Gepubliseer in Joernaal

Handgeskrewe briewe, uitgestorwe lekkerte

Scrapy vra die week dat ons oor briewe skryf. Die handgeskrewe soort. Wat nie meer geskryf word nie, want ons stuur e-posse en teksboodskappe en vertel ons stories op sosiale netwerk platforms. In my leeftyd het ek egter heelwat ontvang.

En geskryf.

Want ek was verlief en verlore toe daar nog nie iets soos selfone en e-posse was nie …

Ek vertel oor so paar.

Briewe aan (en van) ‘n eensame troepie op die grens

Esmé Euverard het toe ek op skool was ‘n program vir troepies aangebied. En iewers aangekondig dat daar manne op die grens is wat geen briewe kry nie. Wil ons nie so ‘n troepie aanneem nie?

Ek het aan die adres geskryf en gevra dat my brief aan so ‘n persoon gestuur word. En ‘n rukkie later ‘n brief in die pos gekry. Van ‘n Engelse troepie af. Ek gaan sy naam uitlaat.

Engelsman, maar ons het in Afrikaans gekommunikeer. Hierdie troepie was seker twee jaar ouer as ek. Ons het lekker gesels, vertel waar ons bly en hoe dit in ons lewens gaan. En maats geword, niks meer nie. ‘n Mooi, skoon vriendskap. My ouers het daarvan geweet.

Natuurlik! My ma het pos uitgehaal en sy handskrif en die army adres was ooglopend nie van ‘n meisie vriendin nie. Dit het meer as twee jaar aangehou.

Een middag toe ek van die skool af kom, my wange vuurrooi van die bult na ons huis op die plot wat seker so 10 km van die skool af is, het my ma my grootoog ingelig dat ek ‘n gas het.

En ‘n “Ek weet nie wat jou pa daarvan gaan sê nie.” Ek het my bene lam geskrik toe ek in die voorkamer instap en die vreemde troepie daar kry. Hy het my kom verras.

Wel, dit was nie ‘n aangename verrassing nie. En ek het my soos ‘n skaap gedra. Koeldrank aangebied en gevra dat hy gaan. Want my pa is amper tuis. En ek mag nie mansvriende onthaal nie. Hy is daar weg.

Ek het nooit weer van hom gehoor nie. Ek hoop ek onthou reg. Want dit sou lelik van my wees as ek hom daarna net nie weer geantwoord het nie. Laat ek net verduidelik. Ek is oudste van vyf sussies en grootgemaak met die voorwaarde dat ek eers in matriek ‘n kêrel mag hê.

Met vier kleiner susse wat ook so grootgemaak is. Die troepie was nie ‘n kêrel nie. Maar wat noem mens hom vir jou pa as hy daar aankon om by jou te kuier? ‘n Man heelwat ouer as sy oudste wat hy soos goud oppas?

My susse het my ongenadig gespot oor die voorval. Want ek kon nie wag vir die troepie se briewe nie. En toe is ek so ongasvry en droog die briewe eensklaps op. Hy was aantreklik, net heeltemal te oud vir my. ‘n Penvriend wat sy perke oorskrei het. Ek sou hom tog gewaarsku het dat kuier uit is as hy net gevra het. Daarna het ek nie weer briewe vir eensame troepies geskryf nie.

Skoolkys op papier

Ek was wel in standerd 8 gekys. Die ou het sowaar vir die ou op wie ek ‘n ogie gehad het van my eerste dag in standerd 6 af gevra om vir my ‘n kysbrief te gee.

Ek was vies, wou eers nie antwoord nie. Maar het later wel laat weet dit is ok. Ons was op papier gekys. ‘n Week later het hy ‘n briefie gestuur dat ek hom op die trappies moes ontmoet. En daardeur ‘n Dear John ontvang. Dankie, maar nee dankie, die kys is uit.

Daarvoor was daar twee redes.

Eerstens was dit teen my pa se reëls. Tweedens was ek tot in my siel geskok dat hy dit van my verwag..

Ek was in Ermelo Hoërskool. Daar waar die Ouditorium nou staan, was eers ‘n rugbyveld. ‘n Hele vlak laer as die parkeerterrein voor die skool. Met trappies na onder. In die lengte van die veld. En daar mag die gekystes gesit het.

Daar het ek en my vriendin die vreeslikste ding aanskou toe ons van die fietsloods af gestap het, die een by die tennisbane.

Ons skooljurke het met net twee knopies in die sye toegemaak, met ‘n wit hemp daaronder. Die twee voorpante het oor mekaar gevou. Toe sien ons hoe ‘n ou sy meisie se twee knopies losknoop en maak dat ons wegkom. En toe vra my kys sowaar dat ek saam met hom trappies sit.

Aikona! Nee wraggies, daai soort meisie moes hy maar op ander plek soek. Ek het later gehoor dat dit wat ons gesien het ‘n uitsondering was. Maar ek sou in elk geval nie die kans waag nie. Buitendin, ek was nog nie in matriek nie. Papierkys was goed. My ou was nie.

Probleem is dat ons en sy gesin huisvriende was. Sy suster het my goed uitgetrap, maar dit het die saak net besleg. Toegee sou ek nie.

My eerste kêrel

My eerste kêrel was in die tegniese skool, my skool se seuns het teen matriek nie meer gevra vir die kys nie. Ek het altyd nee gesê, nie dat dit teen my pa se reëls was nie. Net nee.

Aan die begin van my matriekjaar vra die hunk van die ander skool my of ek sy meisie sal wees. Hy was op pad Tukkies toe. Ons het deur ons ouers ontmoet. Maroela koshuis. En die man het gereeld vir sy matriekmeisie briewe Ermelo toe geskryf.

Mooi briewe, briewe wat my hart vinniger laat klop het.

Ek het altyd met die skoolseuns in my klas gespot dat hulle maar moet leer spel, meisies hou nie van ouens wat nie kan spel nie!

Ongelukkig was hy nie ‘n getroue maat nie.

Hy het groener weivelde gekry, my eie vriendin wat saam met ons Ermelo toe gery het. En my ou afgevry het.

My hart nogal ‘n ruk gegee. Dit was egter goed.

Ons agtergrond het te veel verskil. En hy het gerook. Ek het in ‘n rooklose gesin grootgeword. Dit is steeds so, ook in my eie gesin. Ek kon nie aan die reuk van sy asm en hande en klere gewoond raak nie. Sou wel een of ander tyd self die besluit geneem het.

Gedig in my posbus

Ek het aan die einde van my eerste jaar so amper Geografie gedop. Oor ‘n liefdesgedig in my posbus by die koshuis.

Ek het die ou, heelwat ouer as ek, so rukkie tevore by ‘n kerkuitstappie ontmoet. Ouer as ek. Ons het in groep gekuier. Voor die aand om was, het ek geweet die ou is nie vir my nie. Vir hom gejok oor watter koshuis ek in is.

Maar hy het my koshuismaats geken. En my opgespoor. Toe ek weer sien, roep die meisie onder my na ontvangs. Ek is opgewonde af. Het ‘n klasmaat verwag. Om saam Hatfield om kampus toe te stap. Toe sit hy daar.

Hy het gelukkig afgekyk. En ek het omgevlieg, by die sydeur uitgegaan en vir haar oorkant die straat by die hoekkafee gewag. Dit was voor selfone en sms en WhatsApp en so aan. Ons het afsprake gemaak en kon nie mekaar waarsku dat planne verander het nie.

Ek weet nie hoe lank hy gewag het nie. Die aand word ek weer in my kamer geroep. Slim geword, vra ek wie dit is. En toe sy sy naam noem, sê ek dat sy vir hom moet sê dat ek uit is. Hy kon my stem so hoor, maar het nie na die boodskap geluister nie.

Toe wag hy die volgende paar dae amper heel dag in sy kar voor die koshuis vir my. Of langs die koshuis by die syuitgang. Ek en my maats het dan eers van bo uitgekyk by watter deur sy kar is voordat ek af is om kampus toe te gaan.

Wanneer sy kar by die sydeur was, het ek honger kampus toe gestap. Want ek daar uit om by die eetsaal te kom wat ons met ‘n ander koshuis gedeel het.

Die dag toe ek Geografie eindeksamen moes skryf, was sy kar voor die sydeur. En is ek weer honger kampus toe, by die voordeur van Madelief uitgevlug.

En toe kry ek ‘n liefdesgedig in my posbus op pad uit.

Verlangensdroom

Met Dankie aan die einde. Ek was eers verras oor die mooi liefdesgedig. In ‘n man se handskrif. Gewonder van wie dit kom. Met die dankie aan die einde.

Toe ek dit egter vir my klasmaat wys net voor ons in die lokaal ingaan, vra sy: Wie is Danie?

Ek het my besimpeld geskrik.

Hoe kon ek so verkeerd gelees het? Dit was my stalker. En hy los my nie uit nie! Ek het ongelooflik gesukkel om te konsenteer, maar het darem goed geslaag.

Sy kar was voor die koshuis toe ek terugkom. Ek het met ‘n koshuismaat daarheen gestap. En by die oop venster vir hom gesis: Los my uit!

Voor ek met ‘n spoed by die koshuis in is. Hy het. En ek het van kerk verander. Terug na die Hervormde Kerk. My grootwordkerk.

Manlief se briewe

Tydens jool van my tweedejaar het ek manlief ontmoet. My sielsgenoot. Hy was klaar met twee jaar weermag en het in Evander op die myn gewerk. Net vir jool deurgekom. Hoe toevallig is dit om mekaar toevallig by jool ontmoet. Vlietende sekonde in tyd.

Ek was pas uit verhouding met eerste liefde. Wou eintlik nie gaan nie. Toe ontmoet ek die ou. Wat nie nie glo dat ek in Ermelo Hoërskool was nie. Hy sou my geken het, want hy was ook daar. Twee jaar voor my matriek geskryf.

Toe nie? Ek het nie met seuns uitgegaan nie omdat dit teen pa se reëls was. Ek het nie skoolfunksies bygewoon nie omdat my ouers my dan saans sou moes rondry. Ek was ‘n skaam meisie.

Toe kliek ons, die gemeenskaplike band het my bo die ander meisies uitgelig. Kuier die volgende dag. En begin ‘n langafstandverhouding.

Noudat ek daaraan dink: Ek dink een van die redes waarom langafstandverhoudings tans nie werk nie, is die gebrek aan laaaaaang liefdesbriewe!

Hy het gebel ook … en naweke en Woensdae kom kuier. Die briewe het egter die trick gedoen. As ek nou so daaraan dink. Vakansies het hy op myne gewerk en is ek plaas toe. Daar was altyd briewe wat in ons posbus by die poskantoor vir my gewag het. Vakansiebriewe. Soms het hy ook kom kuier.

Toe ons Junie gaan huis oppak het, het ek weer op die pakkies briewe afgekom. Syne aan my. Wat hy in ‘n trommeltjie in sy kas gehou het.

Myne aan hom. Wat ek langs my kluis gebêre het.

Ons was romanties! Ons was verlief. Ons het troetelname vir mekaar gehad. Wat met tyd verlore gegaan het. Ek was sy gogga en hy was my spook. Nou is ek, tot almal se vermaak (behalwe my eie) Ou Vrou!

Manlief is nie ‘n man van woorde nie, maar wanneer hy briewe skryf, is hy. ‘n Man wat sy liefde kon verklaar. Op mooi papier met prentjies op. Wat veroorsaak het dat ek my sakgeld op mooi papier uitgegee het. Dit het altyd soos sy naskeer geruik. My hart vinnig laat klop as ek die brief oopmaak.

My ridder, my held, my geliefde manlief.

Dalk moet ons twee weer handgeskrewe liefdesbriewe skryf? Tans maak hy vir die gebrek aan woorde op met die soengooie emoji’s. Dit help tog.

My pa skryf steeds met die hand. Rekenaars en teksboodskappe het by hom verbygehou. Hy lees die boodskappe, maar antwoord selde. My ma moes op naby aan 70 leer om tegnologie baas te raak. Facebook en alles. Want haar baba het tien jaar gelede na Australië getrek. Pa bel. Dit is makliker.

Foto: 16 Desember 2019, sneeubedekte trappies, Oskemen, Qazaqstan

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

28 gedagtes oor “Handgeskrewe briewe, uitgestorwe lekkerte

  1. Handgeskrewe briewe is so belongrik: die handskrif beteken iets; die papier waarop geskryf word; selfs die pen wat gebruik is … ek en my ma het elke week briewe aan mekaar geskryf. Ek is tans besig om ‘n hele klomp van haar briewe deur te lees en is verbaas om so veel te leer oor die lewens van my broers, gebeurtenisse op ons plaas, en baie ander gewone dinge van die lewe wat ek nie self kon belewe nie want ek het so ver van my familie gewoon. As ek van haar koeverte oopmaak kan ek my ma nog sien en ek hoor haar stem in haar woorder. Haar handskrif vertel my wanneer sy gelukking gevoel het of moeg was. Ons moderne lewe het iets belangrik verloor met die verdwying van handgeskrewe briewe.

    Liked by 2 people

  2. Jy was ‘n absolute engel om na ‘n soldaat uit te reik! ‘n Kreupel dogtertjie, Karen, het dit in die VSA gedoen tydens WOII. ‘n Hele pantserdivisie het haae “aangeneem” en een van die manne het later deur verskeie state gestap, haar kom bedank en weer ‘n duisend myl of twee begin terugstap….. Meisies soos jy het baie meer gedoen as wat jy ooit sal besef en stellig ‘n paar lewens gered deur selfmoorde te voorkom. Ek het gesien wat dit vir sommige makkers beteken het. Luister jy RSG se U Eie Keuse aanlyn?

    Like

        1. Wys jou wat een woord of sin aan jou gedagtes kan doen. My man het nagskof gewerk so hy was maar n nagwolf. Na ons getroud is wou hy he ek moes vir hom tot middenag slaan se musiekopneem as hy sy nagskof gedoen het. Net eenkeer gedoen want ek hou van my nag se slaap, haha.

          Like

          1. Dis altyd n moeilike ding geweemet die skofte werkery. Middagskof kom na my slaaptyd terug en nagskof begin as dit al slaaptyd is en dan soggens se vroeg opstaan as dit oggendskof is. Elke geval het ek dit darem op einde uitgesorterr gekry en vakansies slaap ingehaal.

            Like

  3. Ag mensdom, nou het jy n heerlike vertelling geskryf. My man was ook die romantiese skrywer gewees. Blomblaartjies klein spesiale goedjies was altyd tussen die bladsye. Was lekker lees en skryf gewees. Bly jy het n bydrae gemaak baie dankie..

    Like

      1. Nee nie ousus probleem nie. Sy was die voorbeeldige, mooi en slim een. Tot op skool is sy as voorbeeld voor my gehou… en dan “Is jy werklik Adriana se suster…. ?en dan volg die slegsê” Dit het van my ‘n rebel gemaak. Haar lewe het gelyk waters gevaar.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.