Selfs die son kruip vandag onder ‘n donskombers in

Dit het skielik koud geword. Of nee, die weer het ons tweetjies so twee weke gelede gewaarsku dat ons moet onthou dat ons in ‘n belaglik koue land kom woon het.

Dit was oornag subzero en ons moes dik aantrek om nie koud te kry nie.

Ek is toe dadelik na die wolstalletjie toe. Mens kan dit nie ‘n winkeltjie noem nie. Dit is eerder ‘n stalletjie in ‘n winkelsentrum. En het met dik wol in die sak huis toe gestap om mussies en serpe te brei. Ek wat beide verpes.

Mooie wol wat hier te koop is. Hierdie een is nogal ‘n gunsteling en trek baie aandag.

Hierdie wol het my oor meer as een rede getrek. Ek hou daarvan om anders te lyk, daarom maak ek graag klere.

En ons het gehoor dat ons seun en sy vroulief vir ons ‘n kleinkind van sy kant af gaan gee, maar ons moes eers stil bly.

Toe koop ek maar wol. Om my hande besig te hou, te besig om my dollatjie te kontak en per ongeluk van boeta se baba op pad te vertel.

En ook om seker te maak dat ek nog weet hoe om te brei. Volgens seun het hy geweet sy ma se projekkies wat sy op Instagram deel oor haar serpe is deur die baba aangevuur.

Die dunner wol met blommetjies het my aan baba Van Staden herinner. Wit vir my, kon vir baba ook werk. As sy ‘n dogtertjie was.

Maar nou gaan alles aan die uwe, dit is ‘n ou seuntjiebaba. Pienk blommetjies gaan nie werk nie.

Maar toe word dit warm. So warm dat ek gewonder het of hierdie wol nie bietjie oordrewe was nie …

Die idee vir die serp het ek uitgedink. Ek hou nie van serpe met punte nie, hulle waai af, verloor en is die hele tyd soek. Hier word serpe nie vir die mooi gedra nie, dit is funksioneel. Noodsaaklik. En hierdie een beloof om alles wat uitsteek warm te hou.

Dit word hier so koud dat ek nie hande uit handskoene wil haal om met ‘n koue serp te sukkel nie.

Die grys serp (vorige foto’s) is in sirkelvorm gebrei en vou dubbeld. Maar het jy al met die tipe serpe gewerk? Hulle las nie lekker nie en soos mens beweeg beweeg die twee dele van mekaar af weg en die koue vind daardie plekke so vinnig dat mens onmiddelik hande moet uithaal om dit reg te sukkel.

Die dikker serp, my idee, is in kolomvorm gebrei, met gaatjies vir die koord. Daarna het ek ‘n aantal steke verminder dat dit knus oor my neus pas as ek buite stap.

Daai ene is dringend noodsaaklik, dit is so koud dat my neus voel soos ek voel – om die 10 000 km na Suid-Afrika te loop! Tissues voel soos kreukelpapier as ek dit in die koue uit my sak haal. Tuis is dit weer sagte lappies. Ai tog. Dus moet die neus mooi warm gehou word, as ek nie in ‘n lelike verleentheid wil kom met neus wat weghol nie.

Die breigogga wou aanvanklik nie so lekker aan die wol vat as mens in die huis sit en sweet nie. Want die sentrale verhitting is na die eerste koue aangeskakel. Om ons vir die winter voor te berei.

Die winter …

Dit het eers begin reën. Liggies. Daardie soort reën wat mens aan my grootwordjare in Ermelo herinner.

Sag. Mens sien die druppels skaars. Ek ken dit as keiza, manlief as geelperskereën. Jy word sopnat daarvan.

Ek het my aanvanklik aan die mense om my verwonder.

Hier is sambrele te koop, maar hulle gooi hulle baadjies se kappies oor hulle koppe en stap verder. Gaansdonsbaadjies sowel as daai soort wat van dikkerige gebreide materiaal gemaak is. Asof hulle nie weet van sambrele nie.

Sonder ‘n sambreel gaan ek nie in die reën stap nie. My vriendin het my sambreel geleen die een middag en is toe sowaar deur reën oorval. Dus is ek met manlief se sambreel oor die kop na haar toe om myne te gaan haal. En word ek vinnig geleer waarom hulle nie met sambrele rondloop nie.

Ek moes toe sommer die selfie neem. Want sambrele is vir die voëls. Myne het zilts gehelp. “Wat help dit, wat help dit? Niks. Heeltemal niks” soos Steve in een van my gunsteling liedjies sing. Nou wel oor iets anders, maar pas so lekker hier in.

Die wind het hom geruk en gepluk. Ek moes hom met my ander hand vashou om nie om te buig nie. En die koue reën het my vingers pienk geverf, so van die vingerpunte af. ‘n Koue wat na die palms van my hand wou beweeg. My langbroek het ook klam geword waar die reën my getref het omdat die sambreel skuins gehou moes word. En klam = koud.

Nou dra ek die musse en die serpe wat twee weke gelede so oordadig gevoel het. Dit was vanoggend -11C toe manlief werk toe is. En -8C toe ek en Mia gou dorp toe is om goedjies vir haar te gaan koop. Ons het die bus tot in die dorp gevat en terug gestap. Sy met wegneemkoffie, ek met wegneemtee.

So – hoe koud is dit dan hier?

Dit was vanoggend so koud dat selfs die son eers versigtig oor die berg geloer het.

Toe ‘n serpie van wolk probeer het om die koue te probeer weghou.

En toe besluit het dat dit pure lawwigheid is om verder te probeer en sommer heeltemal gaan wegkruip het.

Ons word ook sommer gou daaraan herinner dat hierdie tyd van die jaar, net soos in Maart, April en Mei en Junie gevaarlike tyd van die jaar is. Water vries en lyk soos teer. Motors maak van die ys slush puppies in die oggende.

Daarop kan jy veilig stap. Waar hulle nie ry nie, is die swartys seepglad. Die slush puppy ys vries ook weer en maak sulke punterige swart hobbels op die ys. En as jy nie mooi kyk nie, is jou voete woerts -warts onder jou uit.

Ek het gisteroggend weer die skrik gekry. Op die onderste trappie van die trappe na ons woonstel. Die skrik sit nou nog in my keel, ek is seker mens sal ‘n nek kan breek.

Hulle het so pas die onderste trappie met ‘n staalraam omarm om dit teen die weer wat kom te beskerm. En ek moet ‘n groot tree gee om daar af te klim.

Nou hou ek maar aan die reëling vas. Ek kan nie daar val nie.

Ek moet die skuifelstap weer bemeester. Kort treetjies, langes is vir diegene wat waaghalsig is. En ka ski. As ek nie hoor nie, gaan ek voel. En wie wil daai koue nat aan jou lyf dra? Tot jy kan verklee?

Mens moet ook op korrelsneeu stap. Dit is nie glad nie, maar jou skoene moet waterdig wees.

Liefde uit hierdie lekker koue land.

Een van die dae word die sneeu laag op laag gepak, om ‘n feëtjieland te omskep.

Regtig.

Ek sal foto’s neem en deel. Om jou saam met my op ‘n reis deur hierdie ou stad te neem.

6 comments

  1. Ek love jou self geprakseerde serp! Dit klin na die soort ding wat ek ook eerder sal wil dra. Jy moet daai serpe brei en verkoop….lekker inkomste! Sterkte met die koue! Warm Milo elke dag, hoor!

    Like

  2. Toe jy van daardie glyery praat voel dit my maag sit in my keel. Mooi breiwerk!!! Die mens is darem ‘n aanpasbare wese. Sommer so terloops wanneer kom daardie kleinseun? By ons is daar ook ‘n kleinseun oppad. In my agterkop het ek dit dat julle nie lank gelede ‘n kleinkind ryker geword het… of misgis ek my?

    Like

Laat 'n boodskap na Kameel Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.