Gepubliseer in Joernaal

Almaty – moontlikheid van verwoestende aardbewing

Almaty is ‘n pragtige stad in Kazakhstan aan die voet van ‘n tronende Trans Ili Alatau bergreeks wat Kazakhstan van Kyrgystan skei.

Hierdie stad, Almaty (Kazakh naam), het eers as Ala Mata (Russies) bekend gestaan wat letterlik Vader van die Appel beteken. Daar word beweer dat alle appels op aarde afstammelinge is van die oerappel aan die voete van die Alatai-bergreeks by Almaty.

Ons het van Julie 2020 tot Oktober 2020 in Almaty gewoon. In ‘n baie, baie hoë woonstelblok naby die Dostyk winkelsentrum. Mens ry verby die winkelsentrum wanneer jy berg op koers kies na Shymbulak, die wêreldgehalte ski-oord in die bergreeks wat 2000 – 3000 voet hoog is. Die boonste kabelkarretjie stasie is juis naby die hoogste piek van hierdie bergreeks.

Ek het in Maart 2020 saam met ‘n gids deur Almaty gestap toe manlief op hoofkantoor moes wees. En so het ons ‘n museum besoek waar ek gehoor het dat Almaty, wat in 1887 as Verny bekend was, al voorheen deur ‘n aardbewing platgevee is. Dit was in 1887, en weer is groot skade in die 1911-aardbewing aangerig. Ek onthou wel uit die gesprek in die museum dat geboue in Almaty se hoogte daarna beperk is weens die moontlikheid van toekomstige aardbewings.

Die stad is gebou in ‘n omgewing wat ‘n seismiese gevaar is weens die bedrywighede van tektoniese kragte. Tog het ek heeltemal daarvan vergeet toe ons in Junie 2020 ‘n woonstel in Almaty gaan kies het.

Daar kom al hoe gereelder aarbewings in die omgewing voor, waarvan twee redelike grotes in 2024 plaasgevind het. Die een in Januarie was ver van Almaty, maar het blykbaar lank gerommel en geskud. Die een in Maart 2024 was korter van duur, maar baie nader aan Almaty.

Op die tweede kaart kan gesien word hoeveel aardbewings in die omgewing van Almaty gevoel is teenoor dorpies om die stad.

Dit is vir my ‘n gevaarteken dat 809 aardbewings die afgelope dekade minder as 300 km vanaf Almaty voorgekom het, met ‘n gemiddeld van 80 per jaar. Dit is egter kommerwekkend dat 2024 skaars begin het en dat daar reeds 200 aardbewings binne 300 km voorgekom het, waarvan die een in Sjina meer as 7 op die Richterskaal gemeet het.

Lees gerus hier meer oor aardbewings naby en in Kazakhstan.

Soos genoem, het ek heeltemal daarvan vergeet toe ons woonstel in Almaty gaan soek het. Ons het in een van die hoogste geboue op die 17de vloer ‘n woonstel gekies, een wat nie alleen nader aan die berg was nie, maar ook ver bo ander uitgetroon het. Ek kon oor die stad kyk hoe vliegtuie in September 2020 weer begin inkom en uitgaan, maar nog nie buite die land mag gegaan het nie.

Ons was skaars ‘n maand in Almaty toe ek saam met ‘n groep expat vrouens vrywilliglik verplig uithang. En hulle my daaraan herinner dat die mense van Almaty nie waaksaam genoeg is nie, die volgende groot aardbewing word voorspel, moes al teen 2011 gebeur het, want die aardbewings is so 100-150 jaar uitmekaar. En dit was 2020, ons moes dus meer waaksaam wees. Ons het wel een dag ‘n ligte trilling gevoel, dit was nie lekker nie.

Daar is korrupsie in Kazakhstan, die amptenare kan omgekoop word. Daarom weet die mense nie of al die hoë geboue wat opgerig is ‘n aarbewing kan weerstaan nie. Een van die dinge wat die Kazakhs kwaad gemaak het tydens die laaste aardbewing van 2024 was dat die alarmstelsels nie gewerk het nie, hulle is 12 uur in die nag deur trillings wakker gemaak. En dit het hulle aan korrupsie toegeskryf. Volgens die amptenare was die trilling egter so naby aan Almaty dat die tegnologie hulle nie betyds kon waarsku nie.

Ek is werklik dankbaar dat ons terug is, maar ook dat Almaty die twee skokke van 2024 weerstaan het. Dit is egter nie gerusstellend dat twee groterige skokke so na aan mekaar in 2024 voorgekom het nie. Veral nie omdat van die inwoners gesê het dat die drukking opwaarts gevoel het nie.

Ek is lief vir hierdie stad, vir die mense van Kazakhstan. Almaty is die grootste stad in die land, dit was tot onlangs die hoofstad, maar die regering het na Nursultan verskuif, juis van weë die moontlikheid van ‘n verwoestende aardbewing. Die president het egter nog steeds ‘n huis in die stad waar hy woon as hy in Almaty is. ‘n Ander rede is dat dit veiliger is as die hoofstad ver van die grense met ander lande is – Nursultan is nader aan Rusland en verder van Sjina en lande anderkant die bergreeks waarvandaan aanvalle geloods kan word.

Hooffoto: mense het uit geboue gevlug en buite gaan staan. Siestog, dit is Maartmaand nog lekker koud daar, kyk al die dik jasse.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Almaty – moontlikheid van verwoestende aardbewing

Lewer kommentaar op Aletta - nowathome Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.