Gepubliseer in Woefkinders

As prooi dink hy is die uitsmyter …

Ons was verlede week by die rivier. So staan ek op die wal en gesels met my suster op my foon, met Bekka wat oral ruik en snuif en merk.

So dit die Here my sesde sintuig in werking, sien ek hoe Bekka, my laaste Miniatuur Schnauzer so gereed soos nog iets op die punt van die wal staan. Eintlik gereed om af te gaan. Die wal is steil, daar is dorings n dit is ongeveer een meter tot op riviervlak. Die wal is aan die bokant ook van die rivier se kant ingekalwe, dus is ek ook maar bekommerd dat dit kan intuimel.

Ek het KI gevra om die prent te teken – dit het ‘n paar stappe gekos. maar dit is soort van reg vir hierdie skrywe.

Bekka hoor my nie en ek sluip nader om te kyk wat hom so interesseer. Om byna net daar dood neer te slaan van skrik.

Bekka gluur ‘n likkewaan aan, een wat boontoe sluip. Nader aan sy prooi. En die prooio besef nie dit is prooi nie, die prooi dink hy is die uitsmyter! Staan gereed om af te gaan as likkewaan dit een tree nader waag. Terwyl likkewaan sy pote met een hap onder hom sal uitpluk, of hom met die stert disnis sal slaan om hom onder die water in te trek en te versuip!

Kyk, ek is doodbang vir likkewane, ek het geen idee gehad waarom die een op pad boontoe was – in die middel van die dag – as hy my op die foon kon hoor praat nie. Maar, daardie bang staan mos eers botstil in mens se brein want adrenalien neem oor.

Daar is geen manier waarop bekka sy prooi gaan word nie, nie as ek daar is om te help nie. Ek het een massiewe gil gegee en die likkewaan het amper reg agteroor geslaan van skrik, skeef -skeef afgehol, ingeduik, my weer bekyk en toe ‘n diepduik gevat toe ek vir hom skree om pad te gee.

Uitsmyter het nie besef dat ek hom so pas van ‘n waterdood gered het om ‘n middaghappie te word nie. Hy het dar bly staan, die water dopgehou. En ek?

Ek het hom opgeraap en in die huis ingevat. Daarna is uitsmyter soos goud opgepas. Hy kon voorheen bietjie afdwaal, maar nie meer nie!

Uitsmyter het teen laatmiddag allerhande planne beraam om roofdier te gaan soek. Op die grasperk gesnuif en rondgestaan en sodra hy gedink het dat ek hom nie meer kan sien nie, ‘n wye draai geloop om weer naby die wal te kom. Dan het ek hom gaan inwag en teruggevat!

Stoute woef van my. Later die nag gesels ek en manlief. Ons sou ons doodgesoek het na die woefkind van ons. Sou later moes huis toe kom sonder hom, met elke buurman op wag om ons dadelik te laat weet as woefkind by hulle aankom. Ons het die plek sedert 2002 en dit is die eerste keer wat ‘n likkewaan bedags op pad boontoe was. Daar is geen manier waarop ek sou gedink het dat Bekka likkewaan kos geword het nie.

Shilo is nou 18 maande gelede dood, BB so 8 maande gelede. By elkeen was ek tot die einde aan hulle sy. OK, tot amper die einde, ek kan nie daar staan as hulle aan die slaap gemaak word nie. Likkewaan sou beka by my gesteel het terwyl hy nog springlewendig en gesond is.

Dit is ‘n baie onaangename gedagte dat Uitsmyter so wraggies nie geweet het dat hy eintlik Prooi is nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “As prooi dink hy is die uitsmyter …

  1. Ag dankie tog, Christa, jy kon hom red! Ek is ook baie versigtig vir likkewane, gelukkig nog nie een hier by ons gekry nie. Hopenlik is dit die baie soutwater.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.