Gepubliseer in Reisjoernaal

Onverwagte kersie in die mond by die Fresh Market

Ons is vanoggend weer gou Fresh Market toe om vanilje essence te koop.

Hulle weet nie waarvan ek praat nie en bied piepklein pakkie met poeier aan. Teelepel vol!

Ek ken dit nie, maar besluit om vir Google te vra hoe om vanilje essense te maak. En val amper om van verbasing. In my wildste drome sou ek nie dink dat vanilje essense met drank gemaak word nie. Ingelowig Google ek verder.

En ja, daar is resepte vir alkoholvrye vanilje essense! Maar ek soek die real McKoy, ek wil koeksisters maak. En dit moet reg proe.

Jy vat Vodka, sit vanilje pods daarin, wag vier weke en dan het jy vanilje essense. Ek vra vir vanilje pods. Hulle verstaan nie. Maar ek wil nou bak en die vanilje moet nou reg wees, dis besluit ek om die poeier te koop.

Ses pakkies later sit ons af Arzan toe om Vodka te koop. Ons ken dit nie, soek vir Vodka op die bottels. Kry dit nie. Het die nie ‘n lag van die assistent veroorsaak toe ek moedeloos vir die mannetjie met opgetrekte skouers vra: “Vodka?” nie? Dit was reg voor ons oë!

Tuis gooi ek Vodka in n bottel, maak die pakkies oop en kry wit poeier daarbinne. Sowaar? Is vanilje wit? My brein stry met haarself.

Kan nie wees nie? Vanilje essence is donker bruin. Kan wees? Die lekkerruikgoed wat ek koop, is deurskynend. Ek gooi Vodka in, meng die poeier by en proe. So, dit is waarom vanilje essense so hond sleg is! Dit is die Vodka se skuld!

My vanilje essence kort nog smaak. nie dat dit sleg is nie, en dink net dit kan nog meer na vanilje proe. En so is ons vandag terug om nog poeier te gaan koop.

Manlief vra of ek nog iets wil hê en vrugte is beslis op die lys.

Die vrugte word soos die vleis verkoop. Rakke en rakke vol, stalletjies langs mekaar. By elke rak is ‘n vrou met haar vrugte.

Dus vra manlief dat ons soos met die vleis maak. Loop om en kyk van ver. Identifiseer een wat lekkerste vrugte het en gaan dan eers nader as jy die meeste van die vrugte van ‘n verkoper hou.

Ek stem in, maar ek sukkel met reëls. teen die derde Ek wil piesangbrood bak en die derde stalletjie se piesangs is goed ryp. Ek gaan nader, kies ‘n paar en, terwyl ek die regte geld in my beursie kry (800 tenges vir 8 piesangs), druk sy ‘n bloedrooi kersie teen my lippe en wys dat ek my mond moet oopmaak en proe!

Nou kyk, miskien moet mense na aan my dié tip mislees! Dit was so onverwags dat ek dit sowaar doen. En daar staan ek met ‘n kersie tussen my lippe, sy wat brabbel in Russies en my brein wat in 88ste rat werk!

Spoeg uit! Alles moet eers gewas word voordat dit geëet kan word. Maar hoe? My een hand hou die beursie vas. Die ander een tel die geld uit. Ek gee die geld haastig, haal die kersie uit en sê verleë dankie. Toe ek by manlief kom, dink ek dat ek die trick verstaan. Ek is so vinnig daar weg dat ek van kleingeld vergeet het.

Manlief staan aan langsaan by mooi vrugte, reg om te koop as ek daar is. Ons koop toe piesangs.

Pere.

Mangoes.

En lemoene.

Hierdie lemoene is binne rooi en oranje.

Langsaan probeer die vrou steeds my aandag kry. Maar ek is te verleë om nader te gaan. Sy kom na my toe met ‘n mooi aarbei in haar hand, gereed om dit in my mond te sit.

Maar ek is gereed vir haar en vat dit in my hand. Sê спасибо (Dankie) en sit die aarbei ook in die sak met piesangs. Waar die kersie wag. Om geproe te word as dit gewas is.

En ek voel sleg. Dit is die eerste verkoopsvrou wat so vriendelik en gemaklik met my is. Dié in die winkeltjies in die gebou naby ons is nou al vriendeliker, maar steeds baie gereserveerd.

Haar kersies is nie so mooi verpak soos dié by manlief se stalletjie nie. Maar ek besluit om toe tog maar by haar te koop. Dit lê deurmekaar in ‘n boks. Herinner my aan haar.

Ek stap nader. Sy lag. Ek wys ‘n 500 tenges noot (so R20 werd), en wys na die kersies. Sy lag, sy verstaan. Sy het reeds gesien daar is meer geld in my beursie, druk 3700 op haar rekenaar en sê “килохрам (kilogram)?” Ek sê “нет” (nee) en wys weer na die noot, net die 500 tenges se kersies. Sy lyk afgehaal. Sit meer op die skaal en kyk vraend vir my. Dit is amper 1000 tenges. Ek haal 1000 tenges uit en wys en sê да (ja). Sy wys na die 500 tenges wat nog in my hand is en vra dit ook. Ek sê нет (nee), vat die kersies en loop. En besef weereens dat ek daar weg is sonder kleingeld. Die kersies is so mooi, sy kan maar kleingeld hou. Ek gaan nie terug nie.

Ek en manlief stap weg en skielik is sy agter my. Vat my om die lyf, druk haar kop naby my gesig en sê iets vir my en lag.

En ek is so verleë soos tien! Ek is ongemaklik met ‘n vattery. Ek is gereserveerd en altyd ongemaklik as vreemdes in my persoonlike spasie inkom. Dit voel baie intiem. Ek het geen idee wat sy sê nie, maar ek sien die mense om my glimlag. Wat sy ookal sê, moet snaaks wees. Of nie? En ek verstaan niks!

Kan wees baie dankie, kom weer. Maar kan ook wees, nou ja toe, as jy Russies kon verstaan, sou ek nie met jou kleingeld gestaan het nie. Twee keer. Baie dankie! Ek kyk in haar oë wat te naby aan my is en weet! Hier moet ek die taal ken. En vinnig ook.

My lus om Russies te leer, het na ‘n maand by die vorige teacher verdamp. Hoe meer sy van reëls en uitsonderings vertel het, hoe minder gemaklik was ek om my mond oop te maak. Ek, wat die taal wou leer praat!

Nou is dit noodsaaklik! Ek gaan moet weet wat mense sê. Ek gaan nie weer drukkies van vreemdes kry sonder om te weet wat hulle sê nie!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Onverwagte kersie in die mond by die Fresh Market

  1. Daardie vrugte lyk baie lekker en ek dink daar sal ek dit geniet want ek eet appels, pere en piesangs. Ma sê dis baie gesond. Ek dink ook daardie vrou was bly jy het by haar gekoop.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.