Ons stranddorpie is so mooi, rustig en lekker. Tot jy met jou hondjie aan ‘n leiband strand toe gaan …
Want Stilbaai het ook mense wat dink die strand behoort aan hulle groot honde, wat nie op leiband gehou word nie. En vir hulle is ek so moeg dat dit my vreugde steel. Ek lees vanoggend ‘n blog oor woede. Wel, dit het my laat dink, ek moenie dat die honde-eienaars my dag op die strand so versuur nie.
Gister staan twee ou vrouens op die strand teen die hoë duin en ver van hulle twee honde. Die twee jaag mekaar op die strand. En toe hulle ons sien, storm die twee op Bekka af.
En toe doen ek maar wat ek op Instagram gesien het.
Die vrou kom rustig langs ‘n massiewe poel water aangestap. Met ‘n man wat aangejaag kom en dan superstadig deur die water ry om haar nie nat te spat nie. En dan volg die kamera hulle wat verder gaan en sien mens haar van agter. Met een massiewe baksteen in die hand. Die ou moes maar kies. Spat haar sopnat, met ‘n baksteen deur sy ruit. Of ry mooi stadig verby …
Juis op daardie plek was ‘n goeie grootte klip in die water. Toe buk ek, sukkel effens om die uit die sand te lig. En weeg dit in my hand. Gooi dit effens op en vang dit weer. Groot genoeg om van ‘n afstand gesien te word. En meet die twee ou vrouens oor die afstand.
En hulle verstaan. Roep die honde terug en maak hulle vas dat ons in vrede verby kan stap. Met my wat die klip nie weggooi nie, gereed om te gooi as ek moet. Wat hulle nie weet nie, is dt ek heel waarskynlik mis sal gooi. Net soos daardie vrou in die video se verbyjager nie weet dat sy deur die water verblind sal word en mis sal gooi nie. Dit is die boodskap wat tel. Vandag leer ek jou hoe om jou hond op leiband te hou as jy in die publiek saam met ander wil wees.
Ek is moeg vir mense wat maak soos hulle smaak. Ek het al in die dorp se Faceboek-groep geskryf dat ek verstaan waarom honde nie op die strand toegelaat word nie. Dit is die eienaars se skuld. En toe word ek aangeval. Die mans en vrouens se profielfoto’s het my amper kommentaar laat lewer. Sulke gesigte het in jy klasse gesit. En ek weet uit jare se ondervinding mens kan hulle nie maniere leer nie. Jy kan Afrikaans en Geografie in hulle koppe inoefen, maar maniere word tuis geleer. Dit kan ek nie vir hulle in die klaskamer leer nie.
Net soos ek hulle nie op die strand kan leer om hulle brakke op leiband te hou nie.
Ek het ‘n heilige vrees vir loslopende honde in publieke areas. My Tikka poedel is op leiband doodgebyt in ‘n karavaanpark terwyl my twee kinders (7 en 11) moes toekyk. En dan moet mens jou hartseer sluk, want die hemel weet hoe dankbaar mens is dat jou kinders ongeskonde is.
Ek sien die afgelope ruk gereeld mense en kinders wat deur honde verskeur is. Pitbulls. Honde wat baie goed opgelei moet word, juis vanweë hulle aanvalneigings. Seun se vriend het een. ‘n Gevaarlike hond. Hy het al aan sy leiband ‘n medestapper se hond verskeur. Met twee mans wat mekaar wil aanval. Hy het ook al bure se hond wat teen die hek kom blaf het, onderdeur die heining getrek en sy lyfie in ‘n pappery verander. My kleinkind mag nie daar gaan kuier nie. Waarom moet mens so dier aanhoh as hy reeds sulke goed aangevang het?
En hoe weet ek die losloperhonde gaan ons nie kom aanval nie?
Ek het op die groep geantwoord dat ek dan maar met pepersproei gaan stap. Ek vergeet elke keer op pepersproei in te pak. Terloops, toe een aangaan oor die pepersproei, het ek met laggesiggies geantwoord cat dit nie vir die hond is nie, maar vir sy eienaar. Hulle doen wat hulle moet, die eienaar moet hulle beheer.
Maar glo my, die klip gaan dalk net beter werk. Dit is in meeste gevalle op die strand beskikbaar …
Gister was ek meer beskermend. Was dit soos die dag in die karavaanpark. Twee kleinseuns (8 en 10) stap saam met ons, Bekka aan die leiband. Ek was nie by toe my kinders met Tikka gaan stap het nie, ek berou dit steeds. Hulle het gillend by ons aangehardloop gekom met die pap lyfie in die arms. Rooi bloed op die wit pelsie. Ek wou nie glo dat sy dood is nie, wou haar gaan opgrawe in die nag om seker te maak ons het nie ‘n lewendige hondjie begrawe nie. Maar sy was dood.
Dit gaan nie weer met my gebeur nie.
Maar hoe leer mens buffels?
So kom ‘n vrou gister met ‘n massiewe hond die trappe af. Hy is aan leiband, maar daar is geen manier waarop sy hom sal kan terughou as hy storm nie. Al is sy self seker so 100 kg swaar.
Die hond stop en ruik aan Bekka, wat op besig is om saam met ons na bo te klim. Sy lag oopbek en sê hy is ‘n ou beertjie, sal niks doen nie, Nou ja toe. Totdat die beer se instinkte inskop. So terloops, bere is nie juis skadelose diere nie?
Iedergeval, ek sl maar begin om strandsak te pak. Koeldrank, water en my blikkie pepersproei.
Ek of my hond of my kleinkinders gaan nie deur onopgevoede mense se honde gebyt word nie. As ons aangeval word, gaan ek spuit voor die dit ons skade kan berokken
Do eenvoudig soos dit.
So jammer oor jou Tikka hondjie, so dankbaar jou kinders wat nie seergekry het nie.
LikeLiked by 1 person
Seegogga, dankie. Dit is soveel jare gelede, 1995. En tog is dit een van my grootste vrese, dat dit weer kan gebeur.
LikeLike
Jy moenie nog praat oor honde wat nie aan leibande is nie. Dis ongelukkig meeste van tyd honde wat nie beheer word deur hul eienaars nie. AS so een jou bespring is dit “Sorry, sorry, are you okay?” Nee wat my bloed kook sommer. My kinders het ‘n hond. Nuwe hond. Hy was so nege maande toe hy hier aangeland het. Hy het nou al tweekeer grommend my bestorm as ek by die huis se deur wil ingaan. Mammie sien hom nie reg nie sodat hy weet hy moenie dit doen nie. “O Luckey, het jy nou geskrik my honne. Dis net die Oumies!” Nou ja, daar het jy dit. Hy bestorm die kinders met tye ook so!
LikeLiked by 1 person
O hemel nee, dit is ‘n resep vir ‘n ongeluk. Sterkte vriendin.
LikeLiked by 1 person
Ek weet. Ek hou maar my ore en oë oop.
LikeLiked by 1 person
Ai vriendin, en hoe gaan jy keer?
LikeLike
Hoop regtig dis nie nodig nie. Wens dit aan niemand toe om gebyt te word nie.
LikeLiked by 1 person
Dit was een van ons grootste kopsere toe ons nog ons twee spanjoele gehad het. Ons het graag met hulle op Bloubergstrand gaan stap (aan leibande), maar moes gereeld keer wanneer ander honde op hulle afgestorm het. Juliet (die meisie hond) was baie bang vir ander honde en sou onmiddellik teen ons opspring, maar Stoffel (die reun) was kwaai en wou terug baklei en dan moes ons omtrent keer! Ons het later voor sonop oor naweke met hulle daar gaan stap net om die ander honde te vermy. Ek mis my honde, maar ek mis nie daardie “kol op die maag” wanneer ons altyd met hulle gaan stap het nie!
LikeLiked by 1 person
Ek is so bly jy stem saam met my. Mens is maar bekommerd as jy so ‘n stuk skryf. Gee my ‘n idee vir ‘n boek vir kinders?
LikeLiked by 1 person
Dit is vir my ‘n teer saak want ek is baie bang vir diere. Honde is een van die redes waarom ek nie meer saam gaan wanneer my man met ons beskaafde staffie gaan stap nie.
Slim gedink met daardie klip!
LikeLiked by 1 person
Baie teer vir my ook, dit is erg om so te vrees dat ander se honde mens kan byt.
LikeLike
Ek verstaan nie altyd mense nie. Ons staffie is altyd aan ‘n leiband en as mense verby stap, maak ek die halsband bietjie korter. Sy is ‘n baie vriendelike hond maar ek verstaan dat ander mense bedreig kan voel (sommiges hou nie van honde nie/is bang) en dan wil mens darem wys jy is in beheer, dit is veilig en hulle kan rustig verby stap. Ek stem 100% saam met jou.
LikeLiked by 1 person
Ek stem so saam. Trek my woewe ook in, al is hulle vriendelik.
LikeLike
My Tannie bly inYzerfontein. Dit bly “n probleem, die eienaars wat nie hulle honde aan leibande hou nie. dit maak dit baie onplesierig . My tannie is ook baie ernstig oor die opruim van wat jou hondjie agterlaat. on gaan stap nooit sonder sakkies nie. ongelukkigpla dit sommige mense glad nie dat hulle honde kinders landmyne los vir ander om in te trap nie!
LikeLike
Dankie, dit maak dit vir mens baie sleg. Veral as hulle honde op jou afstorm. Ek raak skoon paniekerig.
LikeLike