Gepubliseer in Joernaal

Die mense op my WhatsApp

Ek organiseer my kontakte op WhatsApp volgens hulle eie keuses vir my eie gemoedsrus. So laat ek eers verduidelik.

Die eerste groep, naamlik oop-mense (blou regmerkies) word nie gekategoriseer nie. Hierdie groep bevat die meeste van my kontakte. Hulle is altyd sigbaar op my muur sodat ek kan sien as ek moet antwoord of as hulle iets sê. Net soos in my geval is dit vir hulle belangrik dat ek kan sien hulle het my boodskappe gelees en hulle myne. Daarom word hulle regmerkies blou.

Die tweede groep, naamlik toemense (grys regmerkies) word geargiveer omdat hulle my irriteer. Hierdie mense steek weg dat hulle ‘n boodskap gelees het, daarom word hulle regmerkies nooit blou nie. Ek het aanvanklik gedink dat daar fout by hulle is, gebel om te hoor of hulle okay is, net om toe by iemand te hoor dat dit ‘n instelling is – hulle wil nie hê mense moet weet dat boodskappe gelees is nie. My oplossing is om hulle te argiveer, dan sien ek nie raak dat hulle nog nie geantwoord het nie. En word ek ook nie onnodig oor hulle bekommerd nie … wat ek nie sien nie, pla my nie. Wat hulle nie weet nie, is dat WA klik wanneer hulle wel iets geskryf het – dan is daar ‘n getal by die argiewe. Dus hoef ek die argiewe net oop te maak as daar ‘n getalletjie is.

Die derde groep is verban, hulle is agter geslote deure (locked chats) toegesluit. Mens sien nie die locked chats op jou WA muur nie, jy moet opblaai om die lêer te sien. In hierdie groep plaas ek mense wat ek nie kan blok nie, omdat dit drama gaan veroorsaak, maar beslis ook nie mee wil gesels nie. Verduidelik kan ek nie, maar dalk kan ek net skryf dat hulle nie skiet om dood te skiet nie, hulle skiet om te kwets, om baie, baie seer te maak. My eintlik mank en verwond agter te laat. Daar is ‘n enkeles van hulle. Hierdie mense vermy ek soos die pes, en dit is werklik lekker dat hulle gesprekke so weggesteek kan word. WA lig my nie in wanneer hulle ‘n boodskap stuur nie en ek gaan ook nie na die lêer toe om te kyk of daar boodskappe is nie. Ek wil nie weet nie, want ek het baie krag nodig voor ek weer kans sien om deur een van hulle gekwets te word …

Ek verpes WhatsApp, maar ek moet dit op my ou foon gebruik omdat daar is mense wat nie na Signal of Telegram wil oorskakel nie. Waarom weet ek nie, want WhatsApp weet gevaarlik baie van hulle. Ek neem aan dat dit gemak is, of weerstand teen verandering – selfs al word hulle deur Meta gedwing om toegang tot al hulle kontakte te verskaf! Geen maatskappy kan sulke mag vereis nie, Meta veral nie omdat dit nie persoonlike inligting beskerm nie. Daarom gebruik ek WA op ‘n ander foon waarvandaan ek geen banksake doen nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Die mense op my WhatsApp

  1. sjoe ek het nie eers geweet van al die moontlikhede nie. Wat doen ek met iemand( ‘n verlangse kliënt) wat elke liewe more en elke liewe aand vir my hierdie mooi maar hoogs irriternde goeiemore en lekker slaap goetertjies stuur wat my foon vol maak? As ek haar blok, gaan ek nie weet as sy dalk weer n huisie wil huur nie.

    Liked by 1 person

  2. Baie dankie vir hierdie inligting. Ek verkies natuurlik whattsapp omdat omtrent al die mense wat ek kontak, Whattsapp gebruik en dit dus my lewe ook vergemaklik. Om een of ander rede het ek een dag gekies om ook die funksie by my af te skakel wat wys dat mense kan sien of ek al die boodskap gelees het, ek kan nie onthou hoekom nie. As daar ‘n manier is om sulke mense wat ek nie wil hê ek moet sien of die boodskap gelees is nie, te kan kategoriseer, sal ek my boodskappe weer oopmaak.

    Liked by 1 person

    1. As jy hulle argiveer, kan hulle boodskappe so weggesteek word. Ek verkies die blou regmerkies, hulle kan maar sien ek het gelees. mens hoef mos nie altyd te antwoord nie, soms is dit net ‘n boodskap wat geen antwoord nodig het nie.

      Like

    1. En nou is ek vreeslik nuuskierig! Daardie een van jy stuur ‘n boodskap maar weet nie of dit gelees is nie, die grysmerkiemense? Sjoe, Woordnoot, my een suster het my ma se foon so gestel. dan weet ek nie of sy gelees het nie en na ‘n dag is ek so bekommerd as ek hulle ook nie in die hande kry nie dat ek al selfs die polisie en sekuriteit gestuur het om te kyk of hulle ok is. Ek het haar oortuig dit is baie verkeerd, want dokters weet ook nou nie of sy hulle boodskappe gekry het nie. Nou maak sy seker dit word blou.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.