Gepubliseer in Joernaal

Vleiskoop in Qazaqstan

Ek dreig al so lank om foto’s van die mark te plaas. So hier is 10 foto’s wat wys hoe dit op ‘n mark lyk.

As jy vir die eerste keer op my blog kuier, hier is die slegte nuus. Hier is nie slagshuise nie, mens koop jou vleis so. Vars van die plaas. By die boere. Opgekap, geen saag. Groot hompe vleis.

Maar ek kla nie weer nie. Nooit weer nie. Al moet ek mooi kyk dat ek nie per ongeluk perd koop nie. Want sien, ‘n vriend van my wat nou in Sjina skoolhou, het my onwetend gehelp om nie te kla nie.

Hier is beslis beter as daar.

Hy stap deur die vleisafding en lewendige skilpaaie en brulpaddas word aangebied. Met verkoper wat vir hom probeer vertel hoe om dit gaar te maak!

Ek sal dit nie kan hanteer nie. Sal waarskynlik elke skilpad koop en tuis gaan beskerm. Brulpaddas iewers loslaat ver van mense af. Dié sal mens nie in die huis kan grootmaak nie.

Eerstens is ek bang vir paddas. Weet nie of die piepieding waar is nie, maar ek soek daai glibberige lyfies nie naby my nie. Tweedens is hulle rumoerig! Elke honger Sjinees sal rede hê om by my te wil inbreek.

Hier word die diere ten minste nie lewendig aangebied nie. Anders sou ons ‘n plaas moes gaan koop. Vir al die perde wat gered word.

Nou vra ek myself af wat van die hoenders en skape en beeste? Ek dink nog daaroor. As plaasmeisie en dogter van ‘n slagter pla dit my nie. Dit is kos op die tafel.

Mits ek hulle nie grootgemaak het nie. As ek het, sou dit nie kos kon word nie. Want diere met name word nie geëet nie. Hulle is deel van die gesin.

Gepubliseer in Reisjoernaal,Resepte,Tegnologie

Broodbakdag in Qazaqstan: ‘n Thermomix resep vir brood

Verlede week kry ek die blink plan oor hoe om brood in Qazaqstan vars te hou. Voorheen het ek twee keer gebak, maar die helfte van die brood word weggegooi omdat dit oud is. En ek doen nie al daardie moeite om brood weg te gooi nie. Dus het ek intussen vetkoek gebak en twee-twee gevries om dit vars te hou. So het ek vars vetkoek vir drie dae lank op die tafel gesit voordat ek weer moes bak.

Lees voort “Broodbakdag in Qazaqstan: ‘n Thermomix resep vir brood”