvoos belastingbetaler lekker gekry. Dié kar het sonder brandstof geloop!

12. Voortrekkers

Voortrekkers is in die Fourie-bloed en nou oorgedra in die Van Stadenbloedlyn.

Hierdie tradisie is by my pa en ma begin. Ons was Voortrekkers. Hulle offisiere en heemraadslede. Die Voortrekkers was by die Handelskool, wat nou as Ligbron bekend staan.

In matriek was ek offisier. Groot kommando, in matriek het ons die fakkel van Ermelo na Bethal gedra. Mens, kan jy glo? Christa het sowaar gestap!

Dollatjie was op skool Voortrekker, as sy saam met maats wou gaan kamp, is dit al hoe ek sou toelaat. Toe word sy ernstige Voortrekker. Doringkloof naby Kroonstad was ‘n wenner. En nou is my kleinseun ‘n Voortrekker. En boeties gaan volg.

Met ‘n mamma as offisier gaan dit nie ander kan nie. Buitendien, dit kom van oumagrootjie en oupagrootjie, deur ouma en mamma. Tradisie wat vasbyt!

Welkom Gimnasium se Voortrekkers was ‘n wenner. Toe dollatjie klaar met skool is, het seun graad agt begin.

Ek was aanvanklik as ma betrokke, maar seun het daarop aangedring dat ek in graad sewe as hulle offisier oorneem. Ek wou nie, het pas by Gimnasium begin en was toegegooi onder werk. Toe bied ek aan, maar net as ek sy span kan oorneem.

Die res is geskiedemis. Ek het hulle die hele tyd as span gehad.

Ons was die grootste span, het teen graad 11 28 lede gehad, wat uitgedun het omdat van die leerders nie gekwalifiseer het om Hoofleierswag en Presidentsverkenners te word nie.

Ons het naweke langs die Vaal gekuier, kentekens gedoen. Ek was nooit saam Doringkloof toe nie omdat ek reeds een week van die vakansie op hokkietoer was.

My span het daardie jaar die meeste Hoofleierswagte en Presidentsverkenners in die land opgelewer.

My trots. My seun het beide geword. Hoe spesiaal is dit? Ek was op geen manier by assessering betrokke nie.

13. Gesinsmense

Hoe kon ek die een vir laaste los? ‘n Fourie-tradisie, die Van Stadens was minder gesinsvas. Kinders is vroeg koshuis toe.

My oupa en ouma Fourie was gesinsmense, ons het elke Sondag op die plaas gaan eet. Almal. Daar was elf kinders, dus baie kleinkinders. Tot ouma Anna se dood was Sondae ononderhandelbaar. Ons was by oupa en ouma.

Waar ons was, daar was ons kinders. Ons lus en vreugde. Dit was altyd lekker om hulle by ons te hê. Vir hulle dalk minder as vir ons.

My eie kinders is eers op universiteit koshuis toe, seun het na ses maande teruggekom en vanuit die huis studeer. By ons gebly tot hy so op 27 rond getroud is. Hemels!

Nie ons slaaf of ons syne nie, ‘n wedersydse baat by mekaar se saamwees. Hoeveel ouers kan sê dat dit vir hulle lekker was om volwasse kind in huis te hê?

Dollatjie is so oor haar kinders. Waar sy is, is hulle. Haar lus en vreugde. Meeste van die tyd. Drie seuns is blykbaar ‘n wilde taak.

Seun gaan ook so wees, sy hond en kat gaan waar hy gaan. Gaan nie ander met sy eie babatjie wees nie.

Ons is ‘n geseënde gesin en familie, saamwees is baie lekkerder as alleenwees.

14. Familiename

‘n Fourie-Van Staden tradisie wat bly … en gly. Bly as pa se naam oorgedra word, gly wat ander familiename betref.

Aan ons beide se voorsate se kante het kinders familiename gekry. Ek het ouma aan ma se kant se naam, manlief oom aan sy pa se kant se naam. Sy ouboet het sy pa se naam gekry.

Die storie loop dat die Steyn in sy naam afkomstig is van President Steyn wat ‘n voorsaat was. Ek kon nie die feite bevestig nie, ook nie bestry nie want hy het kinders waarvan name en stambome ontbreek. Is dus moontlik.

Ek wou nie familiename aan my kinders oordra nie. Het swaar gedra aan Christina Johanna, alias Christa. Nou lief ek my name!

My ma het reeds haar derde dogter na haar vernoem. Ons het ook beplan om een seun en een dogter te hê, dus het ons besluit om self name te kies.

Vir dollatjie het ons die twee oupas se name gekombineer vir haar eerste naam. Anja. En die twee oumas s’n vir haar tweede naam. Marinel. Mooi name, gekoppel aan oumas en oupas, wat nie een dink dat hulle vernoem is nie. Inteendeel.

Hier in Qazaqstan het sy ‘n egte Russiese naam, geskryf as Аня. Uitgespreek as Anja. Troetelnaam vir alle Anna’s. Hoe weird is dit? Want my ouma aan pa se kant was Anna!

Seun het sy pa se name en hy dra dit volgende jaar aan sy eersgeborene oor. Ook drie geslagte.

Dollatjie het vir oudste seun familiename gegee, sy pa en oupa se name. Dus ook drie geslagte, oupa, pa, seun. Vir die res nie, maar manlief se tweede nasm is ook tweede seun se tweede naam. Soos ons gemaak en oudste seun na sy pa vernoem.

Wonder of sy seun se seun en dollatjie se oudste se seun die tradisie gaan volg? Tyd sal leer.

Ten slotte.

Ek is tradisioneel, sien ek, maar volg tradisies nie slaafs nie. Verwag dit ook nie van my kinders nie.

Daarom is dit ‘n riem onder die hart dat sommige tradisies voortleef, van geslag tot geslag oorgedra.

As die kinders nie pap of klere maak nie, is dit hulle vry reg om te doen wat hulle pas.

Geloof en taal is vir my wel ononderhandelbaar, maar hoe geloof uitgeleef word, is elkeen se besluit.

Om elke Sondag in die kerk te wees, maak jou nie ‘n Christen nie. Die uitleef van die tien gebooie wel. Naasteliefde ook. En vele ander karaktereienskappe.

Afrikaanswees is ingebore, aan moederknie vertroetel, daardie tradisie gaan nie uitsterf nie. So glo ek. Dit is oorgedra van die verste voorgeslagte. En reeds na kleinkinders oorgedra.

Voortrekkers is ‘n wilsbesluit. Daar is net iets aan Voortrekkers wat deur geen buitemuurs oortref kan word nie. Is dit dalk die kamplewe wat ons oerouers aan die lewe gehou het? Die liefde vir die natuur? Kultuur? Tradisies?

10 gedagtes oor “Tradisioneel? Ekke?

      1. Ek wou dit nogal noem. Omdat dit nou my derde verandering van land en gemeenskap is pas mens maar aan by omstandighede. Was met Afrikaner getroud so dit was meer afrikaanse tradisies. Nou sit ek met Engelse dinge wat my soms pla maar tog pas mens maar weer aan.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.