My vier Miniatuur Schnauzers, BB, Shilo, Sobek en Sankie sou van die begin af saamkom Qazaqstan toe. Behalwe as my kinders kan help om hulle vir die drie jaar op te pas sodat hulle nie so ver hoef te vlieg nie.
Die kinders kon nie, dus het ons R100 000 eenkant gesit en ‘n woonstel buite die stad geneem sodat hulle by my kon kom bly.
Die woonstel was pragtig maar peperduur en baie ver uit die stad. Intussen het my vriendin ‘n hondjie nodig gehad. En Sankie en haar seun het beste maats geword. Sy bly nou in Struisbaai. Lucky fish!
Dit sou mos maklik wees om my kinders hier te kry? Toe nie. Kazakhstan is diere goedgesind en hulle hoef nie in kwarantyn te wees nie. Enigste hobbel was ‘n 35 uurlange vlug tot in Almaty en dan nog 1 uur na Öskemen. Aangesien Öskemen nog baie koud was, kon hulle net in spesiaal-gereelde vliegtuie hierheen kom.
Dit is so ver soos Kaapstad na Johannesburg, maar mens ry nie sommer gou Almaty toe en terug nie, volgens die locals. Ek sal nog van ons Almaty-reis vertel.
Hulle het die nodige inspuitings gekry. En hulle was gechip. Hulle papierwerk was in orde en al die reëls vir Kazakhstan is nagekom. Hulle vlug na Öskemen was klaar bespreek. Ek moes net Lufthanza in RSA self bel om die vlug vanaf JHB na Frankfurt te bevestig. En daar begin die nonsens.
Diere-agente in Suid-Afrika moet hulle plek vanaf RSA bespreek. Ek kon nie. Wat ‘n korrupte spul! En dit het ‘n kan vol probleme oopgemaak.
Alhoewel hondjies saam met mens in die kajuit kon vlieg, moet hulle onder 8kg weeg. Myne was net te swaar. Dit sou nie meer ‘n aansluitingsvlug wees nie, dit was nou vlug vanaf SA na Duitsland en Duitsland na Kazakhstan. Daarom moes hulle in Duitsland deur customs gaan. En hulle het aan een punt nie voldoen nie. Die rabies teenligaampie toets!
Na vele oproepe moes ek hoor dat daardie uitslae ‘n maand vat. En die laaste spyker in die doodskis? Lufthansa vlieg nie oor naweke met diere nie.
Die teenliggaampie-toets is gedoen. Wat ‘n klug om R8000 te betaal vir die toets wat ongetwyfeld sou sê dat my honde genoeg teenliggaampies het. Die uitslae het Maandag 30 Mei gekom, amper twee maande geneem! En ja, hulle het genoeg teenliggaampies. So much vir werk in Suid-Afrika, my woewe sou veilig kon vlieg. Hulle het genoeg teenligaampies. Verdomde korrupte spul mense wat met diere werk. Maar dit moes gedoen word. As Frankfurt probleem met hulle het, is daar drie keuses.
Hulle word op my onkoste terug gestuur, hulle word daar in kwarantyn gehou tot ek die papierwerk kan verskaf (wat meer as twee maande sou duur, ek het die uitslae na twee maande gekry) of hulle word doodgemaak, alles op my onkoste. Ek sou my doodhuil, dus kon hulle nie dadelik kom nie.
Hulle kon ook nie vir maand na my kinders gaan nie, dus het ons ‘n babasitter vir die maand gereël. Ons seun se vriend sou die eerste maand in ons huis bly om hulle op te pas. Tot hulle kon kom. Ek wou nie dierehotelle of wat ookal anders kies nie, hulle mag nie lelike maniere aanleer nie! En toe moet ek reëlings van hier af tref dat hulle later kom.
‘n Week voor hulle sou kom, en terwyl ek besig was om invoerpermitte aan die kant te reël omdat daar meer as twee woewe was, bel seun my. Hulle het huis gekoop, en hulle bied aan om na my kinders te kyk.
Ek wou eers niks vir manlief sê nie. Ons het daardie gevegte reeds gehad. Ek sou babawaentjie vir honde koop en sou hulle so uit die gebou neem om iewers te gaan nommer 1 of nommer 2. Maar ons het ook reeds hier gebly!
Dit was reeds Maart en dit het nog gesneeu. Die landskap onder het nog so uit die lug gelyk.
Ons vlug is byvoorbeeld vir 5 ure vertraag en dit is algemeen aan hierdie kant. Die natuur bepaal of daar veilig gevlieg kan word.Dit het so gelyk toe ons uiteindelik inkom om te land. Die moeite werd om vertraag te word as ek moet sê. Wat ‘n pragtige verwelkoming in die koue land.
Die sneeu het nog dik in die strate gelê.
En op plekke in hopies opgebreek. En ek het baie koud gekry as ek buite was. Mens kan dit net vir kort tydjies verduur, dan soek jy hitte.
Ek vermoed die foto gee idee van hoe koud dit was.
En om die woonstel was daar steeds geen speelplek vir woewe of mensekinders nie. Ek self moes op eiers loop om nie te val nie.
En ek het gevrees dat hulle my voete onder my sou uittrek en dat ek net daar met gebreekte bene sal verkluim. Omdat niemand buite rond loop en my sou sien nie!
Ek het nie geweet hoe mens dit met die kinders van my in ‘n woonstel sou kon maak nie. Maar ek sou. As dit moes.
Seun was egter oortuigend. Hulle kon iets op die lang vlug oorkom. Hulle kon by oorstaanplekke siektes optel. En dit is onmenslik koud hier. Mens kan nie lank buite wees nie. En hulle het nie spesiale klere om hier aan te trek nie.
Verder het een dag se gebeure my geweldig ontstel. Ek was alleen buite, het bo by hek vir taxi gaan wag. Skielik was daar aan die ander kant van die heining drie mans. Met gewere. Ek het versteen, sou hulle nie verstaan nie. En hulle kan my taal nie praat nie. Toe lig een sy geweer en skiet!
‘n Rondloper hond het uit die bosse gevlieg, al tjankend. Maar dit kon ook ‘n wolf gewees het. Ons is verlate, ver uit die stad.
Die gedagte dat ‘n rondloperhond of wolf my woewe kon aanval was steeds vars in die geheue. Mens kan nie op die swart sneeu (vasgesmelte ys) harloop nie en ek sou my honde nie kon help nie. Shilo sou aangeval het. Hy is my beskermer!
En die finale troefkaart was dat ons langer in die RSA sal kan gaan kuier. Hier is nie hondehotelle nie, ek sou iemand moes kry om na hulle te kyk en ek sou die persoon nie in die winter met hulle vertrou het nie.
Nou kan ek ‘n maand lank gaan kuier. Sonder worries aan hierdie kant.
BB is my seun se Seth se ma. Sobek is sy boet by een pa en Shilo sy boet by ‘n ander pa. Ek het hulle self geteel, en hulle het stamboekpapiere.
Hulle is familie, kuier almal saam Desembers by ons op die plasie langs die Vaal en as my dogter s’n saam is, het ek Desembers tot 7 Schnauzers by my gehad om op te pas.
Seun en sy vrou sal mooi na hulle kyk. Daarom leef ek hier in verlange, maar ek weet dit is die beste vir my woewe. Hier sal hulle sukkel. En ek gaan terug. As ons iewers besluit om hier te bly, kom hulle na my toe.
Ek is baie bly jou kinders is by jou seun. Ek en ma kan net dink hoe moeilik dit vir jou moes gewees het en om te dink dat dit julle soveel geld gekos het! Dis rerig sleg dat ander mense jou so wou uitbuit. Hulle behoort hul te skaam. Maar ek is bly alles het op die ou end vir hulle reg uitgewerk. Ek dink ook nie hulle sou lekker daar geaard het nie en jy het gedoen wat vir hulle die beste is, al verlang jy so na hulle, weet net dat jy die regte ding gedoen het. Wanneer jy gaan kuier, kan jy dit met geruste hart doen en lekker kuier sonder om te bekommer oor hulle omdat jy hul by vreemdes moes los.
Ma sê jy moet ophou skuldig voel. Elkeen van ons doen wat ons dink is die beste en jy het aan hulle gedink, nie net aan jouself nie. Daar is nie baie ander mense wat so doen nie. Meeste mense dink net aan hulself en gee nie om wat dit aan hul dierekinders doen nie. Hulle is by jou seun, het baie liefde en word versorg en dis die belangrikste. 😀
LikeLike
Dankie Rambo. My hart verlang net vreeslik baie. Veral as ek plekke sien waar hulle sou kon speel. Die geld pla nie, ons kan maar hongerly. Ek was so bang hulle kom iets oor …
LikeLiked by 1 person
Ek en ma kan dit glo hoor. Ma sê ook sy sou haar doodgehuil het en sy voel gelukkig dat sy nie hoef weg te gaan en my hier te los nie. Daar is jy reg en hul veiligheid kom eerste. Dis ‘n vreemde land met vreemde taal en vreemde mense. Wie kon anders verwag van jou? Hulle het ‘n baie goeie familie en ek dink hulle weet hoe gelukkig hulle is. 😀
LikeLike
En ek gaan hulle opvry as ons gaan kuier
LikeLiked by 1 person
Ek neem jou nie kwalik nie. Ma vry my elke dag op. Ons is lekker opvryers né? 😀
Maar sê eers gou voor ek weer vergeet wat ek als wil sê : Wie is so kordaat op die Suzuki met die doek aan? Dis te kostelik vir woorde sê ma.
LikeLike
BB, sy was op hitte en Nevan, die Husky wou haar nie uitlos nie. Toe dra sy Pampers. Nogal duur. Met so bietjie peper op die doek. Jy sal verstaan omdat jy ‘n mannetjie is … Daar word vreeslik gesnuif in daai area …
LikeLike
Ma sê net: Ag my moeder! Dis te dierbaar! En baie goeie plan van jou hoor. Ek dink nie miniatuur Schnauzer en Husky sou gewerk het nie. Daai sou ‘n moeilike geboorte gewees het, shame.
Maar jy was baie slim gewees ja. Baie mense is nie so slim nie.
Ek dink ek was eintlik gelukkig want my knolletjies was uitgehaal omdat hul in my magie gebly het, toe laat ma die dieredokter dit uithaal want sy sê dit kon kanker gemaak het. Ek dink dis net my boetie Russel wat dan sal nies van daai peper, want hy sal wil ruik. 😂
LikeLike
Ag shame, Rambo, skuus man. Nevan s’n is toe maar uitgehaal. Sou nie werk nie, maar Nevan het dag en nag gekerm. Kon seker maar net hoop?
LikeLiked by 1 person
Ag siestog ja, dis maar die beste né? 😀
LikeLike
As jy ‘n dierelefhebber is sal jy darem tot uiterstes gaan vir jou diere nè! En dis reg so, want hulle het nie ‘n stem om vir hulleself te praat nie. Ná al ons diere wat oud geword en heengegaan het, het ons nog net een katjie oor – die laaste van my dierekinders.
LikeLike
Hester, my besluit ook. Gaan my laaste dierekinders wees. My hart pyn omdat hulle hulle beter as mense gedra. En soos wilde goed behandel word. Ek kan nie wag om huis toe te gaan om te gaan kuier nie.
LikeLiked by 1 person